As jy in die 1980’s oud genoeg was om TV te kyk, is jy oud genoeg om die destydse Aartappelraad se treffende slagspreuk te onthou: “Gesondheid uit die grond uit.” Wel, ek het ’n dekade of wat ná daardie veldtog vir die persoon gewerk wat die slagspreuk uitgedink het: my baas, Joh Groenewald.
Ek het gisteraand die hartseer nuus gekry dat Joh onlangs in die ouderdom van 80 jaar oorlede is. Hy was die stigter van Afrikom, een van Suid-Afrika se eerste skakelkonsultasiefirmas. Toe ek in 1997 nog nat agter die ore daar begin werk het, het ek gedink dat skakelwerk grootliks daaruit bestaan om rond te staan en sjerrie te drink by skemerkelkfunksies, maar Joh het my gou van dié wanindruk genees. Hy het my geleer van kommunikasie, media en strategie. Hy het my geleer hoe mense dink. En al was ek op die ou end minder as drie jaar by Afrikom, staan Joh uit as die persoon wat die grootste invloed op my professionele lewe gehad het.
Ek onthou die eerste keer toe ek en hy saam ’n kliënt gaan sien het. Ons het gery na Rooiwal-kragstasie noord van Pretoria. Ons moes ’n reeks feiteblaaie vir Pretoria Elektrisiteit saamstel, en een van hulle sou oor Rooiwal handel. Die kragstasie was toe reeds oor die helfte van sy beraamde leeftyd – nie juis ’n blink, nuwe projek waaroor ’n mens kan ra-ra nie. Maar Joh het die ingenieur wat in beheer was, laat praat en die nodige vrae gevra tot hy ’n diamant tussen die gruisklippies gekry het: Rooiwal was die kragstasie met een van die laagste koolstofemissies in die land. Dit was ook nie net te danke aan die kragstasie se oorspronklike ontwerp nie, maar aan een of ander innovasie deur Pretoria Elektrisiteit se eie ingenieurs. Voila! Daar was die nuushoek.
Joh het altyd gesê voor jy ’n klip in die bos gooi, moet jy weet watter kant die voël gaan uitvlieg. Hy was ’n meester-antisipeerder en daarom ’n uitstekende strateeg. Kliënte het voor perskonferensies ’n lys potensiële strikvrae met antwoorde gekry (wat ten minste een beterweterige kliënt tot sy eie verleentheid geïgnoreer het). Joh het met ander oë na die wêreld gekyk en dikwels interessante invalshoeke op alledaagse onderwerpe soos sportkwotas gehad.
Ek het soveel lesse by hom geleer: Dat dit nie net gaan oor wát jy kommunikeer nie, maar oor wanneer jy dit doen, wie dit sê en watter medium jy kies. Hy het my geleer om vanuit die ontvanger se oogpunt na kommunikasie te kyk. Hy het my leer skryf. Hy het my geleer wat ’n goeie persfoto van ’n middelmatige een onderskei, en hoe jy ’n fotogeleentheid opstel. Hy het my vertel hoe nuuskantore werk voor ek self met hulle kennis gemaak het, en so kan ek aangaan. Hy het graag sy kennis gedeel, en was onder meer instrumenteel in die totstandkoming van ’n skakelwesekursus by Pretoria Technikon.

Een van die gevallestudies wat van Joh se briljantheid getuig, is president Mandela se 80ste verjaardagviering in die Kruger-wildtuin in 1998. Ons kliënt, Pioneer Voedselgroep, was verantwoordelik vir die verjaardagkoek – ’n reuse-affêre in die vorm van ’n Madiba-hemp. Die Nelson Mandela Kinderfonds het minderbevoorregte kinders van oor die hele land aangery vir die partytjie op Skukuza se rugbyveld. En dit was waar Joh die geleentheid gesien het om vir nuusredakteurs dwarsoor die land ’n plaaslike hoek op ’n internasionale storie te gee. Ek en die fotograaf wat ons gekontrakteer het, het voor die partytjie twee of drie kinders uit al die groot sentra gekry en by die koek afgeneem. Ek kon dus saam met die algemene foto’s waar president Mandela die koek sny, vir elke nuusredakteur ’n eksklusiewe foto van ’n kind uit sy streek by die koek aanbied. Ons het omtrent elke voorblad in die land getref, en só het ons kliënt baie meer publisiteit gekry as byvoorbeeld Vodacom, wat vroeër daardie week ’n miljoen rand aan die Kinderfonds geskenk het.
Joh se belangstellings het wyd én diep geloop: filatelie, botanie, bewaring, die Dorslandtrek, ou Jeeps, noem maar op. Hierdie eienskap, die feit dat hy in die media gewerk het en sy gewoonte om soggens al die Gautengse koerante deur te blaai, het hom ’n skatkis van trivia gemaak. Sy huis op ’n plot oos van Pretoria het soos ’n proffie se studeerkamer gelyk, met hopies navorsingsdokumente wat oral rondlê. Hy het seëlboeke geskryf, ’n kwekery van die plot af bedryf en bewaringsgebiede help proklameer. Party van sy belangstellings was baie … wel, niche. Só het hy byvoorbeeld navorsing gedoen oor Suid-Afrikaanse magte in Madagaskar in die Tweede Wêreldoorlog (dit kan ook ’n ander obskure plek gewees het, ek kan nie onthou nie). Hy was by baie organisasies betrokke, maar het interne politiek verafsku en dit vermy waar moontlik. Só was hy byvoorbeeld ’n medestigter van die Jeep-vriende, ’n groep eienaars van ou Jeep Gladiators en Wagoneers. Toe ek eendag (heel onskuldig) verwys na die Jeep-klub, het hy my gou reggehelp: “Dis nie ’n klub nie. Dis ’n groep vriende. Sodra jy ’n klub stig, wil almal voorsitter wees, maar niemand wil die werk doen nie.” Toe Joh van die plot af George toe getrek het, het hy sy Wagoneer aan Johann Rupert se motormuseum in Franschhoek geskenk. Dit is waarskynlik nog daar te sien.
Ek kan nog baie oor Joh sê: Hoe hy in 1976 die ongekende ding gedoen het om ’n jong Chinese vrou aan te stel wat later ’n volwaardige vennoot in sy besigheid sou word; hoeveel respek hy by kliënte en joernaliste afgedwing het; hoe passievol hy oor natuurbewaring en erfenissake was, en sy pioniersrol in skakelwese. Maar wat my die dankbaarste maak, is sy bereidheid 23 jaar gelede om ’n jong, voortvarende mannetjie onder sy vlerk te neem en hom te leer hoe media en kommunikasie werk.


Vanoggend kry ek myself vir ’n verandering vroeg genoeg uit die bed gesleep om te gaan draf. Halfses is dit nog pikdonker in Yzerfontein. Net die vroegste pendelaars se liggies brand hier en daar. Die strate is nog mistig, met ’n ligte bries van die suide af wat help om lug in my onfikse longe te kry.