Die Amerikaners het ‘n tradisie om ‘n Kersfeesbrief te skryf, wat hulle by ‘n kerskaartjie insluit, waarin hulle ‘n oorsig van die afgelope jaar gee, sodat familie en vriende weet wat die hoogtepunte was. Hier is my Kersfeesbrief:
2025 was ‘n eienaardige jaar. Vroeg in Januarie was daar sneeu in die “warm” winter van South Carolina.
Begin Maart is ek terug Suid-Afrika toe om met die tweeling, Joshua en Gabby se nuwe sibbetjies, te gaan help. Hulle is op 31 Maart gebore. My kosbare skoondogter het na die babatjies omgesien en ek het huisgehou. (Ook maar goed dat ‘n mens gewoonlik betreklik jonk is wanneer jy ‘n huisvrou moet wees.) Voor ek SA toe is, het ‘n Amerikaanse vriendin vir my hierdie e-kaartjie gestuur:
Na ses maande van chaos en kleinkinderliefde het ek teruggekeer na die rustige heenkome van my dogter en skoonseun se huis in die VSA. Die verlange na Gabby, Joshua en die tweeling Lana en Luca was ‘n benoudheid in my hart, maar – soos altyd! – is daar vir my troos gestuur, naamlik ‘n prenteboekmooie baba.
Klein Theodore is op 15 Julie gebore en in September het my dogter hom bedags begin oppas, want sy mamma moes terug kantoor toe. ‘n Babalyfie om vas te hou! Malherbe skryf: “Sag op haar bloue oë daal die vaak …” Wel, die vaak gryp vir klein Theo en maak dat sy ogies omdop net voordat hy aan die slaap raak – dit bly vir “Ouma” ‘n bron van vermaak. Sy geredelike glimlaggie maak selfs die grysste wintersdag vol sonskyn.
‘n Lewensles wat ek sowaar nou nog nie geleer het nie, is: “Van uitstel kom afstel”. Uitstel het veroorsaak dat ek my kosbare stoepvriend nie eers een keer gesien het terwyl ek in SA was nie – so ook ‘n vriendin wat my lewe nog altyd op besonderse maniere verryk het. Woordnoot en ek sou ook nog gekuier het … Gelukkig het ek darem heelwat wonderlike oomblikke van warmte en omgee beleef: die verwelkomings- en afskeidsdrukkie wat ek by ons dominee gekry het; die opregte meelewing van my susters in Christus; die dag toe Hester Ley Nel die bloggers opgekommandeer het om te kuier; die sonnige teedrinkoggend saam met Toortsie; afsonderlike kuiers saam met my drie vriendinne wie se name aldrie met ‘n M begin; die dag toe een van die M’e vir Laatlam se huishouding ‘n splinternuwe wasmasjien laat aflewer het; en nog vele meer.
Terug in die VSA is ek weer eens met drukkies verwelkom – en my skugter kat Smokey het oudergewoonte op my skoot geklim, gekwyl en gespin terwyl sy haar kennetjie dan links, dan regs teen my wange skuur. My kind het ‘n huisvol vriende opgekommandeer om my mylpaalverjaarsdag wat stil-stil in SA verbygegaan het, te vier – dit was ‘n volslae verrassing. Haar vriendin se leefarea was vol ballonne (o.a. van daardie goue syfers wat my skrikwekkende ouderdom uitgespel het vir almal om te sien 🙄) en daar was ‘n reusekoek wat tot op die laaste krummel opgeëet is.
Die jaar was eintlik vol hoogtepunte, maar die blye herkenning op ‘n seun in die VSA se gesig voordat hy alles waarmee hy besig was, gelos het om my te kom groet, was die heel, heel beste oomblik.
Die oggend na Halloween sukkel ek om die swart naelpolitoer van my naels af te kry, want ons gaan nou op reis: vier ure se ry om by die kus van South Carolina uit te kom, in die “Lowcountry” by Hilton Head Island, waar P&V die Sondag as verteenwoordigers van Connie Maxwell Children’s Ministries ‘n kerkdiens gaan bywoon om die kinderhuis bekend te stel en steun te werf.
North en South Carolina is vernoem na die Britse koning Charles II wat van 1660 tot 1685 regeer het en Kaptein William Hilton met sy skip die Adventure gestuur het om die eiland se omgewing te gaan verken. Daar word bespiegel dat die eiland reeds tienduisend jaar gelede deur mense bewoon was. Die Spanjaarde het in 1526 hier ‘n nedersetting gevestig, maar dit het net ‘n kort rukkie bestaan en daar is nie veel daaroor bekend nie. Op Hilton Head Island was daar voor die Civil War ‘n “plantation” wat katoen, indigo en rys verbou het.
Ons ry deur myle en myle se hoë bome, deur klein dorpies waar die ontvolking van die platteland maar al te sigbaar is. Uiteindelik bereik ons die kus, waar die gebruiklike Amerikaanse welvaart weer duidelik blyk. P en Middelkind betrek ‘n reusagtige sportwinkel, waar laasgenoemde ‘n stel gholfstokke uitsoek waarmee hy die middag gaan speel en wat hy gaan saamvat huis toe, na Ierland toe.
Ons gaan eet almal saam in die klubhuis van die gholfbaan en dan maak die manne spore na die putjies toe. Ons akkommodasie is eers later die middag beskikbaar en ek en V besluit om in die klubhuis se restaurant te bly sit, sy met haar storieboek en ek met my rekenaar, wat ek op die nippertjie saamgevat het en waaroor ek nou innig dankbaar is. So kom dit dat ons in die middel van die prysuitdeling van ‘n gholftoernooi beland, met tientalle jolige Amerikaners om ons, besig om hulle kospakke te verorber en bier te drink. Niemand steur hulle aan ons nie, elkeen doen sy eie ding en almal is gelukkig. Die volume raak hoe later hoe harder en die pryswenners word luidkeels toegejuig. Geleidelik verkas die manne huis toe en uiteindelik is dit weer net ons twee en rustige stilte, behalwe vir die enkele werkers wat hulle alledaagse gang gaan. Teen vyfuur kom ons gholfspelers aangestap, moeg en tevrede na ‘n heerlike middag, en ons ry na ons verblyf vir die nag.
Skemertyd gaan verken ons die eintlike eiland, wat via ‘n breë motorweg bereik word (die eerste brug na die eiland is in 1956 gebou; voor dit kon die eiland net per veerboot bereik word). Die oostelike aandlug is pêrel en pienk; die stil, uitgestrekte see dein ver onder ons. Later ry ons na ‘n restaurant wat volgens V se navorsing die moeite werd is. Dit is binne ‘n eksklusiewe woonkompleks geleë en ons moet $9 betaal om daar in te ry. Die restaurant bestaan uit twee dele: die een binnemuurs; die ander een onderdak, maar sonder mure, net deur ‘n sloot met welige strandplantegroei van die strand geskei.
Omdat die aand koel is, gaan sit ons binne – daar is lapservette op die tafels; ‘n rustige, gemoedelike atmosfeer; en die gaste is duidelik welvarend. Ons kelnerin se naamplaatjie sê sy kom van Jamaika af en omdat ‘n orkaan ‘n paar dae vantevore dele van daardie eiland verwoes het, vra P met sy gebruiklike medemenslikheid of haar mense veilig is – sy weet nie, het nog nie van hulle gehoor nie. Toe P die tafelgebed doen, hou ons ook haar hande vas en P bid vir haar mense. Na ‘n heerlike maaltyd klim ons met ‘n houttrap oor die sloot en die plante en V, wat eintlik die siel van ‘n meermin het, dartel in die donker oor die sand tot by die see se skuimrandgolfies.
Sondagoggend gaan laai Middelkind vir P&V by die kerk af waar hulle gaan skakelwerk doen en na ontbyt ry hy en ek weer na die eiland toe. Die seefront is pragtig ontwikkel, met silwerskoon paaie en sypaadjies en gerieflike sitplekke orals. Met sy gebruiklike waarnemingsvermoë merk Middelkind op dat daar waarskynlik ‘n “klein army” is wat die omgewing so skoon hou. Ons gaan stap ‘n entjie op die strand – fyn, styfgepakte wit sand, sterk wind en ‘n pêrelagtige lig. Dan gaan sit ons net langs die strandgebied op ‘n groot houtswaaibank vanwaar ‘n mens die voetverkeer kan dophou: lawwe tieners, gesinne, enkelinge, mense met honde …
Daar is voorbereidings vir ‘n regatta: die seilbote maak ‘n ry aan die waterkant en ondersteuners skrop nes op seilstoele, met proviand vir die dag byderhand. Die Stars ‘n Stripes wapper in die wind en die volgende oomblik speel die VSA se volkslied, The Star-Spangled Banner. Ek sal nooit weet of dit ‘n opname was, of ‘n werklike sopraan wat iewers op die strand staan en sing het nie, maar dit is ‘n pragtige, aangrypende lied, en ek staan tot aan die einde – tot Middelkind se stille verleentheid.
Toe ry ons op Middelkind se voorstel na die Harbour Town Lighthouse en my kind bevestig maar net weer dat hy die meester van wonderlike uitstappies is. In die loop van die oggend het ek hom vertel van Pat Conroy se lieflike boek Beach Music, waarin die skrywer ‘n vrou se vurige rentmeesterskap van die loggerhead turtles beskryf – die ou groot reuse wat langs hierdie kuslyn hulle eiers op die strand kom lê. Dan moet die babatjies ‘n gevaarlike stuk sand navigeer voordat hulle see-in kan swem. Jouwaarlikwaar – in die winkeltjie op die grondvloer van die vuurtoring is daar ‘n ry van Pat Conroy se boeke en ek kom agter dat hy as jong onderwyser op die naburige Daifuskie-eiland skoolgehou het. Ons is by die strand wat hy so meesterlik beskryf in Beach Music! Ons klim die steil trap, al in die rondte, al in die rondte, en verkyk ons aan die pragtige uitstallings.
In die klein hawetjie lê luukse seiljagte en van die oop balkon op die tiende vlak van die vuurtoring sien ‘n mens die Harbour Town Golf Links uitgestrek lê – op die agtiende putjie gebruik spelers glo die vuurtoring as ‘n riglyn om daardie ontwykende hole-in-one te probeer regkry. Toe Charles Fraser in die middel van die twintigste eeu met sy besondere visie die hawegebied ontwikkel het, het hy enkele groot immergroen eikebome (“live oaks”) teen groot koste behoue laat bly. Ons stap terug na die kar toe en bewonder die ou bome, skilderagtig met Spaanse mos behang. Dis tyd om die ander twee te gaan oplaai en die terugtog na die binneland aan te pak.
Die groot sedanmotor gly by die oprit in, hou stil en die gesinnetjie klim uit:
Katherine, met haar mooi groen oë, lang ligtebruin hare en sjarmante “Southern drawl”; Noah, die voorskoolse “hellion” (sy ma se woord, nie myne nie) met sy krulkop en intense donkerbruin ogies; Casey, die groot, sterk pappa wie se swart hare nie vandag deur die gebruiklike “ball cap” verberg word nie; en –
klein Theo, die prenteboekbaba met sy geredelike glimlaggie (vier maande oud; weeksdae kom kuier die outjie by my terwyl sy mamma moet werk). Ek verkyk my aan sy feesdaguitrusting: ‘n donkerbruin ferweelpakkie (wat die Amerikaners ‘n “onesie” noem) met ‘n puntkragie en – die hoogtepunt! – ‘n breë wit koordband wat strek van armpie tot armpie, met drie. veelkleurige. kalkoene. wat oor sy borskassie dans.
Dis hulle laaste stop voordat hulle huis toe gaan, nadat hulle heeldag die rondte van Vader Cloete gedoen het by ma en pa se families. My kinders is op ‘n welverdiende plesiervaart in die Bahamas, dus het Katherine besluit om haar oor my te ontferm. Ek kry ‘n yslike bord kos (ham, brusselse spruitjies, wortels, twee soorte “biscuits” wat eintlik ‘n soort skonbedryf is, pampoen met ‘n malvalekkerbolaag en die alomteenwoordige “mac ‘n cheese”) plus nagereg (speserykoek met karamelversiering en ‘n “choc chip cookie” wat drie keer groter is as wat enige soetkoekie behoort te wees).
Die kos was heerlik, maar die grootste lekkerte was die geselskap.
Soms werk alles net saam: tyd, plek en omstandighede, sodat ‘n mens vreugdevolle dae gegun word, sowel innig as uitspattig.
Middelkind kom uit Ierland om ‘n vergadering in Boston by te woon en daarna kom kuier hy by sy sussie en haar man in Greenwood. Min het ek kon dink, toe ek destyds van die passasiersitplek agtertoe geklim het om op ‘n lang reis ‘n fisiese buffer tussen twee bakleiende kinders te vorm, dat die twee eendag sulke goeie vriende sou wees.
Omdat haar boetie op Halloween arriveer, beplan V dat ons as die Addams family gaan opdres om saam met die seuntjies van die cottage te stap op ‘n Trick or Treat-ekspedisie: sy en Paul gaan Morticia en Gomez wees, ek kry die gesogte rol van Wednesday en haar boetie sal Pugsley vertolk. Sy bestel rêrige kostuums op Amazon, en ek vraatkyk altwee seisoene van die TV-reeks waarin Wednesday die hoofkarakter is om vir my rol voor te berei. Honey die hond kry ‘n opgeblaasde wit latexhandskoen aan haar halsband – sy stap saam as Thing (die afgekapte hand wat Wednesday oral vergesel deur op sy vyf vingers rond te krabbel – ja, ek weet, grillerig verby).
Ons gaan stap in ‘n nuwe buurt waar ‘n ontwikkelaar dubbelverdiepinghuisies gebou het wat soos pophuise lyk. Daar is nog nie bome nie, maar die herfskleure van die omringende woud se hoë bome gloei in die skemerlig. By amper elke huis brand daar lig, die teken dat die inwoners aan Trick or Treat deelneem. In party tuine is daar geraamtes en spinnekoppe. Die heel beste is die geanimeerde “Grim Reaper”, 6 voet hoog, met rooi ligte en ‘n skrikwekkende stem.
Ons geselskap bestaan uit die Addams familie, ‘n bofbalspeler, die bofbalspeler se ma, in ‘n swart blinkertjiestrui en ‘n pers romp met swart spinnerakpatrone, twee footballspelers, ‘n opblaashaai, twee karakters uit videospeletjies en die ander huisouerpaar in hulle rêrige skeidsregterklere, met fluitjies-om die nek. Soos wat ons verder stap, raak die seuntjies se sakke lekkergoed al hoe voller. Die atmosfeer is gemoedelik, die mense vriendelik, en die oudste Wednesday van alle tye geniet haar gate uit!
Joshua speel obsessief Minecraft op die foon wat hy vir homself met sy verjaarsdaggeld gekoop het. Ouma dink nie dis goed vir die outjie nie …
Toe raak hy saans bang en kom kruip dan aan die anderkant van die dubbelbed by ouma in.
Die kind het vanjaar te veel moeilike goed moes verwerk: Eensklaps is hy die middelkind in plaas van die jongste; sy mamma, aan wie sy hele hart verknog is, het haar hande vol met die twee nuwe babas (ofskoon sy steeds tydjies afknyp vir Josh); sy oupa Jimmy is oorlede; sy beste maat is na ‘n ander skool geskuif; en nou is sy ouma ook nog terug na haar veraf huis toe. Sy mamma stuur vir haar ‘n foto: Joshua, opgekrul aan sy kant van die dubbelbed met ‘n blou kombersie in sy arms opgebondel, met die byskrif: “Hy klou die kombersie wat ouma vir hom gegee het.”
Vanoggend is daar ‘n WhatsApp-boodskap van Joshua met ‘n foto van sy swart-en-wit kat: “Ek dink albert mis vir jou baie”.
Ouma sit met ‘n ou joernaal, “A Grandparent’s Journal”. Dit was haar mammie s’n, maar dié was te besig met briewe skryf om nog dagboek ook te hou. Gevolglik het sy maar net haar kleinkind, Joshua se tannie V, hier en daar toegelaat om op die skoon bladsye met die mooi prentjies en aanhalings te teken, eintlik meer krabbel, want V was toe nog baie klein.
Joshua wys na so ‘n tekening: “Wat is dit dié, ouma?”
Ouma: “Dis waar jou tannie V geteken het toe sy ‘n kleutertjie was.”
Joshua, vol bewondering en hoog in sy skik, want hulle het nou-die-dag oor dinosourusse en fossiele geleer: “Dis ‘n fossiel!”
‘n Paar dae voor hy oorlede is, het my pa my op die lughawe kom afsien. Dit troos my nog steeds, 50 jaar later (!), dat ek hom kon groet, al het nie een van ons toe geweet dit was vir die laaste maal nie.
Nou beweeg ek deur die vroeë lentedae en groet die een na die ander mens/belewenis, terwyl ek besef dat elke groet vir die laaste maal is.
Ons braai en drink wyn in die sagte aandlug; ry na middernag deur Pretoria se strate huis toe.
Ons braai en die kinders drink bier in die warm middagson.
Eet vis saam met my katvriendinne.
Ontmoet die liefde van my dogter se vriendin (sy het ook mý vriendin geword), sodat ek vir my kind kan gaan vertel “hoe awesome D is”.
Vier ‘n vriendskap van 62 jaar (!) terwyl klein, goue jakarandablaartjies oor ons neersif.
Verlustig my in vanoggend se orrelspel, kuier na die diens met kosbare vrouens en stap later deur die leë kerk waar die pragtige loodglasvensters kleure strooi.
Gister moes Gabby direk na skool aan ‘n koorfees gaan deelneem; ouma moet asseblief haar tas by die hek gaan kry.
Op sy versoek, los ouma vir Joshua in die kar, waarsku hom dat sy waarskynlik lank gaan vat, en gaan wag by die hek. Soos altyd, speel die een na die ander tafereeltjie af: jillende seuntjies, ‘n bekommerde dogtertjie wie se mense haar nie betyds kom haal het nie, ‘n ouma wat in aller yl en heeltemal onverwags haar kleinseun na ‘n oefening moes kom haal, ‘n pappa wat ewe geduldig staan en staan en wag en wag, ‘n uitgeputte juffrou wat langsaam in haar karretjie klim …
Ouma kry hond se gedagte – hulle het vanoggend nie mooi duidelik afgespreek nie – is sy dalk by die verkeerde hek? Sy gaan loer gou by die ander twee hek-opsies, sien ‘n groepie koorkinders besig met presensie en kyk versigtig na elke dogter, maar kan Gabby nie raaksien nie. (Ouma hoor later dat Gabby wel in daardie bondel was!)
Ouma gaan sit op ‘n welkome bankie en begin oor Joshua bekommer, dis nou al ‘n halfuur wat hy alleen in die kar wag! Gelukkig kom die outjie daar aan, hy het mooi veilig by die zebrastreep oor die besige pad gestap. “Wat vat ouma so lank?” “Josh, ek is so bly jy het hier aangekom!! Ek kry nie vir Gabby nie, sal jy haar asseblief gaan soek?” Joshua spring weg soos ‘n skaaphond wat ‘n opdrag gekry het.
‘n Kort rukkie later sleep hy Gabby se onmoontlike swaar tas na ouma toe, met die selfvoldane gesigsuitdrukking wat ‘n mens net sien wanneer hy nou regtig in sy skik is. Ouma is sielsverlig, juig en jubel en prys Joshua van ‘n kant af as die held van die dag. Die twee gaan laai die tas in die kar (nadat hulle eers drie kleiner boekesakke uitgehaal het om dit ligter te maak sodat hulle dit kan optel) en ry huis toe.
Tuis gekom, gaan vertel Joshua vir sy mamma en die tweelingbabas die hele sage. Hy gooi sy maer armpies in ‘n wanhoopsgebaar in die lug en eindig met die slotsom: “And that was an hour of my life – wasted!”
Anything and Everything plus some Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski