Daar was ‘n tyd wat ek vol opinies en storie was en toe raak dit stil. Nou vlieg die dae verby waarin ek besig is met duisend en een dingetjies en tyd vir dagdroom of mymer is daar nie. Ek het darem in die twee maande wat verby is dit reggekry om twee boeke te lees. Dit is ‘n wonder in my warrelwind dae. So sonder enige wyshede (of dalk dwaashede) om kwyt te raak, wonder ek wat die nut is van die blog. Net soos wat ek dink dis tyd om die ding te delete, dan huiwer ek en begin lees aan wat ek alles kwytgeraak het en dan bedink ek myself. Dalk het ek eendag ‘n kleinkind wat iets van my sal leer deur op die blog rond te krap.
Wel, behalwe vir werk en besig wees met wat ‘n vrou maar besig is, sien ek uit na die volgende paar weke en gaan my kamera oortyd werk. Volgende naweek gaan ek vir die eerste keer regtig Spitzkoppe toe. Ek het eenmaal vlugtig daar aangedoen, maar tyd vir foto’s neem en rondloop was daar nie en die lug was geweldig deinserig asof ‘n rookwolk oor die plek gehang het. Ons is drie dames wat sluiterverskrik is wat daar gaan oornag. Ek wens die dae om tot ons gaan en ek hoop vir mooi weer en skoon lug. My stapskoene en kameratoerusting staan reg.
Maar die grootste geleentheid op my kalender hierdie jaar is Paasnaweek saam met my kinders. Die verlange is nou baie erg en die vliegtuigkaartjie is klaar gekoop. Die dae tot dan moet net verbysnel!
Vandag het ek weer die tuinvoëls se kos uitgesit en in my hoekie ingeskuif om foto’s te neem. Ek het net ‘n standaardlens en soms frustreer dit my. Maar ek het die ou geel vinkie wat kom kuier heel skaflik afgeneem gekry.












Kommentaar