Toe die groot woord, aftrede, vir my gestaar het, al het ek reikhalsend daarna uitgesien, het ek ‘n lysie van goed gemaak in my kop van wat ek kan en wil doen. Een daarvan was om aan te sluit by die Dienssentrum. Dis ‘n bymekaarkomplek vir afgetrede persone. Mens kan manikuurs en pedikuurs kry, bloedruk en suiker laat meet, oefen, na interessante praatjies luister, speletjies speel, die lys gaan aan en aan.
Ek gaan sluit aan sodat ek kan oefen. Die video’s op Youtube is onbevredigend. Die aanbieder praat te veel, of dis te ingewikkeld, of dis so kort dat jy skaars weet jy het begin dan is dit klaar. En ek soek ‘n sosiale gemeenskap. Alles is beter as jy saam met ander mense kan lag en ontspan.
Dus gaan ek vanoggend om 9:00 om aan te sluit en die eerste oefensessie by te woon. Met my lyfkous aan en langerige t-hemp bo-oor lyk ek vir myself goed, maar ek besluit teen die swaar tekkies. My kaalvoete of plakkies sal maar vir eers die ding moet doen.
So met net myself, gaan staan ek in die halfmaan saam met die ander lede. Ooglopend is ek tot 10 jaar jonger as die meeste van hulle. Die helfte het ook eers vanaf 8:30 ‘n stewige 2 km gaan stap deur die dorp se woongebiede en terug. Hulle lyk nie of hulle swaar asemhaal nie. En daar is bulte betrokke! Maar die musiek begin en almal begin opwarm. Ons nuwelinge (naamlik ekke) word gemaan om onsself te passeer. Stap op die plek as jy moeg word, moenie ophou beweeg nie; hou aan die muur of tafel vas as jy balansprobleme het; doen minder of kleiner van dieselfde tot jy eendag opvang.
Ek is ingenome met myself. Die musiek laat my tone jeuk en ons begin stap. Niemand sit op die stoele wat gereed staan vir diegene wat dit nodig het nie.
En toe begin die probleme. Lig jou arms lekker ver op, kom skuins af en raak aan die teenoorgestelde knie, beveel die sersantmajoor met ‘n sagte stem. Ek lig my arms maar my linkerbeen wil nie saamwerk nie. Die pap rugkussingkies en rumatiek weier om te laat skiet en ek kantel muur toe. Almal, maar almal kyk vir my. Non-chalant druk ek liggies ‘n vinger teen die muur, laat my arms net effens opgaan en lig die knieë net so effens op. Die spier in my boud raak warm en begin pluk-pluk. Ek hoor hoe die werwels in my lae rug klap. Hopelik hoor die ander dit nie. Sersantmajoor kyk na my en knik net haar kop. Passeer jouself, herhaal sy.
Dit raak nie beter nie. Met die dansbewegings (eers linkervoet dan regtervoet na agter, trippel, trippel,) skree my linkerbeen: nee nee, ek hou ook nie hiervan nie. Waarvan hou jy dan, skree ek vir hom terug. Weereens moet ek net die kleinste bewegings maak. Maar ons is daar. Die ander hou by die tydaanwysings, maar ekke doen alles in stadige aksie. My brein kan dit nie glo nie. Vir jare het ek daagliks op my voete gestaan en werk, hoe kan hierdie eenvoudige bewegins my so pootjie?
Genadiglik kom ons later by die stoeloefeninge. O, nou begin die lekker. Ek het gehoor hiervan. Tik die tone, kap die hakke, dit werk lekker. Lig die knie reguit vorentoe! en weer eens laat my rug my in die steek. My ego vang nou ‘n lelike knou. Ek lig my knieë net so effens, maar moet later maar net op die plek maak of ek loop. My lyf hou nie by nie.
Die kersie op die koek was toe ons moet opstaan en gaan sit. Soos gewoonlik begin ek my hande op my knieë sit om myself te stut, maar voor ek kan raak, kom die opdrag: geen hande nie. maag styf, rug plank, op! Ek bly sit. Kan nie op nie. Baie hard moet ek knip aan die trane in my oë. My bors wil net brand. Ek is mos nie oud nie? Waar het ek so uit voeling geraak met wat mens nog moet kan doen op 63? Links en regs van my staan al die ouer persone op en gaan sit, staan op en gaan sit. Sonder om iewers vas te hou. Tot selfs die tannie links van my wat nie haar linkerskouer kan beweeg nie.
Volgende week moet julle asb jul ligte plastiekballe saambring en gewiggies. As jy nie gewiggies het nie, sal 2 kleinerige waterbotteltjies doen. O my word! Gewigte oefen? Sal die artritus in my hande my toelaat om die botteltjies lank genoeg vas te hou sonder om dit te laat val?
Regtig moedeloos staan ek op na die tyd. Die tafels moet gou reggestoot word, maar ek kan dit nie optel nie. Los, Adri, sê die sammajoor simpatiek. Oppas vir jou rug.
Ek stap stadig terug motor toe, my seer rug wil-wil net knyp. My euforie borrel het gebars. Doen ek die regte ding? Nee, praat ek myself moed in. Dit was net dag 1. Die jaar is nog lank. Volgende Maandag sal dit beter gaan.
Dit moet net.
