Ek het nog altyd sterk vermoed dat Elia se vuurwa ingespan sou word as LiefOom se vervoermiddel Hemel toe. Dit sou gepas wees vir ‘n man met sy formidabele gees. Sou die vuurwa nie kon realiseer nie, dat hy dan sagkens en vredig in sy slaap sou gaan. Sonder enige skeet of kwelling hoegenaamd. Maar eers as hy ‘n honderd jaar oud is, want die begeerte om daardie ouderdom te bereik, het hy persoonlik met my gedeel.
Toe sy vrou laat weet dat LiefOom baie ernstig siek is, was my eerste reaksie een van stomme verbasing. Alas, ons leef in ‘n gebroke wêreld…
Ek moet ‘Sweet Jesus’ vir LiefOom gaan sing, sê ek vir my man toe die hospitaalopname in my stad bevestig is. Ons voeg die daad by die woord. Toe LiefOom die aanvangsklanke van die lied, wat hy op die sendingveld gehoor en toe vir ons kom leer het, herken, sprei ‘n saligheid oor sy gesig. ‘Dit is die lied wat op my begrafnis moet wees’, sê hy ewe. Dalk het ek daar al begin vermoed dat hierdie weke die laaste hoofstuk van sy aardse lewensreis sou inwy.
Die mediese span beslis dat LiefOom ‘n operasie moet ondergaan. Die voorbereidings word getref, en daarna kan LiefOom eers huis toe gaan om te wag vir die operasiedatum. Ek gaan groet vroeg die oggend van sy ontslag uit die hospitaal. Hy is reeds aangetrek en sy tas wag langs die bed, genoeg vir eers van hierdie hospitaalstorie!
Die operasie word oor ‘n raps minder as ‘n maand gedoen. Die dag voor die operasie, ‘n Sondagmiddag, gaan kuier ek en my dogter vir LiefOom in die hospitaal. Hy is in goeie luim. Ek sing vir hom ‘n sendingliedjie en hierdie keer sing LiefOom saam! Ek kniel op die hospitaalvloer langs sy bed om vir hom te bid. Ek het so baie respek vir hierdie geloofsreus. Op sy versoek bid my dogter ook vir hom. Hy vou haar daarna teen sy bors toe, en toe ook vir my. Ek sê dat ek lief is vir hom, en hy antwoord met, Ek is lief vir jou ook. ‘Seën vir julle!’, sê hy toe ons uitstap. Dit is die laaste keer wat ek die liefste oom se stem sou hoor. Hierdie baie spesiale kuier bewaar ek nou as kleinood diep in my hart. En ek besef hoe geweldig bevoorreg ek is om so ‘n diep, omvangryke vlak van liefde te mag beleef vir ‘n mens wat nie met fisiese familiebande aan my verbind is nie.
Die operasie self word as ‘n sukses beskou, maar weens komplikasies tydens die operasie word hierdie besondere mens wat so geliefd by so baie mense is, nooit weer wakker nie. Die eerste kuier in die intensiewe sorgeenheid is ontstellend. Pynlik. LiefOom is aan lewensondersteunende masjiene gekoppel en totaal onresponsief. Ek huil só dat die suster uitvra oor my verwantskap met die pasiënt. ‘He is not my father, but he is like a father to me’, antwoord ek eerlik. Ek lees vir hom Psalm 121 en sing weer ‘Sweet Jesus’ terwyl trane oor my wange stroom. Ek soen hom versigtig tussen al die pype deur op sy wang voordat ons huis toe gaan. LiefOom se geestelike impak op my lewe is verreikend en tydloos, daarom is dit ‘n onmeetbare voorreg om hom, in hierdie brose tydperk van sý lewe, met Woord, sang en gebed te kan bedien, soos wat hy deur soveel jare vir my en baie ander gedoen het.
Met ons volgende kuier is die masjiene verwyder. Hy haal self asem en sy hartkloptempo is normaal. Hy het steeds nie sy bewussyn herwin nie. Ek lees vir hom Psalm 46 en 47, en sing vir hom al die sendingliedjies met ‘n hart vol hoop. Gehoorsaam aan wat sy in haar hart ervaar, salf my dogter LiefOom met salfolie wat sy spesifiek vir die doel saamgebring het. Ek beloof plegtig vir LiefOom om weer vir hom te kom kuier.
Laat die volgende middag laat weet sy vrou dat LiefOom oorlede is. Hoewel ek die nuus nie te wagte was nie, is my eerste reaksie nie skok nie, maar verligting dat die trauma vir hom verby is.
My volgende, en laaste interaksie met LiefOom is op sy begrafnis, presies ‘n week na die laaste hospitaalkuier. Sy vrou se trane loop toe sy ons gewaar. ‘Ek weet nie wat gaan met my aan nie. Dan lag ek, en dan huil ek weer’, sê sy. Maar so ken ons haar eintlik nog al die jare. Haar lag kom vinnig en haar huil lê vlak. Dit is ‘n goeie weersiens met LiefOom se kinders wat ons reeds ken, en spesiaal om diegene te ontmoet wat ons nou vir die eerste keer sien.
Terwyl die formaliteite in die kerk afgehandel word, word foto’s uit die liefste oom se lewe vertoon. Dan begin ‘n stemopname speel, met LiefOom self as die spreker! Sy vrou deel later dat hy maande gelede vir haar gesê het dat hy sy begrafnisrede opgeneem, en in ‘n koevert in die kluis gebêre het. Ons moes gedink het dat LiefOom iets heeltemal anders as die norm vir sy begrafnis sou doen, sê ek later vir die oud-sendinguitreik maters.
‘As jy na hierdie boodskap luister, is ek nie meer hier nie’, lui die stemboodskap. ‘My liggaam word weer stof. Maar ék, die régte ek, is nou by Jesus. Hier het jy nou die bewys dat niemand op hierdie aarde vir ewig kan leef nie. Daarvoor moet jy in water én gees gebore word. As jy vir Jesus wil aanneem, bid nou agter my aan.’ En die wonderlike Godsman gaan voor met die bekeringsgebed soos wat hy eindelose kere gedoen het tydens sy aardse lewe. En natuurlik sing hy self die lied, ‘Sweet Jesus’ tydens sy begrafnisdiens.
Wat ‘n lieflike voorbeeld stel LiefOom nie. Sy dryfveer is sy liefde vir die Here en sy hart vir mense. Tot op die heel laaste.
Dankie LiefOom, vir wie jy was vir my en menige ander.
Totdat ons weer ontmoet!