Cool soos Koos Kombuis

Koos Kombuis is vir my, een van daardie Afrikaanse ikone, wat eenvoudig net ‘n ongelooflike talent het met woorde. Ek het oor hom gaan navorsing doen, ge-google, “Wie is Koos Kombuis”, en besef hy is nog meer van ‘n kleurvolle karakter as wat ek ooit besef het. Maar dis nie oor hom as sulks waaroor ek vandag wil skryf nie.

In die Mei Rooi Rose, met Christel van den Bergh op die voorblad, skryf Koos Kombuis ‘n rubriek wat gaan oor geluk. “Geluk kom van binne”, is die titel van sy artikel. En dit het my aandag getrek omdat ek juis die laaste tyd besef het hoeveel waarheid in dié woorde lê. Augustus 2022 het ons, as gesin, ‘n onvergeetlike Griekse eiland vakansie gehad. En die euforie het lank daarna nog in my siel gesit. September 2022 het die nuwe skooljaar begin en my ouers het vir ‘n hele maand by ons, in Engeland, kom kuier. Ons het heelwat herinneringe opgebou en toe hulle weer terug is Johannesburg toe, kon die lewe weer sy normale trant gaan. Soos wat die winter sy koue laken oor die land begin gooi het en die son al hoe flouer begin skyn het, het my gemoed verander. En teen November het die euforie plek gemaak vir  ‘n grys somberheid. Wat het dit veroorsaak? Ek kon nie heeltemal my vinger daarop sit nie. Dit was nie ‘n depressie as sulks nie, dit was meer soos ‘n diep gesetelde hartseer. Die hartseer wat jy voel wanneer jy iemand aan die dood afstaan, waar jy weet jou tyd saam met daardie persoon is verby en jy sal dit nooit weer terugkry nie. Eerstens was daar ‘n intense verlange na die lewe wat ek gedink het sóú gewees het, as ons nog in Suid-Afrika gewoon het.  Die lewe in Engeland het my half versmoor. Die wasgoed wat dae lank moes binneshuis hang om droog te word, die lae klere wat ek moes aantrek om buite te kon gaan stap, ek was omring deur vriende en my familie, maar nog steeds het ek bitter alleen en geïsoleerd gevoel. En die dinge wat vir my lekker was om te doen, het nie meer vreugde gebring nie.

Eventueel het ek vir myself mylpale begin stel in my missie om myself “reg te ruk”.  “Ek sal gelukkig wees as ek…”, nes Koos in sy artikel skryf.  Mens moet mos doelwitte hê, anders wat is die punt? “Ek sal gelukkig wees as ek in die sneeu gaan stap, as ek ‘n nuwe warm jas koop, as ek ‘n partytjie reël, as ons Kersfees kan uitgaan vir ‘n ete, as Kersfees verby is, as ek daardie parfuum kan koop” en so het die lys aangehou. Party dinge het my gelukkig gemaak vir ‘n paar ure, ander dinge was bloot ‘n regmerkie op ‘n lysie. Wat my wel kinderlik gelukkig gemaak het, was ons twee weke lange April vakansie in Bloubergstrand. Ek het ongelooflik verlang na my sussie en haar kinders, en dit was so ‘n kosbare en gelukkige tyd.  

Daardie diep ongelukkigheid wat te lank in my kom sit het, is nou weg. Ek erken dit nou as dat dit wel ‘n periode van depressie was, want dit is tog wat ‘n langtermyn hartseer is. Dis iets waarteen iemand soos ek, die heeltyd moet baklei, en flip, dit is “exhausting”. Jy moet sterk staan as die duiwel op jou skouer kom sit en allerhande twak in jou oor fluister.

Vir jou vertel jy nie juis veel waarde toevoeg tot die mensdom nie, dat jou lewe eintlik nou doelloos is noudat jou kinders tieners is wat baie selfstandig is, en jou man “pretty much” met sy lewe kan aangaan as jy nie meer daar is nie.

Ek wonder gereeld of enige iemand ooit op ‘n punt in hulle lewe kom waar hulle voel hulle is perfek gelukkig, ‘n plek waar hulle dood tevrede voel en vervuld is. Koos sê dit het hom ongeveer sestig jaar gevat om te besef dat geluk nie gemeet of getel kan word nie, dat geluk nie gekoppel moet wees aan ‘n eindbestemming nie.

Ek hoop ek word so cool soos Koos Kombuis.

https://af.wikipedia.org/wiki/Koos_Kombuis

Be Kind/Wees Gaaf

Ek het ‘n vriendin wie gereeld vir my sê “Be kind to yourself”, want dit is wat haar terapeut haar gereeld maan om te doen.

“You are too tough on yourself”

As ma’s en vroue is ons so besig om al ons balle in die lug te probeer hou, dat ons fokus op ons tekortkominge, eerder as om onsself op die skouer te klop oor alles wat ons wel reg doen.

Ek lees laasweek ‘n facebook pos van ‘n New Yorkse ma wat goed gatvol geraak het vir haar gesin. Na haar man blykbaar vir haar gesê het “you do nothing around the house”, het sy besluit om vir twee dae weg te gaan en die twee kinders in hulle pa se sorg te laat. Twee dae later, terug by die huis, het sy foto’s geneem van onder ander die familie badkamer, die sitkamer en die trappe. En natuurlik haar storie en die foto’s op sosiale media gedeel. En soos julle net kan dink, was die huis gedompel in chaos. Klere op die badkamervloer en strepe tandepaste merke in die wasbak. ‘n Wasgoed mandjie wat oorloop soos die weduwee se kruik en speelgoed wat die wêreld vol lê. Soms moet mens sulke drastiese stappe neem om weer deur ons familielede waardeer te word!

Toe ons in Suid-Afrika gewoon het, was ek voltydse “Mom’s taxi” en altyd net betrokke en beskikbaar. Daar was elke week middag iets aan, as dit nie swem in die somer was nie, was dit hokkie in die winter, en al die ekstra aktiwiteite wat buite skool was. Tussendeur het ek ‘n paar klein besighede op die been probeer bring wat my hele oggend by die huis, en selfs aande se tyd sou opvat. Om nie te praat van ‘n laaste minuut gejaag na die hardeware winkel om polestereen te koop vir ‘n vergete skooltaak, of chinese mark toe vir konsert klere of ‘n uitrusting vir ‘n partytjie. Saam met ander ma’s het ek gehelp by skoolkonserte, funksies by die laerskool en fondsinsamelings by die kleuterskool. Daar was kinderpartytjies, en “playdates” en koffie oggende saam vriendinne. My dae was super vol en super besig tot die punt waar dit soms oorweldigend geraak het. Maar tog was dit lekker ook, om ‘n doel te hê en om beskikbaar te wees vir my kinders. Toe ons Engeland toe verhuis, het die kinders skoolgegaan tot half 4 in die middag, aanvanklik was daar nie naskoolse aktiwiteite nie. My middae het ewe skielik baie lank voor my uitgestrek. Die Covid jare het dinge natuurlik nog meer gekompliseer en ek het so “useless” gevoel oor ek gesukkel het om Japsnoet, wat toe elf jaar oud was, te help met Wiskunde. Toe ek weer sien, sit ek met twee hoërskool dogters wat nie meer hulle ma nodig het nie.

Hoe is ‘n mens “kind” , of gaaf, met jouself as jy op ‘n plek kom waar dit voel of die enigste waarde wat jy toevoeg, basies is om ‘n bediende te wees vir jou gesin? Terwyl daar ander vroue is wat fisioterapeute of dokters is, vroue wat ‘n verskil maak by liefdadigheids organisasies, enkel ma’s wat werk om die pot aan die kook te hou, vroue wat op die ouderdom van 40 verder studeer, of vroue wat boeke skryf oor menopause. “Epic stuff!”  My lewe? Daar is kos in die yskas en gepakte kospakkies vir skool, daar is skoon en gestrykte klere en ‘n skoon badkamer en ‘n gemopte kombuisvloer. My dogters hoef nie op ‘n sneeu dag of ‘n storm dag of in die middel van ‘n hittegolf huis toe te stap na skool nie, want ek is beskikbaar om hulle te gaan haal. Hokkie hemde en hokkiekouse is altyd gereed op wedstryd dae en vir maats se verjaarsdae word geskenke gekoop en toegedraai. Na Covid het ek moeite gedoen om meer betrokke te raak by my kinders se skool. Ek het myself voorgesit om op die kommittee te wees wat die jaarlike skool kersmark reël en ek het uitgehelp by die “school prom”.  Vanaf 2021 het ek deeltyds, net ‘n uur ‘n dag, begin uithelp by ‘n kleuterskool. My motivering was eenvoudig – ek wou mense ontmoet en vriende maak, en ek wou bietjie roetine en ‘n doel in my lewe hê.

Verlede week het ek bedank by die kleuterskool asook by die kersmark kommittee. Dit was so ‘n emosionele besluit. Ek het gevoel soos ‘n mislukking, dat ek sommer net “opgee” oor dit bloot nie meer “lekker” is nie. Hoeveel vrouens daar buite is in beroepe wat hulle nie geniet nie? Maar hulle het nie ‘n keuse anders as om aan te gaan nie. Die ruil van morsige peuter doeke was eendag die laaste strooi vir my. Op daardie ouderdom, 4, in die kleuterskool, moet die kinders ge”potty train” wees, maar daar is een seuntjie wat klokslag, elke middagete skof, sy doek bevuil. Daar is ‘n dogtertjie, wat na nege maande nog steeds bang is om toilet toe te gaan, met die gevolg dat wanneer sy dan ‘n ongeluk het, sy letterlik tot in haar skoene papnat is. Die skool binne is nie vir my vreeslik skoon en higienies nie, en ek het begin bevraagteken hoe gereeld die storietyd mat skoongemaak word. Twee keer ‘n jaar het ek so siek soos ‘n hond geword van al die snotneusies en maagvirusse wat die rondtes gedoen het. Dit klink of ek, alweer aan myself probeer regverdig hoekom ek bedank het. Verlede jaar se kersmark was georganiseerde chaos, met soveel dinge wat laaste minuut gekoop of verander moes word. Dit was nie “lekker” nie, die stresvlakke het hoog geloop en dit was nie vir my ‘n positiewe ervaring nie. Ek dink ons het op die ou end iets soos £3,000 profyt gemaak, £3,000 wat moes gaan om die skool se kapel se dak te vervang. Dit is maar ‘n druppel in ‘n helse groot emmer. Het ek in die laaste twee jaar vriende gemaak deur my betrokkenheid by die kleuterskool en die kersmark? Ek het gawe mense ontmoet en my “kennis kring” weier gemaak, maar nee, ek het nie vriende gemaak nie.

Daar is niemand wat my kritiseer oor ek hierdie dinge opgegee het nie. Inteendeel, my twee tieners kan nie glo dat ek vir so lank uitgehou het om peuters op te pas nie, want hulle sou gereeld sê dat daar nie ‘n manier is wat hulle dit sou wou/kon doen nie.

Maar ek kan nog steeds nie help om te voel dat ek myself “teleurgestel” het nie?

Somer in die Noorde

Dit was ‘n ellelange winter. En die heerlike weer wou maar net nie kom saam die koms van geel affodille, pienk bloeisels en laataand sonsondergangs nie.

Teen einde Mei het ons begin wonder of die somer ooit haar kop sou uitsteek. Wat as somer net eenvoudig nie opdaag nie? Selfs Manlief wat gewoonlik nie te gepla is deur die weer nie, het moedeloos begin raak, want sy fietsrygroep het Woensdag aande weer begin buite ry. Maar laasweek het Moeder Natuur uiteindelik gehoor gegee aan my gebede en die temperature het begin styg. Tot die punt dat daar vir vandag donderstorm waarskuwings is! En dit herinner my dan altyd aan die hoëveld donderstorms wat altyd ons huis se dak laat lek het. Soms was die donderweer so erg dat ek, soos my ouma, die huis se gordyne toegetrek het. Ek het maar net veiliger gevoel so.

Warm somersdae in Engeland word nogal omhels deur die Britte. Skielik sien jy jong meisies in bikini toppies in die park lê en mans wat hemploos buite pubs sit. Met wit lyfies sonder enige sonbrand room en jy weet sommer vanaand gaan daardie klomp huil in die stort! Kindertjies uit saam met pa’s en ma’s op skopfietsies en helms op hulle koppe. En “socks and sandals”, jip, dis nie net ‘n Duitse ding soos ek altyd gedink het dit is nie. Die volwassens sal nog sandale en tussen die tone plakkies dra, maar kaalvoet sal jy hulle ook nie sommer sien nie. Ons klein dorpie het Sondagoggend vroeg al gewemel van mense. Waitrose, ‘n plaaslike koswinkel, se “check outs” was nog nie eers oop nie, toe staan daar al ‘n ry in die blikkieskos gang af. Die voorspelling vir daardie sonnige Sondag was 30grade, en braai of piekniek was op almal se agenda. Mandjies gevul met roomys, koeldranke, aarbeie, burger patties, skyfies en slaai bokse. Ek verstaan hoekom die Britte praat van “barbeque”, en hoekom Suid Afrikaanse Engelse, maak nie saak waar in die wêreld hulle woon nie, nog steeds verwys na braai. Want braai en “barbeque” is net nie dieselfde nie. Julle weet mos – ons braai boerewors en skaaptjoppies en steak, en speklappies vir voorgereg en sit die knoffelbrood so in sy foelie, op die rooster. Die Britte, “you’ve got to love them though”, se barbeque is vegetariese worsies, hamburger patties en varkworsies. Die knoffelbrood gaan in die oond en die mengelslaai is selde in hulle eie kombuise gemaak. Dit sal gewoonlik een wees wat kom uit Sainsbury’s of Tesco se yskaste, met baie blare, so agt “cherry tomatoes”, ‘n paar snye komkommer en ‘n half dosyn soetrissie repies. En dan moet dit doen vir vier mense.  

So paar weke terug het ons Britse vriende genooi vir ‘n braai. Wel, my mengelslaai het gevlieg en die tuisgemaakte aartappel slaai was beter as enige winkel slaai. Al moet ek dit nou self erken. Saam met die gewone bestandele, soos in die winkel slaaie, was daar ook feta kaas, songedroogde tamaties, rooi soetrissies, rooi uie ringe en avokado peer. Ek het vir Manlief vooraf gesê om die boerewors in klein stukkies van so 7cm te sny. Die laaste ding wat ek wou gehad het is dat elke gas ‘n lekker groot porsie boerewors inskep, vir die meerderheid om eenkant gestoot te word, wat eventueel in die groen kos asblikkie sou opland. Ook maar net sowel. Elke gas het ‘n stukkie “South African beef sausage” probeer, maar nie gegaan vir ‘n tweede stukkie nie.  Manlief het daarby “steak” gebraai, maar sjoe, die vleis hier kom nie naby Suid-Afrikaanse standaard vleis nie. Snaaks hoe die Britte kosse sal eet soos “chinese take-away” op ‘n weeksaand, sushi, Griekse moussaka, Spaanse tapas en paella, Thaise kerries en Indiese tandoori en tikka, maar vir ‘n boerewors trek hulle hulle neuse op. Ons het nie eers gewaag om biltong voor die tyd as ‘n snoep happie te bedien nie, net Willards Mrs Balls chutney skyfies. Die hele week gaan heerlik warm wees en ek voel of ek lewendig is. Min dinge bring my soveel vreugde as om buite in ons tuin te sit met ‘n boek of met my rekenaar, ‘n glas water met hope ys, en wasgoed wat liggies flap op die wasgoed rondomtalie. Jip, want om jou wasgoed buite te kan hang om droog te word, is ‘n groot somers geskenk!

Op Blouberg se Strand

Op ‘n koue wintersmiddag is ons hier weg (uit Engeland). En Vrydagmiddag het ons geland in sonnige Suid-Afrika en ‘n blasende suidooster. Welkom in Kaapstad!

My sussie en haar gesin het hulle Kaapse paasvakansie maande vooruit bespreek. En wat aanvanklik ‘n gespottery was, oor hoe lekker dit sou wees as ons by hulle kon aansluit, het eventueel ‘n plan en toe ‘n realiteit geword. Die oomblik wat ek uit die motor geklim het in Bloubergstrand, en uitgekyk het oor die majestieuse Tafelberg, het ek Laurika se nostalgiese stem gehoor. Sy het nou maar net eenvoudig ‘n manier om woorde in die mooiste musiek te omtower. 

Die golwe weet waar breek die branders – hulle dink hulle’s vry

En dis presies hoe ek gevoel het. Vry. Asof ek vir die eerste keer in maande net soveel ligter was. Asof die swaarheid net weggeval het. Want alhoewel Kaapstad nie my tuiste was nie, sien ek nog steeds Suid-Afrika as my hart se tuiste, en ek was van plan om elke minuut met elke sintuig te geniet. 

Die eerste week het ons toeriste dinge gedoen om my sussie se jong kinders te akkomodeer. Tafelberg se kabelkar met die mooiste uitsig, en hope foto’s, op ‘n helder dag. Burgers en melkskommels by Spur, ‘n piekniek op ‘n wynplaas met die ongelooflikste uitsig oor Noordhoek en haar eindelose strand. Daar was wit draai roomyse op die strand en brander baljaery in die koue Atlantiese oseaan. Braai’s en springbokkies en Simba Fruit Chutney chips en Woolworths malva poeding. Ek het my susterkinders so ongelooflike gemis en die tyd saam met hulle was ‘n pleister op ‘n wond wat vir maande net nie wou genees nie. En elke dag het ek my susterkind se ligbruin hare in ‘n ander haarstyl omtower. Die eerste paar dae was sy skepties, maar toe word dit roetine. Ons het almal weer begin “kleur” kry van oggendstappies langs die see en koffie daarna terwyl ons gesit en kyk het hoe honde op die strand en tussen rotse baljaar. Hoe het ek gewens dat ek daardie sonskyn, en die reuk van seewier, kon bottel en terugbring Engeland toe. 

Een stel familie is terug Johannesburg toe en die volgende stel het gearriveer. My pa en ma. Alhoewel ons tyd saam net vier dae was, was dit so kosbaar en het ons die beste gemaak van elke oomblik. Ons het die heerlikste ontbyt gehad in Melkbosstrand, by die Damhuis restaurant, en daarna ‘n ent langs die see gestap. Daar het my pa met ‘n wildvreemde tannie, wat met haar hond gestap het, begin gesels en uitgevra oor haarself en die area. Nou weet ek waar ek dit vandaan kry – my liefde om met wildvreemde mense geselsies aan te voer. Franschoek en ‘n middagete by die gewilde Reuben’s restaurant was ‘n groot bederf, en ek en my ma het rustig in die hoofstraat afgedwaal en hier en daar by ‘n winkel ingeloer. Ons het op ‘n reënerige dag Kalkbaai en Simonstad besoek, gebraai en gestap en gesels en gesels. 

Mense praat van “Kaapstad wat voel soos ‘n ander land”, en ek het dit nooit regtig verstaan nie. Totdat ek dit self beleef het. As iemand wat vir amper 20 jaar in Johannesburg gewoon het, en aangepas het by die veranderinge in terme van sekuriteit, beurtkrag, sypaadjies vol bossies, smouse op elke hoek, het ek maar altyd aanvaar dat Kaapstad dieselfde is. Ek weet Kapenaars stry dat daar ook moord en roof en kapings is, dat hulle onveilig voel om in die donker huis toe te ry verby plekke soos Khayelitsha en Mitchells Plein. Maar in vergelyking met Johannesburg is die verskil vir my soos dag en nag. Ons het ‘n huis gehuur in ‘n kompleks, waarvan daar nie eers ‘n sekuriteitshek by die ingang van die kompleks was nie. In die oggende, wanneer ons gaan stap het, het ek nie vir ‘n oomblik bang of bedreig gevoel nie, want daar was soveel ander mense wat ook gestap of gedraf het. Sypaadjies is onderhou en daar lê nie rommel in die strate nie. Geen wonder daar is hope Gautengers wat Kaap to semigreer nie, want as jy nie kan landuit nie, is Kaapstad en haar woonbuurte glad nie ‘n slegte Plan B nie. 

Ons het via Dubai teruggekeer Engeland toe. Daar het ons vertoef vir so drie dae. ‘n Avontuur vertelling vir ‘n ander keer. Die tyd saam met my sussie en haar kinders het my weer moed gegee om aan te gaan aan hierdie kant. En ek hoop ek het genoeg mooi herinneringe gebou met die susterskinders sodat hulle darem, wanneer ek in Oktober gaan kuier in Johannesburg, minder skaam sal wees. 

My siel was vol en ek hoop dit sal nog ‘n hele rukkie so bly. Tot wanneer ek weer by my mense gaan kuier.

Dag 4509- 4522 – Stories luister, stories lees, stories skryf

So lank as wat ek maar kan onthou, was ek gek oor stories.  Aanvanklik stories lees en luister, en toe ‘n paar jaar later om my eie stories te skryf.

Ek was as kind, ‘n lid van die Siembamba boek klub en elke maand moes ons die boeke gaan haal by die poskantoor. Wat ‘n groot avontuur! Ons sou die posbussie met ‘n klein silwer sleutel oopsluit, die poskaart uithaal en dan binne die poskantoor die pakkie gaan haal. As ek reg onthou was daar sommige maande meer as een boek? Elke hardeband boek het gewoonlik meer as een storie ingehad en ek sou die hele boek in ‘n dag of twee verslind. Daarby was ek ook mal daaroor as my ma vir my stories voorgelees het, want dit was ons kwaliteit tyd saam. En haar stem was vir my só mooi. Vakansietye sou ek elke oggend, ek dink dit was om en by tienuur, op my maag voor die radio gaan lê. Dan was dit Siembamba storie tyd op die radio. My passie vir stories was dan aangewakker en versigtig sou die storie plate uitkom. Jakkals en wolf, Liewe Heksie, Die Gestewelde Kat, Rooikappie, Pinocchio en Heidi! So kon ek vir letterlik ure aaneen, die een storie na die ander luister, en sommiges oor en oor, totdat ek woord vir woord, die storie kon saam vertel.

Storieman kasette, wat saam ‘n boek gekom het, was die ander hoogtepunt. Terwyl jy na die kasset luister, kon jy saamlees, en elke keer as die bladsy omgedraai moes word, was daar ‘n “ping” op die kasset. My ouers het ‘n streng begroting gehad, so ek was werklik bevoorreg om soveel boeke te kon kry. Skoolvakansies alhoewel, moes Ma maar dorps biblioteek toe ry in Vereeniging. Ek weet nie eers of die biblioteek meer bestaan nie? As ek my oë toemaak kan ek nog steeds ruik hoe dit daar binne geruik het, en ek verbeel my daar was twee vloere? My geheue laat my bietjie in die steek. Ek is nog steeds gek oor ‘n biblioteek en die atmosfeer wat daar heers. In elk geval, ek sou my ma se kaartjies ook gebruik, want my boeke het nooit twee weke lank gehou nie! En veral in die langer vakansies was ons na ‘n week weer terug. Dit was die era van Saartjie en Trompie en “Secret Seven”.  Op 15 het ek stories begin skryf, met die hand, in ongebruikte A4 skoolboeke. Ek het nou nog ‘n paar van my stories. Soms sou ek na ‘n advertensie kyk in ‘n tydskrif, of iets sou gebeur by die skool en dit sou my dan inspireer om ‘n kortverhaal te skryf. Wanneer ek die stories nou lees besef ek hulle was eintlik “pretty lame”! Maar as tiener was my stories ‘n ontvlugting, en ek kon op skrif droom van ‘n ander lewe, waar ek in die hoofkarakter se skoene kon klim en ‘n gesofistikeerde ugwaardin, ‘n blonde wildbewaarder of ‘n lang model wees. Stories waar die die gewilde rugbyspeler die eenvoudige meisie, eerder as die netbal kaptein, na die matriekafskeid vra. Stories waar die strooijonker net oë het vir die skaam strooimeisie. Ek was ‘n “sucker” vir die “underdog”. Seker oor ek altyd gevoel het soos die “underdog”, wat nooit die mooiste, gewildste of slimste was nie. My stories het my hoop gegee.

Engel (16) was maar ‘n pap baba toe ek vir haar begin stories lees het. Dit was deel van ons aand roetine. Eet, bad en storie lees op die mat voor slaaptyd. Farmyard tales was my absolute gunsteling.  Dis ‘n reeks oor ‘n sussie en boetie, Poppy en Sam, wat grootword op ‘n plaas en allerhande avonture beleef. En, nes haar ma, het sy ook boeke begin verslind.  Noddy stories is oor en oor gelees, en toe sy op die ouderdom van 9 haar eerste Harry Potter boek self lees, het haar liefde vir lees vlerkte gekry.

Anyway, waarby ek eintlik wil uitkom is dat Huisgenoot, in die laaste 18 maande, nou al drie van my kortverhale gepubliseer het. En die gevoel, wanneer ek my naam in swart en wit sien, “oh man”, dis sommer net “cool”! Dit laat my voel asof ek, na al die jare, ‘n “gehoor” het, dat iemand dink my stories is goed genoeg vir publikasie en dat heelwat mense dit lees, en hopelik baie daarvan hou! Een van my kortverhale was selfs onder die top 5 vir ‘n skryfkompetisie. Ek wens my ouma het nog gelewe om my stories te sien en te lees. Sy sou die trotste uit almal gewees het!

Daar is heelwat nuwe idees wat in my gedagtes rondspeel en ek skryf hulle neer in ‘n notaboek wat Engel (16) vir my gegee het vir Moedersdag.  Spesifiek vir my kortverhaal beplanning, het sy binne-in geskryf. Maar vir eers is my fokus op Donderdagaand. Wanneer ek en ons kinders op ‘n vliegtuig klim om vir die eerste keer in 27 maande in Suid-Afrika te gaan kuier.

Dag 4502 – 4508 Eksie perfeksie

So week gelede het ek ‘n lang, geskrewe stuk op my facebook blad gepos. Dit het gekom nadat ek myself kastei en oor kole gehaal het oor Japsnoet nie daardie oggend ‘n skoon, wit skoolhemp gehad het om aan te trek nie. Dit het ook nie gehelp dat die kosblikke maar vervelig was nie, en dit ook boonop na ‘n gesprek in die kar met Engel nie te lank terug nie. Ons het gepraat oor kosblikke en hoe ek nie aldag weet watter gesonde “snacks” om vir hulle in te pak nie.

“I wish you would sometimes pack us unhealthy lunchboxes. My friends get crips and chocolates every day.”

Genade, mens kan ook nie wen nie.

Na Japsnoet se geboorte het ek nie weer teruggegaan na ‘n formele, offisiële plek van indiensneming nie. Ek het tuis gebly en my dogters groot gemaak en huisvrou geword. Dus het ek my huis gesien as my “werkplek ruimte”. Met die gevolg dat as ek die bal laat val het, het ek gevoel ek faal. Alweer. As Manlief ‘n kommentaar gelewer het oor Engel wat nie maniere het nie of Japsnoet wat so lui is, raai wat, dan het ek dit persoonlik geneem en net gedink

“Wow Pixie, jy is so ‘n failure. Jy kan wragtig niks regkry nie”.

Een tree vorentoe en twee tree terug. Want dit is mos my “werk” om seker te maak dat alles by die “firma” glad verloop. In elk geval, 13 jaar later, wanneer Japsnoet raas kry by haar pa oor haar morsige kamer of die manier wat sy iets eet, vat ek dit onmiddellik as ‘n belediging voor my deur kom sit. As ek nie ‘n wiskunde probleem kan help oplos nie, voel ek so dom soos grond, as ek nie kan deelneem aan ‘n gesprek oor stygende rentekoerse nie, voel ek nog dommer. Dis asof ek my brein al so gekondisioneer het om net eenvoudig enige onvolmaaktheid op myself te vat. Dan moet ek met groot moeite, my destruktiewe denkpatroon verander om te onthou dat ek nie verantwoordelik kan wees vir elke onvolmaaktheid nie. En ek moet myself herinner dat ons onvolmaakte skeppings is wat foute maak en opmors en die bal laat val en van die bus afval. Dammit man, daar is so baie dinge wat ek reg doen en goed doen! Ek is mos nie ‘n “loser” nie. So hier is dit –

I might not understand dividends or the stock market. Neither do I know most of the biological names for certain body parts of illnesses. I was never a great entrepreneur, I am not a philanthropist and I don’t do volunteer work. I can sometimes be selfish, it is self preservation and me trying to maintain a balance in my sometimes crazy mind. I don’t have influential people on my contacts list, I am not a pillar of the community and I am not a member of the school’s PTA.

But…. I am kind, I fight for my daughters and I am passionate about my family, making memories with them. I have empathy, and if I do hurt anyone with my words or actions, it is completely unintentional and if I knew I hurt someone, I would be devastated. I will help a stranger who falls over a step exiting the chemist, or someone slipping on the ice in the carpark. I will hug one of the kiddies I work with if they are sad, I will compliment them on eating all their lunch, using “please” and “thank you” and for being particularly kind to a friend.

I label myself as being creative. Sometimes i like wearing a pair of colourful earrings or painting my nails a combination of lilac and silver. Yes, I love posting things on facebook and taking photos of spring blossoms and snowflakes on car windows. I can sometimes tell you insignificant facts, like an actress’ real name or her first movie or the name of her children. I can cook, bake, clean, iron, change a Queen size duvet cover, grow tomatoes, sew on buttons, set a pretty table, decorate a room, write publishable short stories, decoupage a memory box. Due to my impatient nature, none of these are necessarily perfect or flawless, but I try. Sometimes not a lot, sometimes with more enthusiasm and commitment.

My point is – let’s not focus on people’s small imperfections, but rather accept and acknowledge them for their good qualities. Build people up rather than putting them down.

Dalk moet ek dit uitdruk en oral opplak? Teen die kombuisdeur, teen my kamerdeur, teen die voordeur en dalk selfs op my skootrekenaar se “deksel”! Want ek laat val die bal, maar flip, ek tel hom elke keer eventueel op en probeer weer.

Dag 4489 – 4501 – Vriendskap onder ‘n vergrootglas

Wanneer myle en kontinente en eventueel maande wat jare word, jou skei, begin jy na-dink oor jou vriendskappe en of hulle die afstand en verloop van tyd, gaan oorleef.  Ek is ouer, en hopelik wyser, as toe ek die vorige keer my land verlaat het, en dus het ek nogal ‘n gevoel gehad oor watter vriende die toets van tyd gaan weerstaan. Dis maar ook ‘n “self preservation mechanism”, om daaroor na te dink en vooraf dié te identifiseer wat heel waarskynlik uit jou lewe gaan verdwyn. So is mens dan nie té teleurgesteld wanneer daardie vriende se whatsapp boodskappe al hoe korter, en eventueel minder, raak nie.

‘n Goeie vriendin het verlede week, uit verre Suid-Afrika, vir my kom kuier.  Genade ons is al saam deur vele lewensfases van ons kinders en deur ‘n kruisiesteek skepping van krisisse.  Van ‘n eksman wat ‘n afwesige pa is tot die drama van sibbe wat mekaar wil “vermoor”. Kim is een van daardie vriendinne langs wie ek kon sit by ‘n skool prysuitdeling, waar iets sou gebeur wat net ons twee snaaks gevind het, en dan ons uiterste selfbeheersing moes uitoefen om nie te lag nie. Ons is daardie vriendinne wat in meeste situasies met ons oë of met ‘n gebaar, kan kommunikeer.  Ek hoef vir niemand te sê dat sulke vriendskaps konneksies nie oornag gebeur nie. Dit spruit uit instink en kom vanuit ‘n plek van ‘n deel van geskiedenis.

Om Kim weer in lewende lywe te sien het aanvanklik soos ‘n dagdroom gevoel.  Die pandemie het my nogal swartgallig gemaak, verwag die ergste sodat jou teleurstellings nie te groot sal wees nie. Vakansies wat gekanselleer word, verjaarsdag partytjies wat gekanselleer word, sportbyeenkomste wat gekanselleer word. Maar daar was sy. Voor my “village” se treinstasie met twee groot tasse. En al gesels ons amper elke dag op Whatsapp, het ons aangesig-tot-aangesig soveel gehad om mee op te vang. Dit was uiteindelik ‘n geleentheid om net te praat oor dinge, behoorlik uit te vra oor die “groot goed” waarvoor mens nie altyd tyd het nie. Op ‘n reënerige dag is daar nie te veel te doen hier rond nie en ons is dus een middag na die naburige dorp, St Albans toe, vir die soeke na avontuur. Die dorp het ongelooflike karakter, onder andere ‘n klok toring wat dateer uit die 1400’s en ‘n pragtige ou katedraal an die voet van die dorp. Ons het ‘n heerlike Italiaanse ete gehad, en die St Albans Abbey gaan verken. Ek het nooit besef sy is so passievol oor geskiedenis nie, so dit was vir haar ‘n wonderlike ervaring. Natuurlik het ons ‘n giggel aanval gehad toe ‘n plaaslike vrou met ons praat en kommentaar lewer oor ‘n versteekte stel kelder trappe.

“At first I didn’t see nofink”,

Dit was haar manier hoe om “nothing” uit te spreek, wat ons die res van die middag vele male aan mekaar herhaal het. Terwyl Japsnoet laat die middag by ballet was, het ons ‘n gin en tonic gaan drink by ‘n pub oorkant die straat. En weereens het ons soos bakvissies gegiggel terwyl ons selfies probeer neem het sonder dubbelkenne of oogplooie. Totdat die jong bestuurder oorstap en offer om van ons ‘n foto te neem en boonop vir ons wys hoe om na die tyd die foto se ligskakerings te verstel.  Die groetproses is natuurlik nooit maklik nie en mens kan dit nie omseil nie. Ten minste kon ons groet met ‘n “see you soon”, want in April kom ons Suid-Afrika toe.

Alles gebeur mos maar op een slag, en ‘n paar ure nadat ek vir Kim afgelaai het by Heathrow Terminal 3, was ek op ‘n trein, saam met twee van my nuwe Britse vriendinne, Kathy en Tracey.  Ons was oppad om Dirty Dancing in ‘n teater in Londen te gaan sien. Ons het gelag, en burgers geëet, soos tieners gegiggel oor die Jonny karakter se ongelooflike bolyf, selfies geneem na die tyd al geselsend en laggend die verbasend besige half 11 trein teruggeneem huis toe.

Na die tyd het ek gedink oor hoe ‘n ironiese en ongewone dag dit eintlik was.  ‘n Dag wat begin het met ‘n ou vriendin, en geëindig het met my nuwe vriendinne. Ek het vreeslik lekker gekuier saam met Kim, en ek mis haar en natuurlik my ander jarelange vriendinne, ongelooflik baie. Wanneer groepe van hulle saam uitgaan vir ontbyt of na ‘n skool swemgala gaan kyk, sal hulle vir my selfie foto’s stuur met woorde soos “It’s not the same without you”, of “the third member of the gang is missing”.  Dit vul my altyd met ‘n nostalgie en ook ‘n hartseer want twee jaar later mis hulle my darem nog steeds in situasies waar ons ongetwyfeld saam sou gewees.

Die aand saam met my nuwe vriendinne was onbeskryflik lekker.  Ek weet ons sal jare in die toekoms in, daardie aand by die teater onthou en mekaar herinner van sekere oomblikke en ons sal giggel en “inside jokes” deel. Ek het die idee van vriendskap onder ‘n vergrootglas ondersoek die laaste paar dae.  Vriende het met verloop van tyd ‘n baie belangrike plek in my lewe ingeneem.  Veral toe Manlief lang ure gewerk het of weg van die huis gewerk het, en ek menigmale soos ‘n alleen enkelma gevoel het, het ons vriendegroep mekaar ondersteun. En telkemale ingestaan vir die afwesige pa’s. So het ek besef dat deel van my het, met my nuwe vriende, ‘n lae muurtje om my gebou.  Asof ek nie te naby wou kom nie, want ek het dan mos my “mense”. Met tye voel dit asof ek myself nog moet “bewys” en as nuweling my plek moet “verdien” in hierdie nuwe vriendskap sirkels. Ons het nog nie daardie kilogramme sakke sout saam opgeëet nie, en ons saamgevlegte bande is nog kort. Maar as ek nie daardie mure laat val en 100% van myself gee, en doodeenvoudig myself wees nie, gaan dit altyd voel of ek moet bewys dat ek deel kan wees van enige nuwe groep. En hoe onnodig eintlik, want die realiteit is dat hulle my aanvaar het en ingesluit het en dat ek ‘n volwaardige lid is van die nuwe vriendskaps groepe. En as daar sirkels is wat my nie innooi nie, dan is dit net hulle verlies, nie myne nie. Of hoe? 

Soveel as wat ek my vriendinne “back home” se waarde nie sal onderskat nie en kontak met hulle sal behou, net so moet ek myself ten volle gee in my nuwe vriendskappe.  Want die realiteit is dat ek nog ‘n hele paar jaar hier gaan wees. En die hier en nou is wat op die oomblik saakmaak.

Dag 4112-4488 – Muurpapier en stortkop jakkalsies 

Ons het huis gekoop!  So na twee jaar moes ons weer trek!

Natuurlik het paniek en ligte angsaanvalle begin inskop toe die trek datum op ons familie kalender geskryf kon word.  In pen!  Ons het altyd geweet ons was baie bevoorreg om ‘n groot huis te kon huur, en het geweet ons sou nooit kon bekostig om so ‘n groot huis te koop nie.  Ten spyte van daardie realiteit, het nog steeds aande wakker gelê en wonder waar sekere meubels en “goeters” gaan inpas in die nuwe huis.  Ons 8-sitplek eetkamer tafel, wat soveel meer is as net ‘n soliede houtblad met ses swaar pote.  Dis ‘n tafel waar om ons menigte familie en vriende bymekaar gebring het oor tien jaar, ons kinders se verjaarsdae gevier het, Kersetes gehou het saam mense wat nie meer met ons is nie.  Bokse en bokse gevul met verf, linte, “glue guns’, stukkies materiaal, kraletjies – my “arts and crafts”.  Vir ander mense sal dit lyk na gemors, vir my is dit my terapie, waarmee ek net kan ontsnap van enige iets wat my “opeet”.

 

Vriende het my herinner dat, in vergelyking met ‘n internasionale trek, hierdie trek ‘n paar strate weg, ‘n vulletjie is.  En dit was so waar!  Dit was inderdaad makliker.  Ons kon ‘n paar kleiner items self aanry, fietse kom stoor en begin beplan waar om wat te skuif.  Die trek het goed afgeloop, maar dit was nie vanselfsprekend nie sonder sy klein jakkalsies nie. Ons het kamers geruil en weer geruil, kaste uitgehaal, sementblokke op die gras uitgesit, onsself uit die huis gesluit, die onderste helfte van ons bed gebreek, en weer herbou. Manlief het sy enkel geswik teen die trappe af en die binnekant van sy een hand oopgesny toe hy oor ons kanthekkie probeer klim het. Darem niks te ernstig nie en ons, nee wag, ék, kon darem daaroor lag ‘n paar dae later.

 

Daar is alhoewel ‘n paar dingetjies waaroor ek nog nie kon lag nie.  En ek voel vreeslik ondankbaar en “first world problems”-bederf om oor hierdie goed te kla.  Engel het, tot my grootste verbasing, genoem hoe sy nou “tuis” voel en dat die huurhuis nooit soos ‘n tuiste gevoel het nie.  Ek aan die ander kant, sukkel na twee weke, om my “ritme” in ons nuwe huis te vind.  Dit voel of ek nog in ‘n “oorgangs fase” is. Om onder ‘n warm stort te staan is een van my groot bederwe.  Maar ons huidige stort is besig om my te dryf tot ‘n kop malligheid.  Die druk van ons water is baie swak en dit verg geduld om onder die stort se piepiestraaltjie die seep van my lyf te was en die shampoo uit my hare te spoel.  Teen ons slaapkamer se een muur is ‘n silwer en room kleurige muurpapier wat lyk soos onkruid.  Maak nie saak hoe duur die papier is nie, “it is not growing on me”.  En ek weet al hierdie dinge kan vervang en verander word, niks van dit hoef permanent te wees nie.  Maar as jy jou laaste sente in huiskoop ingeploeg het, verg dit fyn beplanning om ‘n loodgieter in te kry teen £50 ‘n uur.  En silwer-en-room kleurige muurpapier,  is nie bo aan die lys van prioriteite nie.

 

Maar maar maar…. Dit is werklik nie alles “doom and gloom” nie.  Ons het ‘n gesellige elektriese kaggeltjie in die voorkamer, Manlief het ‘n baie oulike binneshuise fietsry spasie geskep in die “summerhouse” agter in die tuin, dit was nie nodig om ons eetkamertafel te verkoop of kleiner te sny nie, en selfs op ‘n grys dag het ons huis hope natuurllike lig wat instroom deur die groot vensters.

 

Daar is heelwat positiewes tussen al die jakkalsies deur.  Ek moet maar net vir eers verby die muurpapier en piepie-stort kyk en leef.

Dag 4101-4111- Witbrood

Op ons laaste seevakansie het ons dit begin sê. Witbrood.  Soos die gesegde – kla met ‘n wit brood onder die arm? As die kinders gekla het oor ons vakansiehuisie wat nie ‘n swembad gehad het nie.  Witbrood, julle is op ‘n seevakansie.  Of as daar hanglip was oor hulle nie ‘n opblaas flamink het om in die lagoon mee te kan speel nie. Witbrood, julle het nuwe bikini’s en handdoeke. Die koffie winkel het nie die bessie kaaskoek nie.  Witbrood, julle sit in ‘n restaurant. 

Tans voel dit vir my of ek ‘n groot bord om my nek moet hang wat lees Witbrood.  In Engeland is ons weer in die middel van ‘n inperking.  En vader weet, dit voel of dit net nie ophou nie.  Ek is gatvol vir mense wat sê die einde is naby en daar is lig aan die einde van die tonnel en binnekort gaan dit ons 40’somethings wees om inentings te kry.  Ja ek weet al hierdie dinge! Maar dammit, dit help my nie nou nie!

Sedert 19 Desember is ons weer terug in ‘n “bubble”.   Engel (15) en Japsnoet (12) is heeldag in die huis agter rekenaars met deurmekaar (maar skoon!) poniesterte en sweetpak broeke aan.  Tieners het begin om die virus te kry en dit oorgedra aan onderwysers en hulle huismense. Die skole het dus toe nie 6 Januarie oopgemaak soos die kalender dit bepaal het nie. . Daar is nie groot haas om in die oggend uit die bed te spring nie, jy moet net seker maak dat jy teen tien voor 9, aangetrek, voor jou rekenaar sit.  Die skooldag begin met registrasie aanlyn om seker te maak almal is reg vir hulle skooldag voor die rekenaar.  Die gimnasiums is toe, so Engel se swem het tot ‘n halt gekom.  Selfs buite sport is gekanselleer so daar is geen hokkie oefeninge of hokkiewedstryde meer vir my twee nie.  En Japsnoet se weeklikse balletklas is nou ook weer aanlyn.

Daar is tye wat die inperking, en wat daarmee saamgaan, my meer affekteer.  Sommige dae is ek byvoorbeeld heel tevrede om die dag binneshuis te te spandeer. Ek het ‘n helder pienk laaikas in skakerings van grys geverf en ek is besig om vir my pa ‘n fotoboek te maak vir sy 70ste verjaarsdag.  Dit hou my gedagtes weg van negatiewe goed af; wanneer my hande besig is, sluit my brein af.  Maar die laaste twee weke vang die eentonigheid van elke dag my lelik.  Elke dag is…. presies…… dieselfde…… Word wakker, kyk na facebook op my foon, stort, maak koffie, kyk oggend tv, eet ontbyt, dink aan die maaltye wat vir die dag gemaak moet word, ensovoorts. Met tye kom sit die angstigheid swaar op my en dit voel of ‘n olifant op my bors sit. En ek sukkel dan, letterlik, om suurstof in my longe te kry.  Of ek voel soos ‘n voëljtie wat ingekluister is in ‘n te klein hokkie. Met tye wil ek die teatrale tantrum gooi van ‘n tweejarige peuter.  Met die beste bedoelings nooi vriendinne my om te gaan stap, want dis die enigste kontak wat ons mag hê met mekaar.   En dan voel ek ek wil, in hoofletters uitskree dat ek nie wil gaan stap nie! Ek wil vriende oornooi na ons huis toe, ek wil op en af stap in die biblioteek en die agterkante van boeke lees, ek wil ‘n tydskrif lees in ‘n koffiewinkel, ek wil vir ‘n naweek net ‘n ander dorp gaan verken!  Ek wil nie in die koue gaan stap wat my neus laat loop nie. Met ‘n wol mussie wat my kop laat jeuk en modder wat die onderkant van my jeans, wel, bemodder. Witbrood, jy is gelukkig om vriende te hê wat tyd met jou wil spandeer. 

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het die grootste respek vir die reëls en ons volg die riglyne.  En die staat het nie juis ‘n ander opsie gehad nie. “I do get it“. Maar sjoe, dis moeilik om ‘n lewe te leef wat so teen ons natuurlike gewoontes en instinkte is.  En ek wil skree as ek hoor mense praat van “die nuwe normaal”.  Want flip, daar is niks normaal hieraan nie!  Ek haat hierdie “nuwe normaal” waarvan almal praat asof dit nou maar net eenvoudig ons lot is.  Daar is ‘n masker, gel en handeroom in die kar, in my stapsak, in my handsak en spaar maskers wat hang by die voordeur.  Hoe de hel is dit normaal?  Ons kan nie ons vriende drukkies gee as hulle hartseer is nie, en die kinders kan nie maats oornooi nie.  Om uit ons roetines te breek, probeer ons saam nuwe resepte, ry na omliggende “villages” toe en gaan stap daar deur hulle strate, bespreek ‘n somer vakansie in Engeland in plaas van Griekeland, en koop nou al paaseiers vir April.

Witbrood……