‘n Paar jaar gelede het ek ‘n artikel oor kinderopvoeding gelees wat my idee van die woord “strong-willed” heeltemaal verander het.
As ons aan kinders dink wat maklik omgekrap raak wanneer hulle nie hulle sin kry nie, is dit gewoonlik met ‘n mate van bewondering. Want om so tekere te gaan en aan te dring dat die ding op hulle manier gedoen word, moet hulle mos sterk van wil wees, nie waar nie?
Verkeerd.
Hulle is juis swak. Hulle het geen selfbeheersing nie. Hulle is nie in staat om hulleself te verset teen hulle eie gevoelens nie.
Dis alles goed en wel wanneer daardie mense nog kleuters van 3 of 4 is. Mens verwag van ‘n kleuter om sy eie behoeftes tot ‘n mate voorop te stel, dan nie?
Maar die waarheid is datselfs ‘n 4 of vyfjarige sy behoeftes kan uitstel.
Ek onthou van ‘n studie waarvan ek gelees het. (Stanford 1972) Vier- en vyfjariges is elk ‘n lekkertjie gegee. Hulle kon dit dadelik eet of kies om te wag. As hulle kon wag (‘n paar minute), het hulle nog ‘n lekker bygekry. As hulle nie wou wag nie, het hulle net die een lekker gekry. Oor ‘n periode van 40 jaar, is die kinders opgevolg. Die kinders wat gewag het vir die lekkers, was in alle opsigte meer suksesvol as die wat nie kon wag nie.
Die vermoë om behoeftes uit te stel, behoort te kan toeneem tot in volwassenheid. Ongelukkig gebeur dit nie altyd nie.
“Weak willed” (want kom ons noem nou maar die ding wat hy is) kinders word soms “weak willed” grootmense. En sulke mense lei ander mense ‘n lewe
Die probleem met iemand wat altyd sy eie gevoelens en behoeftes voorop stel, is dat daar alewig ‘n atmosfeer van spanning om so ‘n persoon hang. Hulle geliefdes weet nooit wanneer daar ‘n ontploffing gaan wees – heel dikwels oor ‘n onbenulligheid nie.
So iemand is nie betroubaar nie. Want die mense wat saam met hulle lewe, moet altyd tweede viool speel onderhewig aan die persoon se huidige emosionele storm (in ‘n teekoppie).
Sulke mense – omdat hulle nie die wilskrag het van “mind over matter nie”, neem baiemaal die rol van slagoffer aan. Niks is ooit hulle fout nie. Dis altyd ander mense of omstandighede of God wat hulle bedonner het. Nooit word die fout voor eie deur gesoek nie.
Soms is sulke mense se lewens in ‘n gemors. Soms ooreet hulle hulle. Soms gebruik hulle goed of doen goed wat sleg is vir hulle. Soms is hulle geldsake of huis of werk nie onder beheer nie. (Nie altyd nie, maar meer dikwels as wat mens dink…)
Ek blameer ten dele moderne sielkunde praktyke.
Hoe mens “voel” oor iets, is baie dikwels hoofsaak. Amper elke ding is geregverdig as jy maar net ‘n eerlike gevoel daaroor het. En mense word sommer aangemoedig om aan dese en gene te vertel hoe hulle voel – of dit nou die situasie gaan verbeter of nie. Vir iemand wat in elke geval sy lewe laat beheer deur sy skommelende gevoelens, is dit nou ‘n lekker verskoning om mal te gaan….
Teen die tyd dat iemand middeljarig is, is die kans dat hy of sy een of ander trauma in sy of haar lewe beleef het, redelik goed. Daar is dood van geliefdes, siekte, finansiele mislukking, teleurstelling. Sommige mense gaan soveel twak deur, dat mens wonder hoe hulle staande bly. En tog is daar mense wat ten spyte van omstandighede wat ander laat sidder, nie alleen staande bly nie, maar uitblink. ‘n Verskil maak in die lewe. Gelukkig is. Dankbaar is vir wat hulle het.
Ek vermoed sterk dat die verskil tussen suksesvolle mense en ander (en hier praat ek glad nie van finansies of besittings nie, maar die vermoë om bo omstandighede en struikelblokke uit te styg) ‘n eenvoudige keuse is.
Dis die wete dat gevoelens veranderlik is. En dat wat saakmaak, nie gevoelens is nie, maar dade.
Daar is wonderlike gevoelsmense op aarde. Dis hulle wat so maklik die mooi raaksien en ontroer daardeur raak. Dis hulle wat saam met jou sal huil wanneer jy swaarkry. Maar dis ook hulle wat weet watter gevoelens positief is en watter negatief. Watter gaan help en watter gaan hinder…
Met al die “gevoelens” in die lug en geen manier om hulle te hanteer nie, is dit geen wonder dat ‘n beraamde 69% van mense wat anti-depressante gebruik, nog nooit ‘n episode van depressie gehad het nie. 38% neem pille vir OCD, angsversteurings of sosiale fobies en ly nie werklik daaraan nie. Aldus die Journal of Clinical Psychiatry. (Gediagnoseerde depressie, is iets anders. Hierdie is nie kritiek teen mense wat werklik medikasie nodig het nie.)
Ek weet ek gaan die wêreld nie verander nie. Ek weet ek gaan mense nie verander nie.
Aangesien almal nou so lekker “voel”, kan ek seker ook maar sê hoe ek voel?
Ek voel kwaad. Ek voel vies oor mense met wie ek nie ‘n keuse het anders as om met hulle te doene te kry nie wat met hulle buierigheid my lewe bedonner. Ek is moeg vir die atmosfeer wat dit skep. Ek is moeg vir die spanning en onsekerheid wat dit veroorsaak. Ek sien die slagoffers van sulke mense daagliks en ek voel siek, want hulle verdien dit nie. Ek sien my man wakkerlê en hom bekommer terwyl die mense wat die bekommernis veroorsaak, heerlik slaap in ‘n pilletjie-geinduseerde droomwêreld. En ek voel..
Gaan dit my help om enige van hierdie goed te voel?
Nee.
Dis nie altyd moontlik om die emosioneel onwolwassenes uit te sny uit mens se lewe nie. Dis nie altyd moontlik om hulle in die daaglikse lewe te vermy nie. Maar ek kan nie help om te wens dat daar ‘n manier is om mense te kry om werklik te sien watter skade hulle aanrig (in hulle eie lewens en die van ander) omdat hulle net nooit grootgeword het nie…
