18 Januarie 2011
Dagsê!
Sjoe, ek het lank laas met julle gepraat! Hoop dit gaan nog goed met almal. Mag 2011 ‘n wonderlike jaar vir elkeen van julle wees!
Eerstens moet ek sê hoe geseënd ons was die afgelope tyd met goeie reën. Dit het letterlik die ou jaar uit en die nuwe jaar in gereën. Die veld is pragtig groen en al die gronddamme staan vol water. Die veld is vol lewe. Saans as die wind gaan lê het na die reën, kan jy hoor hoe sing die natuur van dankbaarheid… krieke, paddas, ganse wat in die water baljaar, die gekwetter van voëls van alle soorte, ‘n lam wat blêr opsoek na sy ma wat ‘n ent verder wei en in die verte hoor jy nog die gerammel van donderweer soos dit aanbeweeg om ook vir iemand anders die vreugde van reën te bring.
Dit gaan goed met al ons dierekinders. Muis (die muisvoël) het intussen in ‘n groter hok ingetrek en is steeds die oulikste voëltjie wat daar is. Die ander muisvoëls kom kuier gereeld vir hom. Soms wonder ek of ek hom nie maar eerder moet vrylaat nie. Wat kan dan nou lekkerder wees as om vry te wees en te vlieg saam met die ander. Ek probeer myself oortuig dat hy nie daar buite sal oorleef nie, maar ek glo hy sal. Die ander muisvoëls sal hom help – hulle is familievoëls. As daar ‘n mamma is met kuikens dan sal die ander mammas ook help om die kuikens kos te gee en te beskerm al is dit nie eens hul eie kuikens nie. O wag… so van mammas gepraat… Muis is ‘n vroutjie. Sy het sowaar nou die dag ‘n eiertjie in haar hok gelê, maar dit het gebreek.
Met al die honde (Blikkie, Bruno, Basjan, Tiekie en Kiddo) gaan dit ook nog goed. Ek het netnou so gelag… Jaco’le het gaan skaapwerk vanoggend en het met ‘n vrag lammers op die bakkie terug gekom. Basjan was ook saam en daar was toe nie plek vir hom agter tussen die skaap nie. Hy sit toe ewe groot meneer voor in die bakkie – kierts regop en kyk by die venster uit. Ek is baie lief vir jou Bassie, maar ai… hy kan my soms vreeslik kwaad maak. Hy wil net als jaag wat beweeg. Ek het so ‘n tyd gelede met die honde gaan stap na een van die gronddamme. Daar is sulke lieflike koelte bome. Toe ek weer sien het Basjan al halfpad in een van die bome opgeklim. Dit het my ‘n tydjie gevat om uit te vind waar agter hy is. Net te laat sien ek toe die dassie. Die arme das het uit die boom gespring (fout wat hy gemaak het, want onder die boom het nog honde vir hom gewag). Teen daai tyd was daar geen keer meer nie. Ek het gegil, geskreeu en geslaan, maar tevergeefs. Binne minute was alles verby 😦 .
Kiddo was ‘n bietjie siek gewees. Sy’t maagpyn gehad en daar was ook bloed in haar ‘poop’. Sy was al voorheen by die veearts vir soortgelyke simptome. Kry dan antibiotika en dit gaan beter, maar kort voor lank dan is dit weer dieselfde storie. Die dag sien ek toe maar sy is baie ongemaklik. Bel toe die veearts om te hoor of ek haar nie gou kan inbring nie. Maar soos dit mos nou altyd in ‘n noodgeval uitwerk, was die veearts nie beskikbaar nie. Toe kos dit ons deur ry Colesberg toe. Die veearts daar het toe ‘n ‘poop’ monster geneem en weggestuur vir toetse. Hul kon egter nie ‘n teken van enige kiem of ding kry nie. Twee weke van medikasie en toe is sy weer beter. Sy is nou op ‘n spesiale dieet (Hills) vir spysverteringsprobleme. Enigste probleem is dat sy nie hou van die droë kos nie, sy soek vleis. Al wanneer sy dit wel eet is wanneer ek met haar speel en vir haar die kos een vir een gooi. Dit gaan darem nou beter, maar die magie is nog nie 100% reg nie.
Dis mos alweer somer en dit beteken tyd vir slange. Elke seisoen kry ons minstens een pofadder en kobra. Die slag was dit eerste die Kobra. Jan het hom raakgesien terwyl hy sommer so tussen die honde deur seil op pad blomtuin toe. Daar het Jaco en Jan hom gelukkig in die hande gekry voor hy onder ‘n plant kon verdwyn. Dit het eintlik sulke klap geluide gemaak soos wat hy teen die graaf pik. Dis maar altyd baie senutergend. Die ander dag was ek weer alleen hier by die huis – Jaco’le was veld toe. Ek het net terug gekom huis toe nadat ek die hoenders kos gegee het. Die voete-afvee-matjie het so skuins teen die stoep gelê (sit hom gewoonlik so wanneer die stoep afgevee word). My skoene was modderig en ek het net die matjie opgetel om op sy plek te sit sodat ek my voete kon afvee, toe ek die pofadder onder die matjie sien lê. Voor jy nog kon sê ‘slang’ het ek die matjie gelos en ‘n ent weggespring. Ek het myself lam geskrik! Al die honde was buite en ek was verbaas dat een van hulle hom nie eerste ontdek het nie. Dadelik het ek al die honde gaan toemaak. Opsie 1… maak die slang self dood. Opsie 2… gaan soek vir Jaco. Die slang het nie gelyk of hy enige planne het om êrens heen te gaan nie, so ek het vir opsie 2 gegaan. Ek het geroep, geskreeu, die klok gelui, die hoeter gedruk, maar geen mens het te voorskyn gekom. Ek ry toe maar na Jan se huis toe om te gaan hoor of Petro nie weet waar hul is nie. Sy, toe nog baie braaf, het gereken sy sal my kom help – die manne was veld toe om een van die beeste te gaan soek. Ons is toe terug huis toe. Slang het nog net daar op dieselfde plek gelê. Ek het kookwater gaan opsit en die grootste klippe wat ek kon kry aangedra. Petro, wat eens baie braaf was, was nou amper te bang net om vir die slang te kyk. Na ‘n paar minute was ons gereed… kookwater, klippe en gaffel. Dit behoort die ding te doen. Nou kort ons nog net die moed. Toe hoor ons stemme. Jaco’le was naby die huis. Petro het gehardloop om hul te gaan roep terwyl ek die slang op pas. Hulle het toe vinnig ‘n plan gemaak met die slang. Shame, ek het hom eintlik jammer gekry, maar nou ja… ons kan hom nie hier by die huis toelaat nie.
9 Maart 2011
Gister was my en Jaco se troudag herdenking. Drie jaar is alweer verby sedert daardie onvergeetlike dag in ons lewens.
Ons ganse het dit uiteindelik laas jaar reg gekry om te broei. Oftewel, hul het nog elke keer probeer broei, maar die honde het al die eiers opgeëet. Laas jaar het daar darem een eier oorleef en boonop het hy nog uitgebroei ook. So ‘n ganskuiken is darem net die oulikste ding en hy maak ook die oulikste geluidjies. Hy het sommer drie ma’s en ‘n pa gehad en hulle het hom soos goud opgepas. Nou is hy al uitgegroei… nog ‘n wit gans.
Die hoenders is nog net so vrugbaar soos altyd. Een van die dae sal ons weer ‘n slagdag moet hou, want hulle raak nou net te veel.
Verder het ons in laas jaar vyf hanslammers gehad (Bontbok, Linge – ‘n tweeling, Tjoppie en Blits). Hulle het vir baie vermaak gesorg. Een van die tweeling was ‘n regte kop-stamper. Ek was amper te bang om uit die huis te gaan as hy naby is. Hy’t gehou daarvan om mens te jaag en met sy kop (met horingkies) te stamp. Ek het maar omkyk-omkyk geloop as hy naby was. Almal van hulle is nou reeds gespeen en party is ook nie meer met ons nie…
Twee van ons koeie het vroeg in die jaar weer gekalf. Een van die kalfies se naam is Nr 10 en die ander enetjie is naamloos. Ek wil maar nie te betrokke raak by hulle nie want ek weet hul gaan nie vir altyd daar kan wees nie.
Het ek jul al vertel van ons enigste Tarentaal? Elke oggend en aand as ek die hoenders kosgee dan is hy (of eintlik sy) ook hier. Sy was vir maande maar eensaam en het gereeld geroep vir ander tarentale. Toe na die reën het hier nog drie aangekom. Hulle is baie wild en kom nie naby ons nie. Daarna het ons tarentaal ook net begin wegbly. Ons was eers bekommerd dat sy dalk weg is saam met die ander, maar toe op ‘n dag hoor ons hulle weer. Die veld het seker nou genoeg kos vir hulle sodat hul nie hoef huis toe te kom nie. In laas week toe sien ons hul weer en nou is daar kleintjies by. Ek hoop nou net dat hulle almal hier gaan bly.
In Desember was ons vir ‘n week in die Kaap gewees. Het bietjie tyd saam met die familie gespandeer. My sussie se baba (Kara) is in Oktober gebore en ek kon nie wag om haar te ontmoet nie. Sy is te kostelik! ‘n Regte poppie. My ma het ook deur ‘n moeilike tyd gegaan – wat haar gesondheid aanbetref. Dit gaan egter baie goed met haar en ons glo en vertrou dat sy volkome gaan herstel. Ons het ook ‘n swaer by gekry toe my jongste sussie September maand getrou het.
Ons het ook nie leë hande uit die Kaap uit teruggekom nie. My swaer het vir ons twee hasies gekry… Snoekie en Bugs. Hulle was nou te oulik vir woorde. Dit was die eerste keer dat ek met hase te doen gekry het. Ek het eintlik nie geweet hulle kan so oulik wees nie. Hul hou egter nie baie daarvan om opgetel te word nie. Hulle kan glo geleer word (sit, staan, etc) maar ek het dit nog nie reggekry nie. Hulle speel graag met leë toiletrolletjies – tel dit op en gooi dit neer. ‘n Baie interressante feit is dat hul glad nie ‘n windjie kan los nie… nie boontoe of ondertoe nie. Daarom mag hul nie goed eet wat vir hulle gas kan gee nie. Hulle is ook baie breekbaar en kan maklik hul rug breek deur te veel te skop en spartel. So hul moet net reg opgetel en vasgehou word. Ons het nog nie ‘n permanente hok vir hul nie en het hul vir tyd en wyl eers in ons kuikenhok gesit in die blomtuin. Hulle het egter begin grawe en elke nou en dan het hul hulself uitgegrawe. Dit was glad nie ‘n maklike takie om hul weer terug te kry in die hok nie! Verder het hul ook nie net in die blomtuin gebly nie. Nee… hul het ‘n manier gevind om uit te kom en die veld in te hardloop. Dan het dit nou eers ‘n vreeslike gesoek en gehardloop afgegee om hul weer gevang te kry. Die honde moes ook op hok gehou word vir daardie tyd. Tot op ‘n dag wat ons hul net nie weer in die hande kon kry nie. Ons het eers die volgende dag vir Snoekie gevang gekry en het later die middag op Bugsie afgekom… dood langs die draad. Ons vermoed sy het dalk teen die draad vasgehardloop. Ek was so hartseer oor my hasie. Sy was juis die makker enetjie. Ek het mos vir hul ‘n halsband gekoop sodat hul bietjie uit die hok kan kom en sy was die enigste enetjie wat dit nog gedra het. Nou is Snoekie alleen, maar gelukkig het sy nog nie weer haarself uit die hok gegrawe nie. Jaco gaan binnekort vir haar ‘n ander hok bou.
Jaco was laas naweek saam met sy ma daar na Calvinia se omgewing. Hulle het egter nie alleen terug gekom nie. Agter op die bakkie was twee varke en drie bokke. Die bokke loop nou nie hier naby die huis nie, maar die varke is sommer naby. Hulle is te kostelik om dop te hou. Vreeslik morsig, maar tog oulik. Dit snork-snork net die heeltyd. Het hulle nou vir jou ‘n keel opgesit toe hulle van die bakkie afgelaai is! Sjoe! Die hok waarin hul nou is is net eers tydelik, want dis eintlik ons hanslammerhok. Jaco moet nog vir hul ook ‘n permanente hok bou. Dis ‘n beer en ‘n sog, Fillipus en Fransina (soos gedoop deur Henro). Die bokke het nog nie name nie.
Ag, daar het so baie dinge gebeur sedert ek laas geskryf het, ek kan helfte nie eens meer onthou nie. Wou maar net vir jul laat weet dat ons darem nog lewe en dat dit goed gaan met ons op die plaas 🙂
Mag jul ‘n lieflike dag verder hê! Hoop om weer ‘n slag van julle ook te hoor!
Otterjasiegroete,
Anoesjka
13 Mei 2010, Donderdag
16 Maart 2010, Dinsdag
2 Maart 2010 – Dinsdag
More!
Jammer ek het so lanklaas van my laat hoor – besef nou eers ek het nog nie een keer hierdie jaar geskryf nie. Tyd vlieg ook so vinnig dat ek skaars kan glo ons is alweer in die 3de maand van 2010. Eintlik het ek nie regtig ‘n verskoning nie, behalwe miskien ‘n bietjie luigeit.
Dit gaan nog goed hier. Ons is dankbaar vir die reën wat ons in laas week gekry het – was net mooi ‘n duim oor ‘n tydperk van 3 dae. Ons het nou wel nie so baie reën soos ander plekke in die omgewing gehad nie, maar dit was genoeg om die veld weer ‘n groen skynsel te gee. So ‘n tyd gelede het De Aar amper weggespoel so baie reën het hul gekry. Die duikweg was toe onder die water. Op daardie stadium het hul oor die 5 duim reën gekry waar ons toe net ‘n 3/4 duim gekry het. Een van die huise in die dorp is ook nou die dag deur weerlig getref. Gelukkig is niemand beseer nie, maar dis ongelooflik watter skade die weerlig aangerig het aan die huis.
Ons het ‘n nuwe toevoeging tot ons familie hier op die plaas gekry… ‘n Witkruismuisvoël. Hy was seker so 3 weke oud toe ons hom gekry het. Dit is die fraaiste ou dingetjie met sy lang stert en kuifie op die kop. Hy eet net vrugte en groente. Sy gunsteling is opgekookte pampoen. Ek het nooit besef ‘n mens kan hul aanhou as troeteldiere nie, maar nadat ons hom hier op die agterstoep gekry het, het ek baie op die internet oor hul opgelees. Hy is vreeslik mak en sit graag op my kop of in my hand. Verder dink hy mos ek dra ‘n bril spesiaal sodat hy daaraan kan hang. Ek soek nou net ‘n groter hok vir hom. Hy sit en slaap nie saans op ‘n tak soos ander voëls nie… nee hy hang soos ‘n vlermuis aan die dak van die hok. In die natuur sal hulle sommer in sulke bondels hang (in ‘n boom) met hul pensies teen mekaar om hulle warm te hou deur die nag. Verder is hy mal oor koppie-krap en kennebak-krap. Hy maak eintlik sy ogies toe van lekkerte. Ek het vir hom spesiale pellets en nektar gekoop, maar lyk my nie hy hou daarvan nie. Nou die oggend toe lyk dit eerder vir my of hy in sy nektar gebad het, want sy hele lyfie was taai. Toe moes ek hom maar weer in skoon water bad.
Ons het ook so ‘n tyd gelede vir die eerste keer Rooiwangnaguilkuikens gesien. Ons hoor en sien gereeld die naguiltjies hier om die huis, maar het nog nie voorheen op ‘n “nes” afgekom nie. Mens kan dit amper nie ‘n nes noem nie, want hul sit sommer so op die grond en broei – sonder ‘n takkie of ‘n veertjie om ‘n nessie te maak. Sommer net so op grond, met die klippe net ‘n bietjie weggekrap. Dit lyk net soos twee bruin wattebolle wat op die grond lê… skaars groter as ‘n vuurhoutjie. Met die hoenders gaan dit goed. Die kuikens is al groot en uitgegroei en die hane kraai van vroeg tot laat. Party sukkel nog so ‘n bietjie daarmee, maar hou nie op met oefen nie. Twee van die hane is alreeds pot toe en daar is nog ‘n hele paar wat dieselfde paadjie sal moet loop. Dan is daar ook alweer 4 nuwe kuikens. Ek wou nie eintlik nog laat broei voor ons nie toegeboude hoenderhokke het nie, maar die henne maak hul neste waar ek dit te laat sien. Op die oomblik vermis ek twee henne, wat of êrens sit en broei, of wat ‘n slagoffer van ‘n honger ongedierte was. Oja, ou Basjan het mos nou die dag my mooiste jong hennetjie dood gespeel. Sy was saam met hom in die hok (hul klim gereeld daar in om hul eiers daar te lê en gewoonlik pla die honde hul nie). Ons het haar eers gesien toe sy al klaar dood was, maar sy was nêrens stukkend gebyt nie. Sy was my enigste jong wit hennetjie en ek het nog nie eens ‘n foto van haar geneem nie. Was maar baie ongelukkig daaroor, maar kon ook nie vir Basjan kwaad wees nie. Hy kon immers nie help dat sy in sy hok ingeklim het nie. Nou een aand kort nadat ons gaan lê het, hoor ons die hoenders ‘n vreeslike kabaal opskop. Ons besef toe dat ons nooit die hoenderhok toegemaak het nie. Jaco het uit die bed gevlieg om te gaan kyk wat aangaan. Toe hy by die hok kom was daar ‘n kat in die hoenderhok, maar hy kon nie presies sien watter soort nie. Een van die henne was raak gebyt, maar gelukkig was dit nie fataal nie en het sy dit wonder bo wonder oorleef. Nou maak ons seker dat ons saans die hoenderhok vroeër gaan toemaak. Ons het juis die kat gisteraand weer hier gewaar.
Die honde is almal nog spekvet en gesond. Soos wat hulle kan eiers vreet kan dit ook nie anders nie. Ons sal vir Tiekie op ‘n dieet moet sit want een van die dae gaan haar kort beentjies haar nie meer kan dra nie. Sy val hoekal al klaar so oor haar eie bene – asof haar voorbene onder haar swik. Sy’s nie regtig oorvet nie, seker maar die ouderdom. Ons gaan stap elke aand met die honde en hul geniet die vreeslik. Nou een het ek alleen ‘n entjie met die honde gaan stap – andersens gaan Jaco gewoonlik saam. Dis mos nou juis toe wat hul weer op ‘n likkewaan afkom. Hulle het almal in dieselfde rigting gehardloop, maar ek kon nie sien wat dit is wat hul jaag nie. Later het ek gehoor hoe hulle ‘speel’, maar kon nog nie sien met wat nie. Toe ek eindelik by hulle kom was Basjan en Kiddo besig om tou te trek met die arme likkewaan. Hy was êrens stukkend want daar was effe bloed op Kiddo. Toe Basjan my sien (en hoor) het hy dadelik gelos en huis toe begin hardloop, maar nie Kiddo nie. Nee.. sy het die likkewaan sommer so alleen met haar mond opgetel en om geskud soos ‘n ou slipper. Ek het gedink die likkewaan is dood want hy’t net dood stil daar gelê sonder om ‘n geluid of ‘n beweging te maak. Toe ek by die huis kom en vir Jaco vertel het hy gesê hy dink die likkewaan het net dood gespeel. Die volgende oggend het ons toe gaan kyk of die likkewaan nog daar lê, maar hy was weg. Die honde het hom toe weer uitgesnuffel so ‘n paar meter verder, maar Jaco kon hul gelukkig keer voor hul die arme ding weer beet kon kry. Gelukkig is ‘n likkewaan ‘n taai dier en sal hy die aanval oorleef.
Ounooi loop nog hier in die groot tuin. Sy is wraggies so platvet mens kan maklik ‘n skinkbord op haar rug sit. Sy het nou ‘n tyd lank saam met 4 ramme geloop so ons wag nou in spanning om te sien of ons een van die dae ‘n klein Ounooitjie kan verwag.
Ons het al ons eerste tamaties uit die blomtuin geoes en daar hang nog ‘n paar groenes. Is so lekker om uit jou eie tuin te eet.
So ‘n tydjie gelede het ek bietjie vir Jaco’le in die skaapkraal gehelp. Dit was warm en die son het my taamlik verbrand, maar dit was so lekker. Ek’t gehelp met die tellery, bosluise spuit en het ook die ‘woundsept’ aangespuit as die sterte afgesny word. Dalk sal ek nog later kans sien om self ‘n stertjie af te sny, maar shame… kry hul so jammer. Dit het vir my so lekker gelyk om tussen die skape in te hardloop en een te vang dat ek dit net self moes probeer. Ek het my omtrent disnis gehardloop, maar het darem eindelik ‘n lam aan die agterbeen gevang gekry. Ek was so opgewonde toe ek hom gevang het, dat ek amper vergeet het om vas te klou. Hul skop moes vreeslik om los te kom. Ek sal maar nog eers bietjie gewigte moet oefen voor ek vir ‘n grote probeer kans sien. Ounooi hou niks daarvan as ek haar sommer so aan die agterbeen gryp om net haar skopkrag te voel nie. Teen die einde van die dag was ek seer gebrand, taai en vaal van die stof en my bene was lam en seer, maar mens voel so lekker na so ‘n fisies produktiewe dag. Teen die einde van die dag kon ek sê ek verdien my bad en my bed.
Met my en Jaco gaan dit nog goed. Kan skaars glo ons vier Maandag wat kom ons 2de huweliksherdenking. Ons is steeds baie gelukkig hier. Gisteraand was dit so stunning toe die maan op kom. Dit was net mooi in die tyd wat ons met die honde gaan stap het – sonsonder. ‘n Groot geel “glow in the dark” bal het agter die karoobosse verskyn. Ons moes net vir ‘n oomblik tot stilstand kom om dit en die stilte te bewonder. So ‘n paar weke gelede het my ma en stiefpa vir ‘n naweek by ons kom kuier. Dit was lekker om weer iemand van die Kaap te sien en ons het sommer baie lekker gekuier. Dit was net mooi in die tyd wat Jaco’le die ronde dam hier naby die huis reggemaak het. So op daardie stadium was die dam silwerskoon en kon ons dit ook inwy. Ek glo 2010 gaan ‘n wonderlike, onvergeetlike jaar wees. Ons het al klaar soveel om na uit te sien. My jonste sussie trou in September en my jonger sus het ‘n paar dae gelede uitgevind sy’s swanger en verwag hul baba in Oktober.
Op daardie positiewe noot gaan ek eers afsluit. Laat weet gerus hoe dit met julle gaan! Mag die res van julle week finominaal wees!
Muisvoëlgroete,
Anoesjka
8 Desember 2009, Dinsdag
Dagsê!
Jammer ek het so lanklaas van my laat hoor, maar ek was die afgelope tyd taamlik besig. Nie dat ek kla nie, want ten minste het ek werk en het ek die gesondheid om te kan werk. Eerstens wil ek sê hoe dankbaar ons is vir die goeie reën wat ons oor die afgelope twee dae gekry het (22.5mm). Is nou wel nog onder ‘n duim, maar elke bietjie help. Die weer was die afgelope twee aande regtig swaar… soos ek dit nog nie voorheen gehoor het nie. Op ‘n stadium kon ek die goed in die kombuis hoor klinkel.
Onthou ek het julle vertel van ons ganse wat broei? Nadat twee van die ganse al veel langer op hul eiers gesit het as wat nodig is, het Jaco van die eiers oopgebreek om te kyk. Almal van hulle was vrot, onbevrugte eiers. Ons hoop was toe nog op een gans. Die honde het ons egter voorgespring en almal behalwe een eier opgevreet. Teen die tyd wat ons gedink het dit behoort uit te broei het Jaco na die eier gaan kyk en sowaar…. daar was fyn krakies in die dop. Groot was ons opgewondenheid! Die volgende oggend kon ons nie wag om te gaan kyk hoe lyk ons nuwe klein gansie nie. Groot was ons teleurstelling toe ons daar kom en ‘n dooie klein gansie kry. Hy was so pragtig en perfek, maar dood. Ons weet nie wat gebeur het nie en of van die ander ganse hom moontlik dood gemaak het nie. Die wyfie gans het nog vir lank daarna op haar leë nes gesit. Kort daarna het die twee ander wyfies weer begin eiers lê. Die honde het weereens een van die neste leeg geëet. Die ander nes het vir ‘n lang tyd drie eiers ingehad en moes al naby aan uitbroei wees toe hulle ook uit die nes verdwyn het. Die arme gans sit nog steeds op haar nes. Hulle krap mos hul nessies mooi toe as hul opstaan om te gaan eet. Ek het nou die dag so onder die takkies en vere gaan loer en raai wat vind ek toe in die nes? Drie groterige kalkklippe. Ek is seker die gans dink dit is nou haar eiers. Die ganse bly nou maar ongelukkig met hul broeiery. Verder is Jaco hard besig om die fontein vir die ganse skoon te maak – van die riete uit te roei – sodat hulle daar kan swem. Ons het hul al ‘n paar maal soontoe gelok en in die water gesit, maar hulle hou nie baie daarvan nie. Hopelik raak hulle nog gewoond daaraan.
Die trekker staan steeds stukkend so ons kon nog nie begin plant nie, maar ons het ‘n paar tamaties in die blomtuin geplant. Nou wag ons net om te sien of hulle darem iets gaan dra. Dis ook die eerste jaar wat ek blomme in die tuin het – nou vandat hier nie meer ‘n skaap of ‘n hoender in die tuin kan kom nie.
Op die voorstoep staan so ‘n groot plastiek blompot wat ons gebruik het vir die Rooihen om in te broei. Een oggend wat ons wakker word klink dit heeltyd vir my of daar iets in die blompot is. Hoor kort-kort skuifel geluide. Toe ons in die pot gaan kyk, kry ons toe twee oulike klein muise daar binne. Ag, maar hulle is regtig so pragtig. Hoewel dit swaar was, het ons vir Jan gesê hy moet hulle maar vir sy kat huis toe vat. Jan het skoon van hulle vergeet en later die middag het ons hulle toe maar vrygelaat. Hulle woon toe al die tyd onder die voorstoep – daar is tonnels wat daar ingaan. Hoe hulle in die blompot beland het, weet ek nie. Sowaar, die volgende oggend hoor ek weer dieselfde geluide en toe ek by die blompot kom, sit dieselfde twee muise weer vir my en loer. Ek het hul maar eers daar gelos. Later die oggend kry ek toe net skielik hond se gedagtes en wonder waar Kiddo (my Jack Russell) is. Wraggies! Toe ek by die blompot kom sit daar net een muis en Kiddo staan op die gras met die ander muis in haar mond. Hy was klaar dood. Ai, ek het skoon hartseer gevoel oor die muisie. Ons het die ander muis nog eers in die blompot gelos omdat ons nie kon besluit wat om met hom te doen nie. Die volgende oggend toe ek gaan kyk, toe is daar sowaar weer twee muise in die pot. Ek het maar vir hulle ‘n bietjie fyn mielies en water in die pot gesit. Ons het ook vir hulle ‘n lap in die pot gesit waaronder hulle ingeklim het om te slaap. Vir twee dae het ons hulle so aangehou. Die derde dag moes Jaco veld toe en toe vat ons sommer die pot met die muise saam om hulle ver in die veld te gaan los sodat hulle vir hul ‘n nuwe huis kan vind. Toe Jaco die lap optel om hul vry te laat… is daar sowaar drie muise! Dit lyk darem of die hele kolonie van muise nou onder die stoep weg is, want ons het nog nie weer ‘n muis daarna gekry nie.
Ai, ek het nou die dag so lekker gelag… Tiekie is mos nou bekend vir haar eiervretery. Die dag lê sy toe ook so en lek aan ‘n eier. Sy maak mos net ‘n klein gaatjie in die dop en dan lek sy al die eier uit met haar tong. So sien ek maar ons Spikkel hennetjie loop al om Tiekie en dit lyk of sy ook ‘n stukkie van die eier wil hê. Tiekie is nog besig om ‘n rus kansie te vat en haar lippe af te lek toe die hen skielik na die eier toe pik. Sy pik toe ook net mooi in die gaatjie wat Tiekie gemaak het en daar sit die eier om haar snawel vas. Sy hardloop toe rond met die eier om haar snawel. Dit het so snaaks gelyk. Sy het ook so lank gesukkel om die eier af te kry dat ek genoeg tyd gehad het om in te gaan huis toe en my kamera te gaan haal. Ek kon net die laaste stukkie op video neem voor sy die eier afgeskud gekry het. Sy het die eier net afgeskud toe Blikkie verbygestap kom en sommer die eier vir hom toe-eien en daarmee wegstap. So spyt ek kon nie die hele petalje van die begin af op film vaslê nie.
So van Tiekie gepraat… sy het onlangs ‘n groot operasie deurgemaak. Sy was op hitte, maar ons kon sien daar was groot fout met haar. Verder het ons ook harde knoppe onder haar pensie ontdek. Veearts moes maar kyk en het gesê dat sy gesterilliseer sal moet word en dat hy die kankeragtige knoppe kan uitsny. Honderde rande later en Tiekie is weer op die been. Ek moet sê sy het verbasend vinnig herstel. Drie dae en toe loop sy sommer alweer gemaklik ver ente.
Ons Kransswaeltjies op die voorstoep het intussentyd alweer gebroei en die slag het hul drie kuikens groot gemaak. Die drietjies het sommer vinnig die nes verlaat om hul eie nes te gaan skrop.
Die beeste is nou weer terug in die kamp waar hul was en kry nie meer ekstra voer nie. Hulle het mos vir ‘n lang tyd hier naby die huis geloop sodat MooMa en Ousus se kondisie kon verbeter met die ekstra voer van lusernpille. Hulle het egter so stout geraak dat Jaco hulle maar weer terug geskuif het. Hulle het oor al wat draad is gespring om in die groot tuin te kom om turksvye te eet. Maak nie saak hoeveel drade Jaco en Jan probeer regmaak en hoër maak het nie, hulle het ‘n manier gevind om oor te kom. Ou Mookie was tot ‘n paar keer hier by die huis op die werf waar sy groot geword het.
So van draadspring gepraat… ons hou mos saans vir Basjan en een van die groot honde op hok om te voorkom dat hulle gaan kwaad doen. Basjan het toe agtergekom maar as hy bo-op die hok se dak staan, dan kan hy oor die draad spring. Dit kos toe vir Jaco en Jan om die draad so drie drade hoër te span. Desnieteenstaande was Basjan die volgende oggend weer buite die hok. Nou het hulle die hok so hoog gespan dat ou Bassie nie daar kan uitkom nie al maak hy wat.
My spul kuikens het sommer al lekker groot geword. Daar is ongelukkig weer ‘n hele paar haantjies wat pot toe sal moet gaan. So ‘n tyd gelede het ek weer dat Jan vier van die hane slag. Ek het dit maar swaar oor my hart gekry, maar dit kon nie anders nie. Een van hulle was my pragtige veervoethaan wat elke dag tot bo-op die hoenderhok se dak gevlieg het om daar te staan en kraai. Al is hulle nie meer op die werf nie, is elkeen van hulle nog in my hart. Nou eendag toe ek die waenhuis se deur oop maak om vir die hoenders kos uit te haal, sien ek ‘n klein vlermuisie teen die muur sit (redelik laag). Hy was te kostelik. Terwyl ek hom nog so staan en bewonder, kom daar ‘n hoender verby, gee ‘n sprongetjie en pik die vlermuis van die muur af. Daar hardloop hy toe met die vlermuis in sy snawel weg en gaan eet hom op. Ek was glad nie beïndruk nie. My hoenders word nou vir drie dae lank op hok gehou – vandag is dag twee. Hulle is glad nie tevrede daarmee nie. Ons gee vir hulle medikasie in teen iets soos verkoue en dan mag hulle geen groenvoer eet nie. Die medikasie is in hul drinkwater so nog ‘n rede hoekom hulle nie nou vryelik kan rondloop nie. Na die drie dae kan hul vir twee dae uitkom en dan moet hul weer vir drie dae op hok wees vir verdere medikasie.
Een van die henne lê nou al vir ‘n geruime tyd haar eiers in die blomtuin. Ons het haar maar toegelaat aangesien sy nie regtig in die tuin geloop en skrop het nie. Daar was al ‘n stuk of nege eiers in haar nes. Toe ek Saterdag uit gaan om die tuinslang te gaan verskuif (juis in die rigting van haar nes) sien ek toe net uit die hoek van my oog ‘n reptielagtige ding beweeg. Ek het so groot geskrik dat ek sommer dadelik gehardloop het om vir Jaco te gaan roep sonder om behoorlik te kyk wat dit is. My eerste gedagte was Pofadder of Likkewaan. Gelukkig was dit toe net ‘n likkewaan. Hoe die vabond dit reggekry het om in die tuin te kom weet ek nie, maar hy is soos blits weer daar uit ook. Net een eiertjie het oorgebly.
Terwyl ons nou van reptiele praat… die ander dag sit ek nog so en werk toe ek ook net skielik uit die hoek van my oog iets sien beweeg. Toe ek weer kyk sien ek ‘n slang reg voor my venster op die voorstoep. Ek was lam geskrik. Jaco was nie by die huis nie en wat maak ek nou met ‘n slang. Ek het dadelik die kamera gegryp om darem die bewysse te kon toon as Jaco by die huis kom. Die slang het seker my beweging gesien en het vinnig weggesyl en onder een van die vetplante in verdwyn. Van die foto het ons afgelei dat dit ‘n Sweepslang is. Hy eet glo akkedisse en is nie giftig nie. Daardie selfde namiddag toe ons loop om die hoenders te gaan kosgee, sê Jaco toe net skielik “Oppas!”. ‘n Paar treë van ons af lê daar toe ‘n Pofadder. Gelukkig het ek vir Jaco gevra om saam te loop anders het ek dalk nie eens die slang betyds gesien nie. Nie dat dit ver is om te loop nie… dis reg hier by die huis op die werf. Ek het net gesorg dat ek al die honde in die hok kry. Jaco het toe maar die slang dood gemaak. In laas week weer het ek een oggend vir Tiekie net so ‘n tjank hoor gee en toe kom sy hier oor die voorstoep gehardloop tot binne die huis. Dadelik het ek sommer net so ‘n slang se gedagte gekry. Ek het gaan kyk maar kon niks sien nie. Dieselfde dag het Jaco die gras gesny en sien toe ‘n slangetjie. Dit het vir ons gelyk na ‘n klein sweepslang so ons het hom nie dood gemaak nie. Hy’t maar die heel dag hier in die gras rond gesyl. Hy was glad nie baie skrikkerig vir ons nie.. ek het heelwat fotos geneem. Alhoewel hy gee sulke vinnige bewegings dat dit moeilik was om ‘n mooi foto te kry. Ek het maar onrustig gevoel met die slang in die gras. Ons het hom nog nie weer gesien nie, so hopelik het hy vir hom groener grasvelde gaan soek.
Jaco het gister ‘n Poukuiken in die veld gekry nadat hy amper bo-oor hom gery het. Ons is nie heeltemal seker of dit ‘n Gompou of Ludwigse Pou is nie. Hy is al redelik groot en het al vere, maar hier en daar sit nog donsies. Dit is te pragtig! Laat my eintlik baie aan ‘n volstruis dink. Gisteraand het die outjie by ons in die huis geslaap. Hy is baie skrikkerig. Jaco het vir hom mins gevoer. Ek is altyd skepties daaroor om wilde diere self groot te maak. Vir my is dit maar die beste as hul daar in hul natuurlike omgewing bly. Hy het hom vandag weer saam gevat veld toe om te kyk of hul dalk sy ma sien. Nadat hul hier weg is, het ek nogals baie op die internet opgelees oor gompoue (Kori Bustards) wat met die hand grootgemaak word en aan die eenkant hoop ek Jaco bring weer ons poutjie saam terug huis toe.
Jaco werk vandag weer bietjie tussen die skaap. Hul het gister op ‘n lammetjie afgekom wat deur jakkalse gevang is. So ‘n paar weke gelede het my amper-aanstaande-swaer hier by ons kom jakkalsjag. Hy is ‘n beroepsjagter. Jaco is die nag saam met hom in veld toe en rondom half vier die oggend toe skiet hy twee Rooijakkalse (‘n reun en ‘n teef). So die heel nag se opsit was darem nie verniet nie. ‘n Jakkals skiet jy ook nie sommer maklik nie. Mens het spesiale toerusting nodig om die jakkalse te “roep”. Dis die allervreemdste geluide…
Verder gaan dit goed met ons twee. Ons is nog gelukkig saam en gelukkig op die plaas. Jaco moes egter in die tyd van sy ouma afskeid neem. Sy is op die goeie ouderdom van 89 oorlede. Sy is op hul plaas tussen Calvinia en Williston begrawe. Sy oupa (92) bly nou nog in die ouetehuis op Richmond. ‘n Mens kry sommer ‘n knop in jou keel as jy dink dat twee mense wat ‘n lewe van oor die 60 jaar gedeel het, skielik van mekaar moet afskeid neem. Die lewe is kort en kosbaar en ons moet die beste maak van elke oomblik wat ons het. Waardeer en respekteer elke persoon wat deel is van jou lewe hier op aarde – ten spyte van verskille.
Op hierdie noot gaan ek eers groet. Ek gaan seker nie weer van my laat hoor voor 2010 nie. Almal van julle wat met vakansie gaan… ry asb versigtig en geniet dit!!
Geseënde Kersfees en Voorspoedige Nuwe Jaar!!!
Krismisgroete,
Anoesjka & Jaco
PS: Poutjie het nie weer huis toe gekom nie…
Woensdag, 23 September 2009
Dagsê!
Dit is eindelik Lente en ons almal hier verwelkom dit. Ons kan nog net nie die winter pajamas wegpak nie, maar die dae raak al hoe lekkerder. Al wat ‘n geveerde is, is besig om of nes te bou, of te broei, of kuikens groot te maak. Al het ons nog nie reën gehad nie, is die motte, muskiete en muggies ook al hoe meer sigbaar. As ons skemeraand ‘n entjie gaan stap dan is die muggies so lastig dat jou arms eintlik meer oefening as jou bene kry.
Sedert my laaste brief het hier al ‘n spul kuikens uitgebroei. Die eerste hen het in ‘n ou erdvarkgat so ‘n entjie van die huis af gesit op twaalf eiers. Ons het omtrent die dae afgetel totdat die spul kuikentjies moes uitbroei. Nie een van ons henne het al so baie kuikens op ‘n slag uitgebroei nie. Hier was groot opgewondenheid toe ons die eerste kuikentjie ontdek het. Groot was ons teleurstelling toe ons die volgende oggend weer gaan kyk hoeveel daar is. In die nag het iets (ons dink ‘n muishond) die eerste ses kuikentjies wat uitgebroei het kom opeet en was daar net ses eiers oor. Ons het haar toe met eiers en al geskuif na ‘n plekkie in die blomtuin waar ons ‘n ogie oor haar kon hou. ‘n Dag later toe is al 6 kuikentjies daar. Die noodlot was nog nie klaar met haar en haar kuikens nie. ‘n Paar dae later het een van die oorblywende ses verdrink. Dan het ek julle mos laas vertel van Tiekie (die nuwe hond op die plaas wat van die dorp af kom). Sy het nou ‘n regte eiervreter geword. Daar gaan amper nie ‘n dag verby wat sy nie êrens ‘n eier in die hande kry nie en as sy gelukkig is, sommer drie! Dis ‘n wonder dat sy nog nie gevrek het van die cholestrol nie. Hoewel sy reeds met haar een voet so te sê in die graf staan, het sy ook agtergekom dat sy nog jonk genoeg is om kuikens te vang. (Seker die eiers wat haar so ‘n “boost” gee) Sy het dan ook een van hierdie hennetjie se kuikens dood gebyt. So die totaal van twaalf, is nou op vier. Alhoewel, die hen het deesdae nie meer ‘n saak met haar kuikens nie. Saans klim sy op die stellasie sonder haar kuikens. Hulle viertjies bly dan op die grond in ‘n hoekie en klim al bo-oor mekaar vir ‘n bietjie hitte. Elke aand gaan haal ons eers die hen van die stellasie af as dit donker is en sit haar by die kuikens. Of sy nou dan daar bly weet ek nie regtig nie. Ek sien hulle loop nou deesdae ook maar alleen en kos soek. Dis die eerste keer wat die hen kuikens het, so miskien is sy maar nog net die gewoond aan die ma wees idee nie. Buiten haar is daar nog vier ander henne met kuikens. ‘n Hen met een kuiken, een met twee kuikens, een met vyf kuikens en een met ses kuikens. Hulle is almal te kostelik. Die eerste spannetjie raak nou al groot en is al vier weke oud.
Om terug te kom by Tiekie… sy het nou al ‘n totaal van vier kuikens gevang – die klein gedroggie! Die een dag het sy sommer twee gevang. Ons hou haar nou met valk oë dop. Ten spyte daarvan kan mens ook maar nie vir haar kwaad bly nie. Dat ‘n dorpshondjie haar nou so snoep hier op die plaas kom hou. Moenie dink sy wil die droë hondekos eet nie. Alhoewel dit al is wat sy in die dorp geëet het (meeste van die tyd) soek sy nou net vleis. Ek moet die droë kos eers sag maak met kookwater en dan vleis daarby meng sodat sy darem ‘n bietjie daarvan kan inkry. Kiddo is nie so mal oor haar nie. Soms lê die tweetjies nogal lekker styf teen mekaar en slaap maar ander kere wil Kiddo net vir Tiekie byt. Ek moes hul al ‘n paar maal uitmekaar uit haal en dit gaan gewoonlik nie maklik nie. Kiddo was ‘n tydjie terug niks lekker nie. Sy het varingitis gehad en is nou amper klaar met haar reeks antibiotika.
Verder is die ganse ook aan die broei. Dit lyk of al drie grys ganse wyfies is en die witte die mannetjie. Al drie wyfies sit nou op ‘n nes en alhoewel die honde ook al heelwat van die eiers opgeëet het, het elkeen so tussen twee en vyf eiers onder hulle. Ek soek tog nie nog ‘n klomp ganse op die werf om my rond te jaag nie. Die wat broei is verskriklik befoeterd. Hulle staan minder gereeld as die hoenders van hul neste af op en as hul opstaan dan maak hulle hul eiers eers mooi toe met donsies, takke en blare. Die enigste probleem is nou dat daar ‘n kans is dat die eiers nie bevrug is nie. Die gans wat eerste begin broei het sit nou al meer as dertig dae en daar is nog geen teken van ‘n klein gansie nie. Nou hou ons maar die nes in afwagting dop.
Die swaeltjies se twee kuikens het toe eindelik hul nes verlaat. Ek het begin dink hul gaan nou ook hier bly, maar hul ouers het natuurlik gedink hulle is nou groot genoeg om hul eie nes te gaan skrop. Ma en pa is nou weer druk besig om hul nessies op te knap met klei en gaan seker een van die dae weer broei.
So van nesbou gepraat… die kraaie glo mos hulle nes moet ‘n staal versterking hê. Jaco het nou al twee keer by ‘n windpomp gekom waar die kraaie besig is om nes te bou van stukkies draad. Soveel so dat die windpomp nie eens meer kon draai nie!
Seker so ‘n week gelede staan ek en koffie drink voor die kombuisvenster toe ek ‘n muishond rustig oor die stoep voor die buitekamers sien stap. Gelukkig was Jaco ook in die kombuis en toe die muishond by die enjinkamer ingaan, hardloop Jaco toe om die deur te gaan toe trek. Nou wat maak ons nou met hom was toe die groot vraag. Maak ons hom dood of laat ons hom wegkom. Ek glo mos nou maar eenmaal als wat leef speel sy rol in die natuur (en soms ook in die voedselketting). My eerste gedagte was toe, wat eet die muishond? Ek het my boekie geraadpleeg en sien toe onder andere die volgende: insekte, paddas, slange, spinnekoppe, eiers en hoenders… ja hoenders. Nogtans kon ek dit nie oor my hart kry om die diertjie te laat dood maak nie. Ons bedink toe ‘n ander plan (mens moet mos maar ander maniere vind om jouself mee te vermaak). Jaco vra toe vir Jan om vir hom ‘n spanner uit die enjinkamer te gaan haal en ek staan skelmpies gereed met die kamera. Dit toe nou ook als verniet want Jan is daar in en uit sonder dat hy eens geweet het van die muishond. Jaco gaan kyk toe wat dan van die dier geword het. Daar kry hulle hom toe in ‘n rak tussen die tools en voor hul nog kon wonder wat om nou te doen, is hy soos blits by die deur uit en weg. Hy’t so vinnig gehardloop ek kon hom nie eens op video kry nie.
Dit was seker ook net twee dae later, terwyl ek besig was om die kuikens hulle middagete te bedien, wat ek ‘n hen vreeslik hoor skreeu het. My hart was dadelik in my keel want toe weet ek sommer daar is fout…. groot fout. Ek het nader gegaan in die rigting van die hen se geluide en ‘n ent verder het ek haar so half tussen die bosse gesien. Iets was besig met haar, maar ek kon nie mooi sien wat nie. My eerste gedagte was die muishond, maar ek wou nie nader gaan nie want Kiddo was by my en ek was weer bang dat Kiddo dalk die muishond gewaar en dit jaag (en dalk ook nog seer kry). Ek hardloop toe al roepende en gillende om vir Jaco te gaan soek. Hy en Jan was gelukkig nie te ver nie. Ons is weer terug na die plek waar ek die hen gesien het en daar kry ons haar toe… alleen. Wat ookal haar beet gehad het, het haar seker net daar gelos toe hy my gehoor het. Shame, dit was een van my groot ou henne. Sy was maar taamlik vermink en so graag as wat ek wou hê dat sy moes oorleef wou ek haar nie nog verder laat ly het nie. Jan het haar toe maar vankant gemaak en haar plekkie is nou leeg in die hoenderhok.
Ek het nou die dag weer ‘n muis so jammer gekry. Alhoewel ek grillerig is vir hulle, is ‘n muis vir my tog so ‘n oulike ou dingetjie. Met sulke klein blink swart ogies en oulike oortjies. Ons bêre die hoenderkos in die waenhuis in groot dromme. Nou partykeer sit ek nie altyd die dromme se deksels heeltemal reg op nie en dan bly daar nog ‘n opening. Toe ek nou die oggend by die drom kom om die hoenderkos uit te haal, toe sit daar ‘n muis vas tussen die drom en die deksel. Die opening was toe nou groot genoeg vir hom om in die drom te klim, maar hy het hom so trommel dik gevreet dat hy nie weer kon uit nie. Teen die tyd wat ek hom gekry het was hy al klaar half met die dood deurmekaar en het Jan hom maar vir sy kat gaan gee.
Woensdag, 7 Oktober 2009
Onthou jul ons eerste hanslam wat ons gehad het kort nadat ons hier aangekom het? Skapie (Baba) was sy naam. Hy en Mookie het mos so saam groot geword en was beste vriende tot hul paaie geskei het nadat die res van Mookie se familie eindelik op die plaas kom bly het. Van toe af het Skapie mos maar hier in die veld saam met die ander skape gewei. Nou Skapie is so ‘n paar weke gelede mark toe. Dit was maar swaar, maar dit kon nie anders nie. Kobusina het hom ook vergesel. In die afgelope paar maande het Skapie nooit meer huis toe gekom nie, maar vreemd genoeg net ‘n paar dae voor hy mark toe is, toe kry ons hom hier buite op die werf. Kobusina het ook net buitekant die hek gestaan en nog so ‘n vriendelike blêr gegee. So asof hulle vir oulaas kom afskeid neem het.
So van Mookie (Hannie) gepraat… sy is nou al ‘n uitgegroeide bees (alhoewel nie baie groot nie). Cruiser (die bulletjie) en Daisy (vers kalfie) is al net so groot soos sy en hulle is amper ‘n jaar jonger as sy. So groot soos wat Cruiser en Daisy is, drink hul steeds aan hul ma’s wanneer hul die kans kry. MooMa en Ousus se kondisie het bietjie verswak nadat hul die kalwers gehad het. Jaco het nou die beeste verskuif sodat hul weer hier naby die huis is. Nou kry hul elke oggend en aand voerpille om hulle kondisie te verbeter.
Met Ounooi gaan dit nog goed. Daar is gelukkig nog nie planne om haar mark toe te stuur nie. Nee sy kan aanbly om vir ons klein Ounooitjies te gee. Alhoewel, ons laat haar nou nie meer hier by die huis rondloop nie. Ons is nou in die proses om haar te “speen” van ons. Ons hou haar nou in die tuin kampie waar die turksvye is saam met twee ander ooie en hul lammers. Aan die begin was dit baie swaar vir haar. Sy was gewoond om elke oggend en aand nog voerpille en mielies te kry en sy’t ook gereeld saans saam met ons en die honde gaan stap. Sy het die eerste ruk omtrent geblêr. Nou is sy darem al rustiger. So elke derde dag of wat gaan maak ek ‘n draai by haar en vat vir haar kossies. Ek mis haar hier by die huis, maar dit kon nie anders nie. Sy’t alles in die tuin opgevreet en verniel!
Met ons drie seuns, Blikkie, Bruno en Basjan gaan dit ook nog goed. Ons hou hulle nou beurtelings op hok. Na Ounooi was daar nog ‘n ooi wat hulle beet gekry het een nag. Dit was sommer net hier naby die huis. Hulle het omtrent al die skaap se wolle uitgepluis en die bloed het oral op die bosse en klippe gelê. Ons moes die skaap in die veld gaan soek en sy en haar lam is van die skape wat nou saam met Ounooi in die tuin kampie loop. Sy het regtig erg gelyk (nog veel erger as Ounooi), maar is darem goed besig om te herstel. Nou los ons nooit vir Basjan alleen nie. As ons hom nie kan dophou nie, moet hy maar in die hok gaan. Hy het nou al ‘n paar keer saam gegaan om skaap bymekaar te maak en daar was nog nooit enige probleme nie. Dit lyk darem of hy al hoe meer begin luister.
Onthou julle ek het jul al vertel van die Europese Byvreter voëltjie wat ons in die Somermaande hier kry? Hulle het seker so twee weke gelede hier gearriveer. Hulle is regtig pragtige voëls en maak die vrolikste prrr prrr prrr geluide. Net jammer my kamera kan nie ver genoeg inzoom om mooi fotos te neem nie. Die Rooiwangnaguiltjie (of die Langasem soos Jaco se oupa vir hom geleer het) start ook nou sy enjintjie snags.
Ons het omtrent ‘n bedrywige naweek agter die rug. My oudste suster (van die Kaap) en haar man en kinders het vir ‘n paar dae hier kom kuier. Verder het ek ook al die ander familie hier genooi om die naweek saam te kuier. Ons was lanklaas so baie mense hier bymekaar. Net jammer ek het ‘n verkoue ook nog ontwikkel. Die kinders het dit omtrent geniet. My suster se seuntjie (1jaar) het hom verkyk aan die honde en hoenders. Saans het die manne ‘n bietjie gaan jakkalsjag. Hulle kon nou wel nie ‘n Rooijakkals in die hande kry nie, maar het wel ‘n Silwervos (of draaijakkals) gekry. Hy is nie so ‘n groot gevaar vir lammers soos die Rooijakkals nie. Volgens my boekie eet hy muise, insekte, reptiele en voëls, maar ek verstaan hy kan ook klein lammertjies vang.
Sedert ek die mail begin tik het, het daar nog niks van die ganseiers gekom nie. Jaco het twee van die drie neste se eiers oopgebreek en almal was vrot. Ons neem aan die eiers was nie bevrug nie. Nou wag ons maar om te kyk of die derde een dalk iets gaan oplewer.
Nou ja, dis eers al van my kant af. Laat dit goed gaan met julle en laat hoor gerus van julle!
Jakkalsgroete,
Anoesjka
14 Augustus 2009
Hallo,
Ek vertrou dat dit nog goed gaan met julle almal. Met ons gaan dit ook nog baie goed. Ons is nog gesond en het werk so ons mag nie kla nie. Verder is ons nog baie gelukkig getroud en baie gelukkig op die plaas. Ek was onlangs vir so amper twee weke in die Kaap (vir my ma se 60ste b-day) en dit was lekker om weer van die vriende en familie te kon sien – net jammer mens kan nie altyd by almal uitkom nie.
Terwyl ek weg was het daar egter ‘n paar dinge hier op die plaas gebeur. Die ergste is seker dat dit hoenderslagdag was. Ek het maar gereël dat hulle dit doen terwyl ek nie by die huis is nie. Jaco het dit ook maar moeilik gevind, maar ons moes net oë toeknyp en dit doen. Ons het hopeloos te veel hane gehad vir ons getal henne. Soos ek ook al gesê het daar is 3 henne wat nooit ‘n voet uit hul hok uitsit nie en dit omdat die hane hul te veel jaag. Hulle het toe 6 uit die 14 hane geslag. Eintlik moes hul nog 3 slag, maar nadat daar ‘n fout ingekom het, het hul maar eerder die hele slagtery gestop. Op een of ander onverklaarbare manier het hulle toe per ongeluk my liewe ou Hendrik se kop afgekap. Hendrik was die hoof haan… die eerste haan wat saam met ons op Huisfontein begin het. Baie van die ander hoendertjies het hul lewe te danke aan Hendrik. Nou is nog net die Rooihennetjie oor uit die 3 hoenders wat saam met ons hier begin het. Ek was erg onsteld oor Hendrik… maar sulke dinge gebeur nou maar. Buiten Hendrik het ons ook afskeid geneem van 2 Klein Hendrikkies, Spookie, 1 Pikkelikkel en ‘n jong haantjie. Die ander 3 moet definitief nog geslag word in die nabye toekoms. Alhoewel hul eintlik nog steeds te veel is, het die vermindering van hane beslis ‘n goeie uitwerking op die henne gehad. So ‘n paar dae gelede het die 3 henne wat nou vir maande lank net in die hok bly sit het, dit eindelik weer buite gewaag! Ek is vreeslik verlig daaroor. Hulle het selfs nou begin eiers lê ook. Deesdae kry ons maklik 8 eiers op ‘n dag. Waar ons voorheen eiers moes bykoop, sukkel ons om nou als opgeëet te kry. Ek gee darem baie van die eiers vir Jan’le. Een van die dae kan ons dalk ‘n paar verkoop.
Weet nie of ek al vir jul gesê het nie, maar daar is 3 honde by die dorpshuis in Britstown. Een klein wit brakkie (Tiekie), een amper worshond (Luna) en dan Blikkie en Bruno se ma Ciska. Tiekie is regtig ‘n klein wonderwerkie… mens wonder hoe daardie klein lyfie dit nog reg kry om te werk. Sy het al ‘n paar keer by die dood omgedraai. Onder andere het sy al katgriep gehad en was sy al twee keer raak gery. Nou die dag het Luna haar weer so vreeslik aan die een oor gebyt. Shame, sy het omtrent met haar oortjie teen die grond geloop. Jaco het haar veearts toe gevat en daar het sy 3 verskillende soorte pille gekry om te drink. Van daar af het Jaco sommer besluit sy moet ook eerder plaas toe trek, want die honde in die dorp knou haar net af. Nou is sy heel gelukkig hier op die plaas en geniet natuurlik al die aandag. Die honde hier pla haar glad nie…. behalwe nou vir Kiddo… sy kry nog soms ‘n bevlieging om vir arme Tiekie aan te val. Net ‘n paar dae voor Tiekie was Kiddo ook by die veearts. Sy het weer ‘n “anal gland” wat gedurig verstop. Ook sy het ‘n klomp pille gekry om te drink. Jaco moes omtrent regstaan vir die honde terwyl ek in die Kaap was.
Asof dit nie al klaar genoeg was nie, sien hy toe een more ‘n ystervarkpen in Blikkie se lyf vassit. Gelukkig kon hy dit uittrek, maar selfs daarna het Blikkie nog steeds nie lekker gelyk nie en was die ou klaerig. Met verdere inspeksie sien Jaco toe dat daar nog ‘n pen in sy lyf vassit – een wat afgebreek het. Hy’t probeer om dit uit te haal, maar tevergeefs – dit was net te seer en Blikkie wou nie stil sit nie. Hy’t die veearts gebel, maar hy was nie beskikbaar nie en die ontvangsdame het gesê dat ons maar die veearts in Colesberg moet probeer. Nou dis oor die 300kms van ons af. Om te verhoed dat hy toe al die pad onnodig ry, bel hy toe eers om te hoor of die veearts daar beskikbaar is. Hy verduidelik ook die hele situasie en van waar af hy kom. Hulle het gesê dis reg, hy kan maar kom. So het Blikkie toe sy langste trip nog afgelê. Daar gekom sê die dr toe dat Blikkie narkose sal moet kry en dus daar sal moet oornag. Jaco kan hom weer die volgende dag gaan haal. Needless to say was hy glad nie gelukkig nie. Hy het dan die hele situasie vooraf verduidelik en nou vandat hy daar is wil hulle vir hom sê hy moet die volgende dag weer oor die 600km aflê en dit net om die hond te gaan haal. Nee wat, toe klim hul maar weer netso in die bakkie en ry De Aar toe. Intussen het ek aangehou om die veearts op De Aar in die hande te probeer kry. Einde ten laaste was hy op ‘n plek waar daar sein is en kon ek reël met hom om Blikkie later die aand te sien. Hy het sommer vinnig-vinnig vir Blikkie uit sy pyn verlos… en dit met net lokale verdowing. Ook Blikkie het ‘n klomp pille gekry om te drink. Hopelik gaan ou Blikkie nie weer ‘n ystervark probeer aanvat nie. Dit was nou 3 honde by die veearts in 2 weke se tyd.
Met Basjan gaan dit nog goed. Ek wens net hy kan leer luister. Ons sukkel maar met die opleiding en as sy instink eers oorneem, dan kan jy maar vergeet. Ons het so ‘n week gelede een aand met die honde gaan stap… soos baie ander aande. Ons was al op pad terug en naby aan die huis toe Basjan ‘n Steenbok gewaar en hom begin jaag. Dit het hy ook al voorheen gedoen, maar ek het net so ‘n gevoel gehad dat die bokkie hierdie keer nie so gelukkig gaan wees om weg te kom nie. Basjan hardloop soos die wind en hy was net te na aan die bokkie. Verder het die bok in die rigting van die draad gehardloop. Ek het geroep tot ek blou in die gesig was, maar Basjan het saam met die bok verdwyn. Ons ander het maar aangestap huis toe. Kort nadat ons by die huis gekom het, het ek iets vreeslik hoor blêr. Ek het gedink dalk het die bok weggekom en is Basjan nou tussen die skape in. My senuwees kon dit net nie hou nie en ek het in die bakkie geklim om nader te ry en te gaan kyk wat aangaan. Daar gekom sien ek toe vir Jan aangestap kom met ‘n bokkie in sy hande. Die ergste van alles is dat die bokkie nog gelewe het, maar hy’t geen kans op oorlewing gehad nie. Sy magie was oop. Jan het ook die geblêr gehoor en gaan kyk. Hy het vir Basjan by die bok gekry. Ek weet nou net nie of Basjan die bok so stukkend gebyt het en of hy hom dalk by die draad seer gemaak het nie. Die feit dat Basjan nou bloed geproe het, glo ek is nie ‘n goeie ding nie. Net daar en dan het ons besluit ons gaan nie weer met die honde stap voordat Basjan ‘n leiband het nie. Intussen het ons vir hom een gekry en gaan stap hy nou altyd met sy band aan (wel hy stap en ek hardloop). Ek wil ook nou ernstig daarop begin konsentreer om vir ‘n basic commands te leer. As ek net weet hoe om hom sover te kry om op my te fokus en nie al die ander dinge wat sy aandag aftrek nie.
‘n Vriendin van my (uit die Kaap) het oor die langnaweek vir haar eerste keer op die plaas kom kuier. Dit was lekker om weer ‘n kuiergas hier te hê. Ons was selfs gelukkig genoeg om weer op ‘n hen af te kom wat besig is om ‘n eier te lê! Sy kon darem ‘n fototjie geneem kry, maar ongelukkig het ek nie my kamera byderhand gehad om ‘n video te neem nie! Ek sal nog dit probeer afneem om vir jul te kan wys.
Dit wil eindelik begin lyk of die somer nader kom. Dis steeds koud, maar ek glo die einde van die winter is in sig… en ek kan nie meer wag nie! Jaco is druk besig om die wingerde te snoei. Verder is dit nou ook weer tyd vir skaap werk (lammers merk, dosseer, etc). ‘n Paar van die lammers is al vermoedelik deur jakkalse gevang. Verder moes ons nou die dag 3 siek ooie slag. Ek sal nie in detail ingaan oor wat hul makeer het nie, maar ek kan net sê dat die natuur maar wreed kan wees. Jaco het nog ‘n siek ooi huis toe gebring vir behandeling en observasie. Haar kondisie was nie baie goed nie en haar agterbene effens styf. Twee dae later toe ons weer by die hok kom, toe is daar ‘n pragtige lammertjie wat ons inwag. Aan die begin wou die ooi hom nie hê nie en het ons amper met nog ‘n hanslam gesit. Albei doen darem beter op die oomblik.
Met Ounooi gaan dit ook nou stukke beter. Haar nek is nog nie heeltemal gesond nie, maar dit het al baie verbeter. Sy het nie meer ‘n verband nodig nie en is ook weer haar ouself… vol skop en sprongetjies. Ons het ontdek dat sy ‘n groot liefde het vir Simba Beef chips. Nadat sy eers een geproe het, wou sy net nog en nog hê. As jy nie vir haar wil gee nie, trap sy met haar een voorpoot teen jou been totdat jy vir haar nog gee.
Ons was bekommerd dat ons ganse nie hierdie jaar tot broei gaan kom nie, maar so ‘n paar dae gelede het hulle ons lekker verras. Ons het op twee verskillende neste afgekom… een met 2 eiers en een met 3 eiers. Nie een van hulle het al begin broei nie, maar ons pas die eiers baie mooi op. Die honde is nog bedags op hok (sodat Ounooi heeltemal kan herstel) en saans wanneer hul uitkom tel ons eers die eiers op. Hopelik kry ons hierdie jaar klein gansies.
Nou ja, ek dink dit is eers al nuus vir vandag. Laat hoor gerus hoe dit met julle gaan.
Geniet die week wat voorlê!
Veeartsgroete,
Anoesjka
30 Junie 2009, Dinsdag
Hoe gaan dit met julle? Met ons gaan dit goed. Ons kry net lekker koud! Laas naweek was beslis die koudste naweek nog hierdie winter. Vrydag was dit Min -4 en Maks 6. Als was toe onder die ryp die volgende oggend. Ons was in De Aar en die stukke ys het sommer so op die paaie gelê.
Donderdag was ek met verlof. Ek en Jaco het gaan help by Britstown se jaarslikse veeveiling. Ten spyte van die feit dat dit net 8 grade was (en by tye gereen het) en dat ons meeste van die dag buite spandeer het, was dit eintlik heel lekker. Jaco moes by die krale help en ek moes fotos neem en in die kombuis help. Ons het self ook 15 lammertjies soontoe gevat en hulle het sommer heel goed gedoen. Ek het nog nooit in my lewe so baie skaap bymekaar gesien nie. Daar was ‘n totaal van 4 836 skape en dan nog ‘n paar bokke ook. Dit was lorries en lorries vol skaap wat op en af gelaai moes word. Om te dink dat al daardie vee net deur 5 mense opgekoop is. Dit was ons eerste keer by ‘n veiling en was nogal interressant. Dis net jammer dat van die skape nie so gelukkig was nie. ‘n Paar van hulle het hul bene gebreek met die aflaaiery en enetjie is selfs dood. Daar was twee oulike Skaaphonde wat met die groot taak gehelp het. Ek het my omtrent verkyk aan hulle. Dis ongelooflik hoe slim hulle is. Hulle ken ook hul base se stem so goed dat ten spyte van al die ander mense en skape se geraas kon hul presies doen wat hul base van hul verwag al staan hulle ‘n paar meter weg.
Ek wil nie eens dink aan die chaos wat ons liewe ou Basjan daar sou veroorsaak het nie 🙂 Hy sou net woes en wild skape begin jaag het. Ons het mos vir ons ‘n boek via die internet bestel oor hoe om ‘n Skaaphond op te lei. Die boek het baie vinniger by ons uitgekom as wat ons verwag het. Ek wil amper sê die Internasionale posdiens was vinniger as wat ons plaaslike posdiens soms is. Nou moet ons net die boek begin bestudeer en tyd maak om vir Basjan te leer. Hopelik kan ons nog iets met hom regkry. Hy is slim en leer vinnig maar hy het ‘n sterk wil van sy eie en dit is nogal ‘n probleem.
So ‘n paar weke gelede het die honde mos vir Ounooi beet gekry. Ons het die namiddag vinnig ingery dorp toe en toe ons terug kom, was Ounooitjie net weg. Selfs teen die tyd wat ek die diere kos gegee het, was sy nog nêrens te sien nie en dit was vir my baie vreemd aangesien sy gewoonlik eerste in die ry is wanneer die kos uitgedeel word. ‘n Rukkie later het Jan kom sê dat Ounooi daar agter hul huis staan en nie lekker lyk nie. Ons ry toe sommer met die bakkie soontoe. Daar staan arme Ounooitjie toe… stokstyf net op een plek, koppie hang, ore hang en sy is bruin van die modder. Sy’t nie eens gereageer op ons wat nader gekom het nie. Jaco en Jan het haar agter op die bakkie gelaai en ons het haar huis toe gebring. Sy het vir lank net daar bly staan waar hulle haar toe afgelaai het. Sy het darem nog geëet en dis altyd ‘n goeie teken. Ons het haar probeer ondersoek en kon sien dat sy aan haar nek beetgekry was. Van die wolle was sommer so los en haar vel was plek-plek oop gebars/geskeur. Sy moes baie pyn gehad het en was ook baie getraumatiseer. Haar nek was opgeswel, maar ons kon nie sien wat onder die wolle aangaan nie en sy wou nie hê ons mag aan haar nek raak nie. Vir 3 dae lank het sy net hang koppie rond gestaan of gelê. As sy geloop het was dit treetjie vir treetjie. Ek het regtig vir ‘n oomblik gedink sy gaan dit nie maak nie. Maar ons Ounooitjie is taf. Na die derde dag het sy haar ore en kop begin optel en selfs weer vinniger geloop en geblêr. Die ou Ounooitjie was weer terug. Hier in laas week toe sien ons maar ‘n hele stuk van haar nek vel begin oplig. Toe besef ons eers hoe seer sy werklik gekry het. Dit was besig om ‘n groot roof onder die vel te vorm en die vel het nog net aan ‘n stukkie vasgesit. Jaco wou nie daaraan karring nie en ons wou wag totdat dit vanself afval. Die honde het nou wel nie daarmee saamgestem nie. Ek het gesien hoe Blikkie met die afgeskeurde stuk vel in sy bek staan en amper ‘n floute gekry. Die stuk vel was groter as Jaco se hand. Ounooi het te aardig gelyk met die kaal stuk nek. Alhoewel meeste reeds droog was, het Jaco woundsept aangespuit net sodat die honde haar nie sal pla nie. Ons moes toe nou laas naweek De Aar toe gaan vir ons maandelikse inkopies. Ek was bekommerd om hulle alleen hier te los, maar Jan’le was darem hier. Toe ek Sondag vir Ounooitjie sien toe weet ek sommer daar is fout. Gewoonlik blêr sy van opgewondenheid, maar sy’t net stil gestaan. Toe ek nader gaan sien ek dat die stuk vel wat afgeskeur was nou omtrent dubbeld so groot lyk en dat dit taamlik diep is. Al wat ek kan dink is dat die honde (of ten minste een van hulle) haar weer beet gekry het. Ons is so hartseer oor ons arme Ounooitjie wat so onnodig so verniel is. Ons het die veearts vir raad gevra en hy’t aanbeveel dat ons ‘n antiseptiese salf op sit en die wond toedraai. Eintlik moes ons dit al na die eerste keer gedoen het, maar nou ja… so leer ‘n mens mos nou maar. Nou wag ons net dat Ounooi se wond heel en sy weer haar ou self kan wees. Ek heg vir julle fotos aan, maar dis nie vir sensitiewe kykers nie.
Basjan het nou die dag amper ‘n gans se lewe ook gekos. Dit was vroeg oggend toe ek uitgegaan het om die hoenders en ganse kos te gee. Hy’t die ganse begin jaag en wou nie vir my luister as ek met hom raas om op te hou nie. Hy’t een van die grys ganse so gejaag tot by ‘n hek. Net voor die hek het die gans begin opstyg om bo-oor te kan vlieg, maar hy was nog te laag en het binne die paal vasgevlieg. Die arme gans het net so terug geval grond toe. Uiteindelik kon ek vir Basjan in die hande kry en het hom sommer gedra tot by die hok waar ek hom toe eers toegemaak het. Jaco het kom help met die gans. Daar het bloed by die gans se snawel uitgekom en vir 2 dae het hy niks geëet nie en net so gesit met sy kop tussen sy vere ingedruk. Wonder bo wonder het hy darem weer reggekom.
Ek en Jaco het nou die dag die wonderlikste ding beleef. Ons was by die hoenderhok om die hoenders kos te gee. Een van die jong hennetjies het daar op ‘n rak gesit en ek’t vir Jaco gesê hy moet haar oplig en kyk of daar nie ‘n eier onder haar is nie, maar daar was niks. Dit was eintlik vir my vreemd want elke dag lê daar juis op daardie plek ‘n eiertjie. Die hennetjie het toe sommer opgestaan en omgedraai. Met die omdraaislag sien ek toe (verskoon asb my taal) haar poephol lyk kompleet of dit omgedop is. Ek roep toe vir Jaco terug om te kom kyk, want hier is groot fout. Kort daarna sien ek toe so ‘n wit ding begin wys en dit raak al groter. Die volgende oomblik toe pop daar ‘n eier uit! Dit was so weird. Die eerste keer wat ons gesien het hoe ‘n hen ‘n eier lê.
Vandag skyn die sonnetjie gelukkig, maar ons het vir omtrent 2 weke lank bewolkte weer gehad. Dit was glad nie goed vir my sonkrag nie. Die batterye het ‘n liggie wat groen moet wys maar twee van die batterye s’n was swart. Dit beteken hulle moet gelaai word, maar die sonkrag was nie genoeg daarvoor nie. Soveel so dat ons toe vir ‘n hele dag die kragopwekker moes aansit sodat ek kon werk. Die volgende oggend was die wêreld toe onder digte mis. Die sonkrag was steeds nie voldoende om te gebruik nie en ons moes weer die kragopwekker aansit. Die enigste probleem was, dit het kort-kort afgeskakel. Die mis het veroorsaak dat daar water op die drade was wat ‘n kortsluiting veroorsaak het. Een van die drade (wat reeds baie oud was) het ‘n vonk en swart rook begin maak. Dis toe wat ek vir Jaco sê nee… ons sal nie die kragopwekker so kan gebruik nie. Gelukkig het hy nuwe draad gehad en kon hy toe al die bedrading oor doen. Al het ek nou amper vir ‘n volle dag sonder krag gesit, weet ons ten minste dit sal nie sommer weer probleme gee nie. Hy’t sommer ook die drade binne pyp gelê om dit teen die son en reën te beskerm.
Ek glo nie ek het julle al vertel van een van die hennetjies wat in Blikkie en Bruno se hok gesit en broei het nie? Sy’t elke dag haar eiers daar gelê en ek het dit opgetel (dis nou mits die honde dit nie voor my gekry het nie). Na ‘n tyd het sy begin broeis raak en net daar in die hok gebly sit – al het sy geen eiers onder haar gehad nie. Daar het sy nou dae en nagte saam met Blikkie en Bruno deurgebring. Ek was heel verbaas dat hulle niks aan haar gedoen het nie. Ons het haar een of twee keer gehoor protesteer – seker as een van die twee haar dalk effe raak gelê het. Ons het haar maar later saans uit die hok gehaal en na die hoenderhok gedra, want die twee groot seuns sal eerder met mekaar baklei oor ‘n lêplek as wat hul die arme hennetjie uit die pad uit jaag.
Met Jaco gaan dit nog goed. Sy nefie (nou in matriek) kuier vir ‘n week hier tydens die skool vakansie. Nou het Jaco darem weer lekker geselskap. Soveel so dat hulle saans nie tot ruste kan kom nie. Elke nag word dit nou opgesit en gesels tot die son amper op kom. Ek self kry nie veel slaap in nie, maar kla nie te veel daaroor nie. Dis min genoeg wat ons ander geselskap hier het en oor ‘n paar dae is ons alleen en kan ons weer gaan vroeg slaap. Die twee het gisteraand vir hulle ‘n skaapkop in die oond gebak. Hulle het die kop so geniet dat hulle hulself ietwat olik geëet het. Oom Neef moes vir Neef eers dokter met ‘n bietjie Lewens Essence. Vanoggend het hulle natuurlik hulle roes tot waffer tyd gelê en afslaap.
Nou ja, ek gaan eers groet. Die koue begin nou hier in my lyf inkruip.
Laat dit goed gaan met julle!
Wit gerypte groete,
Anoesjka
8 Junie 2009, Maandag
More,
Hoe gaan dit vandag met julle? So ‘n week gelede het ek nog gedink die winter is so ver nie te sleg nie, maar toe kom die koue. Laas naweek was bitter koud en daarna het dit nog nie veel beter geword nie. Soggens wanneer ek die hoenders moet gaan oop maak en kosgee, vries my hande omtrent af. Die sonnetjie wil ook net nie bedags lekker skyn nie… hier bly sulke wit vliese in die lug hang. Ons het so ‘n paar weke gelede selfs ‘n bietjie hael gehad. Die arme hoenders het heel verward gelyk toe hulle skielik bestook word met ys korreltjies.
Het ek julle al vertel dat die bye toe vanself weggetrek het uit die buite toilet (longdrop)? Ons het een aand (nadat ons van die dorp afgekom het) enkele bye rondom die agterstoeplig gesien wat vir ons nogal vreemd was. Die volgende dag het Jaco in die toilet gaan kyk en die hele nes was leeg. Dit lyk of daar een of ander siekte in die nes kon wees. Ek wonder waar het hulle nou heen getrek.
Ou Basjan (nou al amper 7maande oud) het al lekker groot geword, maar ek dink hy sal nog ‘n bietjie rek. Die enigste probleem is dat steeds net sy een oor regop staan. Hy is vreeslik spelerig. Ons het vir ons ‘n boek bestel oor hoe om skaaphonde te leer en wag nou net dat hy moet kom, maar dit sal seker eers in volgende maand wees. Basjan het al ‘n paar woordjies geleer soos SIT, BLY, KOM… hy gehoorsaam dit net nie altyd nie. Hy is beslis “skerper” as die ander honde en ook baie fyn op gehoor. Hy’t gisteraand ‘n rukkie ingekom terwyl ons TV gekyk het en het stip voor die TV gaan sit en luister. Altwee sy ore het glad vir ‘n tyd regop gestaan. Toe hy nou nie mooi kon verstaan maar waar is die mense dan wat so praat nie, het hy probeer om om die TV te loop om hulle te soek. Hy het ook al vir sy eerste keer saam veld toe gegaan toe Jaco’le skaap bymekaar gaan maak het. Die eerste dag het hy die arme skape so rondgejaag dat een selfs binne ‘n dam gespring het. Gelukkig was hy naby genoeg aan die kant en kon Jaco hom uittrek. Die volgende dag het hulle baie ver geloop en terwyl hul besig was met die tweede kamp het Basjan besluit maar nou het hy eers genoeg gehad en sommer self die pad huis toe gevat. Hy het nog baie om te leer, maar dis so ongelooflik om te sien hoe vinnig hy al klaar sekere dinge leer en hoe sy natuurlike instinkte oorneem.
Met ou Blikkie en Bruno gaan dit nog heel goed. Hulle twee het net alewig ‘n stryery aan die gang oor lêplek in hul hok (alhoewel daar plek is vir 4 van hulle). Kiddo hou glad nie van die winter nie en soek net heeltyd ‘n skoot of ‘n kombersie.
Ons hane het nog gespaar gebly. Uit ons totaal van 34 hoenders (insluitende kuikens), het ons reeds 14 volgroeide hane (en nog moontlikes). Dit is hopeloos te veel vir ons getal henne. Een dag besluit ons ons gaan hulle maar hou en die volgende dag besluit ons weer nee… ons sal hulle maar moet slag. Dit bly maar ‘n moeilike besluit. Dit is maar net nie baie ekonomies om so ‘n klomp hane aan te hou nie, maar elkeen is so pragtig en uniek. Ons kry darem nou weer so ‘n paar ekstra eiertjies op ‘n dag. Van die jong henne het nou eindelik begin eiers lê. Nou is dit net ‘n kwessie van om hulle op te spoor (voor die honde). Hulle hou juis so daarvan om in die hondehokke hul eiers te lê. Het nou die dag vir Basjan net betyds betrap toe hy met ‘n eier in sy mond uit sy hok uit gestap kom. Een van ons groot jong henne was egter nie so gelukkig nie. Dit was al sterk skemer en die hoenders was op pad hok toe, toe ek een van hulle ‘n vreeslike keel hoor opsit. Gewoonlik is dit maar net die hoenders wat mekaar jaag, maar ek het nogtans onrustig gevoel. Ek’t vir Jaco gaan roep en gevra om gou saam met my te gaan kyk – was te bang ek loop my dalk vas in ‘n wilde dier (bv ‘n kat). ‘n Entjie van die hok af het ons iets hoor grom. Toe sien ons mos dis Mannetjie (Jan se hondjie) wat daar reg langs ‘n hoender lê (net reg om aandete te begin geniet). Die arme hennetjie het nog gelewe, maar was so vreesbevange. Sy het vreeslik gekla toe Jaco haar optel. Ons sien toe sy het ‘n gat op haar rug, maar dit het nie te erg gelyk nie. Jaco het woundsept aangespuit, maar ek het nie baie hoop vir haar gehad nie. Ek kon sien sy’t pyn en lyk nie lekker nie. Jan het natuurlik vir mannetjie die loesing van sy lewe gegee. Ek glo nie hy sal ooit weer naby ‘n hoender kom nie (en vir sy part hoop ek nie so nie). Ons het die hennetjie in ‘n voelhok gesit en haar in die huis laat slaap. Sy wou glad nie eet of water drink nie. Die volgende oggend het sy nog netso in haar hokkie gesit. Terwyl ek toe in die badkamer is, hoor ek net ‘n gespartel in haar hok en toe weet ek sommer. Dit was haar laaste stuiptrekkings. Daar lê sy toe stokstyf in die hok. Sy sou nou in hierdie tyd begin eiers lê het saam met die ander jong henne. Na haar dood het ons nog ‘n gat onder op haar bors ontdek. Shame, sy het seker maar baie pyn verduur.
So op die hartseer noot, moet ek ook noem dat dit nou al 2 jaar is sedert my pa se dood. Dit is ongelooflik hoe die tyd vlieg. Twee jaar gelede hierdie tyd, was beslis die swaarste tyd in my lewe. Die ergste van als is dat die lewe aangaan… tyd staan nie vir ‘n oomblik stil nie. Nie eers om jou gevoelens en verlies te respekteer nie. Of dalk is dit juis uit respek vir ons gevoelens en verlies… want niks bring soveel troos soos tyd nie. My pa sal vir ewig in ons harte en herinneringe voort leef. Hy was ‘n baie besonderse mens en ons sal hom nooit vergeet nie.
Op ‘n positiewe noot, is dit nou weer lamseisoen en hier het sommer al ‘n hele klomp lammertjies die wêreld binne gekom. Hopelik kry ons nie hierdie seisoen enige hanslammers by nie. Ounooi is klaar ‘n handvol. Sy loop steeds hier by die huis en het nog nie veld-toe-gaan-planne gemaak nie. Kobusina het so vir ‘n week hier kom kuier. Shame, sy lyk maar vreeslik skraal. Ounooi se kondisie is stukke beter – sy lyk mos soos ‘n pantserkar. Jaco het vir Kobusina gebring om hier te kom loop juis sodat sy ‘n bietjie gewig kan optel, maar sy wil niks weet van lusernpille eet nie. Dit was nogal oulik om te kyk hoe die twee hier om die huis wei. Ounooi is mos gewoond aan alleen wees, maar Kobusina soek haar trop – al is dit nou net ‘n trop van twee. Sy het oral agter Ounooi aangeloop. As Ounooi gaan lê… dan gaan lê sy ook. As sy Ounooi uit haar oog verloor het, het sy ‘n vreeslike geblêr opgesit. Dan moes ek eers weer gaan help dat die twee net bymekaar kan uitkom. Basjan het natuurlik die nuwe skaap op die werf baie ammusant gevind. Ounooi is honde gewoond en laat haar nie sommer rond jaag nie, maar Kobusina is maar wild. Basjan het haar omtrent gejaag. Seker die dat sy toe maar besluit het om eerder in die veld saam met die ander skape te gaan loop. Een oggend toe ons opstaan was Kobusina weg veld toe en Ounooi weer alleen.
Die ganse raak nou weer lekker befoeterd. Ek weet nie of dit is omdat dit weer amper hulle broeityd is nie, maar ek dink maar so. Deesdae waag ek dit nie sonder my besem op die werf nie. Hulle het my nou alweer ‘n paar maal gejaag. Dit was eintlik baie onverwags, want die afgelope tyd kom ons goed oor die weg en het ek al my vrese vir hulle oorkom. Hulle het nou die dag selfs vir Jaco ook gejaag – en dit gebeur nie sommer nie. Vir Kiddo sien hulle ook altyd kans – veral die wit gans. Hy val sommer die motors ook aan.
Die twee baba swaeltjies is al uitgegroei en reeds vernuftige vlieërs. Al vier van hulle (pa, ma en kinders) is nog ongedeerd.
Nou ja, dis eers al nuus vir vandag. Ek hoor graag van julle!
Geniet die week!
Wintersgroete uit die koue Karoo,
Anoesjka
4 Mei 2009, Maandag
Goeie dag,
Hoe gaan dit met julle stedelinge? Hier gaan dit goed. Dit raak net al hoe kouer en ek verlang na die somer.
Ja die kat kom weer want hy wil nie langer wag. Die kat kom weer net die volgende dag…. Jip… die muskejaatkat het weer vir ons kom kuier. Dit was net voor 5 die Sondagoggend toe ek hoor die hoenders wat op ons voorstoep slaap (Hendrik en sy span) raas. My wakker word en opspring was sommer een. Ek het dadelik kat se gedagtes gekry. Alhoewel, ons het heel veilig gevoel met die hoenders op die stoep, want al drie groot honde slaap daar. Blikkie en Bruno se hok is reg by die plek waar die hoenders slaap. Ek het vir Jaco gesê ek dink daar’s iets by die hoenders, maar hy het nog gesukkel om terug te keer uit droomland. Ek het my slippers aangetrek en flits in die hand is ek uit stoep toe. Die honde het nog rustig in hul hokke gelê en slaap. Ek’t met die flits gelig by die hoenders en kon dadelik sien daar is van hulle weg. Ek het stadiger gelig en hulle probeer tel. Een….twee…. drie…vie wat? kyk weer… kat! Daar reg langs die hoenders sit die kat toe dood stil en byna tel ek hom vir ‘n hoender. Vir ‘n oomblik was ek stom geskrik. Ek was nog nooit so na-aan ‘n lewendige muskejaatkat nie. Ek kon sy kop krap as ek wou – dink net nie hy sou purr nie. Skielik begin die adrenalien pomp. Jaco!! Kat!!! Staan op!!! Ek hardloop terug kamer toe om seker te maak hy’t my gehoor. Dit was omtrent ‘n geskarrel om die kluis oop te kry en die pistool uit te haal. Die probleem is nou net hoe skiet mens ‘n kat so naby aan jou. Kon hom baie makliker oor die kop slaan. Net toe Jaco by die kat kom, begin hy te beweeg. Die volgende oomblik hoor jy net hoenders en daar gaan die kat… die donkerte in. Of hy ‘n hoender saam met hom gevat het, kon ons nog nie sê nie. Vyf hoenders was weg. Vir ‘n oomblik het ek gedink die kat het al ‘n paar keer kom vang gedurende die nag, maar toe sien ek vir Hendrik sit op ‘n stomp in die tuin. Ons het ook twee hennetjies bo-op die hondehok gekry. Een hen en ‘n klein jong hoendertjie was nog weg. Daar het van die jong hoendertjie se vere in die blombak gelê. Ons het oral gelig met die flits, maar geen teken van die kat of nog hoenders. Jaco het maar weer gaan lê en ek het eers ‘n draai geloop. Op pad kamer toe het ek weer by die stoep gaan kyk. Kiddo (my skaduwee) was natuurlik saam en die volgende oomblik trek sy weg met ‘n spoed en stop voor die palm boom. Jaco! Die kat! Ek dink hy’s in die boom! Jaco kom uit met die pistool en ek lig al langs die boomstam op. Sekerlik kan die kat nie teen die boom uitklim nie!? Wraggies… daar hang hy! Driekwart ver geklim in die boom en hy klou vir lewe en dood. Dis doodstil en almal het ophou asemhaal – ek dink die kat ook. Bang….bang…. maar dis mis. Nee, die pistool gaan nie werk nie, maar dis weer hopeloos te naby om die kat met ‘n .243 te skiet. Jaco kry toe die .22. Intussen het die kat hoër geklouter tot reg bo in die boom. Hy het homself so versteek tussen die blare en sade dat ons net die puntjie van sy stert sien uitsteek het. Nou wat nou? Kan ek nou rustig verder gaan slaap met my hoendertjies wat so naby is aan die dreigende gevaar? Ons het maar gaan lê (ek steeds beswaard oor die vermiste hoenders), maar ek het eers weer ingesluimer nadat die son uitgekom het. Die vermiste hoenders is darem toe ook opgespoor en almal was ongedeerd. Heeltyd wonder ons nou wat het van die kat geword. Ek was onder die indruk hy’t lankal weggeglip uit die boom. Later die oggend het Jan hier ‘n draai gemaak en ons het hom vertel van die oggend se gebeure. Hy’t saam met ons in die boom kom kyk en sowaar… daar sien hy toe ‘n stukkie van die kat uitsteek. Het Jaco hom dalk raak geskiet dat hy daar in die boom bly lê en doodgaan het? Of slaap hy maar net? Jaco het ‘n leer teen die boom gesit en tot bo geklim, maar steeds kon hy nie naby die kat kom nie. Hulle maak toe ‘n lang ysterhaak en kap teen die boom min of meer waar die kat versteek lê. Skielik spring die kat op en beweeg om in die boom. Hy lewe nog! Toe kruip hy so diep in dat ons nie eens ‘n haar sien uitsteek het nie. Diè kat het beslis 9 lewens. Wanneer hy toe uit die boom uit is weet ons nie, maar ek glo nie hy is meer in die boom nie. Van daardie dag af het ek besluit dis tyd dat Hendrik en sy span weer saans terug trek hoenderhok toe. Eintlik was dit so ongelooflik, maar toe dit begin donker raak daardie aand was hulle duidelik huiwerig om weer in die rankplant te gaan sit. Elkeen het in ‘n ander rigting gegaan. Ons het hulle probeer aanjaag hok toe, maar was dit nou vir jou ‘n gesukkel. Jaco het so agter Spookie aangehardloop, dit was eintlik vreeslik snaaks. Jammer ek kon dit nie op video neem nie 🙂 Hulle het omtrent die stof uit die grond uit gehardloop. Dit was later al heeltemal donker en ons sukkel nog steeds met die hoenders. Op die ou end moes ons hulle een-een vang en hok toe dra. Dit was net moeilik om almal op te spoor. Het selfs een van die henne bo-op die koeler gekry. Sy’t met die leer wat teen die koeler se muur staan tot bo geklim. Ons het die twee henne met die kuikentjies ook gevang en in voëlhokkies gesit. So al kom die kat weer, sal hy beslis nie ‘n hoender kry vir aandete nie. Ek weet nie of hy vir die ganse sal kans sien nie…
Deesdae gaan dit darem beter om al die hoenders in die hok te kry, maar daar is maar steeds ‘n paar wat nog nie gretig is om hok toe te gaan nie. Ek dink dit is grotendeels maar oor die groot hoenders (veral die hane) hulle so boelie. Net nog ‘n rede hoekom dit een van die dae hoender-slag-dag sal moet wees. Eintlik is ek nou bly dat ons nie die kat kon doodmaak nie. Hy is so pragtig en verdien om te lewe. Sal maar net probeer sorg dat hy nie ‘n rede het om weer te kom kuier nie.
Die swaeltjies se kuikens het uitgebroei en hulle is al yslik groot. Daar is tweetjies en ek glo hulle gaan een van die dae probeer vlieg. Daardie twee koppies loer baie nuuskierig daar bo uit hulle nessie uit.
Ounooi (die hanslam) loop steeds hier by die huis. Eintlik begin ons nou al raadop raak met haar, want sy vreet alles wat groen is. My Bougenvilla kry net nie kans om te blom nie. Jaco het draad rondom dit gespan, maar nou het Ounooi al ‘n manier gekry om dit op te lig sodat sy lekker kan vreet. Of my Bougie die koue winter sonder blare gaan oorleef sal ek nou maar moet sien. Nou die dag hou ons vir Ounooi dop deur die kombuisvenster. Sy staan toe onder een van die Perskebome. Sy’t al al die blare binne bereikbare afstand opgevreet, maar sy loop op en af onder die boom en jy kan eintlik sien hoe werk daai kop om ‘n plan te beraam om by die groen blare uit te kan kom. Daar staan ‘n werksbank naby die boom en ek is seker sy’t dit oorweeg om daarop te spring, want sy kyk so vir die boom en dan vir die werksbank en weer vir die boom. Wag, hier is sy nou hoekal weer in die blomtuin (sonder blomme). Ek moet haar eers gou gaan uitjaag.
Die vorige lang naweek het Jaco se suster, hul twee kinders en ‘n maatjie mos hier by my op die plaas kom kuier. Jaco en sy swaer was op ‘n jaarlikse familie-motorfietstoer. Hulle het bietjie Sutherland se omgewing gaan verken. Dit was net ‘n baie koue en nat naweek, maar die manne het dit baie geniet. Die kinders het hulleself ook gate uit geniet hier op die plaas. Ten spyte van die koue kon ons hulle net nie binne hou nie. Oom Jaco se trekker was darem net te ‘n lekker speelplek. Verder het hulle die eerste dag al so in die water gemors dat hul skoene sop water nat was en ons dit eers weer teen die einde van die naweek droog gekry het. Die Saterdagmiddag het ons besluit om ‘n ent te gaan stap met die honde en kinders. Ek het hulle gevat na die grond dam waar ek en Jaco altyd met die honde gaan bal speel. Ons het net daar gekom toe ek sien Bruno en Basjan jaag iets in die veld. Eers het ek gedink dis ‘n haas wat in ‘n gat ingekruip het of iets, maar toe sien ons dis ‘n likkewaan. Binne sekondes was Kiddo en Bliksem ook agterna. Dit het gevoel of my hart gaan staan. Ek het gegil en geskreeu op die honde maar nie een wou luister nie. Ek het al gesien hoe gaan hulle die arme likkewaan verskeur en ek kan niks daaraan doen nie. Die volgende oomblik gee Kiddo sulke benoude gille. Die likkewaan het haar aan die neus beet gekry! Ek het nader gehardloop en in die gewarboel vir Kiddo opgetel. Daar hang die likkewaan toe steeds aan haar neus en hy wil nie los nie. Ek was amper histeries! Die veearts is ver en wat maak ek as my hond nou net ‘n halwe neus het!? My skoonsus het die likkewaan geskop terwyl hy so hang en dit het hom gelukkig sy greep op Kiddo se neus laat verloor. Toe takel die ander honde hom weer verder. Ek kon nie toekyk nie en is terug huis toe met Kiddo. Ten spyte van haar noue ontkoming wou sy met alle mag en krag weer terug na die likkewaan. Ek moes omtrent spook om haar in my arms te hou. Na al die gespartel was my nek en gesig later meer vol bloed as die hond se neus. By die huis kon ek haar nou mooi bekyk om die skade te beraam. Ekt haar skoon gemaak en haar neus het heel okay gelyk. Ek was net bekommerd dat sy binne dalk seergekry het waar ek nie kon sien nie, maar dit het nie gelyk of iets haar enigsens pla nie. Ons is terug na die dam gewapen met die sweep en ‘n hand vol lekkers. Ek het dringend iets nodig gehad om van my gebewe ontslae te raak. Kiddo het duidelik ook baie groot geskrik want sy was naar en het sommer diarree ontwikkel – seker van al die stres. Halfpad dam toe toe kry ons my skoonsus, die kinders en die honde. Sy het toe sommer die honde met ‘n stok probeer skrik maak en die likkewaan het ‘n kans gekry om in ‘n boom te klim. Gelukkig is hy een taai dier en ek glo hy sou oorleef. As dit ‘n haas was, was hy lankal in stukke. Toe die honde die sweep sien was hulle natuurlik baie versigtig en kon ek darem meer gerus begin voel. Nou kan ek daaroor lag, maar op daardie oomblik was dit alles behalwe snaaks. Dis nou jammer ek het nie die kamera by my gehad nie…
Die Sondag besluit ek toe ek gaan almal vir ‘n bakkierit in die veld vat – sommer die krippe omry en kyk of alles nog okay is. Die kinders geniet dit tog so agter op ‘n bakkie. Toe almal nou eindelik op die bakkie is (kinders en honde) en ek als het wat ek moet saam vat, toe wil die bakkie nie start nie. Dis net tikketikketikketik. Die twee seuns (8jaar oud) en skoonsus moes toe maar stoot, maar die bakkie was net te swaar. Toe sukkel ons nou eers weer om die honde van die bakkie af te kry, want hulle vrek oor ‘n bakkie en kon nie verstaan hoekom moes hul dan nou weer so gou afklim nie. Die sweet tap al die drie agter die bakkie af, maar niks. Nee, ons het hulp nodig. Die kinders gaan roep toe vir Jan om te kom help. Op en af stoot hulle my hier oor die werf, maar al wat ons hoor is tikketikketikketik. Net voor ek by ‘n hek tot stilstand sou moes kom, sit ek die bakkie in eerste en start weer… wraggies… daar vat hy toe. Eureka! Ek glo nie een van hulle sou nog ‘n tree verder kon stoot nie. Die kinders gil van plesier en daar gaan ons. Eers nadat Jaco’le toe by die huis gekom het leer ek toe van glow plugs….
Nou ja, nou is al die langnaweke verby en moet ons weer fokus op werk. Geniet die res van julle week en laat hoor gerus van julle!
Noue ontkominge groete,
Anoesjka


