My Dierbare Ma

Ek moet seker deur al my vorige blogs gaan soek.

Luiheid.

Vergewe maar .. en lees maar weer.

Vandag 20 Mei was my oorle Ma se verjaarsdag. As ek terugdink kan ek nie onthou of sy vreeslik gekoek en tee het oor haar verjaarsdag nie. Soms was daar ‘n groot koek (wit dik koek-soos sy dit genoem het) en so speseryerige koek (vermoed iets met gemmer of kaneel ) . Ag dit was nou regtig nie vir my lekker nie  maar die Flan ! Heerlik , so sagte sponskoek met ‘n pynappel vulsel.

Ons Ma was en is ons kosbaarheid. Diabetes . Swak sig. Dik lensbril plus nog vergrootglas om te lees wat sy wou lees. Boeta maar dit is nou die storie van swak sig. Jy begin jou brein so oefen – eenkeer lees en onthou -want dit is nogal uitputtend vir jou oë om te herlees.

“My kind, dit is so ‘n genade om te lees sonder bril, geniet dit waardeer dit. ” Lees en nogmaals lees het ons met ons daaglikse brood ingekry. Ons vier is boekbedinges  danksy haar liefde vir lees.

..en Ma kon sing. So mooi. So paar maande voor haar oorlye het ek en sy nog in die Outehuis Stille Nag saam gesing. ..en op berge en in dale en oweral  is …

Ag nou ja .

Maar 20 Mei het ek mos eendag goed gedink om vir die ouetehuis mense in haar gang van die kliniek iets te ete te maak. So donker sjokolade koek deurdrenk met so stropie en dik roompie bo-op.. wat maak dit tog saak sy was al op haar laaste en sinielerig , sy mag dit tog maar geniet.

Laatmiddag gaan kuier ek toe by Ma en die kantoor by Avondrus . Die dienssuster vra toe summier die resep. Ag en voel so gelukkig. Ek deel dadelik die resep. Sy  noem dit was o so geurig, maar ek dink jou hand was so bietjie swaar…

Die stropie bo-oor moes Rumessens kry. Toe was daar nie. Toe gebruik ek sommer van daardie Bottel Rum wat uit sekere mense se kas gegrawe word – se inhoud.

Ek het eers ‘n teelepel ingegooi. Stropie het na niks geproe. Toe raak dit naderhand lepelsgewys. Toe raak die stroop geurig. Behoorlik geurig. Genadiglik was ek nugter.

 

Ek kom by Ma  en druk haar styf vas  en wens haar weer geluk want sy’t toe al vergeet dit was ‘n mooi dag om haar lewe te vier.

“Ma, hoe het die koek toe geproe?”

Ek sien nog daardie skewe glimlag..met ” Dit was baie lekker my Kind, geurig.. baie fyn tekstuur”

Nou ja toe hoor ek agterna , ek het die oumense in die Kliniek soveel vreugde verskaf. Pienk wange. Blink oë. Heeltemal te veel  geproe, tot die stropie so met die ou stram voorvingers uit die bordjie  afgelek.

Foeitog.

Nou ja ek is seker die enigste mens wat ‘n hele spul oumense in ‘n kliniek se alkohol vlakke vinnig laat styg het..

So sal ek haar altyd onthou Ons dierbare Ma Wouda .

 

Ek Lees in Rapport “Alternatiewe ekonomiese aanwysers”

.. Niel Joubert het in SakeRapport 20 Oktober 2013  daaroor geskryf. Toegelig met bypassende Grafika van Theuns Kruger met die opskrif :

BROEKE, BONE, BURGERS IS BISARRE TEKENS VAN BROEKSKEUR-TYE

Die Bronne is verkry uit Buisiness Insider, Investopedia.

Ek aanvaar dan moet die inligting seker vreeslik goed nagevors wees.

Daar word verskillende Konsepte geplaas , byvoorbeeld :

  • In moeilike tye koop vroue meer lipstiffie, eerder as duurder bederfies soos skoene en handsakke.. Ek wonder , dan gaan dit maar sleg met my ekonomiese aanwyser..lipstiffie is nogal duur..koop ook nou nie juis lipstiffies net om kooplus te bevredig nie en skoene op heden ouderdom raak ‘n krisis, Hakke nie te hoog. Gemaksugtig ekke. Daarom koop ek nou nie eens in goeie tye horde pare nie.
  • Een van die ander ekonomiese aanwysersvoorbeelde is “Mans-onderklere-indeks. Ek haal aan : “As dit broekskeur gaan, spaar mans geld deur nie nuwe onderklere te koop nie” Nee,  nou wonder ek darem, dit is seker die hele onderklere reeks. Onderhempie plus onderbroek. Wat doen ‘n man met flenter onderklere? Dit raak mos een of ander stadium gaterig. Is mansonderklere so duur? Dat dit ‘n resessie tot gevolg kan hê as jy nou minder koop van ‘n  noodsaaklike kledingstuk Ek aanvaar die naaldwerkbedryf gaan daarteenoor oplewing toon. Op een of ander manier moet gate reggemaak word. Die vraag is net , deur wie?

Ek blerriewil weier, ekonomiese krisis of de not, ek los dit met gate en al op die wasgoeddraad om afgetakel te word deur wind en weer.

Ek wou nou nog iets byvoeg oor besnoeiing op daaglikse gebruiksdinge, toe ruk ek so hande uit met woordspeling, dat ek maar liewer nou eindig.

Mag dit met jou goed gaan!

Drome droom

Ek droom laasnag –

Ek gaan preek, soos in die kerk. Voor die gemeente!! My Geboorte dorp s’n.

Al my papiertjies netjies geskrewe woorde in fyn potloodgeskriffie. So dynserig . Ek stap in die kerkgangetjie af oppad kansel toe, versigtig trap/stap ek die paadjie  af . Dit is vreeslik ongelyk..nes die paadjie plaveisel onder my dierbare boom,  opgelig deur die boomwortels.

By die kansel, links sit my oudste broer.  Plegtig in sy pak klere,wit hemp en so blouerige das met rooi kolletjies op. Rondom die kansel sit kleuters en speel. Met blokkies. Vreeslik vrolik en bakleiend. Oor een blokkie, “sy’t my blokkie gevat..nee, dis myne!” daardie soort baklei.

Ek besef toe ek nou daar bo uittroon oor almal te siene, my bril is nie op my neus nie. Ek kan niks sien nie. Staan so en dink , sal die proses maar uit my kop moet doen. Nog erger ek kan nie ‘n dooie woord onthou nie..

Ek kla kliphard ‘ek soek lig mense!’ Oudste broer bring ‘n flits . Ongeveer 50cm in lengte flits maar die piepkleinste liggie.. Darem skerp. Nogtans kon ek niks lees nie.

Ek kan onthou ek het plegtig gevra..’kan almal my hoor?’ en almal het gekoortjie jaaaa. Ek onthou ek het genoem dat dit nou so besondere oomblik vir my en my familie is aangesien dit nou ons geboorteplek en grootwordkerk  is.

Toe vererg ek my bloedsielig vir die bakleiende kleuters en vlie van die kansel af met spoed en gryp die blokkie waaroor baklei word uit die bakleiers se hande. Iemand uit die gemeente vra   “sal die Ma van die twee stout dogtertjies hul asseblief kom verwyder?”

Vanoggend word ek wakker met die wysie in my kop “God is hier teenwoordig ….” Al wat ek agterkom die lied is darem gesing…en dit is vir my baie mooi.

Verklaring:

  • Iewers het ek die afgelope tyd op RSG  die stert van ‘n gesprek gehoor- ek het toe vermoed die Gespreksleier was  Christina Landman . Ek lees graag wat sy skryf.
  • Ek het nou vir die tweede keer geval. Gedink ek moet versigtiger oor ongelyke plaveisel.
  • Gisteraand geluister en gekyk oor die ongedisiplineerdheid van kinders in skole by Robinson Regstreeks.
  • Lank terug se stomme kleutertjies wat baklei oor blokkies ? Nee weet nou nie hoekom ek my nou so vervies het vir die twee nie, voorheen sou ek sommer ander blokkie gegee het vir probleemoplossing..

Vreemd! vreemd Suster du Plessis – u denke so via die onderbewuste.

As ..

As jy graag wil blog, en skielik is die woorde wat jy nog bedink en beplan het weg,  dan kom die Rissiepitte darem handig te pas.

Was mos rugby die naweek. Die vlag was definitief nie gehys nie. Die Bloubulvlag. Ek het gekyk. Dit was stil , geen hoorbare oorlogsverklaring nie.

Sondag ,  die dag ná die Cheetah sege – (moes dit darem noem- ag hoe verheug was almal hier teenwoordig!!) klink daar toe skielik geluide  op by die Rissieparadys(!).

Daar was gaste. Daar was onmin tussen huiseienaars en gaste. Luidkeels. Die HoofRissie (vuurwarm) storm agter sy kuiergas aan. Aangehelp deur die inhoud van die bottel in sy hand. Méns en trek die kuiergas daar weg met die spoed van witlig en toe sien ek iets wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Die Hoofrissie gooi  klippe -letterlik – na die vertrekkende voertuig. Genadiglik mis, anders was daar moontlik moord op die sypaadjie..

Ek besef toe maar die woede was moontlik geregverdig met die opgaan van ‘n  wolkrook sigbaar oor hul heiningmure. Gillend . Vloekend . Emmersoekend. Water ! Water! Die rook raak al bollend digter. Kindertjies peul by buitedeur uit. Wip-wip so op en af .. skoon uitkoers uit. Opwinding en angs neffens mekaar.

Ons woon darem donkiejare hier by die huis op die hoek . Ander bure en inwoners het al met verloop van tyd gekom en gegaan.. snaaks met die bollende rook en gille sig- en hoorbaar, hoevele nuwe inwoners kry ons toe te sien. Die wat sommer so per toeval met stootwaentjie en die ou babatjie om die hoek gestap kom, nekkies lankgerek om tog iets van die opwinding te kan beleef. Vreemde mannetjie op ‘n sypaadjie met kamera. Neem fotos- kliek kliek. Nee hy was nie van die plaaslike koerant nie.

Die hele eskapade is darem suksesvol afgesluit met die brandweer .  Al flitsende en draaiende rooilig is vlamme geblus.

Brandstigting , kan jy nou meer. Dit is ook die eerste wat ek hier beleef. Ek weet die rissies is vurig van geaardheid maar dat hul nou ‘n vuurspuwende Drakie vriend het , die het ek nou met my eie oë  beleef..

Groetnis.

Migrainelyers ..

Ek kwalifiseer nie as ‘n migrainelyer nie. Soms kry ek flikkering soos sterretjies aan die eenkant , soos dit kom so gaan dit. Sonder hoofpyn . Sonder naarheid.

Ek lees vanoggend in Beeld se bylae die klein brokkie : Migrainelyers se breine lyk anders.

Volgens die beriggie uit Scientific American se geledere – ly twee keer meer vroue aan chroniese migraine as mans. Harvard se navorsers het nou vasgestel -vroulike migrainelyers se breine lyk anders as ander mense s’n  -“soveel so dat hul migraines “byna as ‘n ander soort siekte geklassifiseer behoort te word”.

Volgens die berig Die Insula, ‘n deel van die brein wat onder meer by pynwaarneming betrokke is, raak dunner met ouderdom. Ene Prof. Nasim Maleki en haar span het glo bevind dat vroulike migrainelyers se insula is egter baie dikker as ander mense s’n en dit bly dik. Die Mevrou Prof. sê hulle weet nog nie of die brein dit doen om homself te beskerm en of dit die migraines vererger nie.

Toe ek nou hierdie lees dink ek aan Ria(skoonsus).  So gespreksonderwerp. Wonder hoe dik is jou Insula? Al troos wat ek vir jou kan gee   Ria, – minstens word jou brein deeglik beskerm . Deur dik en dun. Ons is as kinders soms deur Ou Seliena, aangepraat as ” Jou dikkop (astrant)!” as ons drooggemaak het..nou nie dat ek meen jy’s ‘n dikkop nie..

Groetnis.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg