Aan die begin het ek dit gedoen uit nuuskierigheid, vir interessantheid. Wie was my voorgeslagte? Wat was hulle name? Waar in ons volksgeskiedenis het hulle ingepas?
Ek moes eenvoudig net my stamboom begin navors, begin met die wortels diep onder die aarde waar niemand dit kan sien nie.
Dit was en is nog steeds ‘n opwindende reis deur die geslagte langs, maar inderdaad soos daardie beeld van ‘n trein wat ek een oggend uit Nieu-Zeeland ontvang het: die lewe self is soos ‘n treinrit waaraan ons deelneem. Met die opklimslag was ons nie die eerste passasiers nie. Ons gaan ook nie die laaste passasiers wees nie. Ek wil dit graag sien as ‘n outydse stoomtreinrit, met fluite wat blaas, ‘n lokomotief wat stoom en wiele wat kletter en ritmies klap op die spore…
Met geboorte het ons op hierdie lewenstrein geklim, ons reistasse gepak. Saam met ons op daardie selfde stasie het ander mense ook opgeklim. Dit was ‘n eenvoudige stasietjie, doer iewers in die veld waar ons ons bewussyn gekry het. Eenvoudige, karige reistassies, die handvatsels al verweer, die klere wat ons gepak het nie luuks of indrukwekkend nie. Ons het nie veel saamgehad nie, miskien ‘n stowwerige Bybel, ‘n afdruk van ‘n foto van die Groot Trek. Dalk ‘n troufoto van ons ouers daar waar hulle staan, prim en proper. ‘n Ovaal portretskildery van ons grootouers met oë blouer as blou wat effens afkeurend ons reis gevolg het wanneer ons bewus van hulle geraak het. As kind het daardie kyke my dikwels ongemaklik laat voel, so asof ek iets verkeerd gedoen het en hulle my dophou om seker te maak ek doen die regte ding. Nou, as volwassene, sekerlik al verby daardie mylpaal wat hulle bereik het, besef ek dit was nie kyke vol kritiek nie, maar vol liefde, vol trots, vol aanmoediging.
Aan die begin van ons gesinnetjie se reis het ons vir eers net in die een kompartement gebly. In hierdie kompartement het ons met mekaar gespeel, gelag, baklei soos boeties en sussies doen, die lewe gedeel. Elke nou en dan het iemand van die ander kompartemente af kom inloer en ons lewens opgehelder. Ons ooms met hulle stories, ons nefies en niggies met hulle energie, soms ‘n verlangs familielid soos tannie Joey met haar waardige maar liefdevolle glimlag, oom Hennie met sy borselkophaartjies, blou oë, kombi.
Soms het ons trein vir ‘n ruk lank op ‘n stasie gestop en dan het ons afgeklim, gekuier, die stasie verken, ander mense leer ken, maar dan het elkeen weer in sy eie kompartement geklim en die reis hervat. Dikwels was daar ook ander treine wat verbygestoom het en dan het ons gewuif. Ander kere moes twee treine langs mekaar wag vir ‘n derde trein om eers verby te kom en dan het ons so deur die venster heen gesels, inligting uitgeruil, tyd gedeel voordat ons treine weer sou aangaan.
Dit is ‘n lang reis met hierdie trein. Iewers op ‘n stasie, toe ons besig was om mekaar te karnuffel en te stry oor wie nou eintlik wat gedoen het, het iemand besluit om af te klim. So stilletjies, ongemerk en eers toe die trein aanbeweeg het het ons agtergekom sy is nie daar nie. Ons het haar gesoek, by vreemde kompartemente ingeloer om te kyk of sy nie dalk daar was nie, maar sy was weg. By elke volgende stasie het ons hoopvol uitgekyk of sy nie dalk iewers, tassie of pakkies in die hand reeds weer vir ons wag nie, dalk ‘n geleentheid saam met iemand gekry het en ons weer ingehaal het nie. Maar sy was nie daar nie. Eers later, toe die trein om ‘n kronkelende draai gaan het ons haar weer gesien: in ‘n ander kompartement saam met iemand anders. En veel later, om nog ‘n kronkel, die klein dogtertjie met die groot ogies en donker haartjies – ons nuwe sussie wat nuuskierig na ons gestaar het, geen idee gehad het hoekom ons almal in verskillende kompartemente reis nie…
In ons kompartement was dit stil. Vir ‘n baie lang ruk het ons net na mekaar gesit en kyk. Soms het daar ‘n stryery uitgebreek oor onbenullighede, maar meestal het ons nie gepraat nie, net deur die vensters gekyk na die tonele wat verby die treinvenster geswiep het. Daar was oomblikke wanneer ons begin het met “onthou jy nog”-stories, maar dadelik weer opgehou het omdat die woorde in ons monde gestol het, die trane te vlak en te naby was en ons te bang was om dit hardop te sê: Ons is nou op onsself aangewese in hierdie kompartement…
Stadig maar seker, een vir een het ons uitgestap na ander kompartemente toe. Huiwerig vir ‘n ruk lank net gaan sit, gekyk of ons raakgesien word, of ons toegelaat word om daardie kompartement te deel. Soms vir langer rukke as ander, maar meestal het die kompartemente leeggeloop of net van passasiers verander. Tot daar iemand ingestap het wat gekom het om te bly en ons dan skugter nadergeskuif het, begin gesels het, saam deur die venster gekyk het om te sien op watter stasie ons onsself bevind het.
So het ons kompartemente weer begin vol raak terwyl ander passasiers in die gangetjies afgeloop het en soms ingeloer het, geselsies aangeknoop het. Soms gaan kuier ons in die ander kompartemente en dan is die hoofonderwerp: Onthou jy nog? Onthou jy nog wie ons was? Maar nooit regtig, “weet jy wie ek nou is?” nie. Daarvoor het ‘n mens tyd saam nodig. Tyd om te sit en gedagtes uit te ruil.
Daar was ‘n tyd toe ons weer ‘n kompartement saam met Ma gedeel het. En met ons sussie en haar pa. Dit was goeie tye, daardie tye van leer ken. Maar die trein sou bly voortsnel en langs die pad sou die passasiers een vir een afklim, het die landskap stadigaan begin verander. Op een stasie was dit tyd vir iemand anders om af te klim.
En so stoom ons trein voort. Wanneer ons bestek neem van wie saam met ons in die kompartement is, besef ons dat die passasiers verander het. Vir sommige van ons, waarvan ek myself as ‘n gelukkige een tel, is daar min veranderinge en deel ons ons kompartemente vir ‘n lang tyd. Ander moet stasie na stasie totsiens sê en aanbeweeg….
Maar uit die koffers wat ons doer aan die begin saam met ons op die trein gebring het en iewers op ‘n boonste leë bed weggesteek het, begin my nuuskierigheid nou die oorhand neem. Ek haal die portrette uit, ek stof dit af en bekyk dit. Wie was hierdie mense in hierdie portrette? Waar het hulle vandaan gekom?
Elke nou en dan wanneer die trein met ‘n besonderse hoë bergpas op kronkel kry ek so ‘n glimpsie van die waens ver ondertoe aan die onderpunt van die trein: daar is ‘n ouma wat stil glimlag, daar is ‘n oupa met ‘n vonkel in sy oog wat ‘n poets bak. Daar is ‘n oupagrootjie met sy perd wat runnikend en vol salpetersweet op ‘n stasie in die verbygaan kom groet het. Op ‘n ander stasie is ‘n bekende gesig, ‘n voorouer besig om haar goedjies af te laai in ‘n ossewa in. By nog ‘n stasie is daar tente neffens die spoor opgeslaan, staan ‘n ouma oorgrootjie by ‘n skotteltjie met water, kappie op die kop, lang rok waarvan die soom effens stowwerig op die droë aarde sleep en kyk reguit na my met oë wat vra: Ken jy my? Weet jy hoekom ek hier tussen die gras en die bossies my gesinnetjie in ‘n konsentrasiekamp probeer aan die lewe hou?
Die trein het nou al met ‘n wye draai beweeg en die stasietjies flits die een na die ander verby: Groot Marico, Zeerust, Lichtenburg, Potchefstroom.
Op ‘n dag galop die stoomtrein deur die Vrystaatste vlaktes met name van stasies waarvan ek al gehoor het, maar nog nie ken nie. Bothaville, Heilbron en verder weg, Villiers waar daar ook ‘n omie leunend op ‘n kierie by sy voorhekkie staan, hoed op die kop, oë skrefies teen die son en wie se gesig vir ‘n oomblik verhelder: ‘n broer van ‘n ouma oorgrootjie wat wuif en waai.
Tyd vir die trein om deur Natal voort te ploeg. Dis ‘n onherbergsame wêreld met enkele stasies wat sigbaar raak en waar ‘n gesig onverwags opkyk en herkenning soos die son opkom: Blaawkrans, Bloedrivier. Verskrikking. Tussen die knars van ossewawiele deur, verby assegaaie en perde en osse en koffiekonfore en blikbekers wat rinkelend in die watent kletter…
Die Oos-Kaap: Cradock, Graaff-Reinet. Ander name soos Bruintjieshoogte, Swagershoek…
Ek neem nou tyd om deur my kompartementvenster na hierdie stasies en hulle mense te kyk en daar kom ‘n vrede oor my. Ek ken hulle, hulle is my mense. Hulle is ons mense. Almal van hulle was deel van hierdie lange trein wat so deur die lewe stroom. Hulle was nog heeltyd daar. Hulle het gelewe en het lewe aan hulle kinders geskenk wat lewe aan hulle kinders geskenk het en so gaan dit aan. Ons hoort op hierdie trein. Ons behoort aan hierdie trein…
Iewers in die Wes-Kaap is daar bekende tonele. Wingerde wat die een na die ander verbysnel. Plase wat wild lê maar stadig maar seker verbou word. Hier is daar ‘n voormoeder wat met ‘n ferm hand alleen bevele uitdeel, daar is daar ‘n voorvader wat met leepoë na sy glasie wyn staar. Hier is ‘n koster in ‘n kerk besig om die klok te lui, daar is ‘n ander voorvader besig om voorrade by ‘n skip te verkwansel.
Ons ry verby die strand en daar staan Eva Krotoa in die sand, haar rokkie waaiend in die wind, haar ogies bang en onseker, maar sy waai vir ons. Doer in die verte is Robbeneiland in die groot see sigbaar en in die hawe lê ‘n skip geanker waarop Pieternella met haar skamele bondeltjie wag om in die ruim opgeneem te word.
Nader aan die kasteel is die slawekwartiere en daar staan die slawe-opsiener. Langs hom ‘n fyne slawemeisie wat ook opkyk en glimlag met die sterre in haar oë.
Die Couché-familie het so pas van ‘n skip afgeklim. Op ‘n ander plek tussen trommels vol klere en aardse goed staan Marguerite de Savoy, sestien jaar oud in ‘n nuwe land…
Haar bure is oral en min weet sy dat ons deur bloedbande almal aan mekaar verbind is: die Botmas, die Bothas, die Nels, die Pienaars, die Pretoriusse, die van der Merwes, Potgieters, Prinsloos. Noem dit maar op en daar is ‘n fyn goue draadjie wat almal aan mekaar weef…
En iewers, in ‘n skip se ruim, is slawemeisies uit Indië, van Madagaskar, van Batavië wat nou Indonesië is. Verskrik en bang vir die onbekende, ontwortel en weggeneem van hulle families af, oorgegee aan die genade van hulle slawe-eienaars met die hoop, die vae hoop dat daar tog iewers vir hulle ‘n plekkie sal wees…
So hou die trein aan en stoom stoom stoom verby die stasies. Op elke een van daardie stasies, is ‘n stukkie van onsself. ‘n Skerfie van ons beelde wat terug na ons toe gereflekteer word…