Die naweek bietjie nuwe goedjies gekry. Hopelik die moeite werd.
The Dirty Projectors – Bitte Orca
Yeah Yeah Yeahs – It’s Blitz!
Fuck Buttons – Tarot Sport
Titus Andronicus – The Monitor
Spoon – Kill the Moonlight White Rabbits – It’s Frightening
(Jammer dat ek politiek praat, dis glad nie my styl nie. Maar hierdie is ‘n uitsondering.)
Julius Malema sing “Kill the farmer, kill the boer” herhaaldelik. Die ANC belet hom om dit te doen, maar hy gaan voort daarmee. Dozi verklaar by die KKNK dat Malema hom soos ‘n kaffer gedra. Steve Hofmeyr beaam dit. Eugene Terreblanche word vermoor, sy gesig fyngekap en gelos met ‘n dolk in sy bors en sy broek om sy enkels. En vir die eerste keer ooit is ek bang om in Suid-Afrika te wees.
Ek is nie iemand wat pessimisties oor Suid-Afrika is nie. Inteendeel, ek beplan om die grootste gedeelte van my lewe hier te spandeer. Maar op die oomblik is die voortbestaan van ons land op ‘n mespunt. ‘n Panga, ‘n jagmes, hoe jy dit ook al sien.
Ons het hard probeer om die Reënboognasie ‘n werklikheid te maak, en ons het grotendeels geslaag. Maar kom ons wees eerlik: onder die oppervlak skuil daar steeds ‘n onderliggende rassisme, selfs rassehaat. Dis onafwendbaar – diep wonde genees nooit heeltemal nie. Albei kante van die spektrum maak hulself hieraan skuldig, en tot dusver kon dit nog onder die oppervlak gehou word, maar dit lyk asof die pot nou begin oorkook.
Malema en sy aanhangers probeer hul bes om die briesende verregse Afrikaners uit te tart. Die Boere is beneuk, met rede, en een ondeurdagte besluit kan ‘n burgeroorlog veroorsaak. Letterlik. Dis nie net bangmaakpraatjies nie; dis die realiteit. Indien ‘n sluipmoordaanval nou op Malema uitgevoer moes word, kan ons maar die toekoms van ons land op ons mae skryf.
Die probleem is dat die betrokke partye nie rasioneel dink nie. Die swartes wat “Kill the Farmer” luidkeels sing, dink nie oor die implikasies daarvan nie. Dit is moontlik dat Malema die wit Afrikaanssprekendes probeer ophits om hul tot geweld te vergryp. Dit sal ‘n burgeroorlog veroorsaak en dan sal Malema uiteindelik met rede kan sê dat hy deel was van ‘n “revolution”. Aan die ander kant is daar wit boere wat nie sal skroom nie om swart werkers op hul plase aan te rande uit opgekropte frustrasie, woede en angs. Boere wat met trots ‘n Wit vs Swart oorlog sal binnegaan.
Dis natuurlik altyd belangrik om dinge in perspektief te plaas. Julius Malema en sy aanhangers wat “Kill the Boer” sing, is nie verteenwoordigend van die swart Suid-Afrikaanse bevolking nie. Net so is diegene wat Vierkleur- en Ou Suid-Afrikaanse vlae hys, nie verteenwoordigend van die wit Afrikaanssprekende bevolking nie. Maar hierdie verregses en verlinkses trek die res van die land in hul (tot dusver) stil oorlog in. Die media en die res van die land het ‘n groot verpligting om nie meegesleur te raak deur hierdie radikale groepe nie.
Die enigste oplossing is dat president Zuma doen wat hy nog nie in sy termyn kon vermag nie: standpunt inneem. 2010 is ‘n te belangrike jaar vir Suid-Afrika dat dit deur kortsigtige minderheidsgroepe in die wiele gery word. Kom ons hoop vir die beste.

Die Facebook-blad het gesê die gig begin 20:00. Daarom het ek en vriende vroeg gegaan, want “plek is beperk”. Francois van Coke en Pierre Greeff, twee van die groot helde in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, het hul acoustic set van Fokofpolisiekar-, Heuwles Fantasties-, Lukraaketaar- en Van Coke Kartel-liedjies inderwaarheid eers om 22:30 afgeskop. Dit het my egter nie die minste gepla nie, want Aandklas is een van die geselligste kuierplekke op Stellenbosch en tyd daar spandeer is time well spent.
Ek het beide Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties ‘n week tevore in ‘n skare van derduisende mense beleef. Hierdie was egter in sterk kontras: Geen moshpit, geen dwelmdronk, sweterige lywe en geen maniese aanhangers wat uit die skare begelei moet word nie. Net ‘n handjievol mense wat met ‘n drankie in die hand sit of staan en toelaat dat intieme en hartroerende musiek oor hulle spoel.
Dit het amper gevoel asof ‘n mens Francois en Pierre persoonlik ken en hulle ‘n klein show vir ‘n paar vriende speel. Asof elke liedjie aan jou opgedra word.
Die twee, wat bygestaan is deur Fred van Thieve (en vroeër Die Helde), het afgeskop met ‘n paar Lukraaketaar-nommertjies. Pierre het dit goed opgesom: “It’s been a while.” Dit was heerlik om saam te sing op daai vergete akoestise band wat ons almal so opgewonde gemaak het in ons skooldae. Die Lukraaketaar-liedjies het gedagtes van jonkwees en vergete herinneringe opgeroep.
‘n Hoogtepunt was beslis Francois se cover van Koos du Plessis se “Skadu’s teen die Muur”. Ek is ‘n groot aanhanger van wyle Du Plessis, maar ‘n mens kon sien meeste mense onthou die liedjie net vaagweg vanuit hul pa’s se musiekversamelings. Die aweregse snit het perfek by die set ingepas en ek sien uit om dit op Van Coke Kartel se nuwe CD, Skop, Skiet en Donner, te hoor.
Dit was veral interessant om die akoestiese weergawes van Die Heuwels Fantasties se elektroniese musiek te hoor. Veral “Oorlewing 101” was indrukwekkend en almal het natuurlik oudergewoonte saamgesing op “Pille vir Kersfees”.
Daar was geen beter manier om die aand af te sluit nie as met die liedjies wat ons al soveel keer uit volle bors saamgesing het op die maat van Johnny se elktriese kitaar en Snake se kragtige dromme. “Ek Skyn (Heilig)” en “Hemel op die platteland” se akoestiese weergawes is net so sterk en meesleurend en die gehoor het net so hard saamgesing.
Die gig is verby en ek weet het iets groots beleef. Nie groot en skouspelagtig soos Ramfest nie, maar groots op die intiemste denkbare manier: Saam met my vriende en my helde.
Ja ja, nog ‘n best of-lys, ek weet. Maar myne is beter!
Net gedink ek kan my blog bietjie lewe gee deur my gunsteling albums van die afgelope dekade te lys. Lewer gerus kommentaar as iets jou pla of jy saamstem met sekere albums. Ek sal dalk nog op ‘n latere stadium kommentaar oor elke CD byvoeg.

50. Where you want to be, Taking Back Sunday

49. I love your glasses, Russian Red

48. Die Heuwels Fantasties, Die Heuwels Fantasties

47. The Light Divides, Winterpills

46. No More Stories are Told…, Mew

45. Start Something, Lostprophets

44. Neon Bible, Arcade Fire

43. Antics, Interpol

42. Sleeping with Ghosts, Placebo

41. Hold on now, Youngster…, Los Campesinos!

40. Aha Shake Heartbreak, Kings of Leon
![]()
39. Sovereign Academy Horse Power, Kidofdoom

38. Texas, Playradioplay!

37. Hot Fuss, The Killers

36. Collected Memories, Zebra & Giraffe

35. The Colour of Snow, Polarkreis 18

34. Bleed American, Jimmy Eat World

33. Skeleton Jar, Youth Group

32. X&Y, Coldplay

31. Meds, Placebo

30. Monoloog in Stereo, Fokofpolisiekar

29. The Earth is not a Cold Dead Place, Explosions in the Sky

28. Before the Dawn Heals Us, M83

27. Transatlanticism, Death Cab for Cutie

26. Union, The Boxer Rebellion

25. Saturdays = Youth, M83

24. Because of the Times, Kings of Leon

23. An End Has a Start, Editors

22. I want you to know that there is always hope, I Was a Cub Scout

21. The Pains of Being Pure at Heart, The Pains of Being Pure at Heart

20. Life Like, The Rosebuds

19. Hospice, The Antlers

18. The Back Room, Editors

17. Everything All the Time, Band of Horses

16. ( ), Sigur Ros

15. Plans, Death Cab for Cutie

14. As Jy Met Vuur Speel Sal Jy Brand, Fokofpolisiekar

13. Silent Alarm, Bloc Party

12. OK Computer, Radiohead

11. XX, The XX

10. For Emma, Forever Ago, Bon Iver

9. Wolfgang Amadeus Phoenix, Phoenix

8. Alligator, The National

7. Codes and Secret Longings, Raised by Swans

6. The Midnight Organ Fight, Frightened Rabbit

5. Give Up, The Postal Service

4. Turn On the Bright Lights, Interpol

3. Swanesang, Fokofpolisiekar

2. Funeral, Arcade Fire

1. Boxer, The National
So ja, dis dit. Baie geluk aan The National… Sê maar iets as jy wil. Wat? Radiohead is die beste band in die wêreld? Coldplay? Jammer, ek kon nie lekker hoor nie.
ek moet weer skryf.

Gestel Jacob Zuma is skuldig.
Sê nou maar Helen Zille se versoek dat die Nasionale Vervolgingsgesag hul ondersoek moet voortsit, is suksesvol en ’n hof bevind Zuma skuldig aan bedrog, geldwassery en belastingontduiking. Wat sal mense se reaksie wees?
Sal mense bly wees? Dit sou immers beteken reg en regverdigheid het geseëvier. Dit sal ’n reuse-sukses vir ons wankelende regstelsel wees. Dit sal beteken dat ons howe nie meer swoeg onder politieke druk nie, dat hulle bereid is om selfs die land se president se saak objektief en onpartydig te beoordeel.
Tot ’n sekere mate sal mense dalk trots kan herwin in die res van die wêreld se oë. Die Britse media het immers reeds besluit Suid-Afrika is gedoem onder Zuma se bewind. Die res van die wêreld gun hom nie veel meer nie.
Of sal mense geskok wees? Dat Madiba se ideale nou tot dít gekom het: ’n staatspresident wat ’n skelm is. Dat bedrog en korrupsie so algemeen
geraak het dat ons eie leier homself daaraan skuldig maak en vir jare lank verkondig dat hy nooit enige misdaad gepleeg het nie. Suid-Afrika sal weer die slaansak van die wêreld word: Die Afrikalandjie wat so hard probeer het om ’n demokrasie te laat werk, maar dit net nie kon regkry nie. Ons sal weer van voor af moet begin, en dit gaan baie lank duur voor ons weer met die res van die wêreld kan saampraat oor politiek.
Maar gestel Zuma is onskuldig.
Sal mense nie dan dalk méér geskok wees nie? Is daar nie ’n groep mense wat dalk wil hê hierdie dansende ANC-leier met die baie vroue móét skuldig wees nie?
Hierdie swart man met die brilletjie en die stortkop waaraan mense al so gewoond geraak het. Is daar nie ’n drang in elkeen van ons om ’n sondebok te probeer uitsoek vir hierdie blykbaar mislukte droom wat ons die “Nuwe Suid-Afrika” noem nie? Die Afrika-renaissance wat toe nooit gebeur het nie, of wat bloot ’n term was wat Thabo Mbeki se toespraakskrywer uitgedink het, maar nooit ingedink het nie. Of sal daar tog ’n sug van verligting geslaak word?
Dit sou seker nie verkeerd wees om Zuma vroegtydig op die brandstapel te gooi nie. Alles tel teen hom, en hy het al uitlatings gemaak wat
menige tannie in haar tee laat stik het.
Tog moet ons versigtig wees om te vinnig te oordeel. Die vorige bedeling het beslis ook sy foute en omstrede leiers gehad, en om ’n diverse
land soos Suid-Afrika te regeer en almal gelukkig te hou, is nie kinderspeletjies nie.
Kom ons kyk maar wat die Hoë Hof se bevinding is oor Zille se aansoek om die saak teen Zuma te laat herleef. Dalk kan dit ’n bietjie lig werp op hierdie onsamehangende episode van die ANC-sepie. In ieder geval moet ons maar onsself solank regmaak vir ’n president wat met skrapse luiperdvelletjies tussen ander politieke leiers op die wêreldverhoog gaan ronddans. Ons kan rondstaan, vingers wys en lag; of ons kan saamdans.
“Ek slaap by ’n oop deur in my huis in die middedorp en luister snags verras na die buzz tot vroegoggend. So anders as die besadigde nagte van my Stellenbosse studentedae…” Só vertel Etienne van Heerden, veelbekroonde skrywer wat al die
Hertzogprys ontvang het vir sy roman Toorberg, oor hoe sy lewe verander het sedert hy sy regsgraad in 1977 van die US ontvang het.
Hy sê hy het op vyftienjarige ouderdom begin lewe om te skryf. Hy en sy skoolmaat Koos Kombuis het saam gedigte en liedjies geskryf tydens hul jare in Paul Roos Gimnasium. Daarna het hy vir die Junior Libertas- teaterklub eenakters geskryf
en altyd die rol van die wroegende kunstenaar vertolk. “Casper de Vries was my eerste kabaret se beligtingsman en Antoinette Pienaar van Karoofaam en André Schwartz die minnesanger het ook daarin opgetree. Lekker politieke vuismakery gewees, kabaret in daardie jare.”
Van Heerden was ook redakteur van Die Matie voordat hy sy grad voltooi het. Volgens Van Heerden lewe hy om te skryf, maar skryf hy nie om te lewe nie. Vir brood op die tafel is hy vakgroephoof aan die Universiteit van Kaapstad (in die Skool vir Tale en Letterkundes) waar hy meestal werk met sy MA-studente in Skeppende Skryfwerk.
Hy is ook die stigter-redakteur van LitNet (www.litnet.co.za), wat volgens hom ’n opwindende projek is wat bestaan uit opinies oor enigiets van rockmusiek en politiek tot wyn en flieks. “LitNet is ’n virtuele gemeenskap wat koppig, kwessiegedrewe en betrokke is. Menings is ons kernbesigheid. Om die gemiddeld meer as sestigduisend unieke gebruikers per maand oor al ons platforms heen te bestuur, is ’n avontuur.”
Van Heerden sien homself as hit & run-skrywer. LitNet en sy student neem al sy tyd in beslag. Wat sy kunstenaarskap betref, glo hy in die dekselteorie. “Onder die deksel prut die pot en stoom bou op en wanneer ek in byvoorbeeld Europa is, en gelukkig is om ’n studio te hê, haal ek die deksel af en dan skryf ek heerlik.”
Hy was gelukkig genoeg om só ’n studio te hê tydens die skryf van sy nuutste roman, 30 Nagte in Amsterdam. Hy was in 2007 vir drie reise in Europa. Tydens die tweede een het iets in in sy kop begin vorm aanneem weens die wegwees uit bekende waters. Zan, ’n karakter in die roman, het volgens Van Heerden soos onweer in sy kop uitgeslaan (hy noem dit Zanspeak) en hy kon haar nie uit sy ore kry nie. Toe hy weer ’n keer daardie jaar Amsterdam besoek en ’n studio op die Spui kon kry, was die koeël deur die kerk.
Van Heerden gebruik in baie van sy romans die stadsmilieu as agtergrond en vermeng dit met die tradisionele plaasroman. Sy gunstelingstede is New York, Berlyn, Rome en Parys. “Ongelooflike zones, wat my bloed opjaag en my hare laat rys; dis maar hoe ek op groot stede reageer. So in my romans In stede van die liefde (verskeie stede), 30 nagte in Amsterdam
(Amsterdam) en Casspirs en Campari’s (Kaapstad) het ek stede verken. Wat die plaas as agtergrond betref: Ek kom uit iets soos elf geslagte merinotelers van die Toorberg in die Oos-Kaapse Karoo, so ek werk graag ook met daardie ruimte.”
Oor die rigting wat die Afrikaanse letterkunde in die toekoms gaan invaar, het hy geen idee nie. Elke ontwikkelende skrywer wat voor hom sit, se kop raas volgens Van Heerden op ’n ander manier. Hy sien uit na mense wat kan vreemd maak, wat jou anders kan laat kyk na dinge wat jy gedink het jy reeds deurgekyk het – skryfwerk wat jou aandag gryp en wat inskryf teen die groot dooiegewig van die gewoonte.
En sy eie toekomsplanne? “’n Mens moenie sommer oor brood in die oond of ’n virus in jou hardeskyf praat nie. Ek is besig met navorsing oor die broer van Vincent en Theo van Gogh. Sy naam was Cornelius, hy was in die Boere-oorlog en is op
Brandfort in die Vrystaat begrawe. ’n Onmerkwaardige man, wat my boei.”
Van Heerden gaan ook binnekort in 7de Laan verskyn. Hy verduidelik: “Kyk, ek kom uit die grafosfeer, ’n teksgebonde wêreld van boeke en koerante en afstandelike, verhewe skrywers. Maar ek moet vernuwe en begryp dis ’n nuwe wêreld, hierdie videosfeer. Ek spring dus in en enjoy, sonder om my neus op te trek. In my skryfwerk, egter, sal ek nie toegewings maak nie. Dáár eis ek die aandag van jou oë.”
Etienne van Heerden is bekend daarvoor dat hy nie net aan sy romans individueel aandag gee nie, maar dat hy daadwerklik aan ’n oeuvre werk. Met sy nuutste roman, 30 Nagte in Amsterdam, gebruik hy elemente uit sy vorige boeke, asook nuwe karakters en sketse om homself opnuut as dié hedendaagse romanskrywer in Afrikaans te vestig.
Henk de Melker voer ’n grys, vervelige bestaan as museumassistent in Somerset-Oos in die Karoo. Sy kluisenaarsbestaan sluit hom van die wêreld af en hy doen nooit iets opgewindends of gewaag nie. Hy is die skrywer van dun monografieë oor die lewens van onmerkwaardige mense wie se name in die gewone geskiedenis verlore gegaan het. Mense soos hyself.
Op ’n dag ontvang Henk ’n brief uit Nederland wat hom meedeel dat sy lankverlore tante, Susan de Melker, gesterf het en dat hy haar enigste erfgenaam is. Hy moet egter na Amsterdam reis om sy erfporsie op te eis. Aanvanklik is Henk, die “suutjies-suutjies” mens wat hy is, ongeneë om te gaan. Hy stem egter later in, aangesien hy navorsing wil doen vir sy nuwe monografie oor Cornelius van Gogh, Vincent se onbekende broer wat as lokomotiefbouer in Suid-Afrika gewerk het en in die Boere-oorlog dood is.
Die brief laat hom terugdink aan sy eksentrieke tante, wie hy as jong seuntjie op Graaff-Reinet so gevrees het. Zan, soos wat sy bekendgestaan het, het dikwels epileptiese aanvalle gekry en sou dan in deurmekaar-idiome praat, die Agste Kleur sien en die gevreesde Skuimbolaanvalle beleef. Sy het in haar eie wêreld geleef en sou dae lank in haar kamer vol glasvase deurbring.
Wanneer Henk in Amsterdam arriveer, ondek hy dat sy tante op haar dag een van die grootste divas van die Hollandse teater was en ’n weelderige huis in Amsterdam besit het. Haar advokaat, ene Grotius, lig Henk in dat sy tante se wens was dat hy sy lewe op Somerset-Oos moet opgee en in Amsterdam moet gaan woon. Anders sal die huis aan ’n Luandese straatmusikant oorgedra word.
Gedurende sy 30 nagte in Amsterdam raak Henk meegevoer in ’n lewe van prostitute, sakkerollers en kommuniste. Want Henk ontdek gou dat sy tante deel was van die Sobukwe-sel, ’n anti-apartheidbeweging uit die tagtigerjare. Henk die historikus vind ook tot sy afgryse uit dat sy eie geskiedenis nie is wat hy gedink het nie.
Henk besef mettertyd hy is die Cor van Gogh in sy eie lewensverhaal – die een wat in sy tante se skaduwee wegraak, maar dat hy sy eie plek in die geskiedenis kan en moet oopskryf. Dat hy uit sy dop moet kruip en weer die avonturier van sy kinderdae moet word.
Van Heerden kies die tema van kolonialisme slim. In ’n tyd waar Afrikaanssprekendes op reëlmaat emigreer, span die skrywer die toubrug tussen Suid-Afrika en Nederland op konstruktiewe en speelse wyse. So word die Suid-Afrikaanse geskiedenis van Henk se museum, asook Zan se ouderwetse idiome gebruik om die parallelle tussen Suid-Afrika en sy koloniale grootouer Europa te trek.
30 Nagte in Amsterdam is ’n vermaaklike en boeiende roman deur ’n deurwinterde skrywer. Vergeleke met Van Heerden se vorige, metafiktiewe roman, Asbesmiddag, wat die skrywer se ouevre op sy kop gedraai het, kom 30 Nagte egter ordinêr en onoorspronklik voor. Dis amper asof die boek “te goed” in die raamwerk van ’n roman inpas.
Nietemin is hierdie ’n briljante, vermaaklike en by tye skreeusnaakse boek wat enigiemand terdeë kan geniet.
What a bitch.