Ek was nog altyd versigtig om my te steur aan stemmetjies wat met my praat. Dit was van kleins af ‘n lekker verskoning as ek drooggemaak het. Selfs Hansie Cronje het dit probeer met sy hofsaak. Ek het na skool bewustelik die besluit geneem om nooit daardie roete te gaan as ek blameerwerk gehad het nie. Eerstens was die droogmaak my eie keuse (a la Orestes) en tweedens moes ek heeltyd, met my superrealistiese uitkyk, daardie “stemmetjie” se 0.0000001% in my balanstaat van keuse, met groot moeite daar plaas omdat dit nie altyd daar was nie.
Hier is die catch nou! Soms wàs dit daar! Sag maar teenwoordig. Soos die klank van ‘n melankoliese hobo in ‘n bulderende simfoniekonsert. Die feit dat dit sag is en nie in-redevallend skerp nie, het my maar deur die jare geleer om die stem soms kans te gee om sy saak te stel. As ouer persoon probeer ek myself meer oopstel om hierdie heilige gewete doelbewus op te soek. Nie as kapituleerder van my verantwoordelikheid in die lewe nie maar eerder as nederige afhanklikheid van eksterne insette in my lewe.
Volgens my ondervinding, is die beste plek en tyd om in hierdie bron van liefde en omgee te delf, wanneer dit stil is. Stil van buitegeraas en stil van die alomteenwoordige binnegeraas. Die buitegeraas is maklik. Kom uit die stad uit en sit jou radio en selfoon af. Bêre dit weg en kom uit in die veld of by die see of by ‘n riviertjie of in die woestyn. Boek miskien ‘n tydjie by Una se plek in Mosambiek.
Maande lank al beplan ons aan die stap in die Naukluftberge. Vêr weg van alles af. Jy ry en ry en ry en ry in jou maai in. Dan is jy eers halfpad. Dan nog en nog en nog. Ek is oortuig daarvan dat die enorme afstande ook hulle deel bydra om jou binnegeraasprofiel te verstil. Die nadeel met die ryery is dat dit fisies maklik is. Veral as iemand anders bestuur. Die hoofmissie is om nie verveeld te raak nie.
Verveeldheidspeletjies is maar ook net ‘n manier om jou gedagtes weg te neem van hierdie gedagtes binne jou. So raak ons, selfs in ons wegbreektye, weggelok deur die onwetende ontwyking van ons konstante binnegesprekke. Ons vermy dit onintensioneel soos pes omdat dit, op die keper beskou, niks meer is as ‘n deurmekaargarage of -kas of ‘n onuitgesorteerde trekboks nie. Ons wìl nie daar gaan nie want dis moeite. Die “ultimate procrastinators nightmare.” Soms boelie die lewe jou in die situasie in om dit te mòèt uitdaag. Loadshedding en wateronderbrekeings het ons so ‘n klein beeld daarvan gegee. Beslis wanneer die internet af is en die rekenaar se batterye ook pap is maar die oningevulde lisensievorms lê vir jou en lag.
Ek dink die kuns is om willens en wetens jouself in hierdie situasies te dwing waar jy jou eie drake moet konfronteer. Dit verg hope durf en deursettingsvermoë om dit te doen. In Job 40 terg die Here vir Job en moedig hom aan om met ‘n krokodil te stoei. Hy sê ewe sarkasties: “Jy sal die geveg onthou”
Ons wil nie regtig hierdie krokodil in moeilike tye tegemoet loop nie omdat dit ongemaklik is en baie naby aan die been sny. Partykeer tot teen die been!!! Joe Rogan vat dit nogal raak met die bewering dat die oorgrote meerderheid van mense vandag, met min uitsondering, enige ongemaklike situasies aktief vermy. Ons sien dit in die standaard klagtes oor ESKOM en oor die brandstofprys en oor die regering en oor ryk mense en oor boemelaars en oor kerke en oor skole. Daar waai ‘n vlaag van hooploosheid en dit voel asof dit groot momentum begin kry namate elkeen die golf aanhelp met sy eie treurmare as dit verby kom. Almal kla maar min mense verbind hulle tot deel van blywende oplossings omdat dit die aanvaarding van verantwoordelikheid behels. Moet my asseblief nie verkeerd hoor nie omdat dit mag klink asof ek nie mooi verstaan wat die prys van die ontsnapping is nie. Ek verstaan dit nie net nie, ek wèèt wat dit kos om uit die ingeperktheid van hooploosheid te ontsnap. Dis ‘n aflegging wat mòèt gemaak word om van die gebrek aan hoop te ontsnap.
Jordan Peterson vat dit so raak deur te sê dat daar net een betaalmiddel is, en dat dit die opneem van verantwoordelikheid is. Verantwoordelikheid om aktief deel te wees van die hernuwingsproses en die nuutmaak van jou gewoontes, uitkyk en houdings.
Henry David Thoreau het in sy boek “Walden” in 1854 al die fenomeen raakgesien dat die meeste mense ‘n lewe leef van “quiet desperation” Ek wil my verstout om te sê dat byna almal tevrede is met hierdie staat van ontevredenheid. Almal weet dat dit moed en durf gaan neem om uit hierdie situasie te ontsnap.
In die mitologie word daar verwys na die FENIKS wat siklies deur hierdie wedergeboorte gaan. In die vlamme wat sy lewe verteer, verrys ‘n nuwe wese met ‘n gestroopte maar meer aerodinamiese profiel. Gestroop van alle ekstras en onnodighede en her-georden vir optimum lewe.

‘n Staptoer is nie veel minder as dit nie. Veral nie die multidag roetes nie. Elke dag is so te sê ‘n nuwe geboorte. ‘n Hergeboorte. Dis melksuur en roetine en slaapsak oprol en rugsak pak. Ken jou sak …… ! Gister se swaarkry is op die agterplaat geskuif en die nuwe dag se uitdagings wag blinkoog vir ons op die naaste rant. Dis soos ‘n nuwe bladsy wat omgeblaai is waar ons soms die indentasies van gister se geskryf kan raaksien. Ons kan ons tyd mors om dit te probeer ontsyfer of ons kan die nuwe dag aangryp met al ons fakulteite om in die oomblik te leef en die maksimum murg uit die dag te suig. Dis ‘n bevrydende gedagte omdat die vorige dae se bekommernisse al ver stroomaf in die rivier van tyd gespoel is.
Op dag 4 het ek geleer om die opdraendes net tyd te gee en een voet voor die ander te sit en bewus te wees van my hartklop en my asemhaling en my spiere wat brand. Saam met dit het ek ook geoefen om soms te stop en te kyk na die dinge rondom my. Die somtotaal van die vistas is inderdaad nie beperk tot die pieke en die dale nie. Die hele pad is gemaak om te aanskou. As jy nie kyk nie is jy op dieselfde plek as die man wat bo in ‘n straler sit en duur water drink en geen idee het van die Kalahari met sy geheime vêr onder hom. Die nuwe beelde kan net waardeer word as die voriges gefile of gedump was. Die salpetergrafieke op my hoed is bewys dat ek dit aan my lyf gevoel het.
Dis juis hierdie situasies wat net weer my gevoel bevestig het oor die mite van multi-tasking. Ons een stapmaat, Botter, het juis een oggend daar uit Matteus 6 gelees dat ons skat sal wees waar ons hart is. Paulo Coelo wat “The Alchemist” geskryf het, is dit eens met Jesus. Los soms jou probleme en bekommernisse, wat so geil groei in ons koptuine, eenkant sodat jy weer die sonsopkoms en strale deur die wolke en die blou horisonne kan bewonder. Lê dit neer. Ek sien gereeld in Potchefstroom wanneer van die studentedames bestuur. Dit is met ‘n selfoon teen die oor, cuppacino in die een hand en ‘n sigaret in die ander hand waar sy die stuurwiel met haar pinkie vashou. Dis ‘n ongeluk wat ‘n plek soek om te gebeur!!!!! Dis nie anders met mense wat te veel hooi op hulle vurk het nie. Die ongelukke behels nie net duike in voertuie nie maar duike in jou selfvertroue en ego.
Die ontwikkeling of openbaring van my gesprekke met myself, tydens die moeilike tye in die stap, het min of meer dieselfde verloop as aflegging. Die begin van elke dag se eerste kilometer of wat het gewoonlik maklik gegaan en het jou maar weer net in die staproetine geplaas. Met die begin van die eerste opdraende het jy bewus geword van die ligte sweet wat begin vorm het op jou voorkop. Dis ook dan wanneer jy die langmou-sweater uittrek en die effense byt in die luggie waardeer. As die gradiënt verder lig, raak jy bewus van jou asem wat jaag en jou hartklop wat aansienlik vinniger is as gisteraand in die slaapsak. Soos die opdraende nog steiler word, raak jou gedagtes al hoe meer geskud. Dis ‘n warboel van makliker paadjies soek en wil weet wanneer die bult gaan ophou. Dis ‘n stryd om te kies watter probleme, wat jy al jare troetel, wil jy aflê. Watter mense moet jy eenkant toe stoot in jou gedagtes en watter verhoudings moet jy vaarwel toeroep. Jy leer om nie net aannames te maak oor afstande en bakens nie en een van my ondernemings was soos gewoonlik dat ek besluit het om beter kaarte voor te berei vir die volgende stappe. Sonder uitsondering het ek elke dag myself mooi afgevra hoekom ek alweer dit aan myself doen. Hoekom sal iemand nou intensioneel homself so martel?
Die mindspace waarin jy jouself bevind is ook maar klein omdat jy lus word om iemand te blameer behalwe jouself. Dis eintlik maar die rouproses van vooraf. Eers net ontkenning van die eie skuld en jou meerderheid aandeel in jou persoonlike nonsens. Dan ‘n bietjie passiewe-agressie met die stapstok op die klippe en skeldwoorde in die lug. Veel later ‘n transaksionele gesprek met die Here self om asseblief die bult onmiddelik te laat ophou.
Dis hier waar my bubble gebars word. Ek sien die dolomiet en die skalie en die kwartsiete en met my gebrekkige geologie weet ek dat dit miljoene jare geneem het om te vorm. Dit is nie ‘n skielike deponering van kalsium karbonaat en ander sedimente nie. Dit het jare geneem. Hier kom ek nou met my petty versoek vir die Here om net gou vinnig hierdie bergie laer te maak om my te pas. Ek is maar 2 ure hier en ek wil die natuurprosesse nou verander om my te pas. Vrek arrogant as ek ‘n buitestaander se mening moes vra.
Uiteindelik is die aanvaarding hier. Ek maak vrede met my plek in die groot heelal. Nie te groot nie maar ook nie te klein nie. ‘n Regte goue lokkies sone. Dit is wanneer die einste klippe en rotse en gesteentes my as’t ware koester en vashou en troos. Dan eers word ek bewus van die luggie wat saggies van agter af druk. Ook die son wat my groet as ek om die draai van die kloof stap.
Die verdwaalde rotsvye lyk asof hulle erewag vir my staan in ‘n verlate kloof. Die afgelegde persone en verhoudings word weer opgetel en herrangskik in my lewe. Net met baie meer genade omdat ek hulle mis en besef dat hierdie lewe nie net eensaam sal wees sonder hulle nie maar doelloos. Hierdie proses het my ‘n paar dae geneem om deur te trap.
Dag 6 was ek regtig bewoë toe ek bokant die waterval op die rand van die afgrond staan. Die intense gevoel van bewondering vir die berge en die natuurprosesse het my emosioneel gemaak. Nie ‘n hartseer gevoel nie maar ‘n gevoel van absolute dankbaarheid om op daardie spesifieke plek en tyd te wees en die voorreg te kon hê om dit te beleef. Wat dit baie meer spesiaal gemaak het is dat ek dit kon deel met manne wat soos broers geword het.
As ons beurte gemaak het om in die oggende ‘n stukkie uit die bybel te kon voorhou het dit my opgeval hoe ou bekende stukkies weer nuwe bene gekry het in my gedagtes. Een oggend het Hannes Roodt Junior uit Matt 28:19 gelees. “Gaan dan na al die nasies toe en maak hulle my dissipels.” Dit was die oggend van dag 4. Ek onthou dat die windjie koud gewaai het en dat sy knieë gebewe het van koue èn adrenalien vir die taak om die boodskappie te bring. Dit was eers op dag 6 wat daardie boodskap my die woorde van Jesus laat verstaan het in Lukas 19. Die owerhede het vir Jesus beveel om die mense stil te maak. Sy woorde was: “Ek sê vir julle. As hulle stilbly sal die klippe dit uitroep” Hier staan ek toe en die klippe praat. Nie ‘n bulderende kakofonie van klanke nie maar ‘n alomteenwoordige vibrasie soos ‘n Gregoriaanse koor wat simfonies al die boksies tick van ‘n perfekte ensemble. Ek staan daar in totale weerloosheid maar ook in totale verwondering van die nog-altyd-daar van God self. Ek het gewèèt!!!!
Ek kan nie terugkeer na nie-weet-nie. Ek het dit beleef. Om dit hier neer te pen het seker waarde maar ek besef daar is hierdie gaping tussen my skryf en die werklikheid. Die beste sal wees as jy dit self te beleef. August Rush sê: “Dit is altyd daar. Ons moet net luister.” My raad is om eerder vroeër as later na die gesange en gesprekke van gesteentes te gaan luister.

































































