Foto: yakjyak/Flickr
“Ek praat maar net afrikaans!” sê ek sonder skaamte of enige dieper emosie, eintlik skrou ek dit saggies met trots. Dis waar dat Afrikaans wel my huis taal is. Dis ook net so waar dat my ma en pa, ouma en oupa, en almal wat ek vriende noem Afrikaans praat. Maar, ongelukkig, kan ek net nie Afrikaans as ‘n lees medium ernstig opneem nie. Nog minder as ‘n skryfmedium. Kort gesê. Ek haat dit. Ja ek weet haat is ‘n sterk woord, ek meen eks wel bewus, maar dis nou die enigste woord wat ek tot my beskikking het. Ok in plaas daarvan wat ek summier sê ek haat die taal. Kom ek verduidelik liewer hoe ek voel wanneer ek Afrikaans in die wild teëkom.
Dit voel vir my asof ek ‘n ander taal bestudeer of beginne naslaan. Jy wéét. Dis daardie senutergende gevoel wat mens kry, dis amper soos heeltyd moet verbale begripstoets skryf. Jou tong voel ene soos ‘n pap-kaal-slak, hy kan net nie die nuwe klanke of beklemtoning baasraak nie. Jou brein is later so moeg jy wil net bed of sitkamer bank toe, ek meen ‘n ouer mens is net nie gemaak vir nuwe tale leer nie. Kom ons wees net eerlik met mekaar, vra my maar, ek probeer nou al hoelank Spaans te leer. Jy kan my niks vertel van hierdie geveg nie! Want ek het eerstehandse ondervinding met hoe benoud en gefrusteerd ‘n mens raak as iemand jou verplig om in ‘n ander taal te probeer skryf of praat.
In elk geval, daar sit jy nou pap en neer teen die teer. Jy voel hoe al jou fokus al uit jou gedrip het, teen die tyd is jy ‘n gekraakde eier. Jou inhoud het lankal versprei oor een of ander belangrike bladsy. En al jou aandag het soortvan die leestof bedek. Jys nou basies gereed om al die vragies mooi en sorgvuldig te kan beantwoord. Dis hierdie uitgeputte oomblik, presies hierdie gevoel van jouself aan ‘n heilige krag wil opoffer, dis hoe ek voel as ek Afrikaans probeer skryf. Ok. Dis darm nou nie só erg nie maar dit kom nogal naby aan daardie gevoel hoor. Ek dink dit gaan terug na my kinderdae toe, jy sien die enigste Afrikaanse leesstof wat ek as kind gehad het was die goed wat ons een aand by die dominee en sy vrou gekoop het. Sjoe. Dis nou ‘n klomp jare terug.
Hulle het een aand net so voor skemer aan ons voordeur kom klop onthou ek. Die honde het geblaf, my ma het geskrou, en my pa het gholf skote op sy groen plastiek-grasmat geoefen, en ek. Ek was toevallig die een naaste aan die oorsprong van die sagte, maar, indringende doef-doef-doef.
Ek het eers gelê en dink dit was dalk die Sondag-aand oopkyktyd program wat ‘n milieu klank by dit gehad het. Dit kon netsowel gewees het want dit was so sag. Dalk was ek net aandagsgewys so ver weg van die sitkamer af. Ek kan nie nou presies onthou nie.
Ek dink dit het gegaan; pa wat skree van garage af tussen een van sy skote, “Oh man, daai was amper,” en toe ”Daars iemand by die deur” hoor ek hom gil tussen sweep-slaan geluide.
My ouma was besig om melkkos of iets soortgelyk te kook, sy het die boodskap soos ‘n herhaler nou weer oorgedra, “Boeta, daars iemand by die deur.”
“Nou wat moet ek daaraan doen” vluister ek saggies maar wel hard genoeg om my eie stem te kan hoor. Ek besluit toe om te maak of ek slaap, dit werk gewoonlik, mense hou buitendien nie daarvan om slapende honde wakker te maak nie, en ek weet dit goed. Ek was, en is nogsteeds, een van daardie woedende besetene mense as iemand my onverwags wakker maak.
“BOETA, wat die hel maak jy, maak die verdomde deur oop,” sy was nog nie té kwaad nie, dink ek, met my styf geknypde ‘slapende’ oë. Sy het geklink asof sy dalk net haar mond toe sy die tekstuur en die smaak van die melkkos affêre geproebeer het, gebrand het.
My ma hoor toe die boodskap tot al die pad in die kamer: “Dis reg ma eks oppad na die deur toe, die blêrrie kind maak weer of hy slaap, regte luigat.”
Dis nou nie asof ek nog nooit die ‘sleeping beauty’ tegniek geprobeer het nie, dit was eintlik die tegniek wat ek die meeste en maklikste geaksie het. Ek is soos een van daardie vreemde diere wat mens op ‘Discovery Channel’ of ‘National Geographic’ sien, daardie einste goed wat as hulle skrik sommer vlou val of summier maak of hulle dood is. Ek vergeet nou wat die goed se naam is, maar dit sal my nie verbaas as ek die ‘trick’ opgetel het een middag terwyl die huis geslaap het en ek sit en diere programme gekyk het nie.
Ek hoor toe hoe haar voete by die gang af druis dis soos donder-slae elke trap of tree wat sy gee. Sy was seker nou weer kwaad want syt geweet ek was net besig om skaam of lui te wees. ‘n Kind tel hierdie tipe goed op soos wat hulle grootraak hoor, hulle kan aflei en weet goed wanneer hulle ouers onsteld is of nie, hulle weet ook nét so goed hoe om hierdie kwaadheid te ontlok.
“Dis nou seker weer ‘n klomp bedelaars,” spoeg sy die woorde uit soos wat sy verby my stap. Dit was nie ongewoon om op Sondae mense te kry wat vir los sente kom bedel nie, “Of dalk nou weer ‘n klomp Jeowas getuie” rol sy haar oë hard genoeg dat selfs ek dit op die bank kan optel, nogsteeds in my stokstywe stok-insek posisie. Op die presiese oomblik, tussen die kaneel geure wat uit die kombuis geborrel en bruis het, die herhalende gholf-stok sweepslae wat uit die garage weergalm het, en die sagte koer van die advertensies voor die agt uur vliek, het nie een van ons eintlik geweet wie om te verwag agter daardie deur nie.
Ek onthou nog goed, ons voordeur was ‘n gekerfde hout pelikaan wat geskep was deur een of ander sukkelende kunstenaar wat my ma-hulle nog op ‘n skou bejammer het, óf kom ons sê liewer bevriend het. Die ding het na hoeveel jare nog gestink na vernis alhoewel dit kon dalk ook net die tipe hout gewees het wat die man met die blonde ponie-stert gebruik het.
Ek weet eintlik niks van die deur af nie, behalwe dat die oom wat dit gemaak het ‘n ponie-stert gehad het en dat hy gebroke Afrikaans gepraat het. Die punt is dat ons ‘n groot-hout-reënboogkleurige-pelikaan deur gehad het wat gestink het na ou vernisde hout. En agter of voor hierdie deur was daar nou ‘n vreemdeling of dalk ‘n spul van hulle wat nou wou smous óf steel.
Ek hoor toe hoe my ma ‘n groot hoeveelheid kaneel lug in haar longe in skep. Sy grawe toe in haar hemp en broeksak en smeer haar grootste glimlag oor haar lippe, “Blêrrie swaar deur,” hoor ek haar sê soos die yslike pelikaan laat oopvlieg.
“Naandsê mevrou, ek en my vrou Magriet wou net weet of ons ‘n oomblik van jou gesin se tyd kan kry?”
My ma is meteens skaam en rooi, dis een van ons NG kerk dominees. Hy groet ons altyd die een of twee keer wat ons ‘n jaar as gesin kerk toe gaan. Sys bloedrooi, want sy dink dalk hulle het gehoor wat sy vroeër gesê het, haar gesig bloos nog rooier omdat sy verlig is die mense is wit en bedel nie vir sente nie, maar sys meestal nou só tamatie-kleurig omdat ons basies nooit by die kerk is nie. “Nee, dis doodreg dominee, ons het meer as genoeg tyd vir mense van die kerk!” Haar stem is soetter as kondensmelk gemeng met goue stroop.
“Net ‘n oomblikkie,” lag sy benoud soos wat sy die man met die groot boks in ons sitkamer inlei. “Enige iets om te drink, dalk ‘n teetjie of iets?” alles raak verklein asof sy met ‘n baba praat. Dis mos maar wat mens doen wanneer jy skuldig voel.
“Staan op,” voel ek iemand knyp my boud en forseer woorde deur styf geknersde tande, “Loop roep jou pa.”
Binne ‘n split-sekonde is ek op, sy knyp nogal seer as sy moet, ek hardloop toe af na die garage toe waar my pa staan en sing en denkbeeldige gholf balle op sy plastiek matjie slaan, “Die dominee is hier” sê ek asof iemand baie belangrik arriveer het. Die mense sou dalk dink dis iemand só belangrik soos ‘n keiser of ‘n koning, of dalk ‘n staats-president, of ten minste ‘n burgermeester. Maar nee dit is net die dominee wat almal onder dié dak, haat. My ouma kla pal, “Man hys boring, hy lees dan net die sinne direk uit die Bybel uit, lyk ons dan nou soos ‘n spul babas!”, dis wat my ouma altyd vir my sal fluister soos wat ons kierts regop in die kerk sit.
“Ma die dominee is hier,” sê my ma vir my ouma soos wat sy in die kombuis in hardloop. Daars ‘n kouesweet wat op haar voorkop begin uitslaan, “Nou vir wat lyk jy dan nou so bleek en klam van die man af!” merk my ouma my ma se skielike waterpokkie uitbraak op. My ouma sug toe net daarna, “Ag jirre nie weer die vervelige ding nie!” asof sy liewer ‘Radio Sonder Grense’ se klassieke uur oor-en-oor sal wil luister voor geselskap met die dominee deel.
“Ma, hulle sit in die sitkamer, kan jy jouself net gedra!” vluister sy hard genoeg dat ek dit kan hoor soos ek by die trappe opstap.
“Wat het ouma nou weer gedoen?”
“Niks, hou op so nuuskierig wees, dis net mense wat niks beter om te doen het nie wat hulle neuse so in ander mense se besighede insteek,” sê my ouma toe hard genoeg dat die dominee haar hierdie keer kan hoor.
Kort daarna, is die hele familie meteens op die bank ranskik, van grootste tot kleinste, ek sit natúúrlik reg langs die dominee want my ma hoop dat my leë-mond glimlag nog oulik genoeg is om mense te laat versag. Dit is.
“Sjoe julle lyk heel besig vanaand, nogal so op ‘n Sondag,” asem die dominee se vrou in die lug in soos wat sy die tee na haar mond toe bring. Sy probeer nou weer seker insinueer ons doen iets verkeerd, maar ons rûe is lankal olie, soos in olie en water op ‘n eend se rug. Die dominee kyk vir haar met oë wat haar dadelik van haar dominee-vrou troon laat af tuimel. ‘Nie vanaand nie Magriet’ skryf sy twee oë in die lug in ‘n geheime huweliks morse-kode.
“Wel ek het vanaand ‘n baie interessante en opwindende ding vir jou jong man!” sê hy soos wat hy sy palm op my skouer laat rus. Nou sien, ek het nog nooit eintlik van fisiese kontak gehou nie en my refleks is gewoontlik om ‘n hand of palm van my rug af te skud. Dalk maak die verdomde ding nes daar en dalk bly daar! Maar die slag is my ma se twee vingers op my boud, gereed om te knyp, so ek glimlag maar net, “Rêrig oom?” sê ek in my kleinste engel-seun stem.
“Ja jong man, vanaand staan wysheid voor jou deur en jy moet ‘n besluit maak…jy moet nou besluit asof jy hom gaan wegstuur of inlaat, jy weet, kennis is die toekoms!” laat hy uit met ‘n tevrede glimlag. Hy kry seker baie lekker dat ek so geïnterreseerd lyk. Of miskien omdat hy ‘n sin gebou het wat hom laat klink soos ‘n Mandela-tipe figuur.
“Wat is dit dan wat oom nou van praat?” maak ek asof ek dowwer as Dolla is. My ma gluur my aan elke keer wat ek ‘Oom’ in plaas van ‘dominee’ sê. Ek het ook my eie maniere van rebelleer gehad, dit het ek seker van my ouma af gekom.
“Seun ek praat natuurlik van die ‘Wêreld Spektrum’, iets wat iemand wat so slim is soos jy seker al lankal van gehoor het!” sê hy asof ek moet weet wat dít nou is. Hy dink seker ek kom nie agter dat hy my met mooi woorde probeer fnuik nie.
Sy vrou pak toe een-vir-een hierdie swart vals-leer boeke uit. Ek tel stadig drie-en-dertig van die goed. Dit lyk asof hulle die uitpak en verduideliking van elke boek vroeër in hulle sitkamer dalk gekoreografeer het, amper soos ‘n skolastiese daans roetine. Ek sê maar net dit lyk so vir my, wat weet ek nou. Dit mag dalk wees dat hulle net goed geoefen is na al die huise wat hulle al besoek het. My ouma sê altyd mens vertrou nooit mense wat hulself in jou huis in nooi nie, en jy vrtrou hulle nóg minder as hulle iets aan jou probeer smous.
‘Maar boeke is skadeloos en hy is ‘n dominee-oom so wat kan nou verkeerd gaan!’ dink ek saggies soos wat hulle nogsteeds boeke uitpak.
Nou wat volgende gebeur het kan ek nie rerig verduidelik nie, want ek het op hierdie ouderdom nog nie eintlik van boeke of lees gehou nie, maar ek het amper dadelik opgekyk na my ma-hulle wat soos ‘n groep meerkatte met wasem oë na hierdie Sondag-aand-verkoops-sessie begin kyk het, ek sê toe tot my eie verbasing, “Mamma ek soek hulle almal!”
My pa se brein het soos ‘n gholf-bal dadelik toe in die hede in terug geknal, my ma het meteens haar vingers op my boude soos ‘n skerpioen laat kriewel, en my ouma het net gesug en gesê: “Ek dink ek ruik die melkkos brand aan.”
Na die dominee en sy vrou uit by die deur is en ons hulle bekyk het soos wat hulle die pak honderde stap-vir-stap met groot gebruikte-kar-verkoopsman glimlagte tel, het my ma my die dóód ingestaar en gevra, “…gaan jy ooit die goed lees?”
Ek knik toe soos my ma my dophou asof ek hulle almal dadelik nou voor haar moet klaarlees. Ek maak toe die eerste ene vol vertroue oop, op sy rug sê dit ‘A vir Aardvark’, en dis toe wat ek besef die goed was Afrikaans en die groot wetenskaplike woorde op die eerste blad was mikroskopies klein gedruk. Die woorde, na ‘n tweede inspeksie, het ook geen sin vir my gemaak nie, “Nou toe lees die boek, ek wil hoor!”
En dis soos wat my lippe oor die eerste woorde struikel wat ek dink aan daardie ‘Discovery Channel’ dier. Eks seker daarvan hy gaan ook in één van die boeke wees, ek kyk toe op na my ma haar oë is amandel skrefies, sy kyk my op en af en links en regs.
Jare later het ek per ongeluk weer ‘n Afrikaanse boek gekoop, dit was ‘n vertaalde ‘Harry Potter’ boek, maar ek het daai ding dadelik vir ‘n Sondag-aand bedelaar gegee toe ek die transliterasie ‘Dompeldorius’ raak gelees het. En dis toe, sommer net daarna, wat ek sonder skaamte hardop begin sê het, “Ek praat maar net Afrikaans hoor!”