Ek sal myself moet inhou, want vanaand wil ek ‘n honderd goed gelyk skryf! Hierdie is net ‘n inleiding (hoekom het ek nou weer hiernatoe gespring?) tot ‘n fassinerende onderwerp (terloops, waarvan ek minder as die meeste hier weet!) waaraan ‘n mens ‘n hele blog kan wy – ons breine.
Dit het begin toe Boendoe my in haar kommentaar vra: “Sal dit onbeskof wees om te vra of jy al iets geleer/wys geword/ontdek het? Sedert jy begin blog het, bedoel ek.” My eerste inskrywing was op 5 Julie hierdie jaar. Ek blog nou omtrent 3 maande (kan jy glo!), en ek reken dit is ‘n billike vraag om al te antwoord. Ek het so ‘n rukkie gedink, en haar probeer antwoord so goed ek kon. Maar die vraag het by my gebly. Vanoggend het ek op die eerlikste antwoord teenoor myself afgekom. Ek wil dit eers antwoord sonder om terminologie en oorsake daaraan te heg, en dan kom ek by die linker-, regterbrein storie uit.
Vandat ek blog, is my gedagtes baie meer by godsdiens, christen wees en spiritualiteit as in ‘n lang tyd. Maar op ‘n sekere manier het dit my eintlik weer verder weg geneem van geestelikheid af.
Ek moet nog mooi uitwerk wanneer dit presies gebeur het, maar vandat ek weer geestelikheid “ontdek” het, en daarin begin groei het, was dit meer ‘n baie persoonlike ervarings- en gevoelsbelewing. Ek het onder andere gereeld stukkies uit Louise Hay se boek gelees. Dit was wonderlik. Dit is moeilik om dit te beskryf. Ek het rustiger, meer tevrede, gelukkiger, meer “heel”, meer “gebonde”, groter en “met liefde gevul”, en meer in beheer van my lewe begin voel. Dit het soort van ‘n integrale en oorkoepelende deel van my geword. Ek het selfs met groter empatie aan ander begin dink, en begin voel asof ek ook aan ander mense wou vertel wat ek beleef. Dit het my ook meer weerloos gelaat teenoor gesprekke oor my verlorenheid omdat ek nie ‘n christen is nie. Laasgenoemde en my behoefte om my geestelike pad met ander te deel, dit te bespreek, vir antwoorde te soek, en om meer tyd te spandeer aan hierdie groeiproses van my, was van die redes hoekom ek met hierdie blog begin het.
Vandat ek blog, spandeer ek wel meer tyd aan dink en redeneer oor godsdiens en geestelikheid. Ek “ontmoet” mense met verskillende oortuigings en denke daaroor. Ek skryf daaroor, ek begin oor verskillende aspekte daarvan lees, en het al ‘n hele hoop boeke bestel, waarop ek nog wag, wat my bankbalans bietjie laat steier. 🙂 Ek stoot die aktiwiteite daar rondom nie meer so heeltemal op die agtergrond wanneer dit besig raak nie. Ek dink oor wat mense vir my gesê het, nuwe idees waaroor ek kan skryf, ek lees oor allerhande dinge op ander mense se blogs, en ek leer baie! Ek is minder angstig oor my denke oor godsdiens en geestelik wees. Maar al hierdie dinge is op die vlak wat ek persoonlik meer geniet en veiliger in voel: op ‘n denkende, redenerende, logiese en grootliks on-emosionele vlak. Maar die gevoelservaring of “spiritualiteit” het “minder” geraak, as ek dit so uit kan druk. In daardie opsig, dra die blog nie regtig tot my geestelike groei by nie.
Hierdie twee aspekte van my geestelike reis pas vir my so reg in die linkerbrein en regterbrein idee in. Ek dink dit is al taamlik algemene kennis, en omtrent soveel as wat ek op hierdie oomblik daarvan weet, dat die linkerbrein reglynig, logies, analities en on-emosioneel dink, en detail “raaksien”. Daarteenoor is die regterbrein kreatief, mistiek, intuitief, emosioneel en ruimtelik, en “sien” die “geheel” raak. Soos in alle dinge moet ek seker balans hou tussen hierdie twee aspekte, maar intuitief 🙂 voel ek dat my spirituele (regterbrein?) meer aandag moet kry.
Maar hoekom koppel ek die fasette van my geestelike reis aan die linker- en regterbrein denke? Daar het ‘n paar dinge tot my aandag gekom. Die twee taamlik duidelike aspekte van my geestelike ervaring, kommentare wat ek van mense gekry het wat ek nogal in “linkerbrein” en “regterbrein” hokkies sou sit (wat BAIE gevaarlik en vereenvoudig is), my eie geestelikheid wat weer na vore gekom het toe ek om baie redes in my eie lewe daaraan moes werk om my regterbrein meer in te span en die inligting wat ek met Google-soektogte raakgeloop het wat onder andere regterbrein aktiwiteite koppel aan “New Age” denke, en aan demoniese aktiwiteite.
Met my soektog vir hierdie inskrywing oor navorsing op regterbrein en linkerbrein denke, het ek onmiddellik weer in ‘n splinternuwe sfeer beland met ‘n magdom inligting en menings! Die woord pseudowetenskap, bog, onchristelik en dies meer het dikwels opgeduik. Meer interessant, sommer vroeg al in my Google-soektog, loop ek toe ‘n persoon raak, wat my fassineer en ‘n video van ‘n praatjie deur haar op Youtube het my laat stilstaan. Ek het sommer opgehou met my soek vir inligting. Haar naam is Dr. Jill Bolte Taylor. Ek is seker baie van julle, indien nie almal nie, weet van haar. Vertel my meer! Hier is die praatjie wat sy gegee het. Ongelukkig is dit ‘n bietjie lank. Ek is van plan om meer oor haar te skryf. Maar meer belangrik, oor hoe ons breine werk, veral ten opsigte van spiritualiteit. Ek sal maar so moet skryf soos wat ek self daaroor leer.
Nou wonder ek net: is die oorsprong en setel van tot-bekering-kom (in ‘n christelike sin) in die linker- of regter hemisfeer van ‘n mens se brein, of in beide (die “heelbrein”)?
[Naskrif: Vir die wat nog nie het nie – gaan lees gerus ook ‘n inskrywing van Nikita, “My whole brain”, wat sy al ‘n hele rukkie terug geskryf het. Dit is die moeite werd as jy in denke en die brein belang stel. Dit handel oor “whole brain thinking” (geheelbrein denke), kreatiwiteit, en dies meer, en sluit soos al haar inskrywings ook koppelinge na leersame en ook prettige web blaaie in, waar jy ondere jou eie Picasso skildery kan skep! 🙂 ]
Filed under: Die brein en spiritualiteit, Geestelike reis, Persoonlike joernaal | Tagged: brein, denke, eie ervaring, Jill Bolte Taylor, linkerbrein, regterbrein, spiritualiteit | 121 Comments »