Never danced like this before
April 2015… Eerstens is die jaar goed op dreef en tweedens ek is nou amptelik oud. Hoe gaan dit met die voornemens wat ek laas gemaak het?
Ek wag al van einde laasjaar vir ECSA om my aansoek om professionele akkreditasie te verwerk, maar my studies verloop goed. Ek het met ‘n MBA by Vrystaat Universiteit begin en ek geniet dit. Mens kort bietjie deursettingsvermoë met die take maar gelukkig is daar net een keer per maand klas. Wat my verbaas is hoe die studies op jou persoonlike lewe van toepassing gemaak kan word.
Vriende en familie is ‘n area waar ek nog nie ‘n wenresep het nie. Eers het ek gedink om ‘n bok te gaan skiet vir my 30ste en ‘n groot partytjie te los, maar dis nie baie ubuntu nie. Nou beplan ek bietjie 80’s musiek, braai en potjie. Tussen al die ander prioriteite is daar nou maar net beperkte geleenthede en mens moet dit aangryp. Ry motorfiets, drink rooiwyn en kuier as die geleentheid hom voordoen.
Ek het toe die fotoklub gelos en ‘n groentetuin begin. Die tamaties wat wild in die tuin opgekom het is tien keer beter as die in die groentetuin, maar ten minste het ek tamaties. Op hierdie stadium probeer ek net verskillende groente kweek om te sien wat werk. Ek is mal oor “rocket”, maar die Vrystaatklimaat is glo nie geskik daarvoor nie. Ek gaan steeds probeer!
My sosiale sport is nog steeds hokkie, maar ek het die afgelope tyd nie veel sport beoeffen nie, net sosiaal. ‘n Tweede sosiale sport is gym. Ek is nie ‘n groot liefhebber van gym nie, maar saam met Miejon is dit meer aanvaarbaar. Plus, op my gevorderde ouderdom moet mens spierverlies beveg.
Ons het Februarie in die Kaap vakansie gehou en op ‘n hoogtepunt afgesluit – Miejon was swanger. Maar die embrio het nie ontwikkel nie en die hartseer was net soveel as die aanvanklike vreugde. Dis seker deel van die lewe: lief en leed. Mens moet aanhou en die lief nastreef.
Filed under: Uncategorized | Leave a Comment
a night you won’t remember
ʼn Oogknip en dis ses maande later. Die gevoel om die wêreld met my blog te verander is oor en verby, die ou vriende is oor en verby, so dan is dit nog net ʼn kiekie van die hede.
Miskien is ek pessimisties, miskien was dit die winter, maar daar is ʼn paar negatiewe temas in my lewe:
• My Admaths klas het doodgeloop
• Ons vriende is skaars (babas lyk na werk)
• Ek sukkel in fotokompetisies
• Ek is 10cm te kort vir my BMI
Gelukkig het ek ʼn plan vir elk van die bogenoemde probleme:
• Skroef die kinders, studeer self verder
• Maak beter vriende met familie – bloed is dikker as water
• Los foto’s en probeer ʼn ander stokperdjie – tuinmaak!
• Beoefen meer sosiale sport (help met vriende ook)
Ter nagedagtenis moet ek noem dat die oorsese vakansie heel aangenaam was. Ek kan al die gewone goed van Europa noem: mooi plekke, ou plekke, betowerende kuns, wonderlike fotogeleenthede, interessante kulture, sterk geldeenhede en des meer. Wat egter die lekkerste is, is om nou ʼn film te kyk en te kan sê: “ek was mos al daar.”
Filed under: Uncategorized | 1 Comment
liefde dra gewig
Daar is ʼn wending in die rede vir my skrywe. Voorheen was die blog se doel tweeledig. Deels was dit informasie vir ou vriende en deels het dit my lewe vasgevang. Ek voel vanjaar egter ʼn groter begeerte om ʼn verskil in die wêreld te maak deur my blog. Nou ja, dit sal net werk as mense dit lees, maar om te skryf is ʼn voorvereiste vir lees.
Terwyl ons van ʼn verskil maak praat: ek het vanjaar ʼn geleentheid gekry en aangegryp om Admaths by ʼn hoërskool hier in Welkom aan te bied. Dit sal wonderlik wees as mens ʼn liefde vir Wiskunde by kinders kan kweek. Veral in vandag se Suid-Afrika glo ek ons kort mense wat Wiskunde kan doen.
Die vriende en familie werk die afgelope paar jaar hard aan die nuwe generasie. Maryke en Charmaine se tweedes is oppad terwyl Adri en Esté onlangs ma’s geword het. Ek dink om ʼn kind te hê spreek van hoop vir die toekoms. Hopelik is Nikola en Mari nie meer vir lank ons enigste kinders nie.
Terwyl dit nog net ek en Miejon is, het ons besluit om bietjie te gaan toer in Europa. Ek sien nogal uit om dit te beleef en wonder hoe my persepsies sal verander. Daar is seker ander goed waarop mens spaargeldjies kan spandeer, soos ʼn bakkie. Maar my siening is dat ek betaal om iewers te kom of iets te doen. Ek hoef nie in die nuutste en beste voertuig volgens die wêreld te wees nie. Elkgeval is die BMW 800 my 4×4, my sportkar en my stadsmotor.
Laasjaar het ek op die liggaamlike gefokus. Deur die jaar het ek stadig maar seker voorberei vir die Ironman 70.3. Ek is bly ek het dit gedoen (7 uur is lank!). Dit was ʼn doelwit wat getuig van dissipline, deursettingsvermoë en genade. Maar nou wil ek net gesond lewe en dit kan mens met bietjie oefen en minder eet regkry. Vanjaar is dit tyd om te fokus op dit wat meer waarde as liggaamlike oefening het.
Filed under: Uncategorized | Leave a Comment
Smoking causes cancer
Dit is nou al ses maande vandat ek laas iets getik het – tyd vlieg. Die hoof rede dat ek nie iets opgelaai het nie, is dat ek tot dusver nie werklik vakansie gehou het nie. Ek het wel die paar dae tussen Kersfees en Nuwejaar by die huis gesit, maar dit tel nie vir vakansie nie.
Eintlik is die bogenoemde ‘n swak verskoning, want alhoewel ek ‘n nuwe werksbeskrywing het, het ek genoeg vryetyd om selfs gedurende werkstyd boodskappe te tik. Ek werk nou in die Elektriese Departement en is nie meer op ‘n skag nie. Op ‘n sekere vlak kan mens dit at ‘n horisontale skuif beskou, maar op meeste vlakke is dit ‘n beter werk. Ek fokus op elektrisiteit, werk saam met ‘n span ervare ouens, het nie meer unievergaderings nie en behalwe dat ek amper geen callouts kry nie, werk ek ook nie naweke nie. As gevolg van die skuif het ek ook vir die eerste keer ooit ‘n bonus gekry! Liefie is ook geseën wat die werk betref. Sy het die werk by die gym laat gaan en werk nou saam met ‘n vrou wat personeelplasings doen.
Met naweke vry het ons heelwat meer ondekkersgees aan die dag gelê. November laasjaar het ons ‘n tog Sanipas toe aangepak. Gelukkig het ons nie veel teënspoed opgetel nie. Ek het wel die KLR se regter fairing gebreek, maar ons kon die 1000km huis toe nog klaarmaak. Nou in Februarie was ons weer Katse dam toe – van ‘n ekonomie sien ek nie veel in Lesotho nie, maar water en natuurskoon het hulle genoeg van. Behalwe vir naweke ontspan, het ek ‘n paar stokperdjies ook aangepak. Morné het my aan ‘n pawn-site bekendgestel, so nou speel ek amper elke dag skaak. Verder het ek by ‘n fotoklub aangesluit en neem ek wild foto’s met my 60d.
As jou lewe gebalanseerd genoeg is, het jy seker nie vakansie nodig nie, maar Johann van Zyl het gesê ek moet sy troufoto’s neem en ‘n bietjie wegbreek is goed vir die siel. So, na twee dae in Bloem saam met Diaan, Graaf Reinet en twee aande in Knysna op ‘n huisboot, was ons by die Parental Units in die Kaap. Nou het ons weer die terugtog aangepak, maar met ‘n draai. Ons sit nou in Hondeklipbaai en dan lê Augrabies en Gariep nog voor.
Filed under: Uncategorized | Leave a Comment
I’ve been blind
Kanjane… of kunjane! Een is Fanakalo en die ander een is Zulu. Ek sit aan die Suidkus (van Natal!), so ek probeer eintlik Zulu praat.
My vorige baas was ten gunste van kort vakansies deur die jaar en eintlik bied dit mens baie vryheid om by familie en vriende uit te kom. Miejon se pa werk vir ‘n maand in Durban en hy bly in Umhlanga. Saam met dit het my mentor se trougeskenk ‘n klousule van ‘n week by hul strandhuis in Margate ingesluit: twee vlieë met een klap. Eintlik drie, want hierheen en terug slaap ons by die Hanekoms in Winterton oor.
Ek dink dat met hierdie vakansie ek die wenresep vir vakansies gekry het. Oor die algemeen is daar maar min wat my opgewonde maak. So, rondlê, rondloop, rondry en rondkyk kan gou vervelig raak. Doen dit egter met ‘n motorfiets en alles is soveel meer opwindend. Ek moet Colin bedank dat hy aangebied het dat ek sy sleepwa kan leen. Dankie ook aan Newton wat my om die eerste draai in Riebeeckstad gewys het dat die fiets nie styf genoeg vas was nie.
1400 km se sleep aan ‘n motorfiets is moeite, maar ons rits nou al drie dae hier aan die kus rond en dit is die moeite werd. Dinsdag het ons so ‘n entjie verby die Wild Coast Sun gery, krokodille gekyk, by die Pistol Saloon gestop en ‘n wafel in Ramsgate geëet. Gister het ons wild besigtig en mesages gekry, maar die hoogtepunt was net om deur Oribi George te ry. Vandag is dit weer Suid na ‘n koffieplaas en ‘n piesangplaas.
Met vakansie verwag mens dat daar heelwat interessante dinge in ‘n kort tydjie gebeur, maar ek is verbaas hoe vinnig dinge by die huis verander het. Eerstens het ons ‘n hond gekry en ek het nie eintlik gedink ek is ‘n diereliefhebber nie. Maar Nikola Tesla kruip in mens se hart en mens se bed in. Tweedens het Miejon ‘n werk gekry: sy is nou ‘n Fitness Instructor by Virgin Active. Die enigste ande werk wat mens sou dink cooler kon wees vir jou vrou, is om ‘n model te wees, maar modelle oor die algemeen is volgens my nie die vriendelikste mense nie. So, Miejon het die coolste werk! Laastens, by die huis, het ek nou ‘n huis. Alles in die huis is miskien nie ons smaak nie, maar oor die algemeen is dit die beste huis in die wêreld: 4 slaapkamer, dubbel garage met elektriese deure, lapa, verhitte swembad, solar geyser, aircons, wat meer wil mens hê? Maar moenie luister na wat ek sê nie, kom kyk self en kuier bietjie saam.
Filed under: Uncategorized | Leave a Comment
Throw on some leather
Raai wie is terug? Wel nou is ek al terug by die werk, ek was terug in die Kaap vir vakansie en hier is ek terug op die blog – soos belowe.
Die vakansie was lekker. Dit was goed, soos die eerste helfte van die pizza om jou te voed, maar ook lekker soos die tweede helfte van die pizza wat jou vet maak. Ek het die vakansie heel aktief afgeskop met die Two Oceans half marathon en Andri se troue. Daarna het leeglê van die eerste graad egter hoogty gevier. By die Sederberge was daar nie eers sein nie, so ek het myself oor ‘n mik geslaap. En by Paternoster was die weer so aangenaam, ons kon nie anders as om heeltyd uit te eet of te braai nie.
Soos genoeg slaap, water drink, gesond eet en oefeninge, sien ek lees as ‘n uiters goeie gewoonte. Ek lees, behalwe vir e-posse en Bybel, egter nie veel nie. Maar vir my verjaar dag het Miejon vir my The Art of War as geskenk gegee. Mens kan seker die boek in ‘n paar uur deurlees en dit is verseker nie ‘n storieboek nie, maar ek het dit geniet om die boek te lees. Aan die een kant laat dit oorlog eintlik eenvoudig klink, maar aan die ander kant kan mens filosofies raak oor hoe om die teorieë in die lewe toe te pas. Lees is goed.
Die vakansie het op ‘n laagtepunt geëindig. Behalwe dat hulle weer ingebreek het, fool me thrice, is twee vriende oorlede. Niel Rossouw (Daniël) was saam met my op laerskool, hy het saam met my studeer en ‘n paar weke gelede was hy in ‘n paragliding ongeluk betrokke. Na die ongeluk was hy in ‘n koma en ‘n dag voor sy 27ste verjaardag is hy oorlede. Marius de Leeuw is laasjaar met kanker gediagnoseer. Na chemo en baie stry is hy die dag na Daniël oorlede op ouderdom 44. Beide was volgens my kinders van die Here, goeie, aangename persone en ek treur oor die kans wat ek verloor het om meer van hulle te leer. Maar terselfdertyd wonder ek hoekom? Hoekom hulle en nie ek nie? Wat het ek gedoen of nie gedoen nie? Marius skryf in sy Bybel einde laasjaar:” hoeveel tyd is oor en wat gaan ek daarmee maak?” Ek dink hoe mens daarna moet kyk, is om te sê:” ek het nóú.”
Filed under: Uncategorized | Leave a Comment
Walk on water
Julle dink dalk ek het ophou blog, maar nee, ek het net ophou verlof neem. Gelukkig sal ek DV Paasfees die Kaap haal. 7 April verjaar ek (koop solank blomme), draf ek Two Oceans en Andri trou. 27 is seker nie meer so jeugdig nie, maar ek troos my aan die feit dat iets soos sewe vriende in 2012 trou.
Nog ‘n manier om jeugdig te bly, mmm, is om motorfiets te ry. Ek en Miejon het nou beide ysterperde. Sy noem haar geel 100 cc poegie, Beast. Ek het rustig met ‘n 125 cc swart Yamaha scrambler begin. Dalk nie so rustig nie, maar die lesse was nie te duur nie. Nadat ek my lisensie gekry het, is ek nou op ‘n 650 Kawasaki KLR en het ek al 3000 km agter die rug. Ek en liefie het al ‘n paar dorpies in die omtrek raakgery, maar ons werk nog aan die biker-boude. Ons bluetooth headsets maak die ritte ook meer sosiaal (wanneer sy nie op my skree nie).
Hoe om vinnig oud te word: laat hulle net by jou inbreek, twee keer, by dieselfde venster. Die eerste keer was ek so dankbaar dat ek maandeliks vir ‘n gewapende reaksie-eenheid betaal. Die tweede keer het die reaksie-eenheid na die verkeerde straat gegaan. Elkgeval is daar nie veel wat verhoed dat hulle ‘n derde keer inbreek nie, huur huis! Die hek, tazer, mes en hokkiestok is meer vir die gemoedsrus, maar koshuis het my leer slaap deur enigiets. Die enigste silwer randjie is dat my laptop se battery elkgeval voos was en nou het ek weer ‘n pc waarop al my fotos pas.
Behalwe dat Andri en Yvette trou, is hulle nou in Winterton. So, ons is hul naaste vriende! Vrystaters sien 400 km as naby. Hulle het Nuwejaar in Welkom kom kuier en ons was Februarie by hulle. Ten spyte van hondsdolheid was die naweek al te lekker. Die natuurskoon in die Drakensberge en veral by Golden Gate is hierdie tyd van die jaar asemrowend.
Soos voorheen en soos Andri, skuif ek dalk ook weer agter werk aan. Ek het aansoek gedoen vir ‘n werk in Randfontein, effe meer tegnies en in my lyn. Dít net toe ons die perfekte huis gekry het om te koop. Ek het twee weke terug baie na wiskunde en tegniese vaardighede verlang. Maar ek is nou weer oor dit. Ek sal selfs my huidige werk vir nog 10jaar kan doen, met ‘n bietjie drank.
Oom Charlie van die hokkie hou elke jaar vir drie maande op om te drink. Hy, twee bottels rooiwyn en Southern Gipsy Queens het my geïnspireer om op te hou drink en op te hou tv kyk. Eintlik het dit al voor daardie Saterdagaand begin. Ek het net besef dat drink en tv kyk ‘n mors van tyd is. Eintlik is dit kommin, almal doen dit, hobo’s en kinders (tv). As iets of iemand se geselskap nie interessant is sonder drank nie, hoekom dan enigsins aandag gee? Watter atleet verbeter sy liggaam met alkohol of wie is al ooit vereer vir hoe hy tv kyk? Praat eerder met jou vrou, werk, lees Bybel of oefen. Doen enigiets anders, selfs slaap. Nou ja, ek is nog nie gespeen nie. Met Big Bang Theory en af-naweke verloor ek effens my addiction to life, maar origens voel ek tien keer beter. Wat keer jou om jouself te herdefinieer?
Filed under: Uncategorized | Leave a Comment
Redemtion song
Die lewe is net ‘n asem. Kort voor lank is dit nie meer nie en al wat ons poog is om betekenis daaraan te heg. Soms, vir ons eie lewe, is die hoop op betekenis genoeg. Die dood van ‘n geliefde is geneig om jou gedagtes terug aarde toe te bring. My Oupa is onlangs oorlede. Op enige ouderdom, selfs na 93 jaar, is die enigste vraag – het hy Jesus geken?
Die lewe is. Om meer as dit te sê raak waaghalsig. Maar laat ek probeer: die lewe is onvoorspelbaar. Eens op ‘n tyd is jy ‘n kind in die Kaap en ‘n paar jaar later het jy ‘n huis, kinders en hond in die Vrystaat. Miejon se niggies laai almal nou af en self is ‘n huis hopelik om die draai. Dit klink dalk nie te onvoorspelbaar nie, maar niemand weet wat of waar hulle oor ‘n paar jaar gaan wees nie en in daardie opsig is die hede uiters lukraak.
Die onvoorspelbaarheid is nie altyd prentjiemooi nie. Griep kan helder oor dag jou vakansie bederf – Symphonic Rocks was steeds legit. Kanker kan jou laat wonder of jy Kersfees gaan haal en motorfiets ry kan jou lewe eensklaps beëindig. Tog hou ons aan, die wat agterbly, om te lewe.
Ek woon ‘n leierskaps ontwikkeling program van die werk by. Dit begin met ken jouself, ken ander, presteer as groep, ens. Dis baie verrykend en een ding wat ek onthou, is dat ‘n mens betekenis soek. Dit moet die rede wees waarom ons aanhou, aanhou liefhê, ly, bou en breek. Ons hou aan soek na daardie betekenis. En dit is nie ‘n kruistog waar jy instorm en betekenis by die kraag gryp nie, maar eerder ‘n dans tussen voorneme, gebeure en die mense om ons. ‘n Dans wat hopelik mense sal noop om ja te antwoord op die vraag van die lewe.
Opgedra aan F.W. van Zyl (1918-01-19 tot 2011-06-26)
Filed under: Uncategorized | 1 Comment
We might not get tomorrow
Die lewe van ‘n myn-ingenieur… interessant. Dit is asof daar elke dag ‘n nuwe konsternasie ontvou en net as jy dink dat jy dit onder beheer het, dan kom die volgende gemors. Behalwe vir toerusting wat breek, is menseverhoudings net so onvoorspelbaar: NUM het my ‘n paar dae gelede by die DMR aangegee vir “attempted murdered.”
So, yey, ek het die eksamen deurgekom en ‘n aanstelling gekry, maar hey, nou begin ek leer. Dit is nie die leerskool van somme, feite, wit en swart nie. Nee, die ondervinding wat ek nou opdoen laat Einstein se relatiwiteit soos ‘n vulletjie lyk. Die situasie noop my om anders op te tree. Ek het altyd gedink my mentor sukkel hopeloos te veel om e-posse in te haal. Nou is ek bly as ek al my e-posse lees en af en toe op die kritiekste reageer. Waar ek wel ‘n renons in mesylf kry, is wanneer ek “ja” sê en nie by die uitvoering kom nie. Môre maak ek maar weer leë beloftes. Nood leer bid, ja, maar ek moet beter bene kou.
Na ‘n lang Desember kon ek in Maart bietjie verlof neem. Ek, Miejon, ouers en Club Mykonos teen die Weskus – heerlik en rustig. Die dag wat ek by die myn terugkom, bliksem die enigste settler in mekaar en staan produksie op die skag. Dit het so ‘n maand geneem om dit half uit te sorteer en dit het my ‘n Paasnaweek-vakansie gekos. Snaaks genoeg is daar nou ook genoeg moeilikheid om nie op vakansie te wees nie, maar ek sit genadiglik in Durban saam met die skoonouers. Nou moet ons hulle net oorreed om hier af te tree sodat ons ‘n plekkie by die see kan hê.
Ek hou van dinge goed doen, maar soos by die werk, moet ek juggle en nie die glasballe laat val nie:
Die liefde is nog iewers in die lug. Ek en Miejon probeer huis koop en ons het saam ons leerling motorfietslisensies gekry. Maar die belangrikste is emosioneel saamwees wanneer ons wel tydsgewys by mekaar is. Vir iemand so prakties, dromerig en eiewys soos ek is romanse, luister en fokus moeilik. O, ja, en emosioneel?
Kerksake hop. Die selgroepe en koördineerders gaan aan, maar ek is nie altyd voorbereid en pro-aktief genoeg nie.
Familie hop en vriende rol. Ek kom nie by almal se verjaardae uit nie, maar ‘n vakansie vir elke ouerpaar tel sekerlik. Verder het die Paasnaweek tuis ons genoeg tyd gegee om by my suster-hulle en Hanri te kuier. Die koshuisvrinne kon ek by die reunie sien en van die ander pelle kry soms ‘n sms of ‘n ge-forwarde mail. Ongelukkig het ek twee troues gemis: jammer Franna, jammer David.
Social networking lê op die grond en gaan nie opgetel word nie. Die koste, tydsgewys, teenoor die opbrengs, ek voel ek behoort, is te hoog. Ek ondersteun nou Google Latitude, want as ons paaie naby aan mekaar kom sal ek dit graag laat kruis. Plus ek sien nie hoe mens voor ‘n rekenaar kan sit en bier drink nie.
Oefeninge hop nog, maar kort ‘n goeie skop. Die doodskoot vir draf was egter oorgretigheid. Ek wou ‘n maraton hardloop en toe my fiksheid begin afneem, durf ek die Naval duiwel aan. Moenie die duiwel aandurf nie – staan vas en hy sal vlug. Ek het klaar-gemaak/stap in 4h30, maar ek verbeel my ek het nou nog skete. Gelukkig het ek weer ‘n wedstryd of twee met die hokkie agter die rug.
So, dé, blog, hop!
Filed under: Uncategorized | 2 Comments









