In die dae voor hierdie spesifieke Gautenger See toe gaan, lyk my huis en haard soos die dae voor die skepping. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters…
Ek haal aan uit die nuwe vertaling, onbewoonbaar, want die ou vertaling, woes en leeg, die is net nie van toepassing nie. Hier is dit woes en vol, woes en deurmekaar, woes en gespanne, woes en wild, met ander woorde, heeltemal onbewoonbaar.
In September al, begin die hopies in en om die huis vorm, want om nóú iets weg te pak wat Saam-Gaan-See-Toe (SGST), is net ‘n mors van tyd, ‘n toutologie, ‘n dubbele werk, en julle weet mos al, nie alleen werk ‘n Gautenger nie onnodig dubbel aan ‘n ding nie, maar hierdie spesifieke Gautenger is mos ook effens lui vir werk, wat nog te sê ‘n ding onnodig twee keer doen (ek het op die lang en moeilike manier geleer: measure twice, cut once)!
Om die spanningsvlak te verstaan, moet julle die 4 Gautengers verstaan: Pa Gautenger, aka die Strewer, doen alles met geld: hy beplan, begroot en bederf al vandat ek hom ken. Niks is regtig vir hom ‘n groot bron van spanning nie (behalwe, natuurlik, om die geld in die eerste plek te verdien!).
My eersgeborene is die Ongeduldige Een. Hy ervaar alles in die oortreffende trap en ons vakansieplanne maak hom in BAIE OPGEWONDE, die eksamen is moer-moeilik, die lewe is ‘n malse fees. Hy maak gladnie hopies nie en gryp alles wat hy besit (klere, selfoon, sonbril en horlosie) die aand voor ons ry, prop dit in sy sportsak en kondig aan: so, wanneer ry ons. Hy weet dan ook gladnie hoekom ek nou al wil weet of hy wel SGST nie! Nietemin, dan is daar my jongste, die Toegewyde Een. Hy skryf matriek maar bekommer gladnie, hy het sy Pa se verstand ge-erf… Hy voeg dan ook ongesiens klein items by my hopies want hy sien my wroeging raak en beplan sy sake haarfyn. Hy sal self sy tas pak, dankie, hy sal self sy sakgeld sorteer dankie, en ja Ma, my selfoonlaaier is gepak, en my lisensie, en my bankkaart. Hy is pas 18 en neem die grootmenswêreld nog ernstig op. Hy het ‘n rustige en geduldige geaardheid en hang so net-net op die rand van my gravitasiekolk rond – hou soort van ‘n wakende oog oor sy moeder, dit is nou ek. Die Angstige Een, die gelower dat álles goed en mooi is. Ek loop my ook heeldag en verwonder aan alles en my aandag word maklik afgelei deur die klein stomp-voet Janfrederik wat kom kaas soek en die feit dat ek ‘n outomatiese motor ry en die wonder dat ek al ‘n dekade lank in Gauteng oorleef en die dvd van die seuns se waterkaskanades in 2005 en die foto van… Gits, waar was ek – o ja, darem al in Oktober.
In Oktober begin my begrotingbekommernisse en die Strewer slaan geduldig daardie vure dood: weet julle wat kos petrol deur die Karoo?, dan troos hy: toemaar, Mooitjie, ek het begroot daarvoor. Sodra ek meen dis binne-seisoen en hoe gaan ons ‘n vakansiehuis bekostig? Toemaar Mooitjie, ek het beplan daarvoor. (Onthou nou, Ma woon wel by die See, maar hierdie jaar gaan die hele familie see toe en moontlik sal ons stadsjapies maar in ‘n hotel ‘n plek moet bespreek).
Maar my bekommernisse word vinnig weg bederf en ek hou my besig met aardse goed: waar steek ek my 2 goue ringe weg, watter tasse pak ons, moet ons rotsklimskoene ook saamvat, waar is ons Nuwejaar, op die strand of in ‘n restaurant (Die Ongeduldige Een: wat maak dit saak,Ma! Die Toegewyde Een: dit maak nie saak nie, Ma lyk mooi in plakkies, die Strewer: ons koop sommer vir jou hoë hakkies by die V&A as ons in ‘n restaurant eet Mooitjie…). Hy weet baie goed as ek in Kleinmond aankom, bly ek net daar, vir die hele 3 weke, ek gaan nie na besige malls toe nie, ek ry net to by die naaste wynplaas en gaan verlustig my aan die ooptes, die rye olyfbome en die netjiese wingerde. Eet ook dan vreemde mooi kos, terwyl die Strewer wynproe en bokse vol bestel vir al die familie in die binneland.
Tussen-in wroeg ek oor die Matriekeksamenprogram, want hoe moet ek weet of ons die Dinsdag of die Woensdag in die pad gaan val. Want ek moet die oorslaap bespreek by Travalia so net verby halfpad. En nodeloos om te sê, die seuns wil van oorslaap niks weet nie: die Ongeduldige Een: Ma, ‘n mens ry deesdae (wat weet hy van die ou dae?) in een dag deur Kaap toe, Ma. Dan voeg die Toegewyde Een versigtig by: Dit gaan my eerste rit Kaap toe wees Ma, ek sal graag die moordenaarskaroo self wil aandurf en sien hoe dit gedoen word (hy praat regtig so mooi Afrikaans!). Hy wil hy nou in die Ongeduldige Een se spore volg – dié het in sy matriekvakansie alleen afgery Kaap toe (ek moet Wimma optel, Ma), en vandaar via die Tuinroete – (dis mur pragtig hier Ma, sms hy), na Plettenbergbaai gery waar hulle die Plett Rage bygewoon het… Van die Rage gepraat – die Toegewyde Een kies om eerder Japan toe te gaan en ek het sy hopie op die glasblad gereed: splinternuwe paspoort (weggekamde hare en al), bestuurslisensie, reisigerstjeks en rande. Aai, hoe ek hom van die Kaap gaan terugkry O R Tambo toe die dag na Nuwejaar, is ‘n reëling wat definitief bydra tot die woes en wild van die dag voor ons See toe gaan. My Toegewyde Een het dus 2 (weliswaar netjiese)hopies: See Toe en Japan Toe.
Intussen slat die blitse kort-kort ons internet en sekuriteitskameras flenters en die donderweer bulder bevele uit: wie gaan na die papagaaie kyk! Jy beter ADT laat weet dat julle weggaan! Hoe kan jy wil weggaan vir langer as ‘n week! Wat van die boewe, die diewe, die skurke, die – ja, ja – sug ek terug, en verwonder my aan ‘n Hoëveldse donderstorm: donker, amper pers wolke so met die jakarandabloeisels in die voorgrond, wanneer die son deurbreek: grasgroen-goudgeel Gauteng – haal diep asem in 2 3 4 …
November is eksamentyd, afhandeltyd, hope antwoordstelle om te merk – vir 13 dae en 13 nagte lank oefen ek nie, slaap ek nie, lees ek nie fiksie nie, lê ek nie los rond nie – ek fokus op die antwoorde, want glo my, om die verskil tussen regte en behoeftes vir 25 punte te omskryf kos fyn dinkwerk – om doodgewoon te lys wat ‘n mens alles wíl hê teenoor móét hê werk nie vir my of die Unisa dosente nie. En as ek mos aan een ding moet dink die hele tyd, dan gaan staan en dink ek aan ander goed ook…so asof Paulus my persoonlik geken het…
Dus dink ek nie in November nie, ek doen net:
Merk merk merk, werk werk werk en tussen-in dra ek vrugtesap en gesonde kos aan – die Toegewyde Een is midde-in die eindeksamen en ek het op rsg gehoor dis my plig / reg / voorreg om ’n gemaklike atmosfeer te skep vir die matrikulant, met baie vars water, groente en sap.
Langs die hopies, begin die lysies. Op klein blokkies herwonne papier – soos by my Pa geleer – begin ek skryf:
– Verf die binnehof
– Bel bye-boer om die nes in die watermeter te verwyder
– Peanuts vir pappegaaie
– Katte bespreek by kattery
– Weet ADT ons gaan weg,
– Weet die koerant ons gaan weg
– Weet die boewe ons gaan weg
My kop word gek! En net daar piep die reminder op my stok-ou blackberry: Google nervous breakdown (I kid you not! – ek moet ‘n kliënt raadgee oor haar saak by die CCMA). En sy meen sy het ‘n nervous breakdown gehad en kan ek dit in my verslag sit asseblief. Ek onthou egter duidelik dat my Unisa dosent ons destyds gemaan het: daar is nie iets soos ‘n senuweeineenstorting nie – dit is ‘n leke-term vir ‘n hele klomp akute simptome van angstigheid en die onvermoë om aan te pas. In die eksamen moes ons kon antwoord: wat stort in een, hoe stort dit in een, waar laat dit die pasiënt / die gesin / die famile / die samelewing / die land / die wêreld – my kop gaan bars! Haal diep asem … in 2 3 4… o gits, nee, asem uit 5 6 7 8 … ek gaan dit nie maak nie, my ore sing, my keel trek toe, ek voel iets akuuts aankom!
– Waar was ek – die katte is in die kattery. Check.
– Daar’s hope kos en vars water vir alle gediertes wat agterbly op ons werf. Check
– Definisie van nervous breakdown vir die CCMA – internet is nog af! Boekrak toe, dus – terug na die lysie toe, sal nou-nou oplees, ek raak mos so half weg in ‘n boek en dis vir my moeiliker om ‘n boek as ‘n stuk koek neer te sit.
En julle, ek trek nou eers in November.
My lysies word langer: kersgeskenke (ek koop nie my geskenke in die Kaap nie, Gauteng is tog die mekka van die Mall): vir Ma, ‘n dagboek, vir Seisie, ‘n juweelstuk, vir die niggies, juweelkissies met ballerinas in (ja, ja, ek vermoed dis outyds, maar ek het nie dogtertjies nie en toe ek ‘n dogtertjie was, was dit vir my die mooiste ding!) Ag, dis die maklike lys, die moeilike lys: vir Swaer, my Gebroeder en my Oom – hulle speelgoed is GPS’se, hengelgereedskap en rooiwyne (uhm, wat ek tog nie in Gauteng kan koop en afsuiker Kaap toe nie – aha, ek kan bier koop, wat hier bo in die Wieg van die Mens gebrou word! Skryf op my lys: Muldersdrift bier soek met die seuns en die Strewer. Hulle sal dit geniet en nie vir ‘n oomblik dink dat ek eintlik besig is om my pligte en take te deligeer nie. Die dae raak min vir goeters doen: bestuurslisensie vir die Toegewyde Een, bestuurslesse ook nog, bonusse vir die werkers, busse bespreek vir hul vakansie na die Noorde.
Middel-November lê my lysie drie blaaie dik: padkos, petrol, patch & solution, verkyker, sonbril, selfoonlaaiers (dis die goed wat ek gewoonlik vergeet).
Tweede lysie: somershorts, growwe ontbypap, (nog) nuwe strandhanddoeke (ek sweer, soos wat klerehangers kan aanteel in ‘n hangkas, so kan handdoeke uitsterf in ‘n linnekas).
Derde lysie: Bevestig die kathotel (al in Julie bespreek…), bevestig die motordiens (al in Augustus bespreek), bekyk die spaarwiel, soek die skoewe vir die dakrak.
Teen einde November is ek ‘n mens met ‘n missie en jy sien net katte spat soos wat ek kasdeure oop-en-toe klap, vensters vasmaak en sleutels wegsteek onder hopies klere agter in die donkerste kas (sommige boewe neem tokkelossies nog ernstig op).
Wat soek die bier op die ys? – bulder ek. Dis donkeroggend en ons is gereed om te ry. Al drie Onskuldiges kyk my kalm aan: ons dog dis padkos, antwoord hulle uit een mond…
Haal diep asem in 2 3 4 …
Pak terug die geskenkbier, haal uit die Energade (ons gaan in een dag afry, jubel die Ongeduldige Een).
Deur die Karoo bond ons ongelooflik – daar’s niks soos 4 Gautengers in een motor vol toebroodjies, oranje energade en Heinekens nie (die Strewer reis nie daarsonder nie). Ons kan nie dringende UIF betalings doen, wiskunde hersien of FHM meisies bekyk nie. Ons kan nie die beurs dophou, die agterstallige e-posse antwoord, kliënte troos of die stoorkamer regpak nie. Niks – ons het net mekaar en mekaar se geselskap – hoe wonderlik is dit nie! Ons gesprekke wissel van die EFF en die 2014 verkiesing, wat is die Higgs boson, is dit ‘n reg of ‘n voorreg om nog in Afrikaans matriek te kan skryf, is ‘n pienk diamant mooier as ‘n witte, wat vir ‘n musiek genre is trap, hoe straf jy ‘n surrogaat-ma wat die baba behou en wat kap so agter in die kattebak?!
Ons stop altyd op Drie-Susters, daar is voëltjies om te voer en spesiale drinkplekkies vir die Brakiekie. Maak vol, gaan piepie, strek die bene, drink water, eet ‘n Crunchie, sms Ma en Skoonma op wie se gebedslysie ek al sedert eergsiter is, toe ek by altwee huil dat ek nie gaan klaarkry met alles nie.
Op Touwsriver stop ek (Ma!, druk deur, ons het genoeg petrol, kerm almal gelyk). Maar die ou sentimentele-ek wil die kalkoene sien, want ek sal nooit vergeet hoe lekker my Ongeduldige Een geskaterlag het toe hy kalkoene vir die eerste keer gesien het nie, net mooi 18 jaar gelede! En elke jaar stop ek daar – hy lag lankal nie meer vir kalkoene nie, hy lag nou vir Julius, maar ek geniet die onthou so baie, dit gee my genoeg energie om dan deur te druk tot in Kleinmond.
My lyf is styf en natgesweet. My maag is vol vreemde goed soos litchi water, te veel all sorts, kafee-koekies en kaasbroodjies. Ek begin verlang na my mense en traan terwyl ek ry. Die Ongeduldige Een bied aan om oor te neem by die stuur, maar ek, die beheervraat, ek wil daardie laaste heuwels self ry. Al vir meer as dveertig jaar ry ons van die (ou) Transvaal deur die ganse land na die mooiste see in die hele wêreld. Ons gesprekke draai by renosterbeskerming versus behuising vir vlugtelinge en ek word al hoe anstiger, want hoe red ‘n mens albei! Ek voel of ek ‘n senuweeineenstorting gaan kry… Skielik sit die Toegewyde Een sy seningrige hand op my skouer. Ma, sê hy hier van die agterste sitplek af, ek sien die see.
En julle – ek het nie woorde vir daardie gevoel nie. Dis asof ‘n swaar, soliede deur toeskuif tussen my en Gauteng, die atmosfeer in die motor verander opeens, bose (Gauteng)geeste sluip skelm en haastig uit die motor uit en ‘n gevoel van welbehae daal oor ons neer. Van hier af is die motor in vry-ry, asof sy die pad ken. Sak af in die vallei in, verby die blou kraanvoëls in die koringlande, die baksteenmakery, die bekende wynplase, regs afdraai na Kleinmond. Ek verminder spoed en soek na die wilde perde, ry nog stadiger oor die brug, sien dit is hoogwater, by die tennisbane verby, in hoofstraat dwarsdeur die bekende en geliefde dorp, verby die begrafplaas en links af in Singletonstraat in. Ek stop met my neus na die see.
En God het gesien dat dit goed is… (ou vertaling)
Jip, in enige vertaling is dit presies hoe ek ook voel as ons veilig met hond en kind en kraai in Kleinmond aankom – met Ma wat al vandat ons verby Villiersdorp is, die pad staan en dophou – die keteltjie het gekook, die wyn is op die ys en haar spesiale lasagne is in die oond.
Dan sug my Strewer behaaglik: How can life be bad… terwyl hy geduldig wag dat ek eers die see-lug in asem, die berge se profiel met met my oë natrek, die fisante groet en oor die geel speldekussings streel voor ek hom uithelp in sy rolstoel in.











