Ons toer in SA (1)

kar

Dit het alles begin met die dorpie wat my beste helfte op ‘n  kaart raakgelees het ….. Dorp-Op-die-berg!  Ons moes eenvoudig die plekkie besoek! En nou ja, as jy sopas, na drie jaar in die buiteland, voet-aan-wal sit in ons mooiste land Suid-Afrika, begin jy beplan. Ons was gelukkig dat ons ‘n maand of twee “vry” was om te doen wat ons wou, voordat my man weer by die volgende werk begin.

En so het die beplanning vir ons “road trip” begin….. (ek het nog nie ‘n lekker Afrikaanse woord vir “road trip” gekry nie….. ‘n padroete klink klakkelose vertaling ….. dalk ‘n omte-kuierroete (?), of vat-die-pad-en-kuierroete (?), of sommer net vat-die-pad-en-kuier!)  Het jy dalk ‘n lekker woord vir “road trip”?

1

Die beplanning het op die oudtydse manier begin – ‘n padkaart teen die muur vasgeplak: sodoende kon ons mooi die “prentjie” sien van waar ons gaan ry en waar ons gaan slaap.

Hoe dit ookal genoem word, ons roete het in Kaapstad begin, en ja, 28 dae later weer in Kaapstad geëindig. En wát ‘n oneindige voorreg was dit nie! (En dit alles net om te sien hoe lyk Dorp-op-die-berg…..!)

Op 5 Mei 2016 begin ons die roadtrippie met ‘n hoogtepunt (die eerste van 28 hoogtepunte!). Ons besluit dat ons darem nie onsself kan uitput met die eerste dag se ryery nie, en slaap die eerste aand by Schooneoord Country Lodge in Swellendam. Ons is soos opgewonde kinders in ‘n “sweetie winkel” – alles is vir ons mooi! Die berge, die mense, die blou lug, die watervalletjies uit die berge, …!  Tot die pad na Swellendam is vir ons mooi. Sekerlik omdat die pad eerstens verby Die Pampoenstalletjie ry. En tweedens, omdat die pad verby Nuy se splinternuwe restaurant Nuy On The Hill ry. Is dit nodig om enigsins meer hieroor te sê…?

nuy1  nuy2

Na ‘n heerlike kuier op die pad, het ‘n heerlike bederf by Schooneoord gewag! Hierdie is voorwaar ‘n juweel vir enige man wat sy vrou wil bederf!

2

3

En so kom ons aan die einde van dag nommer 1! Hou hierdie spasie dop vir ‘n opvolg na die res….!

Tot ons weer saamkuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A285074

Afskeid in Lagos

Vandag, nét vandag het ek besluit – dit is tyd om weer rustig te raak, en aan die skryf te raak. Ja ja, ek wéét dit is byna …. vyf maande vandat ek laas ietsie op my blog geskryf het, maar daar was ‘n paar plekke om te besoek, en ‘n paar dinge om te doen! Maar nou, ná vyf maande, is ek rustig en rég om my blog verder te neem! Ek sal stelselmatig blog oor die tydperk wat ek …. weggeraak het. Maar hier is ek nou terug!

Kom ek begin by die begin, of moet ek eerder sê: kom ek begin by die einde…..! Presies op 29 April 2016, het my man se driejaarkontrak in Lagos, Nigerië, ten einde geloop. En ál wat ek vir hom kan sê, is: Well done, my man! Om nie weer sy kontrak te hernu nie, was nie net ‘n klakkelose besluit nie. Maar wat ons wél besluit het, is om met dieselfde hoeveelheid tasse uit Nigerië te vertrek as waarmee ons gearriveer het. Wat ons ook saam met ons tasse uit Nigerië saamneem, is waardevolle vriendskappe, sakke vol ondervinding en hope vol herinneringe.

Die laaste week van ons verblyf in Lagos breek uiteindelik aan. Om na ons geliefde land terug te keer, is ewe skielik ‘n realiteit. Maar ons, veral my beterhelfte, het nie rekening gehou met die emosionele sy van die skuif nie….. ‘n Week van groet en afskeidfunksies het voorgelê. Met elke daaglikse vergadering, is daar van my man afskeid geneem. Die “sending off”-funksie waarheen “madam” ook genooi is, is die Woensdag voor ons vertrek by die Radisson Blu Hotel gehou. ‘n Funksie wat so in detail gereël is, dat dit ons absoluut oorweldig het. Elke gebaar het ons net meer nederig gemaak. Ek het by die funksie besef watter ongelooflike invloed my man op elke werker gehad het – wát ‘n ongelooflike voorreg om dit saam met hom mee te maak.

Ek deel graag ‘n paar foto’s van die geleentheid:

10 6

1 5

3 4

2 11 12.png

8

Net gou  ‘n paar verduidelikings van die foto’s:

  •  Ek het die program probeer vergroot…. daar is geopen met gebed
  • Kunstenaars wat die aand opgetree het, sluit in ‘n “rapper” en ‘n komediant
  • Die ongelooflike versierde rooi fluweelkoek, was ten volle eetbaar – tot die foto’s van my  man, was eetbaar.  Dit was ‘n voorstelling van die stad se “skyline”, met elektriese kragdrade, asook ‘n harde hoed
  • Ons moes die koek saam sny – soos van ouds op ons troudag
  • Geskenke is deur die dames aan my en my beste helfte oorhanding
  • Al die dames was baie stylvol en uit-die-boek aangetrek vir die geleentheid

Wat ‘n ongelooflike voorreg was dit nie om deel van hierdie rit te wees nie!

Met my volgende blog, vertel ek van ons doen-en-late die daaropvolgende drie maande.  En ja, ek sal kreatief moet dink oor die naam van my blog.

Dankie dat ek ons Lagos-lewe saam met jou kon deel.

Tot ons weer saamkuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A285074

Die sak-ding

“Kyk, die lewe van ‘n Expat-vrou kan baie interessant wees, maar ook, waarmee hou jy jou bedags besig”, is ‘n vraag wat my baie gevra word.

Interessant” is my lewe vir seker! En ook verryk – soveel plekke, soveel dinge, soveel mense! Dit is ‘n wonderlike voorreg wat ek het om hierdie ondervinding saam met my beste helfte te kan beleef. Maar, as hy in die dag werk toe gaan, waarmee hou ek my besig…..?

Wel, ek kan ook darem nou nie élke dag saam met die drywer in die kar spring en iewers gaan koffie drink nie (goed, goed, ek is seker ek sal dit ook kan doen….)! Behalwe dat daar nie só baie deli’s en koffiewinkels in Lagos is nie, sal dit ook my liewe man bankrot maak…..teen N1200 ‘n cappuccino (nou al R92!)

Hier in Lagos het ek weer begin om lekker te bak en te brou. Vetkoek en pizza met die broodmasjien leer bak. Innoverend te wees met dít wat ons hier kry. En dan natuurlik, weer bietjie naaldwerk te doen.

Ek het op Pinterest rondgesoek vir ‘n redelike maklike projek om aan te pak. Ek het sommer dadelik verlief geraak op die mooi sak!

pin

Ek het al ‘n paar sakke probeer maak, en dalk herken van julle dalk ‘n sak of twee!

Die naaimasjien is vir eers bietjie weggepak, maar ek hoop ek kan nog vele van die sakke maak. My sakke is nie naastenby so mooi soos Ashley s’n op haar blog nie, maar ek probeer, en elkeen word met baie liefde gemaak.  Dankie Ashley dat ek dit met my vriende kan deel!

Tot ons weer saamkuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A285074

‘n Dankbare hart

So is dit ook alweer  einde van die finansiële jaar, en almal spartel om finansiële verslae in te dien. Met ‘n dankbare hart luister ek na die finansiële verslag wat die tesourier van die NBIC (New Beginnings International Church) lewer. Ek het al voorheen oor ons kerk  in Lagos geskryf, en die kerk opsigself is al klaar ‘n groot seën in ons lewens. Ons kerk fokus spesifiek op die behoeftes van Expat christen-gelowiges. Dit maak die hele saak nog meer uitsonderlik – meeste van die tyd is daar nie debietorders of aftrekorders vir die kerk nie, en die expatgemeenskap is ‘n reisende gemeenskap. Gedurende die “summer holidays” is baie van die gesinne vir twee / drie maande nie in Lagos nie, so geen geldelike bydraes word gelewer nie. Maar tog, aan die einde van die tydperk, kan mens net met nederige dankbaarheid kyk na die syfers….

Budget

Nota:  N1000 = R77,21

‘n Allemintige inkomste van R6 684 956,09 vir die 2015 finansiële jaar!  Is dit nie ‘n groot seën nie!  Die inkomste (en getalle) het merkwaardig gegroei in die laaste vyf jaar, en so ook dit wat gespandeer word aan uitreike.

Wow, met wisselende getalle tussen 200 en 250 gemeentelede (in somermaande kan die kerkbywoninggetalle maklik afneem tot 80…), is hierdie ‘n heel indrukwekkende verslag.

Outreach

‘n Groot deel van die uitgawes gaan dan ook na verskeie uitreike. Van die uitreike sluit in die West Africa Theological Seminary (WATS), bybelverspreiding van Gideons International, die ondersteuning van Bethesda School, die WATS kliniek ens.

Dan kan ek ook met dankbaarheid getuig oor ons Afrikaanse Bybelstudiegroepie wat Donderdae byeenkom (wel, grotendeels Afrikaans, behalwe vir Claske wat Nederlands is en ons mooi verstaan, Kabelo wat Sotho is en baie goed Afrikaans kan praat, en Rob wat van Zimbabwe afkom, en Afrikaans ook mooi verstaan). So, dis party aande ‘n mengelmoes van Afrikaans Nederlandse “fannagalo”….. Ons het presies drie weke terug besluit om ons liefde en dankbaarheid te betuig deur by te dra tot ons eie ‘rolstoelprojek’ vir die WATS-ondersteunde kliniek. Trots oorhandig ons dan nou aan Jennifer Bennett, kliniekverpleegkundige en sendeling, genoeg geld om twee rolstoele aan te koop! Ons groepie is maar klein, gemiddeld so sewe lede per besoek. Donderdag het ons ‘n rekordgetal van 9 siele bymekaar gehad!

Soli Deo Gloria

Tot ons weer saamkuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A285074

Craft Gourmet

Hoef ek eintlik meer te sê…?

4

Die deur na een van dié mooiste en lekkerste restaurante in Victoria Island, Lagos ~ CRAFT GOURMET by Lou Baker.  Die naam sê dit, die deur sê dit, die spyskaart sê dit, en ja, die kos sê dit!  Wat ‘n heerlike toevoeging tot Lagos so ongelooflike bron van eetplekke! En soos Sade’s List tereg sê, dit is ‘n bekoorlike klein restaurant wat jou laat dink aan statige sjarme. Splinternuut in Victoria Island!

Die kelners laat jou behoorlik welkom voel as jy deur die mooi deure stap.  Almal is eenvormig en stylvol aangetrek, van kop tot toon – ja, tot almal dieselfde sampioenkleurige Crocs!  Wit handskoene die werke!

1

Heerlike vars Lebanese kos.  Een van ons  het ‘n “Brown Caprese sandwich” bestel.  Die broodjie is gemaak  van ‘n tradisionele Lebanese “mouchtan flat bun”.  Lou het self kom hoor of die kos lekker is.  Sy sê toe dat die “bun” spesiaal deur haar skoonma in Lebanon gebak word, en dit dan na haar toe ingevoer word.  Haar ma se besigheid is Tayebat Iman Healthy Bakery in Lebanon.

2

Die spyskaart wemel van vars en gesonde produkte ~ lensies, chia saadjies, olywe, songedroogte tamaties, olyfolie, komkommer en jogurtslaai, en natuurlik …. oondgebakte skaapboud bedien met gebakte aartappel-en-kaasgereg!

Die tafels is keurig gedek met wit geborduurde lapservette met die mooiste Villeroy & Boch eetgerei.  Aandag is gegee aan elke liewe detail.

3

Ek wens Lou en haar span nét die beste toe – voorwaar ‘n pragtige restaurant met pragtige mense!

Tot ons weer saamkuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A285074

Small World 2016

En toe is dit alweer tyd vir die groot bymekaarkoms in Lagos: Small World 2016. Gróót was hierdie bymekaarkoms – ‘n hele 4 000 siele almal saam. ‘n Wonderlike geleentheid waaroor ek voorheen al geblog het. ‘n Wonderlike geleentheid waar expatlande teruggee aan ons gasheerland – Nigerië!

1

Hierdie jaar se tema was “World of Colours” – synde dat ons letterlik van oor die hele wêreld hier bymekaar is.  Verskillende kleure, ras, geloof, kultuur, en noem maar op. (Nogal ironies omdat ons nogal met dieselfde #colour-storie in SA sit…)

Mense het laatmiddag na die hekke gestroom (en natúúrlik verkeersknope veroorsaak…).  Almal vrolik en opgewonde om te deel aan die pret van eet, drink en gesels.

2

 4

    3

Ons kon natuurlik nie vinnig genoeg by die Suid Afrikaanse stalletjie uitkom nie…….Dié was gelaai met biltong, boerewors, Mrs Ball’s blatjang, en …. koeksisters!! Man, toe verlang ons darem lekker terug huis toe!  Die volgende pitstop was België.  Nie net oor die heerlike wafels en pannekoeke nie, maar ook oor hul alombekende … Belgiese bier!

6

(jammer vir sensitiewe lesers, maar die Mannekin Pis  staan uit eie reg in Brussels.  Hierdie is wel net ‘n replika…)

So het ons die aand deurgekuier:  Kebabs by Griekeland, kaas by Nederland, en met ongeveer 25 stalletjies om te besoek, was dit onmoontlik om oral uit te kom.

Stiptelik 8 uur het die vertoning van dans en uitbeelding begin (ja, stiptelik – vreemd vir ‘n Afrikaland, maar onthou….expats reël dit!).  Die voorstellings van die lande was pret om na te kyk.  Al die dansers is amateurs, wat dit net nog meer besonders maak.  Suid Afrika het ‘n oulike uitbeelding van wit-en-swartkaartmannetjies voorgestel. Met een haal van ‘n massiewe verfkwas van reënboogkleure uitgevoer deur “mnr Nelson Mandela”, het die kaartmannetjies verander in veelkleurige dansers!  Welgedaan!

7

(backstage foto)

En hierdie man het gesmeek om saam met ons afgeneem te word……

5

Tot ons weer saam kuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A285074

Lagos City Marathon is oppad…

Dit gons behoorlik hier in Lagos oor die Lagos City Marathon wat môre hier in die stad aangebied word. Elke liewe FaceBookgroep wat iets met Lagos te doen het, berig daaroor. En hier gaan dit verseker nie oor die gewildheid daarvan nie (ja, dalk so effentjies), maar grotendeels oor die impak wat dit op Lagos se verkeer gaan hê.

Ek het al meermale geskryf oor die erge verkeer wat in Lagos is. Op ‘n mooi rustige dag, kan die verkeer maklik soos spitstyd op die N1 in Kaapstad lyk…..chaos! Met ‘chaos’ bedoel ek nie georganiseerde chaos nie, ek bedoel CHAOS in hoofletters. Daar word getoet as jy wil bane verwissel, of as jy iemand wil verbysteek, of as die motor langs jou te naby aan jou ry, of ja, sommer net, omdat jy KAN! (en dit is hoekom ek sit en lees as ons ry, want dan sien ek nie al die … chaos raak nie…!)

16

Die hoofroete wat Lagos Island en die Mainland verbind, is die Third Mainland Bridge. Dit is ook die hoofroete na die lughawe…. En die brug gaan môre vir die duur van die maraton … aan beide kante gesluit wees! So, hier kom ‘n ding…! Verder word strate rondom ons woonstel ook toegemaak.

11

Daar word verwag dat nagenoeg 50 000 atlete aan die maraton gaan deelneem. Hierdie maraton word gereken as een van die bestes wêreldwyd, en dit word in dieselfde asem as die Comrades maraton genoem. Wel, as ek voor die tyd geweet het wat is die prysgelde, sou ek dalk ‘n plan gemaak het om …. Nee wat, ek sal maar by die huis bly…! Daai tipe kilometers doen ek net met my kar!

 

ACCESS BANK LAGOS CITY MARATHON 2016

OVERALL PRIZE MONEY FOR MEN AND WOMEN

1st Position $50,000
2nd Position $40,000
3rd Position $30,000
4th Position $20,000
5th Position $15,000
6th Position $10,000
7th Position $8,000
8th Position $6,000
9th Position $4,000
10th Position $2,000

Wat wél meer in my afstand-lyn is, is die Run for a Cure run / walk wat elke jaar in Lagos plaasvind. ‘n Wonderlike geleentheid om oefening te kry terwyl dit vir ‘n goeie doel gaan. ‘n Dag waarop Lagos PIENK word vir al ons liewe vriende wat swaarkry as gevolg van kanker. Die 6,6 km kan gedraf of gestap word, en dit is baie gewild onder die expat-gemeenskap. Jy doen hierdie verseker nie vir ‘n prysgeld van $50 000 nie, maar jy dra dit op aan iemand spesiaals wat jy ken wat deur kanker geraak is. Daardie beloning is groot genoeg!

12

En is hierdie nie ‘n pragtige foto nie….

13

Mag ons saam die pienkstrikkie dra – met trots!

Tot ons weer saamkuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A28507414

Vir Ina, Susan, Belinda, tannie Rienie, Henna, Renschie

en so baie ander

Bietjie tong-in-die-kies…

Kyk, as ‘n mens nie meer vir jouself kan lag nie, dink ek, is dinge besig om skeef te loop…! Soms is dit sommer net nodig om te gaan sit en dink: wát het ek nou aangevang / gesê / gedoen / gedink……. En dan jou kop agteroor te gooi, en lekker vir jouself te lag. Dink net hoe ‘n lekker ontspanne omgewing gaan ons nie skep nie.

‘n Hele ruk terug ry ek saam met ons vorige drywer. Dik swart rook borrel op in die lug in die rigting van Lekki. Ek wonder by myself wat dit kan wees, toe John sommer sonder enige aanmoediging vir my sê: “a foil lorry is burning”! “Oh my!” is my enigste reaksie wat ek kan uiter, want weereens in my stilligheid sien ek die “lorry” toegemaak in foelie, wat besig is om te brand……? Die res van die gesprek het min-of-meer so verloop:

Annie: “John, just say again?”

John: “the foil lorry is burning”

Annie: “foil? Are you sure?”

John: “Yes, ma. It exploded”

Annie is nou heel deurmekaar – ek sien tienduisend stukkies foelie in die lug ontplof……totdat ek mooi dink oor die Nigeriese uitsprake wat soms vir ons só vreemd is……!

Annie: “Oh yes, the fuel lorry exploded! That’s bad!”

Op ‘n ander keer, wil ek vinnig winkels toe gaan – ek moet bak, en benodig ‘n bestanddeel. Wel, Palms Mall is ongeveer 3 km van ons af, maar dit kan maklik ‘n uur soontoe neem, so, “vinnig” is ‘n relatiewe begrip. Ek vra vir John om my na die Mall te neem … ! “I quickly want to go to the mall”, was die doodgewone stelling (?) wat ek min-of-meer gemaak het….. En met dié, trek John met ‘n vaart weg, vleg tussen die verkeer deur, stop net effentjies by die tolhek, en kom met swart remmerke voor die winkel tot stilstand!

Annie: “Wow John, that was fast! Are you in a hurry?”

John: “No ma, you told me you wanted to go to the mall quickly, so I need to get you there very fast!”

Sjoe, sal my leer, nê!

Anne-Marie stuur hierdie week vir my ‘n lys van aksente wat ons nou al begin leer / verstaan het:

 

 

 

accent4

Maar moet onse boerevolkie nie weggooi nie – ons het ook ‘n paar volksvreemde sêgoed / woorde wat ook my kop laat agteroor gooi en lekker lag:

5

Woorde eie aan ons, en wat so lekker sê:

bakkie

bakgat

chommie

dinges

lekker!!!

jawelnofine……(yes well no fine!)

moegoe

laduma!  en nog vele meer!

1        2

3           4

Laat ons bietjie die koppe agteroorgooi en lekker lag!

Tot ons weer saamkuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A285074

 

 

The Great Wall of Lagos

Jy sal dink: nou waar kom Annie nou vandaan…..? Ons almal weet tog dat die ‘Great Wall’ in China is? Maar wag, kom ek vertel jou meer van die nuwe  ‘Great Wall’  – die Great Wall of Lagos!

n Splinternuwe dorpsontwikkeling is besig om plaas te vind in Lagos:   Eko Atlantic – aangrensend aan Victoria Island, teenaan die Atlantiese oseaan. ‘n Massiewe ontwikkeling wat 10 miljoen vierkante meter sal beslaan na voltooiing. ‘n Ontwikkeling wat gaan insluit finansiële, kommersiële, residensiële en toerisme ontwikkeling met net die nuutste en mees moderne standaarde beskikbaar. Die “nuwe” stad sal net oor die beste sekuriteit, watervoorsiening, sanitasie en vervoerstelsels beskik. Eko Atlantic sal ook oor ‘n onafhanklike bron van elektrisiteitsvoorsiening beskik. In ‘n tyd waar byna elke eiendom in Lagos oor ‘n privaat kragopwekker beskik, kan hierdie as heel luuks beskou word.

1 satelliet foto

 2 lugfoto

Miljoene kubieke meter water word drooggelê en opgevul met sand en tonne klip. Wat begin het as ‘n noodmaatreël om die kus by Bar Beach te beskerm teen see-erosie, het ontwikkel tot ‘n see-muur wat plaaslik beskou word as die Great Wall of Lagos. Hierdie 6,5 km lange muur, is ontwerp deur Royal Haskoning en getoets in Denemark deur die wêreldbekende Denmark Hydraulic Institute (DHI). ‘n Wonderlike stuk ingenierswerk wat opgerig is om magtige waters uit te hou. ‘n Muur wat gebou is om nagenoeg 1 000 jaar te hou – ‘n muur wat die toets van die tye sal moet weerstaan.

4 muur

5 muur6 muur

Vier banke – drie plaaslike en een buitelandse bank – gee finansiële ondersteuning aan hierdie privaatsektor projek. Die ondersteunende banke is First Bank PLC, Guarenty Trust Bank PLC (GT Bank), First City Monument Bank PLC en BNP Paribas Fortis van Frankryk. Nét die beste ingenieurs, landmeters, bourekenaars, bemarkers en agente word gebruik om hierdie multimiljoen dollar projek te behartig. Eko Atlantic sal in sewe distrikte verdeel word: Ocean Front, Harbour Lights, Business District, Eko Drive, Marina, Avenues en Downtown.

7 voorstelling

8 voorstelling

Baie klem word gelê op die beheer van vervoer binne Eko Atlantic, om sodoende die foute van die verlede te probeer vermy. Oral sal parkeerareas aangebring word, en géén straatparkering sal toegelaat word nie. ‘n Ligte treinsisteem met nagenoeg 60 stoppe word beplan, asook ‘n pontstelsel wat op die kanale kan vaar.

Geboue word teen ‘n spoed opgerig, en hoofpaaie nader al voltooiing.  Nog baie lank gaan die horison van Lagos gelaai wees met hyskrane.  Voorwaar ‘n ontwikkeling om na uit te sien!

9 ligte

10 skyline

Gaan kyk gerus na ‘n kort opsomming oor die voorstelling van Eko Atlantic:    Lagos – A City in the Making

Tot ons weer saamkuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A285074

 

…’n nuwe jaar, ‘n nuwe jy…

Die opskrif van die blog, is ‘n bietjie van ‘n … tong-in-die-kies opskrif…. Dis ‘n gesins-sêding wat ons seun begin het, en wat lekker deur die res van die gesin uitgebuit word! Hier gaan Januarie 2016 al in die middel, en ek glo die meeste van die “nuwejaarsvoorneme” is al by die agterdeur uit….. Wel, seker die meeste van die voornemens, behalwe …. ja, ja, die minder eet – een, die meer oefen – een, die geduldiger wees – een, en en en….!

Maar wag, een van die heel lekkerste dinge om te doen so na ‘n heerlike lang vakansie, is om al die nuwe plekke te verken wat oopgemaak het in Lagos! My hande juk sommer om by al die plekke uit te kom. En vanoggend word my en Suzelle se weeklikse vaste koffie-afspraak afgeskop met die besoek aan die “nuweLa Pointe supermark en deli. La Pointe het verlede jaar toegemaak tydens die bou van hul nuwe perseel, en het weer heropen Desembermaand. Wát ‘n pragtige gebou!

La pointe

Argiteksvoorstelling soos op La Pointe FaceBook

Die rakke kreun behoorlik van al die ingevoerde produkte. Daar is tot bruismeel en gewone meel op die rakke – iets wat deesdae skaars is in die winkels! Ek het Oktober omtrent 5 kg meel vanuit Dubai  saamgevlieg!

1   4

 2

Die slaghuis se pryse is baie mededingend, en die snitte is mooi gemerk. Ten minste sê hulle dit is “goat”! Hulle laat jou nie wónder of dit dalk skaap is nie…

3     6

En natuurlik word daar altyd voorsiening gemaak vir dié  …. wat baie dors is!

5

Maar helaas, die koffiewinkel is nog nie oop nie…..! Dit sal maar vir ‘n volgende uitstappie moet wag!

Wát ‘n mooie toevoeging tot die lys supermarkte in Lagos! Ek wens hulle nét voorspoed toe in die toekoms!  Welgedaan!

Tot ons weer saamkuier!

http___signatures.mylivesignature.com_54493_341_C21DBFF834DA595429ECA6FD5A285074