Blog

  • Ma wees, die reis wat tot by verlange loop…

    Moederskap is besonders… Van daardie eerste asemteug op die teater se bed, laat nagte en vroeë oggende met ‘n siek babatjie en later die skande in winkels wanneer daardie tirade ontvlam en eie willetjies sigbaar word, is dit ‘n reis.

    Jare later met soveel take en toetse agter die rug, modegiere agternasit en nuwe haarvlegmetodes ontdek, kom ek tot stilstand met die wete dat alles in ‘n oogwink verby geskiet het en ek nooit die geleentheid gehad het om dit WERKLIK DAG VIR DAG in te neem nie.

    My baba dogtertjies het nou groot geword en die oudste het haar poppe en pienk linte vir ‘n grootmens lyfie en grasie verruil.

    Sy trek nou haar eie rok reg en kyk vir haarself in die spieël soos ‘n vrou.

    Ek het die afgelope naweek die voorreg gehad om my oudste dogter deur twee kosbare oomblikke te vergesel, eers haar matriekafskeid en daarna haar eerste kar.


    💫 Matriekafskeid: Van popspeel tot pronkrokke

    My oudste en haar maats het nog nooit so mooi gelyk nie! Hulle was nie net mooi van buite nie, maar het met ‘n innerlike opgewonde lig voorberei vir die lang verwagte aand by ‘n spoggerige hotel buite Pretoria.

    Met styl, smaak en selfvertroue is daar vir kameras geglimlag, skaam vir hulle metgeselle gekyk en gebabbel oor watter maats se rokke die mooiste lyk.

    Ek het in daardie oomblik gewonder: Het ek haar genoeg geleer? Het ek haar genoeg liefgehad?

    Ek het tot die besef gekom dat die antwoord nie lê in die perfekte liefde of optrede van ‘n ma nie, maar in die teenwoordigheid wat omgee en saamwees weerspieël.

    Elke rit na die sportoefening, elke wag vir die skool om uit te kom met ‘n kosblik in die hand, elke kooroptrede se bywoning en elke swemgala se geskreeu, wat sy gelukkig nie onder die water kon hoor nie, en elke “Gaan leer jou werk, jy skryf môre toets”-oomblikke. Dít is waar moederskap leef.


    🚗 Die eerste kar: Onafhanklikheid met ’n sleutel

    Groot was die opwinding toe ek en my man die aflewering van ons oudste se kar begin beplan het. Ons het liedjies gaan soek om tydens die groot onthulling te speel en die oomblik was een van vreugde en trots! Ek was so bietjie paniekerig, want dit is nie net ‘n voertuig nie, dis vryheid. Ek het stil in my hart gebid dat God haar veilig sal hou en dat sy altyd die wete sal hê dat haar huis nooit te ver is nie.


    💔 Die hartseer van loslaat – en die vreugde van groei

    Aanstaande jaar gaan ons oudste verder studeer en dit is nie maklik om te sien hoe sy al hoe meer en meer onafhanklik raak nie. ‘n Mens voel half irrelevant en verlang na die tye toe hulle jou vir alles nodig gehad het. Nou moet ek leer om toeskouer te wees en haar vertrou om die regte keuses te maak.


    💖 Maar ook… hoop

    Ek kyk na haar en sien alles wat mooi is in hierdie wêreld. Ek sien hoop. Ek sien ‘n stukkie van myself, maar ook ’n nuwe unieke grootmens. Ek sien ‘n meisiekind wat vrou geword het en ek is dankbaar dat ek deel van haar reis kon wees.


    🌸 Is dit nou dit?

    Moederskap is nie net die begin nie, dis elke stap in jou kind se lewe. Van nat doeke tot vlegsels en groot mylpale – dis elke stap van die pad. En soos ek my dogter sien grootword, leer ek iets nuuts: Jy verloor hulle nie – jy kry nuwe dele van hulle, soos blomme wat oopgaan.

    En ek? Ek groei saam.

  • Gedagtes oor heengaan, herinneringe en aangaan

    Sy is dood. Na byna 9 maande se lyding het die Here my ma kom haal.

    Dis 2 Januarie, ons is in die winkels, besig om na ‘n pot vir ons trappe se platform te soek, toe die verwagte onwerklikheid op my telefoon se whatsapp-toepassing deurkom…

    Sy is net voor 3 oorlede…

    Ek kry nie asem nie. Dit voel of iemand my in my maag geskiet het. Ek begin onbeheerbaar bewe, en die asem hyg hortend uit my keel uit en snikke sonder stop skeur uit my borskas. Dis verby…

    Niks kon my voorberei op hoe dit sou voel nie. Niemand kon vir my beskryf hoe dit is om ma-loos te wees nie. Selfs al was ek dit te wagte.

    Niemand kan weet tot hulle dit self gevoel het nie.

    Daar is nou ‘n gat in my hart, gevul met wolke van herinneringe met soveel wat asse en waarom’s. Het ek genoeg tyd met haar spandeer, het ek genoeg gedoen om haar te laat voel hoe spesiaal sy vir my was? Hoekom het ek nie meer in Polokwane gaan kuier nie, en hoe voel haar drukkies nou weer?

    Ek kan onthou hoe sy gelyk het. Ek onthou die klank van haar voetstappe in die gang af by haar huis wanneer sy my met ‘n koppie koffie in die bed kom verras het. Ek onthou selfs hoe dit geklink het as sy gehoes en genies het. maar ek kan nie haar stem onthou nie.

    Die verlies wat ek voel sedert sy weg is, is soveel anders as die byna 9 maande wat ek nie met haar kon praat nie.

    In daardie 9 maande was daar hoop en selfs wense en smeking, ten spyte van die harde waarheid oor wat met haar gebeur het. Later het ek gebid dat haar lyding verlos kon word, ongeag of dit haar heengaan sou beteken.

    In die maand sedert sy begrawe is, kry ek steeds drome waarin ek met haar gesels. Sy staan by my terwyl die kinders speel en sy kyk na my asof ek so spesiaal is as wat sy my altyd laat glo het. Sy was my grootste “fan”. Sy het my gemotiveer en aangespoor om my allerbeste te gee en goed gesê soos: “hou die blink kant bo en as hy nie blink nie, “polish” jy hom…”

    Niemand kan my ma se plek inneem nie. Ek het net een. Niemand sal my liewer hê en my meer onvoorwaardelik aanvaar as my ma nie. En selfs al was my ma nie perfek nie, sou sy my altyd as perfek beskou.

    Ek kry vanoggend ‘n boodskap van my man wat hy in sy Bybeldagboek raakgelees het en wat my tref, is hoe raak dit my gevoelens beskryf. Dit lui: “Hulle wat akute droefheid beleef, kan moontlik twyfel as gesê word dat tyd alle wonde heel. Daar sal altyd kosbare herinneringe wees en die verlange na hulle sal soos ‘n knaende pyn in die hart bly voortleef. Ons dierbares sterf nooit voordat die herinnering aan hulle in ons harte gesterf het nie.”

    In daardie geval sal my ma nooit sterf nie, want ek sal haar in my hart koester tot ek die dag my kop neerlê, maar die stuk sê verder dat tyd die pyn se angel verwyder vir ons wat agterbly en dat Christus oor die dood getriomfeer het.

    Ek weet dat my liefde vir my ma en die verwyte van wat ek nagelaat het om te doen, littekens op my hart gelos het, maar ek weet ook dat elke vreugde en hartseer ons vorm en dat daardie littekens ‘n bewys is dat ons liefgehad het, want harte van klip kan nie littekens hê nie…

    Al wat ek nou kan doen, is om seker te maak dat ek haar eendag weer sien en so te leef dat indien sy na my sou kyk, sy steeds sou dink ek is kosbaar.

    Liefde

    M

  • ‘n Vreemde Kersfees

    ‘n Vreemde Kersfees

    Vreemd is volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, ‘n bywoord en beteken hoofsaaklik onbekend, ongewoon of iets wat jy nie ken nie. Vir my, is vreemd iets wat ek vir die eerste keer ervaar, iets wat anders is as waaraan ek gewoond is, iets wat verandering bring…

    Hierdie feestyd en veral Kersfees is vreemd. Vir die eerste keer in my 44-jarige leeftyd het ek nie ‘n biologiese ouer om ‘n geskenk voor te gee nie. Ek gaan twee telefoonoproepe nie meer maak en ‘n Geseënde Kersfees toewens nie. Daar gaan nie dankie gesê word vir persente wat vir ons gesin gekoop is en met spesiale ywer toegedraai is nie. Van hierdie jaar af is dit weg.

    Hierdie jaar bevind ek my op ‘n spesiale plek. ‘n Plek wat ek nie ken nie. ‘n Jagplaas in die hartjie van die Oos-Kaap. Dis vreemd. Vroegoggende gaan die kinders saam met hulle pa uit om ‘n bok te gaan soek, saans loei die wind hartverskeurend om die huis en die hemelruim se sterre is so naby dat jy jou verbeel, jy kan daaraan raak.

    Dis vreemd, want ek was nog nooit op ‘n jagplaas nie en dis vreemd want ek ken nie die plantegroei en insekte wat in en om die plaashuis hulle besoeke kom bring nie. Hier is Noorsveld en wolbesies, vreemde voëls en snaakse kraakgeluide wat wys dat die huis asemhaal.

    Pruimbome en witgatte versier die koppies en berge in die omtrek en Springbokke, Elande, Bergkwaggas en Rooibokke smul behoorlik aan die spekplante.

    Dis heelwat anders as waaraan ek gewoond is hierdie tyd van die jaar. Ons gaan gewoonlik na die kus. Vroeër was dit ooste toe, maar die afgelope jare kies die motor se neus Kersfees Weskus toe. Dis besig, daar is baie om te doen en te sien, daar word gejil en gegil met branderplankry en speletjies op die strand. Ek kom verseker nie sonder ‘n bietjie meer beskadigde vel terug Pretoria toe nie.

    Hier is stilte. Dis net die wind, ons skaterlaggies terwyl ons bordspeletjies speel en die zoem van die battery-kragstelsel in die eetkamer.

    Vroegoggend kom maak Jakolien haar verskyning met haar drie-jarige klein seuntjie aan haar sy. Dié outjie het sommer van die eerste dag af in my hart gekruip. Hy was skaam, teruggetrokke en versigtig om kennis te maak, maar het gou agtergekom hierdie tannie wil net drukkies gee en Smarties uitdeel en sy kan bal skop en karretjies speel soos ‘n regte maatjie.

    Dis so lekker om weer ‘n klein lyfie te kan vasdruk en sy handjies om my nek te voel. Dis heerlik om my stukkende hart te lap met sy koppie op my skouer soos ons tjaila-tyd na sy ouerhuis toe stap.

    Dis vreemd hier, maar dit maak my heel op ‘n snaakse manier. Dit plak pleisters en troos, dit skaaf en maak dat ek dieper delf. Hierdie Kersfees is werklik VREEMD, maar dis goed…

    Groete

    M

  • Die lewe en Krimpvarkies

    Ek is in Pietersburg, of deesdae Polokwane om na bykans sewe maande van siekte weer ‘n draai by my ma te maak.

    Sy weet nie meer ek is hier nie. Dit lyk nie of sy enige iets weet nie. Sy lê net. Soms slaap sy, ander kere staar sy in die niet in, met haar mondjie wyd oop en daar waar haar tande eens perfek gepas het, ‘n ingeduikte lippie wat kort-kort met Vaseline se lip-ice ingesmeer word.

    Haar fyn handjies is al styf gespan, haar voetjies kan nie meer punt nie. Haar lyfie is besig om weg te kwyn in die groot bed met die wit deken.

    Vanoggend was moeilik, ek het net voor 10 by haar kamer aangekom, sy het nie geslaap nie, maar was ook nie wakker nie. Haar ogies het gestaar en haar asemhaling was rustig.

    Ek moet seker dankbaar wees dat sy nog saam met ons is. Gister was haar en my stiefpa se 20ste huweliksherdenking. My hart bloei. Hy het seer, ek kan dit sien, maar hy praat nie daaroor nie.

    Terwyl ek so in die loop van die oggend buite in die tuin sit en wag dat hulle my ma was en gemaklik maak, kom die tuinman by die palliatiewe sorg-eenheid om die draai en kom soek die bestuurder in sy kantoor op. “Kom kyk, ek wil vir jou iets wys,” sê hy.

    ‘n Rukkie later kom roep die bestuurder my. Ek moet ook kom kyk, want hulle het ‘n hele nes Krimvarkies onder ‘n plaat in die agtertuin gekry. Ek verkyk my aan die klein, brose maar tawwe diertjies wat kort-kort terug kruip in die gat waaruit hulle te voorskyn gekom het.

    Terug in my stoel, tref dit my soos ‘n hou met ‘n krieketkolf: die lewe is soos daardie klein Krimpvarkies. Dit is broos, afhanklik en soms so mooi en lief, maar net soos dié klein knaagdiertjies wat slegs in die nag doenig is en hulself goed met daardie klein pennetjies kan verdedig, is die lewe ook hard, onverskrokke en taai.

    So veg ons almal. Buite lyk ons lief, vriendelik, bereikbaar en geseënd, maar binne-in ons staan die vegter regop. Reageer soms oordadig op klein dingetjies, probeer keer dat ons gekwes word en is baie keer so besig om ons gedagtes aan ons eie probleme te wy, dat die mooi by ons verby gaan.

    Ek wil meer dinge soos die Krimpvarkies raaksien. Ek wil oomblikke ervaar waar ek kan wegkyk van die seer, die onsekerheid en die teleurstelling. Dit beteken nie ek wil vergeet nie. Dit beteken net ek wil nie die heeltyd veg nie.

    Here, maak my dankbaar en help my om nog mooi dinge raak te sien.

    Groete M