Dit was die middag toe ek van die werk af kom en my voetstappe deur die bykans leë huis op die plankvloere weergalm het, dat die impak van ons situasie my eers getref het.
In die kombuis het die bietjie inhoud van my yskas op die werkstoonbank gestaan: ‘n Bakkie margarien, ‘n halwe sakkie melk in sy beker, tamatiesous, soet chillisous en ‘n verlepte kop blaarslaai. Ek, iemand met ‘n respektabele werk, se kinders het nie kos in die huis nie, daar is 10 eenhede krag op die kragboks oor en lewensnoodsaaklike dinge soos ‘n stoof, mikrogolfoond en yskas is weg.
Die vorige dag was die balju by ons. Ek het daardie dag my baas ingelig wat aangaan, afgevat by die werk en die oggend vir vier ure alleen op my stoep gesit terwyl die balju en ses vreemdelinge my familiemeubels by my huis uitgedra het. Een van die mans het kom vra of hy turksvye kan pluk vir sy vrou wat kanker het, en ek het deur die trane skaam-skaam ja gesê, vernederd dat hy my sò moes sien.
Daar het my antieke kerkbank gegaan, die een waarop my voorgeslagte op die plaas kerk gehou het op dié Sondae wanneer hulle nie ingery het dorp toe vir kerk nie. Die antieke boekrakkie wat my oupagrootjie met sy eie hande gemaak het; die wakis wat opgetrek het Vrystaat toe, staanplek in ‘n solder gekry het en weer afgetrek het saam met my na daar waar hy vandaan gekom het.
Die antieke Duitse kas wat saam met my ma se ouers van Keetmanshoop af gekom het, die eetkamerstoele, waarvan twee as rusplek gedien het vir my oupagroot se kis toe hy begrawe is op die plaas. Die tafel waaraan twee staatspresidente gesit het. Die boekrak waarop twee geslagte se regsboeke gestaan het saam met die volledige werke van CJ Langenhoven.
Oor elke ding wat uitgedra is, kon ek iets vertel.
Met elke ding wat uitgedra is, het die woorde opgedroog.
Daardie oggend was my man in die Congo vir werk, waar hy toe al etlike weke was. My 12-jarige tweelingseuns was by die skool. Ek het vooraf geweet wat aan die kom was, en het hulle die vorige aand voorberei: “Wanneer julle môre van die skool af kom, gaan daar niks in die huis oor wees nie, net jul beddens, ‘n dubbelbed en ‘n paar stoele om op te sit.” Hul oë was groot en later die nag het ek een in sy slaap hoor praat. Ek het gedink hy roep my, maar dit was net ‘n nagmerrie.
Sien, hoe ons op dié punt gekom het, is ‘n storie wat menige Suid-Afrikaner vandag kan vertel. Die konstruksiebedryf het inmekaargestort. Die slagoffers daarvan? Die klein kontrakteurs, soos my man, wat met eenmansake en klein ondernemings probeer om ‘n lewe te maak. Was daar ander slagoffers wat saam met ons gesink het, òmdat ons gesink het? Vir seker. Mense wat met ons rekeninge betaalgeduld gehad het tot dit nie meer kon nie? Ja. Mense wat saam met ons gehoop het dinge raak beter en toe gesien het dit gaan nie? Ja.
Vir byna nege maande het my man op ‘n baie groot projek verniet gewerk, in goeder trou dat ‘n toe reeds bankrot maatskappy hom sal vergoed omdat hy bly werk en klaarmaak wat hy moes. Een ding wat ons hier geleer het: As mense jou nie kan of wil betaal nie, vat jou goed en loop. Groot maatskappye het baie maniere om hulself te beskerm, maar die klein persoon of entiteit wat die werk doen, is die een wat op die ou end die spit afbyt. As jy die rokie sien trek, brand die vuurtjie al lankal en moes jy al jou boor en waterpas ingepak het en van die site af gewaai het. Daar is nie meer ordentlikheid in die meeste groot maatskappye oor nie. Dis elkeen vir homself en die duiwel vir die res.
Suid-Afrika se unieke landskap laat my hier genoop voel om ook te sê ek wéét daar is baie mense wat baie swaarder kry as ons, daagliks. Ek weet. Wanneer jy egter sien hoe jou kinders swaarkry, maak dit jou eie seer werklik, en kan jy regtig in daardie stadium nie veel bekommerd wees oor die res van die land se lot nie. Dit is die waarheid.
In die tyd wat ons sonder meubels in die huis was (ongeveer tien dae), en ook in die tyd vooraf waar ons moes uittrek uit ‘n huis omdat ons nie die huur meer kon betaal nie en albei ons voertuie verloor het, het die kantelpunt gekom waar ons menswees inmekaar gestort het en ons liefdadigheid van ander mense moes aanvaar. Dit is ‘n punt wat ek nie my ergste vyand toewens nie. Dit is ook ‘n punt waar jy besef hoeveel mense vir mekaar omgee en gee sonder om te vra.
Ek moes aftrek van die pad omdat ek sò gehuil het toe ‘n vriend vir my genoeg geld inbetaal het om ‘n deposito en die eerste maand se huur neer te sit vir ‘n nuwe blyplek nadat ons ons blyplek verloor het. Sonder om te skroom en met ‘n, “Moet nou nie huil nie en moet dit ook nie op Facebook sit nie.”
Nog ‘n vriendin wat my aan die hand geneem het en vir my ‘n mikrogolfoond gaan koop het dieselfde dag as wat die balju hier was, ‘n ander een wat ‘n tweeplaatsofie gebring het. Nog een wat ‘n bakkievrag kos van die Vrystaat af gestuur het. Oproepe en boodskappe van mense wat ek dit nooit van verwag het nie.
Doodse stilte van mense wat ek gedink het sal vra of ons oukei is. Ongelooflike, menslike ondersteuning van die maatskappy vir wie ek werk (dankie).
Op die dag wat waarop die balju by my was, het ‘n vriendin van die Vrystaat (die een van die mikrogolfoond) by my aangekom. Ek het gebid sy kom nie, want ek wou nie gehad het sy moet sien hoe ek lyk nie. My menswees en mawees was sò uitgerafel dat ek in ‘n bondeltjie in die hoek wou gaan sit. Ongelukkig het sy my voorgelê in die straat toe ek die kinders by die skool gaan haal het. Sy het my hand vasgehou en saam met my gehuil. Ek op my een oorblywende stoel en sy op die ander een.
Net soos die tweeling betaam, het hulle verskillend gereageer. Die groot krisistyd was in die toestreeks van April, en een het homself terug geleer in die Top 20 akademies, terwyl die ander een stiller geword het. Om my kinders te beskerm gaan ek nie te veel hieroor vertel nie, maar een van die twee moet nou vir berading gaan, weens opeenhopende gevolge van die gebeure.
As dit vir dié 47-jarige ma voel of sy deur ‘n oorlog is, kan ‘n mens jou net voorstel hoe dit vir ‘n 12-jarige kind moet voel.
Vandag, bykans ses weke later, is my oupa se kassie en die res van my meubels terug onder my dak. Ons kon ons meubels red en terugkry, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
Ons bootjie is nog vol water en ons skep nog vir die vale. Die enjin gaan staan so af en toe. Hy mag dalk die oewer haal, of dalk sink hy voor ons daar kom, wie weet. Ons blyplek is stabiel, ons betaal elke maand die huur en skoolgeld. Die res moet maar wag.
Die wolf klop nog gereeld aan die deur, en ons eet baie aande net brood en eiers, maar daar is elke aand iets. Gerhard het meer stabiliteit betreffende sy werksituasie en ek doen ‘n ekstra werk in die aande en oor naweke om die pot aan die kook te hou.
Ek praat onlangs met iemand wat vir my sê daar is nog nie ‘n storie vertel in die hoofstroommedia oor die uitval op die middelklas en kleinsakeman se lewe en huisgesinne weens die ineenstorting van die boubedryf nie. Hy noem in die gesprek vir my vier gevalle waarvan hy weet van mense wat deur is waardeur ons nou gegaan het.
Dis nie nuus nie, want dis nie groot maatskappye nie. Dis ongelukkig so. Wie gee nou eintlik om oor Jan Alleman se ou klein besigheidjie en sy een werker wat onderdeur gaan? Daar is baie belangriker kwessies daar buite. En dis seker maar oukei so.
Dit wat ek geleer het:
- Mense is meestal goed.
- Niemand is immuun teen alles verloor nie, dit maak nie saak wie jou ma of pa is/was nie, of wie jy is nie. Moenie te veel brêg terwyl jy ‘top of the range’ koop nie, jy word dalk een van die dae die ‘bargain basement’ se grootse shopper.
- Mense met baie, baie geld, voel vere vir jou; hulle is immuun teen ander se swaarkry. Dis nie hulle skuld nie, dis hoe rykwees werk.
- Wanneer jy in die moeilikheid is, aanvaar hulp. Vra hulp. ‘n Nee is beter as om nie te vra nie nie.
- Bly hard werk, maar die depressie en skok gaan jou in elk geval papslaan iewers in dié hele proses. Gaan vra die dokter vir pille, want dit help nie jy gaan sit in die hoekie nie, ain’t gonna bring home the bacon.
- Dis oukei om soms jammer vir jouself te voel as jy alles verloor. Jy gaan deur trauma gaan, dis normaal. Vra hulp, gaan sien iemand.
- Jy bly steeds wie jy is. Moenie vir een oomblik dink jy is minder werd of waardeloos omdat jy nie jou rekeninge kan betaal nie. Skuldinvorderaars laat jou graag so voel, maar iewers moet jy daardie narratief afsny van jou af. Jy sal weer op die nulsaldo kom. Vir ons gaan dit ‘n paar jaar wees, maar ons sal.
- Moenie groot besluite neem tydens die situasie nie. Kom eers tot stillstand, stabiliseer jou omstandighede so veel as moontlik. Moenie trek (as jy dit kan verhelp), skei, jou hare alles afskeer of drie nuwe honde aanskaf nie. Hokaai. Haal eers asem.
Alles sal oukei wees. Jy is mens, jy is waardevol.