Ons gemeente hou jaarliks ’n Dankie-sê ete vir die huishulpe en tuinwerkers. Die werkgewers (gemeentelede) koop die kaartjies vir hulle huishulp/tuinwerker.
Ons (dames) sit voorskote aan en ons bedien die gaste met ’n 3-gang maaltyd en opruiming.
Gister se Dankie-sê ete was weereens ’n groot sukses, en die gaste word jaarliks meer!
Ek weet nie waar ‘n huishulp haar energie vandaan kry nie. Ek was gister middag doodmoeg van die op en af lopery, bedien, vuil skottelgoed afdra… skoon ‘n rugspasma gehad. Ek het nou besluit: huishulpe is super mense.
Uiteindelik, uiteindelik … gaan ek ook ‘n ouma word.
“Spikkel” het Woensdag sy/haar eerste fotosessie gehad. Gewoonlik kan ek nie kop of stert van sonar-foto’s uitmaak nie, maar ek sê jou nou: hierdie een is so duidelik soos daglig vir Ouma. Ons het ook die hartklop-stemboodskap gekry. “Ek is hier,” verklaar Spikkel. “Sien my raak.”
Ouma sien jou, Spikkel.
Ek vertel jou van die wonderwerk van Spikkel.
In my twintiger jare, het ek gesukkel met gewas op gewas, 2 Miomektomie’s gekry, ek kon net nooit swanger raak nie. Selfs nie na rondte na rondte KI nie. Deur aanneming, gee die Vader toe vir ons twee kindertjies. En die wonderlike van die aannemingstorie kan ek in ‘n paar voorbeelde noem:
Pa Anthonie het aan die linkerkant van sy onderkaak, nooit permanente tande gehad nie. Nog steeds melktande na 63 somers. Anthoon-kind het aan die linkerkant se onderkaak, nooit permanente tande ontwikkel nie. Na sy 34 somers het hy steeds net melktande. Amazing, ne.
Pa Anthonie hou glad nie van vrugte nie. As kind het sy ouers hom betaal om ‘n druiwe-korrel te sluk. Hy het dit in elk geval heel ingesluk. Van baba-tyd, het Anthoon vrugte-purity uitgespoeg. Geweier om dit te sluk. Hoe het die klein lyfie dit geweet?
So het Tialet ook al twee keer gewasse in haar baarmoeder moes verwyder (net soos haar aanneem-ma)
Dan kom sit die ding in jou kop, né, want obvious het die Vader geweet vir wie Hy die 2 kinders maak die tyd toe hulle gevorm is. Wat nou van Tialet? Gaan sy ook sukkel om swanger te raak? Boonop is sy al in haar dertigs. Ons het in stilligheid gewonder. Sy erken nou dat sy ook getwyfel het.
En die wonderwerk het gebeur. Ek het nooit swangerskap beleef nie, maar ek beleef dit saam met my kind. Gelukkig is die swangerskap-naartes nou, en nagte se opstaan later, vir hulle rekening 😁😁
Opgewonde. 🤩 Dankbaar 🙏
Die eerste kledingstukkie is reeds gekoerier 🤦♀️😍
Op hierdie Sondagmiddag het my Enigste besluit om faceboek-resepte te probeer. Eers ‘n heerlike kondensmelkkoek (maar hy het vergeet om die bakpoeier in te gooi, dink hy). Maar lekker soet is lekker! Toe ‘n growwe-meel broodjie.
Wat ‘n heerlike warm Karoo wintersdag was dit nie. Mens voel sommer lig met minder klere aan. Ek is ‘n somer-mens, as jy dit nog nie weet nie.
Voel sommer net volgeprop met dankbaarheid. Dis al.
RYK ARMGAT is al twee maande oud, en ek dans nog steeds met die publikasie in my hand. Tweede uitgawe, en boek 1 in Die Berg Broers-trilogie.
Soveel vreugde geskep uit terugvoer en verkope, en diep diep dankbaar.
Geniet dit saam met my:
Gemiddelde stergradering Amazon: 4.4 uit 5 en Goodreads: 4.61 uit 5 van 23 lesers
Lokfilm:
Agterplats:
Selfstandige student, behep met finansiële onafhanklikheid, maar opgeslurp deur sy vooroordeel teen ryk mense. Wimpie Berg maak ook foute. Hy is té ordentlik en té aantreklik met sy ferm ken en spiere wat nie onder klere kan wegkruip nie.
Marien Veens se blink oë en breë glimlag hou hom gevange langs ’n Mosambiekse tronk. Haar aantrekkingskrag en warmte oorrompel hom. Radeloos kyk hy toe hoe sy die hitte tussen hulle aanblaas.
Liefde is gevaarlik. Dodelik.
Die lenige rykmansdogter langs haar skedonk, verkrummel sy weerstand. Sonder remme tuimel hy in ’n salige verhouding in, totdat Riekert se venynigheid alles beduiwel. Wimpie se eiesinnigheid dryf hulle uitmekaar.
Marien verkas landuit en raak bevriend met ’n vurige Ier. Gaan sy troos vind in sy arms, terwyl Wimpie sy selfverwyte moet trotseer? Jy sal moet uitvind. RYK ARMGAT is vir die leser wat spanning in voel-goed-boeke kan waardeer. ’n Aangrypende roman wat jou intrek en weier om te laat gaan. Maak reg vir min slaap.
Resensies:
Tannie Sarie (80 jr oud): Die klomp arm rykgatte het my hart verower , ek verlang na hulle ! Nou moet Bernard en Dieneke net bymekaar uitkom. ‘n Lekker leesboek. Baie geniet. 🌸
Ek lees my blogmaats se skrywes en ek weet ek het die interessante, snaakse en positiwiteit gemis. Ek is al moeg vir my eie gesegde van “dit voel of die wêreld met my weghardloop.” Ek dink eerder dis net ek wat hopeloos uit pas geraak het, agter geraak het soos ’n onfikse atleet.
Die skon skyn die afgelope paar dae in die Karoo. Die koue het effens gelig. Inteendeel, dit blyk kouer te wees by die Gautengers as by ons in die Oos-Kaap. Dit lig my gemoed!! Ek is nie ’n wintermens nie.
Ek skryf weekliks ’n boodskap/gesegde op ’n swartbord op ons kerkgronde. Ons kerkgebou staan in die middel van ons dorp, by al die winkels. Wanneer ek ’n week oorslaan, kla die mense in die straat, sê die een tuinwerker van ons gemeente.
Ek het ’n paar gesegdes wat so waar is van die Karoo:
Sien die mooi in niks.
Hoor hoe raas die stilte.
Ons is gemaak om spore te los (selfs tussen die karoo-bossies)
Spasie is gewoonlik te min. Afrikaans het altyd meer woorde nodig as Engels, om dieselfde boodskap oor te dra.
Hierdie wil ek nog vertaal in min Afrikaanse woorde:
Need a lifeguard? Ours walks on water.
Every home is a school. What are you teaching?
En vir myself: Sê dankie vir wat jy gister ontvang het.