Daar was hongersnood in die land. Trotse Vader het af na Egipte gegaan om daar as ‘n vreemdeling te woon, want die hongersnood was swaar op die land.
Soos wat hy Egipte genader het, het hy aan Sarai, sy vrou, gesê, “Hoor tog, ek weet dat jy ‘n pragtige vrou is. As die Egiptenare jou sien, sal hulle sê, ‘Dit is sy vrou dié,’ en hulle sal my doodmaak, maar jy sal leef. Sê tog jy is my suster sodat hulle om jou onthalwe vir my goed sal wees en ek sal lewe danksy jou.”
Toe Trotse Vader in Egipte aankom, het die Egiptenare gesien dat die vrou besonder mooi is. Farao se amptenare het haar gesien en het haar voor Farao geprys, en die vrou is na Farao se huis geneem. Om haar onthalwe was hy goed vir Trotse Vader. Daar was vir hom skape, beeste, donkies, bediendes, slawemeisies, donkiewyfies en kamele.
Jahoe het Farao en sy huis met ‘n groot plaag getref as gevolg van Sarai, die vrou van Trotse Vader.
Farao het Trotse Vader geroep en gesê, “Hoekom het jy dit aan my gedoen? Hoekom het jy my nie vertel dat sy jou vrou is nie? Hoekom het jy gesê dat sy jou suster is? Ek het haar vir my as vrou geneem. Nou, hier is jou vrou. Vat haar en gaan!” Farao het hom en sy mans beveel en hy het hom, sy vrou en almal wat by hom was weggestuur.
***
Ek koop nie Trotse Vader se storie hier nie. Die Egiptenare sou hom sekerlik nie doodgemaak het net omdat sy vrou mooi is nie. Ek vermoed hy pimp vir Sarai hier. As hy sê die Egiptenare sal vir hom “goed wees” wanneer hulle uitvind Sarai is net sy vrou, vermoed ek hy meen hulle sal hom ‘n paar muntstukkies gee om by haar te lê. Kyk byvoorbeeld hoe kwaad Farao raak as hy uitvind Sarai is Trotse Vader se vrou, maar hy maak nie vir Trotse Vader dood nie soos Trotse Vader voorspel het nie.
In die lys van dinge wat Farao vir Trotse Vader gegee het is daar ‘n vreemde en moontlik misplaaste verwysing na donkiewyfies. Ek het dit maar daar gelos.