Feeds:
Artikels
Kommentare

Kyk ook na Die Uilbos

Ek het elders ‘n blogwerf geskep vir Die Uilbos Galery.

Besoek dit gerus vir nog meer kunspraatjies en fotos van my werk. Die skakel is: https://dieuilbos.wordpress.com/

Vinnige sketsie: 'n Baie klein vogeltjie, amper soos 'n glasogie.

Vinnige sketsie: ‘n Baie klein vogeltjie, amper soos ‘n glasogie.

Vinnige skets vir 2012 se Kersfeesete by Diskoersgroep.

Vinnige skets vir 2012 se Kersfeesete by Diskoersgroep.

Dit is soms lekker om net iets informeel te doen: vinnige sketse met ‘n eenvoudige tema, soos hierdie twee. Kaartjies op papier word minder gebruik, noudat ons die internet gebruik rondom verjaarsdae en feesdae. Maar die sketswerk op papier in ‘n koevert is nog steeds iets persoonliks en tasbaar.

Waterverf-kursus in Pretoria

Ons het in 2012 ‘n werkwinkel oor tekenvaardighede, sketse en waterverf begin. Ons gaan dit hopelik sterk uitbou in 2013. Die werkwinkel is baie informeel en deelnemers kom wanneer hulle kan. Die fokus is op goeie tekenwerk; komposisie en basiese waterverf-tegnieke.  Skakel my gerus as u belangstel om deel te neem. My telefoon-nommer is 082 9219 706.  Die werkwinkel is altyd op Saterdag-oggende. Skakel asb vir ‘n afspraak en vir die datums waarop ons bymekaarkom. Sluit aan en ontgin jou eie talente.

Uitnodiging na Waterverf en tekenklasse

Landskap in akriel, Meinhard Peters

Abstrakte werk in akriel

Ek laat weet binnekort meer oor my werk in akriel; eintlik staan ek nog aan die begin van die leerproses…. mens voel altyd jy het meer ervaring nodig.

Eie werk, 2008 in Doha

 

In hierdie abstrakte werk het ek ‘n indruk probeer gee van die geweldige bouwerke en torings wat in die stad Doha verrys het die afgelope jare; dit is dus bloot ‘n vertolking. Ek gebruik sterk kleure en die verf word soms amper “droog” aangewend; maw met baie min water vermeng. Die effek is anders as wat mens met die gewone waterverf metode sou kry – amper ‘n soort gouache; minder deursigtig. maar mens kan natuurlik in dieselfde werk die tegnieke varieer.

Doha is op die kuslyn van die Persiese golf en die spel van die kleur van die see en die weerkaatsing daarvan in die geboue bly altyd interessant. Mens word oorweldig deur die vertoon van die moderne argitektuur.

Emosies en ons gesigte

Om gedagtes te kon lees...?  MP 2008

Om gedagtes te kon lees...? MP 2008

Hier het ek ‘n baie vinnige skets gemaak en dit bygedam met waterverf. Daar is niks wat ek kon doen om die voorkoms bietjie op te helder nie – die ietwat nors en ontevrede, skalkse en sydelingse kyk is nie aan te verander nie!  Die meeste hiervan is per ongeluk; maar dan hou mens soms van ‘n Freudiaanse of Jungiaanse toevalligheid in die kuns. Punt wat ek wil maak is dat die kuns floreer op die suggestie van die visuele beelde…. dit herinner aan iets wat mens self gesien of ervaar het. In hierdie geval – emosie. Jy wil eintlik raai wat die persoon dink of op die punt is om te se. Dis nou nie die mees suksesvolle portretskets wat ek al gemaak het nie – maar eintlik lekker omdat dit “lewe”… ek sou objektief kon kyk en dan is die estetiese ding eintlik die klerasie om die nek en skouers… die skaduwees miskien. Dis ook die soort skets wat mens maklik weggooi omdat daar te veel foute in is – maar hou dit ‘n slag skuins, en dit begin lyk na iets wat jy liewer wil bere.

Portrette in waterverf

Vrou met goue hare. Portretstudie MP 2008.

Vrou met goue hare. Portretstudie MP 2008.

Ek moet toegee, om portrette te skilder in waterverf medium is nogal moeilik – maar dan is portrette min of meer moeilik in enige medium. Die probleem met waterverf is dat mens heelwat minder moontlikhede het om korreksies aan te bring, iets wat nogal nodig is in die ontwikkeling van ‘n goeie skets van ‘n persoon. Mens kry die geheel selde perfek met een poging. In akriel en olieverf kan jy bo-oor die onderste lae verf sonder veel probleme – by waterverf is dit juis nie altyd so maklik om foute “toe te skilder” nie. Jy kan wel tot ‘n beperkte mate uitvee of donkerder lae inwerk… maar die gevaar om die eindproduk te bederf is nogal groot. Die beste is om in waterverf redelik sketsmatig te werk… nie te veel “af te rond” nie. Goed – dis my mening en my ervaring hierdie…!

Mens hoor dikwels die reaksie:  “waterverf is ‘n moeilike medium…”; en dit is dan ‘n verskoning waarom mense dit liewer vir die “meesters” los. Jammer dit is so. Punt is dat die meesters almal ook maar onder moes begin het… dit hang af of mens ‘n pad wil loop met ‘n kunsmedium.

Mens moet eers uitmaak of jy hou van die medium… probeer en kyk wat gebeur met jou. Volhard ‘n rukkie, leer en kyk af rondom jou van ander se werk – alle kunstenaars is honger kykers, hulle ondersoek alles en leer by almal – steels selfs, maar dit is goed so. ‘n Leerder moet nuuskierig wees, en mettertyd sy eie pad vind… in Karate of krieket kyk jy ook hoe ander ouens dit doen! Nou oor die moeilike medium… enige medium verg so ‘n pad, stap vir stap.  Jy is nooit eensklaps net vaardig nie. Dit is waar dat sommige mense groei in ‘n medium en andere bly stilstaan, miskien geblokkeer voel of geblokkeer raak. Skrywers ook..! Ek antwoord dikwels oor die kwessie so: “Hulle het jou vertrou met waterverf toe jy nog net ses of sewe jaar oud was op skool –  jou kunsonderwyseres (99% vd tyd) het nie vir jou gewaarsku dis ‘n moeilike medium nie – en siedaar, jy kon toe heerlik verf en te kere gaan en dit geniet. Nou moet jy hoor… dis glo “moeilik”… nonsens! Dis net, jy moet regtig geniet wat jy doen en die resultate kom later. ‘n Kunsplek is ‘n plek waar jy droom, speel, waag, eksperimenteer, ontgin, ontdek, impulsief mag wees, nuwe dinge mag doen, jou eie vertolking en jou eie kop mag volg. Dis hoe ‘n regte kunsplek lyk… daar waar jy kan swerf in jou eie verbeelding. Probeer dit ‘n slag.

Voorstelling van grassade in die herfs... waterverf bly fassinerend. (MP 2008)

Voorstelling van grassade in die herfs... waterverf bly fassinerend. (MP 2008)

Mens moet ook maar kophou met die blokskrywery… belangrik om vir jouself uit te maak wat jy eintlik daarmee wil bereik. Dis nie my hoofdoel om 900 vriende (name) bymekaar te maak nie; net twee of drie goeie betroubare vriende, selfs ou vriende, is heeltemal goed vir my. Maar dit is eintlik die plesier daarvan om ‘n teks in Afrikaans te skep, sommer ‘n geselsie aan te knoop, of ‘n gedagte neer te pen, wat vir my aantreklik is. Die ritme van ons daaglikse interaksie doen mens tog via e-pos op die gewone manier, of anders oog-tot-oog, mens-tot-mens: daardie onvervangbare kommunikasiesituasie waar lyftaal en die intonasie van iemand se stem soveel kan beteken. In elk geval… wat die www.bloks interessant maak is die moontlikheid om die dagboek van enige plek af oop te slaan; en iets neer te pen wat jy graag wou deel met ander… al kom daardie oomblik eers weke of maande later. Dan is dit vir my gewoon baie lekker om dit bietjie te versier met ‘n foto of ‘n skets. Speelplek dus. Nie net ernstige goed nie. En dit is tog die onderliggende idee van kuns as ons die woord nou nie in hoge terme verstaan nie: die gedagte van ‘n vry-bewegende spel… met potlood, kwas, bol klei of wat ook al. Ons het almal daardie bietjie vryheid nodig in wat ons doen. Selfs by die werk… in enige werksituasie, weet ons dat spel en kreatiwiteit nou ook nie so ver van mekaar verwyder is nie. Nou ja, tot later…. dankie vir twee vriende wat reeds kom kuier het. Ek veg nog bietjie om ingebore skaamwees vir my werk te oorkom… maar ek vorder goed.

Die banier wat ek bo-aan gebruik is van ‘n akrielskildery en toon ‘n tipies ouer Weskushuisie… was ek daar? Jare gelde, jaaa… in die omgewing van Dwarskersbos, Kersbosdam, sulke plekke; ook by Saldanabaai en Piketberg. Bloot as dagbesoeker natuurlik, ‘n keer oorgeslaap in ‘n plaashuis.   Die huisie waarvan ons hier bo praat het ek egter geskilder volgens ‘n ou foto in Panorama. Onthou iemand nog ons Staatspublikasie genaamd Panorama? Die gryskoppe sal beslis! Daar was nou egte kwaliteit-joernalistiek, puik oorsigtelike artikels, aktualiteit en van die mooiste fotos.  ‘n Familielid van my was die Redaktrise van Panorama vir ‘n laaaaang tyd…. nog meer verbintenisse! Die stories van ons land loop kruis en dwars deur my eie skilderwerk. Dis soos dit hoort.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg