Ek is vanoggend skoon moeg want gisteraand het ek ander werk gekry. So ‘n groot gebou in die stad. Natuurlik vir een of ander regerings departement waar ek net papierwerk hoef te doen.
Etenstyd gaan stap ek bietjie rond en help ‘n vrou om haar hotel weer te kry. Die middestad lyk soos Inka geboue.
Maar toe verdwaal ek sien. En ek stap. En stap. En sien die stad en die see maar my werksplek? Nee. Later sê ‘n ou in ‘n kewertjie vir my hulle sal help. Dit is al immers 3h en hulle gaan al huis toe. Ek is bekommerd want as almal in die gebou huis toe gaan sal ek nie my handsak en woonstel sleutels kry nie. Hoe kom ek dan in my woonplek?
Ek klim in die bus maar my sitplek sluk my omtrent in. Die bus ry soos ‘n trein en is nie vol nie. Ek raak gespanne want die kewerman, wat toe die bus bestuur ook, klim af en wat nou?
Nee wat sê die enigste ander persoon op die bus, ek kry sommer gou die plek vir jou. En daar is ons by die gebou. Ek kyk die gebou aan en dit lyk vreemd vir my. Maar ek stap in.
Ah! Sê die dame in die kantoor. Tannie is uiteindelik terug! Hier is die sakkie wat na meneer so-en-so toe moet gaan. Vreemde sakkie maar laat ek gaan aflewer.
En daar verdwaal ek weer terug na my gebou toe.
Ek weet nou nog nie of ek my handsak met my woonstel sleutels in gekry het nie.
Gisternag het my skoonpa, my pa en tannie Marlene my kom besoek. Maar dit was nie tannie Marlene wat ek ken nie. Sy was kort en my tannie Marlene is hoër op die voete.
My pa is al in 1996 oorlede. My skoonpa ‘n paar jaar gelede. Albei van hulle het ek perfek gesien.
Ek het kameras in die huis en kom al so van 3 weke gelede af agter hier is beweging deur die nag. Buiten my kat. Linte en ‘orbs’ wat dobber. So vir ‘n paar minute. En dan droom ek in daardie tyd.
Gisternag se droom was duidelik. Hier in my woonstel. Ek het eintlik verwag om alles op die terugspeelaksie van die kamera te sien. So duidelik was dit.
Die einde van die droom was die pragtige persoon, ek dink jong man, wat sy hand uitsteek en sê ons wag vir jou. Jy sal op ‘n stadium moet kom.
Vreemde drome. Ek kan my pa verduidelik. Hy verjaar vandag. Skoonpa? Nie regtig nie. Ook nie tannie Marlene nie. Nog minder die jong man.
Wens ek kan die blog naam verander na ‘My reis’. Dit is 100% waaroor ek eintlik skryf. My reis van geboorte tot ek weet nie waar en wanneer.
Die lewe is ‘n taai bleddie toffie. Vandag was een van daardie dae waar ek lus was om ‘n gat in ‘n muur te slaan van pure frustrasie oor die onsekerheid van my werk situasie. Intussen is daar mense wat besluite neem, werksvloei bespreek wat ‘n GROOT invloed gaan hê op my en wat dink dit is alles reg. Ek hoef mos nie ingesluit te wees nie.
Nou DAARDIE frustrasie het gemaak dat ek vandag iets wou skop. Gat in die muur slaan. Skree. Ek verstaan hoekom mense dit doen.
Net so lus was ek om my psigiater te bel om te vra of ek asseblief afgeboek kan word.
Meeste mense ken my as die grappige positiewe mens. Die donker kant word gebêre wanneer ek soggens my ander gesiggie opsit.
By ons werk is daar baie veranderinge wat beplan word. Verandering is goed.
Maar waarom, tydens die verandering in bestuursvergaderings, het jy een gesig maar wanneer jy uitbeweeg tussen plebs in ‘n ander gesig?
En waarom moet daar altyd konfrontasie wees?
Iemand wat skynbaar ‘n vriend is maar ook ‘n kollega, is geneig om heeltyd aan my uit te wys waar ek verkeerd werk. Ek vat nog ‘n teugie asem dan wys hy my foute uit.
Ek sit al van vroegoggend af op my balkon en bekyk die wêreld. Die berg bly maar vir my ‘n hawe van rustigheid. Wanneer dae en weke moeilik is kom sit ek hier en asemhaal. Daar is ‘n koel luggie wat kort-kort oor my asemskep, ‘n heerlike lawe vir die hitte wat blykbaar weer oppad is.