‘n Vis op droë grond

Ons is nie almal eenders nie. Eintlik dink ek ons was dalk nog nooit nie. Tog is dit dalk vandag makliker om jou eie identiteit te vind, ontwikkel, groei en selfs te verwoord. Die mensdom het al so bietjie meer van ‘n idee waarom ons is soos ons is en voel soos ons voel. Ons het organisasies, vereenigings en liefdadigheidsorganisasies wat ‘n stem is vir die wat sukkel om hul eie stem te laat hoor. Op alle gebiede: Slagoffers van misdade of bulliegedrag, mense wat anders as die massas identifiseer – bv nie-godsdienstig in ‘n godsdienstige land, as ‘n LSBGT persoon in ‘n konserwatiewe gemeenskap, as ‘n andersdenkende, saggeaarde, hippie, laatslaper, vegetariër in die Bosveld, oorgewig, te wit of te swart ensovoorts ensovoorts. Tog kom meer en meer mense na vore en laat die wêreld verstaan: “Ek ook.”

Enersyds voel dit soms of dit makliker raak om oor die onnoembare te praat. Andersins het groot dele van ons samelewing baie onpersoonlik geraak en ons raak nie regtig betrokke by ander of weet wie ons bure is of praat met vreemdelinge nie. ‘n Jong vriendin wat vir ‘n jaar in die groot VSA gaan werk het se pa het onlangs kom kuier en sy skryf hierdie week op Faceboek: “As we did our little walk today, my dad was waving and greeting everyone. Regardless of the grumpy American faces he gets in return, he kept on waving and smiling… Why?… for that one person who smiles back so big, you’ll know they needed just that “hello” from a stranger.

I remember how I waved at each person too, no doubt where I learned that from. But I lost that along the way, somewhere in this “serious modern world” where self checkout and home delivery has become the norm.

My prayer, if just for myself… that I will remember what life is about. “Onthou, Monja, lewe is oor verhoudings. En die stelsel is sy vyand.” – Pappa.”

In die afgelope paar weke het ek met ‘n paar mense te doene gehad wat regtig ontsteld is – en dit raak hulle hele lewe, geluk en bestaan – wat voel dat hulle andersheid nie deur die sameleweing aanvaar word nie. Slagoffers van geslagsmisdade en trauma wat bitter voel en swaar dra aan die las wat hulle toegedeel is. Persone wat ly aan ‘n verskeidenheid van geestesontgesteldheid soos ADHD, depressie of verslawing wat ervaar dat hulle ‘n onregverdige opdraande in hulle gewone dagtaak of bestaan ervaar.

Die ding is, mense wat dieper voel, kunstig is, anders is – hulle breine werk dikwels anders as die hoofstroom s’n. Dink aan Amy Whinehouse, Robin William, Curt Cobain, Michael Jackson,  Mozart, Eugene Marais, Johannes Kerkorrel, Antjie Krog – daar is soveel groot name wat in hierdie kategorie kon val. Die gemeenskap vind waarde in hierdie mense se breins of denkwyses as ons kunstenaars, vernuwende denkers en baanbrekers. Baie van die groot sterre en baanbrekers se stories wys uit hoe hulle op skool of as jongmense “anders” was, geboelie was en baie mislukkings gehad het voordat hulle sukses gesmaak het.  Wanneer hulle dit wel “maak” in oë van die samelewing word hulle as ‘n held of nasionale (selfs internasionale) skat ge”label”. Baie persone wat uiteindelik bietjie beter verstaan hoekom hulle so “anders” voel kry dalk uiteindelik ‘n diagnose: Jy is ‘n verslaafde, ly aan depressie of ADHD – wat dit ookal is jy het nou jou labeltjie – jy het ‘n geestesongesteldheid.

So jaar of twee voor Flooi se dood het ons saam die fliek “A star is born” gekyk waarin Lady Gaga baie goed haar rol vertolk het. Ek wil nie die storie weggee as ‘n leser dit nog wil kyk nie, maar op ‘n punt in die verhaal was ek baie erg oorkom met ‘n hartverskeurende hartseer oor die verskeurende effek van die siekte van verslawing op liefdevolle, goeie en intelligente mense se lewens. Ek het letterlik onbedaarlik begin huil dat die trane spat – nie die gewone traanspoortjie of twee wat ek in ‘n roerende storie sou wegpik nie. Ek het snot en trane gehuil vir elke verslaafde wat ek al ontmoet het, wat al dood, vermink of sosiaal gewond was deur die siekte, wat hulle identiteit, sekuriteit en families verloor het. Ek het gehuil vir almal wat nog in daardie kettings gaan vasdraai en nie weer daaruit sal kan kom nie. Vir die seer wat al hierdie mense deur die lewe oor die berg voor hulle moet probeer kruip uit die donker. Oor die magteloosheid van mense met goeie bedoelings. Die vrees en onsekerheid in klein kindertjies, ouers, oumas en oupas wat nie verstaan wat aangaan of wat besig is om met hul geliefdes te gebeur nie.

Flooi was duidelik uit die veld geslaan – hy het my nog nooit so gesien nie. Hy het eintlik so bietjie verleë gelag  en  gevra “En nou? Wat huil jy so?” Hy het dit nog nie verstaan nie en tog, nie baie jare later nie, het hy homself in dieselfde hopelose doodloopstraat bevind met geen uitgang sigbaar nie.

Word alles dan erger in die tyd waarin ons lewe? Ek wonder of ons nie dalk net meer en beter verstaan van hoe ons binnewerke aanmekaargelas is nie. Objektief gesproke was dit ook nie ‘n ewigheid gelede wat mense met elektrieseskokke teen die kop behandel was op onmenslike wyses vir geestesongesteldhede nie. Relatief kort gelede was vroue nog vir “histeria” behandel met vaginale vibrasietoerusting – ja as jy nie geweet het nie dit was die voorgangers van ons moderne “sex-toy vibrators”!

‘n Britse mediese dokter, Joseph Mortimer Granville, het die eletromeganiese wibrator in die 1880s patenteer om ‘n kondisie bekend as “vroulike histeria” te behandel. Daar het ‘n hele aantal gesondheidsspa’s opgespring wat die behandeling aangebied het en teen die laat 1800s was die masjientjie te koop aangebied in katalogiste wat naaldwerkmasjiene en ander klein huisaparate bemark het. Volgend een skrywer was die wibrator die vyfde gewildste toestel vir die huis na die naaimasjien (pun intended!), waaier, ketel en broodrooster! Dit was eers in 1952 dat die Amerikaanse Assosiasie vir Medici Fissici die kondisie bekend as vroulike histeria van die lys van erkende mediese kondisies verwyder het. So leer ons maar dat ons nie geweet het wat ons geweet het nie né?!

Ek het op my pad met verslawing baie gelees en te wete probeer kom oor die siekte en die effek daarvan. Ek het probeer luister na soveel besprekings en stories van verslaafdes en ook hulle geliefdes. Ek het verskriklike rampe gesien, maar ook byne ongelooflike wonderwerke. Tog is daar steeds dae, partykeer sommer weke of maande ook, wat ek net nie weet nie. Wat ek net self vasgevang voel.

Al wat ek vir seker nou weet:

  1. Die lewe gebeur steeds teen een dag op ‘n slag.
  2. Ongeag wat oor my pad kom, ek kies steeds of dit my bitter maak of beter. Dit hang nie af van die noodlot nie – dit hang van my af en my eie ingesteldheid teenoor my lewe met sy op- en afdraendes.
  3. Dit is goed om ALTYD almal met deernis en respek te behandel. Ek weet nooit met watter demone hulle besig is om te stoei nie.
  4. Dit is ook ok om nie elke dag ok te wees nie. Dit is beter om vir hulp te vra as ek hulp nodig het.
  5. Dit maak nie saak wat om my aangaan en waar ek my bevind nie, daar is altyd altyd iets om voor dankbaar te wees.
  6. Vir nou bars die Apiesdorings uit hulle nate soos hulle uitbundig my pad versier met hulle pragtige bloeisels.

Dit is nie maklik om god te speel nie . . .

Ek het lank terug hierdie gelees op ‘n kennisgewingbord by die rehabilitasiesentrum wat my dogter behandel het:

Our programme works for people who believe in God,

Our programme works for people who do not believe in God but

Our programme does not work for people who believe they are God.

Ek was vandag weer daaraan herinner toe ek ‘n houtkameelperdjie wou opdollie vir ‘n vaal hoekie. Die diertjie is grys en die fokus kleur in die vertrek is helder groen. Ek besluit toe hy moet kameelperd kolle kry in groen. Om ‘n kameelperd vol kolle te maak is toe nie so maklik soos dit lyk nie. In die natuur is daar blykbaar nie eers twee kameelperde wat presies dieselfde kolle dra nie. Kyk as ek soveel kameelperde moes inkleur het ek lankal verveeld geraak en ‘n “sprei-gun” nader getrek! Vir die klein houtkameelperdjie het ek gedink dit sal gou gaan. Ek het egter gou gesien dat om die kolle min of meer eenders maar tog anders in form en grootte te maak, toe nie kinderspeletjies is nie! Die helder groen het ook ‘n hele paar lagies nodig gehad om uit te staan op die grys.

Die oefening het my laat besef – ek is in die Al-Anon program en doen werk in my program. Nog steeds het ek heeltemal vasgeval in ‘n groef van lusteloosheid en depressie, terugflitse, verwyte en twyfel, ongeag van wat ek weet, glo en myself probeer oortuig. Ek is woedend vir my God. Ek voel dat Hy vir Vlooi kon help of red – maar agter in my kop weet ek Vlooi kon nie hulp aanvaar nie. In Al-Anon staan dit bekend as die drie A’a – Awareness, acceptance and action. Die gewaarwording is nie mooi nie en glad nie maklik om te erken nie. Die harde realiteit is egter dat dit my lewe onmoontlik maak om in afsondering van iets of Iemand groter as ekself te probeer voortgaan. Dit baat my niks. Ek maak vrede met die oorgawe van stap 3 – om te aanvaar en my wil en my lewe oor te gee aan Iemand groter as ekself – ek het niks om te verloor nie – ek cope in elk geval nie soos dinge nou is nie.

Ek hou hardkoppig vas aan die klein bietjie hoop wat oor is. Daar kan tog sekerlik nog vir my ook in hierdie lewe iets oor wees wat berusting, geluk en vrede kan bring?

‘n Klein bietjie hoop bly ‘n groot ding.

Hannabi se groot avontuur – Deel 2

In die tyd wat ons so naby die water wat raas gebly het was alles vir my net te lekker. Daar was ander huise om die huis waar ons gebly het maar baie minder as by ons eie huis in Polokwane. Ons kon sommer van die een kant van die dorpie tot by die anderkant loop. Ons het ook baie gaan stap en my ma het my toegelaat om sonder my stapband te loop. Sy moet altyd ‘n stapband aan my vasmaak en die anderkant vashou as ons gaan stap omdat sy so bang is sy raak weg van my af. Tussen jou en my, ek sal dit nooit toelaat nie, maar ek verstaan dat sommige mense maar angstig kan word oor dinge en hulle kan dit ook nie help nie. As ek sien sy wil die stapband aansit gaan sit ek dus mooi stil by haar sodat sy nie te veel sukkel nie. In die klein dorpie was sy nie so angstig nie en het los van my af gestap. Ek kon lekker rondhardloop en aan alles ruik en haar nog steeds in die oog hou. As daar ‘n motor of ‘n ander hond verby gekom het, het sy weer bang geraak en my geroep om die band aan te sit. Ek is bly ek kan haar veiliger laat voel as sy bang word.  Sondag middag het my ma en Lindie se pa alleen gaan ry in sy groot kar maar Human en Saartjie het saam met my gaan stap en ons het ook lekker bal gespeel. My ma en Lindie se pa was nie so lank weg nie en het vir my sommer ‘n klomp bene saamgebring om aan te smul.

In die hele tyd wat ons hier was het my ma nie elke dag gewerk nie en ons was heeltyd saam – tog te lekker! Ons het baie gestap en ook weer naby die water gaan stap en bal speel. 

Uiteindelik het my ma en Lindie se pa weer die groot kar ingepak en my ingelaai. Ons het nie te ver gery nie en gestop by die huis waar Angelo, Queen en Penny bly by hulle ma en pa. Ek het hulle nog nie goed geken nie en was aanvanklik so bietjie bekommerd dat hulle dalk my ma wil steel of seermaak en ek moes maar op my hoede bly. Ek het darem agtergekom dat hulle eintlik nie kwaad bedoel nie. Hulle was maar net nuuskierig. Ons het vir twee slapies by hulle gekuier en dit was te lekker. Hulle huis is so lekker warm. Daar is ook baie balle, speelgoed en lekker kombersies om op te slaap. As dit koud is maak hulle pa ‘n vuur in hulle sitkamer. Hieronder is fotos van hulle lekker warm huis. In hierdie tyd het my ma ook nie gewerk nie en ons was die hele tyd bymekaar. Ons almal het eendag in die veld gaan stap. Ons het lekker ver gestap sonder bande en sommer in die stap bal gespeel ook. 

Ek het nog altyd gewen as ek teen ander honde resies hardloop om ‘n bal te vang maar Angelo was elke keer te vinnig vir my hoor! Gelukkig het sy pa somtyds die bal reguit na my toe ook gegooi anders sou ek nooit ‘n beurt gehad het om die bal te vang nie. Ek het agtergekom dat Angelo baie goed ‘n bal kan vang maar dan los hy sommer die bal net daar waar hy dit gevang het! Hy wonder nie eers hoe sy pa nou weer die bal gaan kry om dit te gooi nie. Ek het vir hom so paar keer gewys om die bal mooi terug te vat na sy pa toe en hy het darem gelukkig vinnig geleer. Sommer gou-gou het hy ook die bal teruggeneem tot by sy pa nadat hy dit gevang het en dan kon ons lekker verder speel. Hieronder is ‘n foto wat my ma geneem het omdat ek die bal so mooi terugbring, ‘n foto van Angelo (links), Penny (middel) en Queen (regs) saam met hulle pa Danie en ‘n foto wat Angelo hulle se ma geneem het van ons wat stap in die veld en ook ‘n foto van Angelo, Penny en Queen se ma en pa.

Die tyd het weer aangebreek om die groot kar te pak en verder te ry. Dit het so bietjie langer geneem om alles in te pak want my ma en Lindie se pa het ‘n paar bokse wyn gekoop daar naby waar Angelo hulle bly. Hieronder is ‘n foto van waar hulle wyn proe voordat hulle besluit wat hulle moet koop. Hulle het vir almal vertel hoe lekker dit was en hou oulik Frieda was wat alles vir hulle verduidelik het. My ma sê Van Loveren wyne het amper volpunte gekry maar hulle het ‘n punt verbeur omdat hulle nie honde toelaat nie. My ma en Lindie se pa het tog alles weer in die kar gekry en ek kon inspring. Ons het lekker gery en ‘n paar keer gestop maar hierdie keer het ek nie enige ganse gesien nie. Ons het een aand laat by ‘n vreemde huis gekom waar ons net een slapie geslaap het en die volgende oggend weer vroeg gery het. Net voor dit stikdonker was, het ons veilig by ons eie huis aangekom. Dit was ‘n wonderlike avontuur en ek is so baie baie bly dat my ma my kon saamvat en dat ons so baie lekker dinge saam kon doen.   

Hannabi se groot avontuur – deel 1

(Nena is met verlof maar haar skaaphond Hannabi is bereid om vir die paar weke in te staan.)

My naam is Hannabi, ek is 9 jaar oud en hier is ek en my ma. Ek het ‘n vreeslike belangrike werk – om my ma op te pas en gelukkig te maak. Hier bo swem sy in ‘n bergpoel en ek maak seker dat sy veilig is.

Op ‘n mooi wintersmiddag, so week gelede, vat my ma  my uit die bloute na die hondesalon vir ‘n bad en droogblaas. Die volgende oggend is Lindie se pa baie vroeg by ons huis met sy groot kar. Sy groot kar is die een waarmee ons meeste bos of berg toe ry. Ek, Lindie my beste speelmaatjie, my boetie Buddy en Lindie se boetie Buksie. Hier is ‘n foto van my en Lindie toe ons in die berg gaan stap het. Sy is gewoonlik altyd in die water. Maar daardie oggend is Lindie en Buks nie in die groot kar nie. Ek word ingelaai en ek het die hele agtersitplek vir myself.

Ek hou baie van kar ry. Daar is soveel interessante reuke om te ruik en dinge om te sien verbygaan. Op daardie dag ry ons baie baie verder as wat ek al ooit in ‘n kar gery het. Lindie se pa stop die kar ‘n paar keer by sulke besige plekke met baie karre en mense. Dan sit my ma my stapband aan en ons loop tot op die grasperk. Daar was nou vir my ‘n verrassing! Daar was baie honde op daardie grasperke – vreeslik baie. Dit is vir my baie interessant om so aan die grassies te snuffel en te probeer raai wie almal daar was. Ek kry ook kans om my boodskap vir aankomende honde te los en water te drink voordat ons weer verder ry.

Net na donker parkeer Lindie se pa die kar by ‘n huis, maar dit is nie ons huis nie. Daar stop nog ‘n motor langs ons en daar klim twee kinders uit, elkeen met ‘n speelbal in die hande. Ek hou baie van kinders. Ek is ook baie lief vir my ma, maar sy word naderhand moeg vir balgooi of stap en baie vinnig van hardloop. Dit is vir my die wonderlike ding van kinders – hulle sal sommer heeldag speel. Ek kon omloop na waar die kinders was en het baie lekker met hulle bal gespeel. Ek sou seker nou nog kon speel as my ma my nie kom haal het nie. Daar was iemand wat my wou sien.

Julle sal my nie glo nie – dit was die Spikkelkind en Tristan! Die Spikkelkind is ook my ma se kind en Tristan is altyd by haar. Hierbo is ‘n foto van my en die spikkelkind. Hulle het ook eers in ons huis gebly maar het eendag net weggeraak. Ek het gedink ek sal hulle nooit weer sien nie. Toe die Spikkelkind my groet het ek haar amper opgelek! Ek was so bly dat sy nie heeltemal weg was nie. Ek en my ma, die Spikkelkind, Tristan en Lindie se pa het toe by ‘n restaurant gaan eet waar ek baie soet by my ma se voete gebly het. Ek weet baie goed my ma hou nie van honde wat aan tafel bedel nie,  maar ook dat soet honde altyd ekstra bederfies kry. Ons was weer terug na die huis met die kinders toe maar hulle het gaan slaap. Dalk word kinders ook maar moeg. Ons het met die Spikkelkind en Tristan gekuier en toe gaan slaap in die vreemde huis, maar my ma het ons eie bed se komberse saam gevat. Dit was baie koud in die vreemde huis, maar toe ek so op ons lekker kombersies styf teen my ma aan die slaap raak kon ek amper glo dat ons in ons eie bed was.

Die volgende dag het ons nog verder gery en weer by baie interessante plekkies gestop om te piepie en water te drink. Ons het droëwors gekoop en vir padkos gedeel en ek het ganse ontmoet by een van die stopplekke. Hulle was regtig redelik onordelik. As die hek net oop was sou ek hulle graag so bietjie bymekaar wou maak. Net na donker het ons stadiger begin ry en Lindie se pa het die kar se vensters oopgedraai. Ek het ‘n baie eienaardige souterige reuk geruik wat ek nog nooit in my lewe geruik het nie. Ons het gestop by ‘n ander huis, wat ook nie ons huis was nie, maar waar ons toe 4 slapies gebly het.

Daar het nog mense by die huis gebly wat my ma en Lindie se pa Saartjie en Human genoem het. Hulle is baie oulike mense wat baie hou van stap en my saamvat as hulle stap en Human hou amper so baie van balspeel as wat kinders daarvan hou.

Die volgende oggend het ons almal saam baie lekker gaan stap tot by ‘n plek waar ons pannekoek geëet het. Ek bedel nooit ooit nie, maar as ek soet stilsit, soos ek ook daar gedoen het, gee my ma altyd vir my stukkies van haar kos. Ek het 3 lekker groot pannekoekhappies gehad en water gedrink voor ons verder stap. Ons het al nader gekom aan die souterige reuk en so grommerige lawaai wat net aanhou en aanhou. Daar kom ons toe by ‘n groot klomp water wat nie stilstaan nie. Daar was ander mense en twee ander honde wat net wil speel ook. Die een groot swarte laat my sommer na Lindie verlang want hy kan ook nie uit die water uit bly nie. Ons het gehardloop en gespeel en nog gehardloop en gespeel. Ons het balle gejaag en deur die baie koue watertjies geloop. Die grond langs die water was soos sponsies waarop ek kon trap! Die water was baie sout en ‘n hond kan dit nie drink nie. Ons het ‘n lang ruk langs die water afgeloop en bal gespeel. Dit was bietjie koud en nat maar ek kon dit amper nie agterkom nie. Ek dink dit was die heel lekkerste dag van my lewe! (Word vervolg)

Oomblikke en herinneringe

Daar kom elke dag dinge oor my pad wat my aan Vlooi herinner en baie keer die verlange opwakker. Hierdie week ry ek na ons buurdorp – 60 km weg – vir ‘n werkswinkel wat ek moet bywoon. Vlooi se ouers het ook op hierdie dorp gebly totdat sy pa, 6 maande voor Vlooi se selfdood van kanker oorlede was. Ons het ten minste een dag per week dieselfde pad gery na werk om die aand by sy ouers te gaan eet en brug speel. Ons sou dan daar oorslaap en die volgende oggend vroeg terugry om 08h00 weer op kantoor te kon wees.

Die heel eerste keer wat ons so saamry, sien ek die langkuifarend oppad, baie naby en sigbaar en ek bars uit in opgewondenheid. Daar kom ek agter dat Vlooi gedink het mens kry arende en ander voëls – ‘n arend is ‘n arend. Ek is self nie ‘n ernstige voëlkyker nie, maar as ek ‘n voëltjie kry wat skaars is of wat ek nog nie gesien het nie raak ek tog opgewonde. Wel, om ‘n lang storie kort te maak, Vlooi en ek het al die arende met langer kuiwe bespreek, bekyk en vergelyk en het die langkuifarend nog ‘n paar keer op die pad gesoek en gekry. Baie soos ander paartjies ‘n liedjie het wat “hulle” liedjie word, het ons “ons” arend gehad. En nog steeds, amper ‘n jaar later, as ek die pad ry kyk ek gretig of “ons” arend nie iewers te bespeur is nie.

Ons het ook ‘n i-tunes speellys gehad vir die oggend vroeg as ons terug ry. Die spesifieke lys was ‘n mengsel van ons albei se gunsteling liedjies wat opgewerk en energiek van geaardheid is. So het ons ander speellyste oor die tyd opgebou – goue oues, ‘n brug speel speellys vir saam met Vlooi se ouers en ‘n ander brug speellys vir brug saam met my dogter en haar metgesel. Ons het ‘n lang wildtuin speellys gehad, ‘n partytjie speellys en ‘n dansmusiek speellys. Elke keer wat ek musiek speel, want dit is hoe mens vandag musiek speel, met selfone en usb, nie meer met CD’s of plate nie, kom al sy en ons gunstelinge op en die heimwee ook.

Ek mis dit om te dans. Ek onthou met een troue waar ons was, wat die DJ na die tyd vir die bruidegom gesê het dat hy nog nooit ‘n paartjie gesien het wat 18 liedjies namekaar gedans het sonder om ‘n dans uit te sit nie. Ons twee het so lekker gedans, en as die nuwe liedjie begin mekaar gelyk in die oë gekyk en gedink: nee, ons sal ook nie hierdie een kan uitsit nie! Dit was so duidelik dat ons nie maklik uitsit nie dat hy begin tel het en ons rekord was 18 danse sonder stop. Kyk hoe blinkgesweet is ons gesiggies op die foto!

‘n Interessante ding wat ek by Vlooi geleer het is hoeveel mense bymekaar leer en aanpas in ‘n verhouding. Vlooi se pa het dikwels die uitdrukking gebruik: “Jy sien!” Deesdae vang ek myself dikwels dat ek by myself dink: “Jy sien!” Ek het vir Vlooi geleer om verskillende voëls te identifiseer, die verskeidenhied van die verskillende roetes in die KNP, om meer en meer gereeld raketsporte te speel en om nuwe smake, geure en resepte te probeer en geniet. Hy het my geleer om bergfiets te ry, om die Rubix cube te fix, om meer te speel in alle opsigte in my lewe en om te geo-cash.

Geo-cash is ‘n skattejag vir grootmense. Dit is ‘n buitemuurse avontuur aktiwiteit waar deelnemers GPS gebruik om te soek vir werklike skatte in houers wat letterlik reg oor die hele wêreld geplaas is. Die grootste skat wat ons gekry het was ‘n 2 liter roomyshouer. Binne in is daar gewoonlik ‘n dokument waarop mens jou naam kan skryf as bewys dat jy daar was en ook ‘n paar “trinkets” of geskenkies wat mens kan uitruil. Voorbeelde sal wees sleutelhouers, boekmerke, albasters, munte en selfs ‘n helderpienk bra wat ons in een houer gevind het! Die kleinste een wat ons gekry het was ‘n nano-cash kleiner as ‘n pinkienael wat net ‘n repie opgerolde papier in gehad het vir deelnemers om voorletters op te skryf. Sommige skatte is in bome weggesteek, ander onder ‘n klip, ander in gebou strukture en heelwat in houers wat met magnete aan ‘n paal of heinings vas is. Ek het die toep (Afrikaans vir App) op my foon afgelaai en waarookal ons sou gaan of ry was ons op die uitkyk vir ‘n versteekte skat. Ek ry nog dikwels verby die plekke waar ons skatte gevind het. Die heel eerste skat wat ons saam gekry het is onder die houtstruktuur van die pannekoekrestaurant wat reg by die dorpie Haenertsburg se afdraai is. Ek het seker sedert Vlooi se dood alweer 100 keer daar verby gegaan. Hy het ons “username” op die toep gekies; Hannibies. Hy het so lief geword vir my Hannibi skaaphond en sy was 90% van die tyd saam met ons op ons skattejagte. Daar was ‘n geo-cash wêreldbyeenkoms in Haenertsburg en Makgoebaskloof omgewing in 2007 en daar is baie “skatte” in die pragtige omgewing geplaas. Dit was vir ons so lekker om ‘n piekniek te pak, Hannibi in te laai en vir die dag in die bos te verdwyn.

Dit is bitter swaar om iemand so na aan my te moes verloor, maar ek is baie dankbaar vir mooi herinneringe van ons saamwees.

Liefde is ‘n werkwoord – selfliefde ook!

Op ‘n maand na is dit nou ‘n jaar na Vlooi se selfdood. Daar is steeds dinge wat daagliks oor my pad kom en my aan hom herinner: Kleure, smake en tot die reuk van my vars oggend koffie laat my wonder of hy by die kombuis gaan inbars met: “Magtig dit ruik darem alte lekker hier!”

Deur die jare wat ek die Al-Anon[1] program volg, het meer as een persoon wat ek daarvan vertel het, gevoel dat die alkoholis / verslaafde in hulle lewe hulp nodig het – nie die res van die gesin of familie nie. Baie mense wie se lewens aangeraak word deur verslawing of alkoholisme wil nie met iemand daaroor praat nie, meer daaroor lees nie en defnitief nie by ‘n ondersteuningsprogram aansluit nie want hulle het nie ‘n probleem nie, die verslaafde het. Mense vra my ook soms waarom ek nog steeds soveel tyd en energie aan my program en beterskap spandeer. My dogter is reeds baie jare skoon en het ‘n goeie werk en my alhoholiese lewensmaat is nie meer met my nie. Ek persoonlik voel egter dat ek deur baie jare lewenspatrone aangeleer het om net te kon heel anderkant uitkom. Hierdie patrone en gewoontes het nie altyd die beste in my na vore gebring nie, eerder die teendeel. Ongeag wat my geskiedenis en omstandighede was, ek wil ook ten volle lewe en nie net van dag tot dag probeer oorleef nie.

Ek is dankbaar dat ek dit regkry om vol te hou met my program. Ek het al bietjie meer van ‘n roetine – oggend meditasie en leeswerk, aandmeditasie, daagliks skryf in my dankbaarheidsjoernaal, asemhaal, rustiger wees en veral geduldiger wees met myself. Ek woon steeds aanlyn Al-Anon meetings by, kommunikeer met my Al-Anon Sponsor[2] en ek praat een maal per week met my sielkundige. Ek moet erken dat my aandroetine nie so konstant was hierdie week nie, maar ek is baie dankbaar om te kan rapporteer dat ek soveel beter slaap en ‘n hele paar oggende lekker vroeg kon wakker word, maar heeltemal uitgerus gevoel het.

Navorsing[3] is al gepubliseer dat ‘n roetine van dankbaarheid, depressie teëwerk. Ongelooflik dat iets so eenvoudig as om op te let waarvoor ‘n mens dankbaar is ‘n verskil kan maak! My eie ervaring is dat ek defnitief deur elke dag meer oplettend is. Vanoggend staan ek voor die kombuisvenster en wag vir die ketel om te kook. In die boom voor die venster is ‘n goeie verskeidenheid voëltjies wat hop en sing en vere regskud. Voorheen kon so iets maklik by my verby gaan. Omdat ek dinge wat vir my siel goed is nou neerskryf besef ek dat dit iets is wat ek geniet – om te kyk na die verskillende voëls wat in my tuin is, dat ek dit nie kan beheer nie en regtig net kan dankbaar wees en dit geniet. Dit is net ‘n bietjie onverdiende genade wat voor my afspeel vir ‘n spesiale bederfie – hoe lekker.

Die afgelope Sondag het ek vir die eerste keer in vier jaar my verjaarsdag gevier sonder Vlooi. Groot en spesiale dae is dikwels maar moeilik. Ek het egter vooraf besluit dat Sondag oor my gaan, nie oor my hartseer of probleme nie. Ek het byna almal wat ek ken genooi en almal het die uitnodiging aanvaar. Almal wat kom saamkuier het, het iets bygedra en ons het ‘n heerlike en spesiale fees gehad. Ons het sommer tot laat gekuier en gesels. Ek het werklik die hele liewe dag nie een traan gehuil nie. Wat ‘n klein wonderwerkie! Dit was net heerlik om omring te wees van almal wat naby is en wat vir my lief en spesiaal is. Ek het weereens besef watter ongelooflike spesiale vriende en familie ek in my lewe het. Nog onverdiende genade.

My kleinsus het my vertel van die digter Mary Oliver. Sy eggo my sentimente oor die belangrike dinge in die lewe nogal in haar werk. Ek wil afsluit met een van haar gedigte wat vir my saamvat waarom ek sal aanhou werk en moeite doen om myself te help om die beste lewe te kan lei en elke dag ten volle teenwoordig en dankbaar te kan wees.

“The Journey

One day you finally knew what you had to do, and began,
though the voices around you kept shouting
their bad advice —
though the whole house began to tremble
and you felt the old tug at your ankles.
“Mend my life!” each voice cried.
But you didn’t stop.


You knew what you had to do, though the wind pried
with its stiff fingers at the very foundations,
though their melancholy was terrible.
It was already late enough, and a wild night,
and the road full of fallen branches and stones.


But little by little, as you left their voices behind,
the stars began to burn through the sheets of clouds,
and there was a new voice which you slowly
recognized as your own,
that kept you company as you strode deeper and deeper
into the world,
determined to do the only thing you could do —
determined to save the only life you could save.”


― Mary Oliver


[1] Because alcoholism affects the whole family, almost anyone can seek solace within an Al‑Anon Family Group meeting. Alcoholics Anonymous exists for the drinker when they are ready to seek help. Sharing a home with a problem drinker or addicted person affects everyone in a different way. Al-Anon meetings are a safe place where you as a son, daughter, wife, husband, partner, mother or father of a drinker or addict can come together and talk about your own concerns and feelings. If you don’t feel able or willing to talk, that’s OK too. https://www.alanon.org.za

[2] ‘n Sponsor is ‘n persoon wat al langer deel van die program is en bereid is om die spirituele gids te wees in iemand anders se tog om heel te word en ten volle te lewe.

[3] Thanks!: How Practicing Gratitude Can Make You Happier, 2008 by Robert Emmons, Harper One Publishers New York.

Opdraandes

Die laaste drie weke was net opdraande. Een van daardie laaaaaaang en steil opdraandes waar mens dink die einde gaan nooit opduik nie. Hier in my omgewing het ek al ‘n paar sulke opdraandes gestap of met my bergfiets aangepak. Ek het ook al een maal net opgegee, afgeklim en my fiets gestoot tot bo.

Ek voel so erg op-en-af in my gemoed. Ek werk hard om te probeer beter word – woon AL-Anon vergaderings en byeenkomste by, mediteer en bid, lees opboudende materiaal, hou ‘n dankbaarheidsjoernaal, drink my pille en sien my sielkundige nou weekliks. Ek werk ongelukkig net so hard daaraan om my goeie bedoelings in die wiele te ry – kry geen oefening nie, eet bitter ongebalanseerd, onttrek en isoleer myself, slaap te veel of te min en stel verantwoordelikhede uit, wat ek besef my lewe gaan kompliseer.

Vanoggend oppad werk toe kon ek nie help om te wonder of dit nie maar makliker is om op te gee nie. Daar is dae wat ek net nie kan onthou waarom ek nog probeer nie. Vir nou kan ek maar net fokus op wat ek weet.

Uit eie ondervinding het ek geleer dat sulke opdraandes meestal die ongelooflikste uitsigte het, dat elke opdraende ‘n afdraende het en andersom en dat die heel koudste deel van die dag is net voordat die son opkom.

Emosionele afstand – selfs al is dit op papier.

Alkoholisme en verslawing is reeds dekades lank deur die World Health Organisation as ‘n geestesongesteldheid geklasifiseer. Dit is onder andere ook die rede waarom mediese fonds ook voordele het vir rehabilitasie behandeling vir alkoholisme en verslawing. Wat nie so dikwels aan die groot klok gehang word nie, is dat die alkoholisme van een persoon ook die lewens en geestesingesteldheid van tot 16 ander persone kan beïnvloed.

Waar mense fisies of psigies swaarkry, ontwikkel ons maniere om daardeur te kom – die sogenaamde “coping meganismes.” Dit word al jare lank bevind (en in wetenskaplike en mediese navorsing gepubliseer) dat persone na aan alkoholiste ook sulke vaardigehede aanleer. Die geliefde van die alkoholis word ook geestelik siek en wend hierdie “coping skills” aan ten einde die fisiese, finansiële en geestelike effekte van die lewe saam met iemand ander se alkoholisme te kan oorleef. Volgens navorsing is hierdie vaardighede beide probleem- gerig, maar ook sielkundig waar geliefdes poog om die spanning wat veroorsaak word, te probeer bemeester, reguleer, verduur of verminder. Navorsing toon dat spanning ‘n omonwonde deel van die lewe van die geliefdes van die alkoholis word – interessant ongeag of die alkoholis nog drink of nie en selfs ongeag of die alkoholis nog lewe of nie. Persone wat byvoorbeeld ‘n ouer gehad het wat ‘n alkoholis was het nog steeds en baie dikwels jare na die ouer oorlede is probleme met:

  • Hulle word “people pleasers” en verloor hulself maklik in hulle pogings om almal om hulle gelukkig te hou.
  • Hulle word self alkoholiste, verslaafdes, werkverslaafdes of ontwikkel ander kompulsiewe probleme.
  • Hulle probeer konflik ten alle kostes vermy.
  • Hulle het ‘n oordrewe sin vir verantwoordelikheid en vind dit makliker om na ander om te sien as na hulself. Hulle probeer dikwels ander persone red, reguleer or beheer – of so persoon gered wil word of nie.
  • Hulle skakel dikwels alle emosionele reaksie uit hulle lewe en verloor die vermoë om hulle eie emosionele gevoelens op ‘n gesonde manier uit te druk.
  • Hulle is bitter krities op hulself en het ‘n baie lae selfbeeld.

Wel daar is ‘n lang lys – Google gerus die ACA Laundry List as jy meer wil weet.

Ek weet uit eie ondervinding dat alle persone wat saam met enige vorm van verslawing lewe op bewustelike of onbewustelike wyses poog om hulle lewens op koers te hou in die storm wat om hulle woed. Hierdie metodes kan bykans altyd uitloop op die aftakeling van die selfbeeld van die nie-alkoholis. Dit is dan presies vir hierdie rede dat die vrou van die alkoholis, Bill W, wat destyds die AA begin het ook ‘n organisasie begin het vir die geliefdes en familie van die alkoholis wat Al-Anon heet.

Al-Anon kan nie my omstandigehede of verlede verander nie, maar leer my eenvoudige prakiese vaardighede om te verander hoe ek oor myself, my omstandighede en die alkoholis voel. Die program gee my die hoop dat, waar ek eens my lewe as ‘n donker en bitter oorlewingstryd ervaar het, ek weer opgewonde kan voel oor my eie lewe. Ook dat ongeag hoe desperaat ek voel daar steeds rede vir my kan wees om te hoop.

Ek besef terdeë dat alkoholisme nie onderskei nie – dit tref ryk, arm, geleerd, eenvoudig, jonk of oud ewe maklik. Wanneer ek tog dit regkry om my eie vooroordele opsy te stoot, openhartig na ander se insette en ervarings kan luister, kan ek probeer om ook uit ander se ervarings te leer. Waar ek eers desperaat en alleen in my stryd gevoel het, kan ek saam met mede Al-Anon lede iets vermag wat ek eens geglo het onmoontlik was – om die vernietigende afbrekende effek van verslawing te oorkom en te leer om weer my eie lewe weer ten volle te lewe. Ja, ek het ook deur die program geleer dat ek my eie foute en probleme het en dat ek ongesonde maniere aangeleer het om met die fisiese en emosionele situasies te kon deel. Nie elke slegte dag of ramp wat my tref kan ek voor die deur van ander neerlê nie. My eie aksies en besluite het ook gevolge in my lewe.

Ek het baie jare saam met geliefdes gelewe wat verslaaf was – oor hierdie tyd het daar ook heelwat selfvernietigende gewoontes in my ontwikkel en in die Al-Anon program kry ek die nodige gereedskap om hierdie gewoontes te identifiseer en uit die weg te ruim. So om op te som, verslawing is ‘n geestessiekte wat lei tot die fisiese, geestelike en sielkundige bankkrotskap van persone wat ly aan die siekte maar ook van die mense wat vir hulle lief is. Dit is ‘n ongeneeslike siekte en tot vandag is daar nie enige erkende behaldeling wat die siekte genees nie. Die verslaafde kan wel, as hy of sy gereed en gewillig is, die siekte se effek op hulle lewens staak deur die 12 Stap program of ander erkende behandelingsprogramme. My eie reaksies teenoor hierdie siekte was egter ook onredelik maar ook ek kan weer leer om ‘n beter vlak van vrede en genesing in my eie lewe te vind ongeag wat die roete is wat my verslaafde geliefdes gekies het.

Ek het 8 jaar gelede by die AL-Anon program aangesluit. Ek het my kant gebring en die werk gedoen wat ek glo nodig was vir ‘n beter lewe vir myself. Ongeag die besluite van my eerste man (wat ‘n alkoholis was) en my dogter (wat verslaaf was aan heroïne en drank) kon ek daarin slaag om weer te hoop en ten volle te lewe. Selfs toe Vlooi deel van  my lewe geword het, kon ek nog glo in die hoop van die 12 stap program. Toe hy besluit het om sonder waarskuwing uit die lewe te stap het dit my eie welstand op die randjie van die afgrond van wanhoop laat steier. Stadig, een dag op ‘n slag, het ek weer my balans begin terug kry. Behalwe vir die boedel. Vlooi het my benoem as die eksekuteur van sy boedel. Sy boedel is insolvent en bitter moeilik omdat sy eie beplanning en administrasie in ‘n onverstaanbare doolhof verval het as gevolg van sy geestesongesteldheid.

Presies net soos die woorde en dade van my verslaafde geliefdes aanvanklik my emosionele knoppies kon druk, besef ek gister dat die administrasie van hierdie boedel presies dieselfde doen. Ek het ‘n professionele kwalifikasie om boedels te doen – ek weet presies wat om te doen en ken die reëls op die palm van my hand – maar ek voel so emosioneel verpletter wanneer ek met die boedeladministrasie te doene het. Elke e-pos, eis of nuwe inligting wat ek ontvang ontstel my – soms sien ek ‘n boodskap gaan oor die boedel maar ek vermy dit want ek is bang om uit te vind waaroor dit gaan. Ek voel in die donker, teleurgesteld, skaam en terselfdertyd woedend oor die stand waarin Vlooi (wat ook ‘n professionele gekwalifiseerde persoon was) sy eie sake gelaat het wetende dat ek die kole uit die vuur sal moet krap.  Ek dink ook nie dat dit gebeur omdat ek doelbewus oor die probleme dink of die bobbejane van agter die berg aanjaag nie – dit gebeur basies outomaties, sonder dat ek daaroor dink. Hierdie reaksies en oor-reaksies in ook maar deel van die trouma wat in my selle agterbly en wat tyd en werk gaan neem om op te los.

Ja ek kan bedank as eksekuteur – dit is ook nie slawerny nie. Ek het ook lank hieroor gewonder, maar ek wil dit tog doen want dit sal die mense wat agterbly baie help en ek het wel die vaardigheid en tyd om dit te doen. So daar leer ek toe ook weer hierdie week iets nuuts – net soos wat ek emosionele afstand moes kry tussen my eie lewe en die van my verslaafde geliefdes sal ek emosionele afstand moet kry tussen myself en hierdie proses om die boedel af te handel. Ek moet eenvoudig een dag op ‘n slag vat, deur die lysies van stappe, moets en moenies gaan en deur hierdie oerwoud kom. Wanneer iets onverwags in my gesig geswaai word, moet ek terugstaan en dit nie as ‘n persoonlik aanval ervaar nie. Nee, dit gaan nie maklik wees nie maar as ek dit nie doen nie gaan dit onmoontlik wees vir my om heel anderkant uit te kom.

Dalk is die ideaal om ‘n “growndown” te wees.

Ek besef dat ‘n groot deel van my genesing hang af van my eerlikheid met myself. Dit klink dalk eienaardig – mens kan tog nie vir jouself lieg nie?! Tog, het ek, wanneer ek swaarkry sekere gewoontes en maniere aangeleer. Ten einde beter te kan funksioneer of party moeilike dae net te oorleef, gebeur dit tog dat ek my eie leuens glo. Baie dae is daar nie genoeg van die luukse van tyd om werklik aan my selfsorg die aandag te gee wat nodig is nie.

Dit is nou 10 maande na Vlooi se selfdood en ek is verbaas hoe erg ek nou verlang. Ek is bevrees dat ek gaan vergeet hoe hy geruik het. Hoe sy stem klink as dit net ons is en hy sag en rustig iets met my bespreek. Hoe hy my naam gesê het. Ek het deur baie stemboodskappe op my selfoon geluister maar nie een klink vir my presies soos hy dit in persoon gesê het nie. As my Hannabi skaaphond verby my loop onthou ek dat hy nooit vir haar Hannabi genoem het nie – altyd Hannabi’tjie. Gister sien ek ‘n diep oranje puffer-baadjie in ‘n winkel en dink dadelik hoe lief hy daarvoor was om helder kleure, maar veral oranje te dra. Iets wat ek ook nog elke dag mis is hoeveel ons gespeel het. Ek het dit nie regtig van myself besef voordat ek vir Vlooi ontmoet het nie, maar ek is mal oor speel – balspeletjies, rakketspeletjies, bordspeletjies en kaartspeletjies. Ons het sommer maklik ‘n werkbreuk gevat en ‘n rondte veerpyltjies gespeel, croquet in die agterplaas of as ons met vakansie was die hele dag lank kaart- en bordspeletjies gespeel.

Hannabi’tjie hou ‘n ogie oor ons terwyl ons in ‘n bergpoel speel.

Die afgelope AA en Al-Anon Nasionale kongress se tema was: “We are not a glum lot.” Uit my persoonlike ondervinding werklik ‘n raak beskrywing van die organisasies se lede. Die een spreker verwys na die aard van ‘n spelerige jong perdjie of hondjie voordat hulle ingebreek is en net uit hulle velle opgewonde is en heeldag speel en huppel. Sy het in die harde en hartseer dae van haar man se alkoholisme gevoel dat haar gees gebreek was – soos iemand wat ‘n perd hard inbreek as die perd daarteen probeer veg. Sy het haarself en haar familie vergelyk met ander en het altyd sleg tweede gekom in haar eie kop. Maar sy vertel ook dat sy genesing gevind het. Haar genesing het begin toe sy opgehou het om teen die god van ander se begrip te baklei en te vertrou in ‘n liefdevolle God van haar eie begrip – die enigste manier hoe sy haarself kon genees en heel maak totdat sy weer die lus gehad het om sommer net te vier dat sy lewe, in die gras wil huppel of rol en haar innerlike kinderlike gees wat nuuskierig is, spelerig is en uitbundig is, elke dag kan uitlewe.

Later vertel die seremoniemeester van die sessie ‘n staaltjie wat met hom en sy kleindogter gebeur het. Hy, die oupa, en sy sit en ontbyt eet in die boomhuis wat hy vir haar gebou het. Hy het koffie met beskuit en sy eet roomys met sjokoladesous vir ontbyt. So tussen die happe sê sy: “Oupa ek is baie lief vir jou. ”  Hy antwoord toe ja, dit is omdat ek jou toelaat om roomys vir ontbyt te eet. Maar sy meen nee, dit is nie die eintlike rede nie en voeg by: “Jy is anders as ander grootmense.” Hy vra haar toe hoe sy dink hy anders is en na ‘n lang stilte kom sy tot die slotsom in Engels: “You are more of a growndown than a grownup.”

Ek kan daarmee identifiseer, my eie oupa was ook ‘n alkoholis in die AA progam. Dit was vir my net so lekker om saam met hom te kyk hoeveel verskillende veldblommetjies ons kan tel, vir die bergskilpad sy eie groentetuin aan te lê naby die beessuiping waar hy graag gaan drink, met ons blikbekertjies warm skuimende melk in die melkstalle proe en ons verwonder aan die vlieswolke in die lug waar die engeltjies (volgens oupa) alweer nie mooi gevee het in die hemel nie.

Ek sien nog vir Vlooi oral raak en ek verlang nog elke dag. Ek lieg vir myself as ek dink ek gaan hierdie pakkie maklik of vinnig neersit en aanbeweeg. Ek wil dit natuurlik doen. Ek wil nie in hierdie groef vangevang bly nie maar dit is moeilik. Dit vat tyd. Dit vat werk – wat ek bereid is om te doen en wel soveel doen as wat ek kan regkry. Ek glo ek gaan ook al die herinneringe van hom kan koester van alles wat ons saam beleef het en saam geleef het in oorvloed. Soos wat ek vandag met ‘n glimlag my oupa kan onthou. Totdat ek ook weer my innerlike kinderlike gees ten volle kan uitleef en net wees soos wat die liefdevolle en genadige God van my eie begrip vir my bedoel het om te lewe.