Slaap,
die wondersoete ding,
dans ontwykend net’n armlengte van my af,
terwyl troosreëls deur die donker dieptes van my gedagtes mars.
Onse Vader wat in die Hemel is,
Laat my lewe u Naam geheilig hou.
Die woorde lê gesaai op die houtvloer langs my bed.
Die Here is my Herder, waar sal my hulp vanaand vandaan kom?
Ek moet my oë opslaan na die berge bo my vesting, niks sal my dan ontbreek nie.
Deurmekaargevleg….ineengestrengel…sonder rym of rede…
dwarsdeur die dal van wakkerlê…
na groen rivierwalle waar rus is,
daar lei Hy my heen.
– mariekie

