Arrie Rossouw, Vrye Weekblad, 8 Jan 2021
Die regse opstand in Washington DC is aangevuur deur misleiding, leuens en samesweringsteorieë, en ’n narsistiese psigopaat wat nie kan vat dat hy die verkiesing verloor het nie. Pres. Donald Trump se roekelose leierskap van die afgelope vier jaar het twee weke voor hy die mag vreedsaam aan Joe Biden moes oorhandig, gelei tot ’n tragiese laagtepunt in die meer as 245-jarige bestaansgeskiedenis van Amerika, skryf ARRIE ROSSOUW.
FORT COLLINS, COLORADO. – Op 11 Maart 1994 het my Beeld-kollega wyle Andriette Stofberg uit Mmabatho, destydse hoofstad van Bophuthatswana, berig vanaf die toneel waar drie lede van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) gesterf het as deel van ’n gewapende staatsgreeppoging deur honderde AWB-lede om die destydse tuislandpresident Lucas Mangope se bewind teen ’n interne burgerlike opstand te probeer beskerm.
Terwyl een van hul makkers reeds dood gelê het langs hul motor en hulle, ook sleg gewond, by Andriette gepleit het vir water, het sy aan hulle gevra: “Wat doen julle hier?” En hulle het geantwoord: “Ons is nie hier omdat ons hier wil wees nie. Ons is hier omdat die topstruktuur gesê het ons moet hier wees. Dis die leiers wat gesê het ons moet hier wees. Dis Eugène Terre’Blanche (destydse AWB-leier).”
Minute later is die twee gewondes koelbloedig deur ‘n lid van die Bophuthatswana-weermag doodgeskiet – ‘n daad waarvoor hy later by die WVK amnestie gevra het. Maar Terre’Blanche het skotvry daarvan afgekom.
Misplaaste lojaliteit
Woensdag 6 Januarie 2021, toe ek die chaotiese regse insurreksie teen die Amerikaanse Kongresgebou (Capitol) in die Amerikaanse hoofstad gadeslaan, het die AWB-lede se laaste woorde aan my gevreet; nie omdat ek destyds dalk nie genoeg simpatie met hul tragiese noodlot geopenbaar het nie, maar omdat ek net weer besef het hoe maklik liggelowige mense deur onverantwoordelike leiers mislei kan word en dan die hoogste prys vir hul misplaaste lojaliteit betaal.
Daardie Mmabatho-tragedie was die draaipunt in die verregses se pogings om die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika te probeer keer. Maar dit was ook die begin van die einde van Terre’Blanche en sy wit weerstandsbeweging. Duisende ontnugterde AWB-lede en simpatiseerders het hul rug op Terre’Blanche gedraai. Hy het op ’n keer in Pretoria se hoofstraat oneervol van sy perd geval en het ’n paar jaar later half vergete aan die hand van twee swart plaaswerkers aan sy einde gekom.
Eergister se regse opstand in Washington DC was aangevuur deur misleiding, leuens en samesweringsteorieë, en ’n narsistiese psigopaat wat nie kan vat dat hy die verkiesing verloor het nie. Pres. Donald Trump se roekelose leierskap van die afgelope vier jaar het twee weke voor hy die mag vreedsaam aan Joe Biden moes oorhandig, gelei tot ’n tragiese laagtepunt in die meer as 245-jarige bestaansgeskiedenis van Amerika.
Net by een vorige geleentheid – in Augustus 1814 – is die Kongresgebou bestorm en binnegeval toe Britse soldate tydens die 1812-Oorlog die gebou aan die brand gesteek het.
Diegene wat al die imposante Kongresgebou op die wal van die Potomacrivier in Washington besoek het, sal weet dat dié tuiste van die Huis van Verteenwoordigers en die senaat ontsag inboesem. Dis ryk aan meer as twee eeue se geskiedenis en parlementêre tradisie. Dit het al verskeie oorloë beleef, gasheer gespeel vir meer as 40 presidente tydens hul jaarlikse State of the Union-redes en is al deur tientalle buitelandse staatshoofde besoek of toegespreek.
Simbool van vryheid en demokrasie
Maar bo alles is die Kongresgebou vir Amerikaners (en vir miljoene demokrate oor die wêreld heen) die belangrikste simbool van vryheid en demokrasie. Miljoene Amerikaners reis jaarliks na die hoofstad om hul Kongresgebou te besoek en te gaan kyk hoe hul verkose verteenwoordigers debatteer en werk om hul lewe te verbeter. Vir baie is dit soos heilige grond. Dis die hart van die Demokrasie.
Om daardie simbool op so ’n flagrante wyse te “ontheilig” soos wat Woensdag gebeur het, was vir die meeste Amerikaners skokkend. Dit kan nie gelyk gestel word aan die Mmabatho-tragedie nie (hoewel daar in totaal vier mense Woensdag dood is), maar vir die gemiddelde Amerikaner (Demokraat en Republikein) was vandeesweek se verkragting van hul mees geliefde simbool net een te veel.
Trump se optrede Woensdagoggend tydens ’n Republikeinse massaprotesvergadering op die Ellipse voor die Withuis toe hy sy tienduisende volgelinge aangepor het om na die Kongresgebou op te ruk en “sonder swakheid” te gaan protesteer, was die laaste strooi.
Mislukte poging tot staatsgreep
Nie net het duisende oproeriges by die Kongresgebou, die Huis en senaat ingebreek nie, maar hulle het vir ’n paar uur daarin geslaag om die grondwetlik voorgeskrewe, demokratiese proses van vreedsame presidensiële oorgang te verongeluk. Die visepresident en meer as 500 kongreslede het vir hul lewe gevrees en moes inderdaas deur gewapende kongrespolisie deur ondergrondse tonnels na geheime vertrekke begelei word om die aanstormende gepeupel te ontvlug.
Dit was ’n mislukte poging tot ’n staatsgreep deur Trump, nadat al die state die uitslag van die verkiesing goedgekeur het, meer as 60 hofaansoeke om die verkiesing ongeldig te verklaar, misluk het en die 50 deelstate se afgevaardigdes in Desember Joe Biden en Kamala Harris as president en vise-president verklaar het.
Hy wou die kongres se grootliks seremoniële, maar amptelike goedkeuring van Biden se presidentskap verongeluk, letterlik minute nadat visepresident Mike Pence ’n verklaring uitgereik het waarin hy aangekondig het dat hy nie die grondwetlike mag het om tydens die gesamentlike sitting Biden se presidentskap te keer nie.
Nie net is die opstand vanuit alle oorde wyd veroordeel nie, maar Trump is deur die bank persoonlik verantwoordelik gehou vir die skokkende gebeure wat op die saamtrek gevolg het. En die woede van selfs die voorste Republikeine het oorgekook toe Trump weier om die opstand ná ure van chaos onvoorwaardelik te veroordeel.
In die senaat het verskeie senatore wat nog die oggend bevestig het dat hulle ’n voorstel steun dat die uitslag in vier deelstate ongeldig verklaar word, agt uur later ná die traumatiese gebeurde in die Kongresgebou gat omgeswaai en teen die voorstel gestem. Hul ruggraatloosheid van die afgelope vier jaar is dramaties bevestig selfs toe hulle die regte ding probeer doen het. Dit was te laat. Hulle name, veral die twee leidende figure in die senaat, sen. Ted Cruz van Texas en sen. Josh Hawley van Missouri, sal vir ewig in die annale opgeteken staan as meelopers van die Trump-opstand.
Twitter-stem stilgemaak
Die Amerikaanse politiek is tot in sy fondamente geskud. Gister het die weerstand teen die leuens en insurreksie gegroei en was Trump grootliks geïsoleer in die Withuis, verlaat deur van sy grootste ondersteuners en gatkruipers soos sen. Lindsey Graham van Suid-Carolina, en met ’n kwynende Withuispersoneel. Boonop is sy Twitter-stem tydelik stilgemaak nadat hy die opstandelinge in ’n paar tweets geprys het vir hul optrede.
Graham se dramatiese gatomswaai Woensdagaand tydens die debat in die senaat moes soos Brutus se dolk gevoel het. Die senator, wat die afgelope vier jaar heeltemal die politieke kluts kwytgeraak het en nog die afgelope week by Mar-a-Lago saam met Trump gholf gespeel het, het met groot fanfare op televisie die einde van sy pad met Trump verklaar: “All I can say, is count me out, enough is enough.” Hy het teen die Cruz-voorstel gestem dat die vier deelstate se uitslag verwerp word.
Alles wat Woensdag gebeur het, was ongehoord, van die massavergadering voor die Withuis, tot die inbraak en opstand teen die demokratiese proses, tot die mosie in die kongres om die uitslag om te keer selfs ná die chaos ure tevore. Selfs Trump se grootste bondgenoot, Pence, het sy rug op hom gekeer.
Gister het die druk in politieke en veiligheidskringe begin toeneem dat Pence die leisels vir die oorblywende twee weke tot die inhuldiging oorneem en Trump ingevolge die 25ste amendement van die grondwet tydelik van sy amp onthef word om te keer dat hy nog meer onverantwoordelikhede aanvang. Hy het immers steeds sy vinger op die kernbomknoppie!
Die konsensusmening is hard en duidelik: Trump het sy eed om die Amerikaanse grondwet te “bewaar, beskerm en verdedig” verbreek en iets sal gedoen moet word om hom te sensureer. Of dit sal gebeur, is weens die tydsbeperking onwaarskynlik.
Vier jaar lank weggekyk
Maar die skuld word ook vierkant voor die deur gelê van die leierskap van die Republikeinse Party. Vir vier jaar het die party onder leiding van Kevin McCarthy in die Huis van Verteenwoordigers en sen. Mitch McConnell in die senaat Trump bemagtig en weggekyk terwyl hy die demokratiese en regeringsinstellings een vir een probeer vernietig het.
Donald Trump het vier jaar lank verskille uitgebuit en groepe teen mekaar afgespeel, maar die leierskap het niks gedoen om hom teen te gaan nie. Wat vandeesweek in Washington gebeur het, is weens ’n totale gebrek aan leierskap in die kongres.
Die GOP is nou in ’n algehele toestand van verskeurdheid. Hond eet hond. Byna ’n derde van die party se verteenwoordigers het nog in die vroeë oggendure gister in die Huis ’n argument gevoer dat die uitslag in vier deelstate nietig verklaar en ’n kommissie aangestel word om verkiesingsongerymdhede te ondersoek; dit nadat hulle enkele ure tevore gesien het watter gevolge daardie soort leuens en misleiding op Trump-volgelinge het.
In die middernagtelike ure gisteroggend het Trump via een van sy raadgewers se Twitter-rekening verklaar dat ’n “vreedsame oorgang” na die Biden-administrasie op 20 Januarie voor die Kongresgebou sal plaasvind, maar dit was te laat. Die feit dat hy in dieselfde tweet sy eie chaotiese eerste termyn as “die beste eerste termyn ooit” verklaar, sal nie sy oneervolle nalatenskap verander nie. Die Trump-Hompie Kedompie sal nie deur sy sikofante weer aanmekaar geplak kan word nie.
Maar Donald J. Trump en sy familie gaan nie gou van die toneel verdwyn nie, en sal waarskynlik in die komende maande nog groot skade aan die GOP aanrig. Die party se oomblik van afrekening het aangebreek. Sy lede sal moet kies. Die party sal waarskynlik skeur, veral nou dat die Demokratiese Party al drie takke van die regering oorgeneem het.
Pilare van Trump-nalatenskap
Met die senaat nou ook in die Biden-sakkie verloor McConnell sy houvas op die politiek en verloor tientalle senior Republikeine hul leierskap in invloedryke komitees. Die Biden-administrasie gaan na verwagting blitsig beweeg om hul agenda van radikale hervorminge deur te voer voor die volgende verkiesings oor twee jaar. Hulle sal daarmee saam die pilare van die Trump-nalatenskap omtrek.
Die ontmanning van die GOP in die senaat sal die onenigheid in die party verhoog en vingers sal gewys word na McConnell. In die proses sal ’n faksie hulle steeds by Trump skaar en die party verlaat, of van die meer gematigde anti-Trump mense, soos sen. Mitt Romney, sal die party van die kake van Trumpisme probeer red, maar uiteindelik met ’n kleiner party sit met baie minder invloed in die kongres.
Maar een ding is seker: Hierdie tandepasta sal die GOP-leierskap nie weer in die buisie teruggesit kry nie. Donald Trump het die party gerysmier en oorgeneem. Die party, of wat daarvan oorbly, sal nooit weer die Grand Old Party wees nie.
Hoe dinge ook al oor die volgende paar maande uitspeel, dit beloof om nog onstuimiger te raak op Capitol Hill voor dit hopelik weer sal begin kalmeer.




