Herinneringe

’n Pers stukkie skulp
gee ek vir jou.
Gebroke,
maar steeds mooi.

Die klippie uit my hand
is glad gewoel deur see en sand,
die ritme van golwe lewensasem, in en uit.

Mikroskopiese kristalle van pêrel
Skep ʼn illusie van blink
as jy water daarop skink.
Maar helaas, die branders
het hul merk gelaat
en blink is nou slegs ʼn herinnering.

Ek gee vir jou voete
spore van somers en lag,
die moed om te loop
as pyn en duisel
jou wil laat struikel .

Ek gee vir jou ʼn stukkie van my hart.
Lees die dieper waarheid
in my woord’ ontbloot.
Ek gee vir jou
ʼn stukkie van jouself.

Categories: Sommer maar net | 1 Kommentaar

Die drie kleintjies

In die môre se sagte asem
waar lig soos heuning val,
staan ek tussen klein wonders
van mos orals op die wal.
’n Slak se silwer kronkelpad,
’n reëndruppel wat sonlig hou,
feëtjieblomme so klein gebou
in sagte kleure soos pienk en blou.
Die wêreld fluister saggies
vir dié wat stadig kyk;
’n kaart van klein geheime
vir elke stille blyk.
En so leef ek my dae
met sagte woord en wind…
want in die kleinste dinge
word ek weer ʼn kind.
In die skadu van die bosse,
waar mos sag soos asem lê,
dans drie klein sussies,

feëtjies uit ’n sprokiessee.
Hul voetjies roer die mosbed
en hul lag klink soos klokke
wat deur die bos kom hang.
Teunet, kreatief en sag soos druppelmis,
Magda, sterk en kragtig soos ʼn warrelwind,
en Kobie, met haar skerp oog
vir elke wonderkind,

verdwaal in haar kop se somerswind.
Saam ontdek hulle blommetjies
fyn soos asem teen die bas,
blinkend in die groen skadubos
soos sterre wat blink in vreeslik lang gras.
En in daardie klein geheime
van mos en lig en spel,
dra die drie feë-sussies
die hele wêreld sonder enige kwel.
Olke bolke riebietjie stolke

of is dit akrakedabra kierankies braai?
die towerstaf is alle geval geswaai
en nou is die blomme vir ewig in glas gebaai.
 

Categories: Gedigte, Omgee, Slakgedagtes | 1 Kommentaar

Klein dingetjies wat saak maak

In Julie vanjaar het ek ʼn besering opgedoen tydens ʼn boogskietkompetisie in Zambië, oomblikke na die foto hieronder geneem is.

Met die besering is die biseps beseer en onder andere het die kraakbeen ook losgeskeur van die been. Dit kan nie regtig weer geheg word nie.

Drie weke gelede het ek ʼn skoueroperasie gehad. Op sigself is dit nie ʼn groot operasie nie, maar o wee! Die nagevolge en rehabilitasie wat daarop volg is wat die sukses van die prosedure bepaal, en dit is nogal intensief.

Die grootste van die prosedures wat gedoen was, was dat my bisepsspier geskuif is. Eenvoudig gestel is die spier se hegting aan die been losgemaak, ʼn gaatjie is in die been geboor en die hegtingsmateriaal daardeur gedruk en soort van agter geknoop om ʼn nuwe posisie te verkry wat verdere skeur van die labrum gaan verhoed.

Dis nou nie die tipe weefsel wat maklik groei nie, en al is my hart bloedjonk, is my lyf sestig verby.

Ek is gevolglik nou vir ses weke in ʼn moderne hangverband of te wel armstut sodat die spier kan heg. My arm mag byvoorbeeld onder geen omstandighede reguit gemaak word nie en ʼn paar ander verbode bewegings. Die biseps mag glad nie aktiveer nie. Velcro strokies op strategiese plekke van die stut verhoed van die verbode bewegings. Fisioterapie een maal per week en daaglikse oefeninge twee maal per dag is my vooruitsig vir nog baie lank.

Met hierdie beperking in beweging, veral die verlies van my dominante hand en arm,  het ek skielik agtergekom hoeveel klein dingetjies ons as vanselfsprekend aanvaar, hoeveel keer albei jou hande saamwerk om iets eenvoudig te laat gebeur.

Smeer bietjie ʼn broodjie met net jou dom hand. Smeer is niks, maar wie of wat hou die broodjie stabiel terwyl jy dit wil smeer? Eet jou kos met ʼn vurk. Mmm, daai stukkie vleis gaan nie werk nie… Maak ʼn hemp se knopies vas. Klink maklik nè, maar jou hand moet alleen die twee ente bymekaar kry en dan vashou om die knopie deur die skielik báie klein gaatjie te kry met dieselfde hand. Trek jou broekie oor jou boude na jy die hele toiletprosedure domhandalleen aangedurf het. Was met jou linkerhand onder jou linker oksel. Behoorlik, nè, nie sommer net woerts warts nie! Meer nog, vat jou skeermes en skeer daai wolle onder daai oksel af wat eensklaps groei asof daar ʼn kompetisie is om te kyk wie se onderarmhare groei die vinnigste. Maak die sjampoe bottel oop, gooi met dieselfde hand sjampoe op jou hare en was dit. Kam nou daai nat lang hare uit en maak dan ʼn poniestert. Trek ʼn T-hemp aan oor ʼn arm wat nie mag beweeg nie, dan oor jou kop en linkerarm deur die gat. Klink haalbaar. Oeps, dit maak ʼn rolletjie agter jou rug. Ontkoek daai rolletjie en trek jou hemp af. Nee… NEE! Daai arm mág nie beweeg nie! Wat van vat die besem en vee die vloer? Ek praat nou nie van versprei die dyof nie. Vee dit uit, man! Knip ʼn bietjie jou toonnaels. Ja, daai klein krommetjie wat ondertoe wys ook… 

Ag, so kan ek aangaan. Baie dinge het ek vooraf geoefen. Baie dinge werk toe nie so uit nie, want pyn saam met onkapabel is ʼn anderste ding.

Van dit kan ek nou al self doen en vir van dit het ek nog steeds hulp nodig. Met my dominante arm nou onbruikbaar, raak die hotklou al hoe handiger. Trots is ʼn vieslike ding en jy leer gou jy moet hom maar in jou sak steek om te oorleef. Dis toe nie so erg om iemand te vra om jou te help aantrek nie.

ʼn Piepklein blommetjie waarvoor ek op my knieë gaan sit het, met my linkerhand alleen afgeneem het. Tegnologie maak dit so maklik!

Ek is baie dankbaar vir baie dinge:

• Rekke in van my broeke.

• Lekker los T-hemde en hemde met knopies.

• Insteek tekkies en plakkies, wanneer ek stewiger tekkies wil aantrek, maak Roelf baie geduldig my veters vas.

• Elektriese tandeborsel.

• Fisios wat mens leer aantrek.

• Kleinkinders wat my rug kan krap vir daai onmootlike jeuk op ʼn plek waar jy nie eers ʼn stokkie gedraai kry om by te kom nie.

• ʼn Dogter byderhand om my skouer te masseer wanneer Pa besig is met werk.

• Parcetamol Panado’s vir pyn want ek is allergies vir opiate wat aanbeveel was.

• Ek is dankbaar dis somer, al is die arm so teen my lyf baie warm. Ek kan nie eers dink hoe moeilik ʼn langmou hemp gaan wees om deur te wikkel nie.

• My selfoon wat ek op my been kan rus en met een linker voorvingertjie ʼn hele blog kan skryf.

• Gesonde bene om nog lang ente te kan stap, al loop ek met ʼn stapstok om stabiliteit te verseker.

• Krane wat oplig om oop te maak en te verstel, en nie oopdraai nie. Dis net soveel makliker met een hand.

• My eie selfoon wat die fisio kan gebruik om my af te neem om oefeninge reg uit te voer.

• Onderarm absorbeerdoekies van Temu om te keer dat swamme groei onder my arm en in die waai waar die vleisies nou heeltyd op mekaar gedruk is – dis ʼn wenner!

• My selfoon om my mee besig te hou. Ag wat sou ek tog dóén sonder my stukkie tegnologie. Ek kan nog tien redes gee vir my dankbaarheid vir die ou ding.

• My uitskopstoel waarop ek gemaklik kan slaap. Ek mag net op my rug slaap en op die bed is dit te plat, dan kry ek nie asem nie. Dankie tog dat my klein lyf kan inpas op my stoel!

Die héél grootste ding waaroor ek dankbaar is, is my liewe man. Hy is net die beste. Niks wat ek vra is te veel gevra nie. Hy vul aan waar ek nie self regkom nie. Hy maak hoofsaaklik kos, ek help waar ek kan. Skottelgoed, vee, mop, stofsuig, wasgoed en wat ook al gedoen moet word, die doen hy. Ry my fisio en dokter toe. Het my aangetrek heel aan die begin. Sny steeds my vleis en smeer my broodjies. Maak my veters vir my vas. Maak ʼn poniestert na ek my hare uitgekam het. Ondersteun my emosioneel wanneer dit vir hierdie besige by te veel raak om ʼn erdwurm te wees. Dankie. Ek waardeer jou meer as wat jy ooit sal weet.

Klein dingetjies maak saak. Dit is die boustene vir groot dinge. Waardeer jou gesondheid en mobiliteit. Net ʼn oogwink en dis weg. Ek is dankbaar vir die wete dat my struikelblokke net tydelik is. Hoe lank dit gaan vat, dit weet ek nie.

Vir nou, waardeer ek al die klein dingetjies wat saak maak. Want die klein dingetjies is eintlik groot dinge.

Categories: Omgee, Slakgedagtes, Sommer maar net | 1 Kommentaar

Nemofilis

My Ma het groen vingers gehad. Altyd blomme in die huis, tuingemaak tussen die klippe met min water.  My eerste plant wat ek gehad het was ʼn goue Pothos plantjie. Ek was in die hoërskool en het in ʼn buitekamer op ons plot gebly. My ma het ʼn groot gloeilamp se binnegoed versigtig uitgehaal en die Pothos het pragtig wortels gemaak en welig gerank in my kamer.

Ek het gaan soek vir iets soortgelyks, loer by hierdie video.

Foto vanaf die internet

Ek het nie my Ma se groen vingers nie, maar hou baie van plante. Klein vetplantjies is nogal veral van my gunstelinge. In haar laaste jare het ek en my sussies vir haar bakke vol plantjies vir haar stoepie gevat by haar aftree-oord. Van die plaas af het ek stompies aangedra.

Kort na ons getroud is, het ek ʼn klein ronde visbak terrarium gehad. Dit was in die tyd waar biblioteekboeke die enigste bron van inligting was en ek het dit met moeite onderhou. Later jare het ek en my man die  mooiste loodglasterrariums gebou.

ʼn Paar weke gelede was ek en my man by ʼn orgidee-uitstalling by ʼn kweker. Daar is toe ʼn enorme terrarium vol mikro-orgideë. Missproeiers dra by tot ʼn absoluut misterieuse effek… Met moeite het ek aanbeweeg na die volgende groep plante.

“Jy weet ek kan vir ons so terrarium bou. Eintlik het ek reeds ʼn kas met ʼn glasdeur wat kan werk.” Nou ja toe.

Met die internet is inligting net ʼn Google soektog vêr, ondersteuningsgroepies en kundiges vanoor die wêreld 24/7 beskikbaar om raad te gee. Die gogga wat jare gelede gebyt het, is opnuut aangewakker.

In die proses leer ek het ʼn hele paar nuwe woorde.

Die eerste is paludarium. Dis ʼn kombinasie van ʼn terrarium met ʼn akwatiese gedeelte by. Byvoorbeeld ʼn akwarium onder wat aan die bo-kant uitloop na terrariumplante.

Volgende is vivarium wat die kombinasie is van ʼn terrarium met ʼn diertjie by. Voeg ʼn waterhabitat by en mense hou suksesvol paddas aan in hulle paludariums.

ʼn Nemofilis, dis nou iemand soos ek met ʼn liefde vir woude en bosse, wat vrede daar vind en ʼn spiritualiteit met die omgewing ervaar, is die volgende term. Dis skynbaar ʼn woord wat min gebruik word, en nou ken jy dit ook.

En daar gaat ons. Maak planne. Doen navorsing. Bestel met die klik van ʼn knoppie spesialisplante en benodigdhede. Tegnologie werk. Versamel mos, klippe en stompies in die veld. Koop nog plante by die kweker. Droom groot.

Die prys wat mens betaal om jou eie mosse te gaan versamel

So word ʼn ou rekenaar server kas tjop-tjop omskep in ʼn mini-woud vir die nemofilis met haar liefde vir glas, kompleet met beligting vir die plante en missproeiers om dit te benat. Tot ʼn paar erdwurms en ʼn houtluis kry ʼn nuwe huis. Terloops, mens kan houtluise ten duurste aanlyn aankoop…

Sommer ʼn hele paar kleiner terrariums kom tot lewe. Dis ʼn gogga wat baie diep gate byte.

My slakkies wat sommer net in ʼn ou roomysbak was, kry sommer ʼn pragtige nuwe huis; Molluskarium is sy deftige naam.

ʼn Glashouer met net mosse, roep ons ʼn mossarium.

ʼn Groot 1.2 m hoë glaskas se eerste aanplantings is reeds gedoen, en die ektra-groot akwarium op die stoep wat tans sonder vissse staan, sal oor ʼn paar maande vol in ʼn paludarium omskep wees.

Niemand anders wat ek as kind geken het, het plantjies in water gegroei nie.  My liefste Ma het ons intellek op soveel maniere gestimuleer en ons geleer om ons grense te verbreed sonder dat ons dit besef het. Dankie Ma, ek wens Ma kon my pragtige klein ekosisteme sien. Ma sou al die nuwe inligting saam met my geniet het en natuurlik sou ek vir Ma die mooiste terrarium bou.

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe, Slakgedagtes | Sleutelwoorde: , , , , | 5 Kommentaar

Gulella vreugde

Lees voort

Categories: Biodiversiteit op die plaas, Plaaslewe | Sleutelwoorde: , , , , , , , , | Lewer kommentaar

Die een wat langer is as bome

Dis vir my baie belangrik dat my lewe betekenis moet hê, ek wil nie net asem haal nie. Iewers hoop ek dat iets van my aan iemand sal afsmeer wat positief is. Net so belangrik is dat die mense en alles om my, betekenis vir mý moet hê. Klippe en dinge wat ek optel het sentimentele betekenis, elke ding waarmee ek te doen het word bestudeer en intens beleef; dit word deel van my.

ʼn Ruk na ons die plaas gekoop het, was ons so gelukkig om onverwags vir Frikkie en Frieda Thutlwa aan te neem en hulle word toe ook du Preez’tjies. Ek kon tot baie naby aan Frikkie stap. Frieda het ‘n groter persoonlike ruimte gehad en het dadelik gewys wanneer sy gedink het jy oortree haar ruimte. Ons het baie vir Frieda gelag. Sy het met haar lyf agter bosse gestaan, perfek gekamoefleer en dan teen die kant uitgeloer met haar kop. Kompleet asof sy dink ons sien haar glad nie. Dit was vir my ‘n besondere ervaring om tyd met hulle te spandeer. So statig. So rustig. So vol vrede.

Frieda groet die son op ons songroetklip
Frikkie met sy skewe horing

Frieda was nie ʼn goeie ma nie en slegs een kalf, Frommel, het oorleef. Hy is herdoop na Duke by die rehabilitasiesentrum waar hy was. Daar het hy vir mooi herinneringe gesorg vir menige van die vrywillige werkers in die paar maande wat hy geleef het. Al was dit ‘n kort lewe, sy lewe het vir iemand iets beteken.

Ek en ou Frommel

Frieda is dood met ʼn kalf wat vasgesit het en Frikkie het homself dood geval in ʼn sloot. Frikkie se skedel met sy een skewe horing het nou ‘n ereplek in my dogter se Lewenswetenskappe klas, reg by die deur waar hy die leerders verwelkom. 

Kameelperdbene is baie hard en mesmakers gebruik dit graag in die hewwe van hul tuisgemaakte messe. My broer Hannes se kreatiwiteit word uitgeleef met die pragtige messe wat hy maak en natuurlik het hy dele van ons Frikkie en Frieda gekry om hul lewens ʼn ander betekenis te gee.

Hannes maak vir my ʼn lieflike mes as geskenk met die hef van Thutlwa been en rooi hars vir ʼn bietjie kleur. 

Ek bestel vir my en my man Roelf elkeen ʼn groot knipmes by hom, en dis baie spesiaal.

Hierdie hewwe is van Thutlwa been en rooi-ivoorhout van ʼn boom wat sy lewe uitgeleef het op ons plaas.

Die rooi-ivoor is ʼn baie harde hout en ons het die hout geoes van ʼn stomp uit die veld. My mes is baie spesiaal vir my… my boetie het dit met sy eie hande gemaak van been van my geliefde langnekke en hout van ons plaas.

Ek het gedink dat dit nou die hoogtepunt is van ons liewe langnekke, tot ek ʼn WhatsApp boodskap kry van my broer terwyl ek by die skool is. My familie weet dat ek nie foon kan antwoord in die klas nie. ‘Kan ek jou bel as jy n kans het? Iets BAIE interessant wat mens amper nie kan glo nie…’ Met my eerste administratiewe periode laat weet ek dat ons die bel ding kan doen.

Dit wat hy vertel is nie interessant nie, dis absoluut ONGELOOFLIK!

Hy werk vir die weermag en daar is van hulle eenheid se mense in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

In sommige Afrika kulture speel diere ʼn belangrike geestelike rol. Hele families identifiseer met ‘n spesifieke dier. Sommiges dra die van van hulle dier, bv Tau (Leeu), Ngwenya (krokodil), Ndhlovu (olifant), Mamba. iNdlulamithi is die woord in die Zulu-tipe tale vir ʼn kameelperd en die Sotho-tipe woord is Thutlwa. Volgens die Suid-Afrikaanse skrywer en sangoma Vusamazulu Credo Mutwa, word kameelperde beskou as een van die heiligste diere op Aarde. Thutlwa beteken ‘the honored one’ of ‘the one to be respected’ en  iNdlulamithi beteken ‘the one who is taller than trees’.

Volgens Mutwa word kameelperde beskou as sieners omdat hulle gevaar van vêr af kan sien met hulle lang nekke.

Net voor een van die manne na die DRK vertrek het, het hy vir my broer kom vertel dat kameelperde hulle familie se dier is. Of hy êrens gehoor het van Hannes se messe en of hy slegs gevra het omdat hy weet my broer jag graag en het ʼn liefde vir die veld, weet ek nie. Maar hy het kom vra of Hannes nie weet waar hy iets van ʼn kameelperd kan kry om saam te vat na die DRK nie. Hannes maak toe vir hom ʼn redelike groot sleutelhouer van Frikkie of Frieda se been.

In Januarie sterf Suid-Afrikaanse soldate in die DRK waar hulle deel is van die UN se vredesmag.  Daar waar Hannes se kollega ontplooi is in Goma. Die rede waarom Hannes my gebel het, gaan oor daardie geveg.

Sy kollega het hom gebel om te sê dat hy in daardie geveg was en dankie vir sy stukkie heilige been. ʼn Stuk skrapnel het vasgeslaan tydens die geveg in sy stukkie been. Die projektiel sou hom gedood het as dit nie was vir Frikkie of Frieda nie! Hy wil nie ʼn foto neem nie, omdat sy geloof bepaal dat sy talisman dan sy krag gaan verloor, en hy het dit nog nodig in Goma. Kan jy dit nou oorvertel!

My Frikkie en Frieda het nie net asem gehaal, blare gevreet en gepoef nie. Hulle lewens het betekenis gehad en hoe bevoorreg is ek nie dat ek hulle geken het en tyd kon spandeer het met hulle. Nou het hulle ook betekenis vir mý lewe gegee, ek het vandag nie net asem gehaal nie, ek kon wat sekerlik die belangrikste hoofstuk van hulle bestaan was, oorvertel. Wat ‘n seëning!

Categories: Omgee, Slakgedagtes | 4 Kommentaar

2023 se gat is geskop

2023 was goed vir my.

Ek kyk met groot dankbaarheid terug na 2023. Dit was vir my ‘n goeie jaar.

Om die foto collage te maak, moes ek letterlik deur duisende foto’s gaan om ‘n paar uit te kies wat vir my betekenis het.

Ek is so bevoorreg om op die mooiste plaas te bly. Die veld en alle lewensvorme lê naby aan my hart. Dis vir my lekker om my seëning met ander te deel en daarom doen ek baie moeite om spesiale foto’s te neem. Die groen paddatjie is slegs 2 cm lank. Vir hom moet ek my gumboots aantrek en met ‘n flits gaan soek in die dam terwyl Roelf waghou om seker te maak ‘n wegloop-krokodil knibbel nie my toonnaels in die donker af nie.

‘n Groot droom is verwesenlik toe ek ‘n beginnerskursus in juweliersvervaardiging kon doen. Dit beteken dat ek nou self my glas in silwer kan set. Die helfte van die finansiering daarvan is die geldjie wat ek geërf het van my ouers. Dit maak elke stuk wat ek maak ‘n gedagtenis aan hulle.

Al verpes ek die sleur van elke dag se maaltye maak, is dit vir my lekker om konfyt te kook en goeters in te maak. Die lig wat so mooi deur my kalamondenmarmelade skyn, beur my sommer op.

Ek het so baie mooi glas gemaak hierdie jaar, dit was ‘n moeilike keuse, maar die blou kruis is vir my ‘n simbool van my geloof. Sonder God in my lewe, is ek niks. Ek het baie verkoop, maar meer weggegee. Die maak van elke stukkie glas om my kreatiwiteit uit te lewe, is vir my ‘n oorwinning. Om te weet dat ander mense ook daarvan hou, verskaf vir my ‘n diep vreugde

My liefde vir slakke is bevestig met ‘n uitstappie om mooie piepklein Gulellas te gaan soek. Dis iets wat onlosmaakbaar deel is van wie ek is en ek sien uit om weer hierdie passie deel te maak van my lewe. My blog se naam is nie verniet Slakkelak nie!

Op sportgebied het ek my eie SA rekord vir die Animal Round verbeter na ‘n beter telling. Die hoogtepunt van my jaar was om as wenner in my ouderdomsgroep van die Afrika kampioenskappe bekroon te word.

Mens bereik nie doelwitte op jou eie nie. Ek is meer as dankbaar vir die ondersteuning wat ek van my liewe man kry. Sonder hom in my lewe sou ek nie kon bereik wat ek het nie. Dankie vir jou liefde en ondersteuning.

Sonsondergange is soms trane-in-jou-oë mooi op die plaas. Wanneer die laaste strale breek is dit die oorgang van vandag na gister. Vir elke gister is daar ‘n vandag. Vir elke vandag, gaan daar ‘n môre wees.

Ons weet nooit wat die dag van môre gaan bring nie. Daarom moet ons elke dag voluit lewe. Ons moet op kyk en selfs wanneer die donkerste wolk ons wil oorval, die goue randjie raaksien.

Dankie vir elkeen wat hierdie jaar op my pad gekom het en ‘n paar voetspore saam met my gelos het.

Ek het ‘n stukkie Lig in my hand gevang en toe ek my hand toevou om dit vir my te vat, besef ek dat al vou ek my hand toe, Lig is nooit myne alleen nie. Die hou aan skyn en skyn vir ons almal.

Mag daar Lig in jou lewe wees in die nuwe jaar, gryp dit en skyn helder om die donkerte weg te jaag.

Voorspoed vir 2024. Mag dit vir jou ‘n beter jaar wees as 2023. Mag jou bagasie wieletjies kry wanneer dit voel of dit te swaar raak alleen om te dra. Mag jy vrede in jou hart hê. Lekker lag. Lekker eet. Mag jou mense vir jou lief wees. Mag jou two-ply nooit opraak nie en jou tandeborsel nooit wolle maak nie. Mag daar altyd kaas wees in jou yskas en jou waaier werk in die hitte. Mag jou kombers snoesig bly in die winter en jou honde bly wees om jou te sien. Mag jou katte by jou voete sit en spin van lekker kry en mag God se liefde en genade deel wees van jou lewe.

Liefde Kobie

Categories: Sommer maar net | 2 Kommentaar

Katstert

Kleintyd was Kerskaartjies ‘n groot ding. Prentjies van kerkies oortrek met sneeu, kersbome met kerse in, voëltjies wat knibbel aan rooi bessies, dennebolle , Kersvader op sy slee, takbokkies en nog meer, is mooi uitgeknip om op ons bruinpapier-oorgetrekte boeke te plak vir ons nuwe skooljaar. Die meeste kaartjies het harde, growwe silwer blinkertjies opgehad. Met die uitknip het dit dan afgeval en naderhand was alles blink.

Kersbome met geskenke was iets wat vir ons op die prentjies bestaan het. Geen blink tinselstringe in ons huis nie. Geen geskenke onder ‘n boom nie. Geen blink liggies nie. Elektrisiteit was in elk geval iets wat ander mense gehad het, in ons huis was kerse en paraffienlampe.

Ons harte het gebrand vir ‘n blink kersboom. Deur die jaar het ons blink gekleurde foelie sjokoladepapiertjies (wat Ouma en Oupa, wat deel was van die gesin, gekry het vir verjaardae of iets dergeliks) sorgvuldig uitgestryk en gebêre.

Wanneer dit amper Kersfees was het ons ‘n takkie katstert by die dam gaan pluk.  Die fyn asparagusblaartjies lyk soos miniatuur dennetakkies. Die takkie is staan gemaak in ‘n blik vol sand.

Katstert, ‘n lid van die asparagusfamilie

Ons feëtjie boom is dan opgemaak met die gekleurde blink sjokoladepapiertjies en my ma het vir ons ekstra gewone foelie gegee om ‘n kartonster oor te trek.

Sus Ami het een klein kersblakertjie gehad wat ‘n verjaardagkersie kon vat, en so drie gekleurde kersies. Díé is dan staan gemaak by ons boompie. Ons mag nie die kersies gebrand het nie, dis netjies gebêre sodat sy dit weer vir ons kon uithaal die volgende jaar.

So het ons jaar na jaar vir ‘n dag of twee ‘n blink kersboompie gehad. Tot die blaartjies begin afval en my ma ons skepping wat haar huis bemors,  laat verdwyn. Teen daardie tyd was ons aandag in elk geval lankal weer op buite speel, ons drang vir blink was bevredig.

Ons was arm, maar ons het dit nie eintlik geweet nie. Kerstyd was vir ons blikke vol tuisgemaakte koekies. Buiten die gewone vla- en ander soetkoekies was daar Hertzoggies, ystervarkies en konfyttertjies. Bloedrooi waatlemoene tot ons nie meer kon nie. Vrugte uit die boord, onbeperk. Kersdag was dit familietyd. Ons was gelukkige kinders wat net liefde geken het.

Vir my liefste sussies en boetie…

Katstert

Ek het vir jou ‘n katstert gaan haal.

Vol heimwee het ek hom met blink goed opgesaal.

Maar kyk mooi,

hy is ook met wense opgetooi.

Vir jou spesiaal wens ek:

Vrede in jou gemoed

Geloof om jou staande te hou

Berusting dat God weet wat Sy plan is met jou

Hoop vir ‘n beter môre

Familie altyd daar vir mekaar

Lekker lag en geen trane nie

Liefde vir jou, uit die diepte van my hart.

Geseënde Kersfees.

Vir my liefste man, kinders en kleinkinders…

My wense wat ek aan julle boom hang is…

Plaasblomme om jou dag mooi te maak

Geloof om jou staande te hou

Hoop vir ‘n beter môre

Liefde om vir altyd te koester

Gebede elke dag om jou geluk van God af te bid

Vrede in jou hart.

Lief julle vir altyd en nog ‘n dag.

Geseënde Kersfees.

Categories: Lankal terug, Omgee, Slakgedagtes, Sommer maar net | 2 Kommentaar

Gulella

Wêla kepêla… net só sê mens

Ghoelêlla…

Nou wonder jy seker wat vir ‘n ding is ‘n Gulella. ‘n Gulella is glad nie ‘n ding nie, o nee, dis ‘n dingetjie. Hulle is piepklein dingetjies om die waarheid te sê… Dis slakkies met die mooiste skulpies en mens kan hulle slegs waardeer indien jy hulle kan beloer met ‘n vergrootglas of ‘n mikroskoop. Baie is kleiner as 3mm lank, ek dink ‘n lengte van 6mm sal gemiddeld wees en dan is daar die ‘reuse’ Gulellas van so 10mm. Die slakkies is baie keer geel of oranje of geel en oranje.

Hier is ‘n foto van enetjie wat ek afgeneem het deur ‘n mikroskoop, dit is so 6mm in lengte en sy naam is Gulella contraria.

Gulella contraria
Gulella contraria

Om die storie van die gulellas te kan vertel, moet ek eers agter die berg ‘n storie gaan uitkrap uit my vorige lewe. Nou nie soos reïnkarnasie nie, nee…

Gebeurtenisse in my lewe word ge-etiketteer as ‘voor die brand’, of ‘na die brand’. My ou lewe en my nuwe lewe.

In my ou lewe toe ons in Centurion gewoon het, en vir die volgende tien jaar op die plaas, het ek skulpe versamel en was ek aktief betrokke by die Skulpkundevereniging van Suid-Afrika. Die grootste gros van my versameling was seeskulpe, die landskulpe het ek oppertunisties versamel en gestoor met net die lokaliteit (die belangrikste inligting vir ‘n versamelaar). Daar was maar min inligting beskikbaar vir identifisering.

By my huis in Centurion was ‘n kolonie Gulela infans, klein jagterslakkies met geel en oranje lyfies. Ek het ‘n paar lewendig aangehou om meer te wete te kom oor hulle gewoontes. Een oggend voor werk het ek gesien hoe jag een ‘n Opeas sp. Die geel Opeas het verbete probeer wegkom maar die Gulella was te vinnig. Die Gulella moes een of ander toksien afgeskei het, want die Opeas het begin skuim. Ek kon ongelukkig nie nog bly om te kyk hoe word die prooi geëet nie want natuurlik was ek teen daai tyd laat vir werk! Wie kan nou sulke opwinding mis… Die aand was die skulpie leeg.

Opeas sp

Net toe ons die plaas gekoop het, het ek ‘n Gulella gekry, maar hy is nooit geïdentifiseer nie.

Dertien jaar terug (Nov 2010) kom daar toe ‘n weerligstraal, vernietig alles wat ons het en maak ‘n einde aan ons ou lewe. Nie op ons knieë nie, maar heeltemal platgeslaan. Met geen huisversekering nie, was ons gelaat met niks… die klere aan ons lywe, twee karre en ‘n baie brand-beskadigde vierwielmotorfiets was die somtotaal van ons aardse besittings.

In die begin-jare van ons nuwe lewe was daar nie tyd, geld of energie vir enige iets anders as om van voor af te begin nie. Ons spaargeld, tyd en energie moes gebruik word om weer ‘n huis en ‘n lewe te bou. Self. Alles, alles self. Man en muis, familie, vriende en vreemdes het gehelp om ons weer aan die gang te kry.

In November 2021 kry ek onverwags ‘n lewendige Cochlitoma transvaalensis, slegs die tweede een in die amper twintig jaar op die plaas. Hy is mooi verpak en gestuur na Ken Brown, ‘n kenner van landslakke, vir verdere navorsing. Sy boek, met mede outeur Maurice Evans, Achatinid Landshells of Southern Africa was in proses op daardie stadium.

Hy stuur toe vir my ‘n geskenk, een van sy ander boeke, ‘n klein sakgids, The Gulellinae Hunter Shells of South Africa and its neighbours. Lieflike, lieflike gulellas…

Ek sien toe hoeveel spesies voorkom in die Barberton berge en net daar kry ek toe ‘n idee. Sommer ‘n skitterblink idee…

Die idee word ‘n plan, en die plan word beplanning…

Laat November 2023 vergesel Delia Oosthuizen vir my, Ken en Maurice na haar speelgrond, die Mountainlands Reserve, in die Makhonjwa berge van ons mooie Barberton.

‘n Lieflike dag vir slaksoek het voor ons gelê.

Delia het ons na verskillende habitatte geneem. Sy ken die reservaat soos die palm van haar hand en haar plantkennis veral is ongelooflik.

Spatsels kleur en ander lewe vang áltyd my oog.
Die miswolkies het gou verdwyn en dit was snikheet warm.
Dit was ‘n lieflike dag
Pragtige klippe
Mooi klippe was nog nooit lelik nie…
Om sulke klein skulpies te kry, moet jou oë naby die grond wees. Gelukkig was ons darem beskut in die koelte.

By een van ons eerste stoppe het ek ‘n skulp gekry van ‘n onvolwasse Cochlitoma transvaalensis waaroor ons baie opgewonde was. Ek het skoon vergeet om ‘n foto te neem! By ons laaste stop in die reservaat het Maurice ‘n effens verweerde volwasse een gekry. Die skulp was skraler as die skulpe wat ek by ons plaas optel.

Die twee mans het op ‘n stadium al elkeen ‘n Gulella gehad, maar al wat my kleim opgelewer het was pilduisendpootjies, larwes, erdwurms en medium grootte gelerige duisendpote. Toe kry ek darem ‘n ander mooi slak.

Ons tweede laaste stopplek in Mountainlands self was die beste. Die mans was kort-kort gelukkig, gesoute Gulella jagters…

Elkeen van ons verdiep in ons taak
Vergelyk die voutjies in my hand met die skulpie se grootte

Ek het ‘n Gulella gekry by hierdie kleim waaroor ek baie opgewonde is. Ek plaas nie sy foto nou nie, ek gaan hom eers vir Ken pos sodat hy hom behoorlik kan bestudeer en die inligting stuur na Dr. Dai Herbert in Wales. Hy is ‘n wêreldbekende malakoloog wat voorheen by die Natal museum werksaam was. Dalk… net dálk… is dit ‘n onbeskryfde spesies.

Opdatering – die skulpie is geïdentifiseer as Gulella viae.

Gulella viae
Delia het hierdie foto geneem. Dankie. Ons was soos kinders oor elke skulpie en dan het elkeen die fonds bekyk. Met die selfoonfotos kon ons ‘n idee kry van hóé groot ons opgewondenheid moet wees.

Ons het elkeen ‘n kosblik gebring vir middagete. Toe ek ‘n bospiepie moes doen het ek ‘n pragtige fungus gekry waaroor ek baie opgewonde was, ek het nog nooit voorheen een van hierdie spesie gesien nie.

Sterstinkhoring

By die eerste stroompie waar ons stilgehou het, was daar ‘n pofadder. Ek was te stadig om ‘n foto te kry.

Mountainlands het ‘n hele klomp stroompies met pragtige skoon water.

Mens wil sommer daar sit. Heel dag.
Ken soek waterslakke
Gebande langtoonpadda
Gebande langtoonpadd
Ken het ons vertel van klein varswater ‘limpets’ (ek het die Afrikaanse naam vergeet en Google translate is nie behulpsaam nie) waarvoor ons moet uitkyk. En sowaar! Ons het hulle gekry! Die grootste een was ongeveer 5 mm.

Laatmiddag is ons uit die reservaat en het ons langs die pad by ‘n stukkie inheemse woud gestop. Daar was ek die enigte gelukkige met ‘n Gulella contraria.

Dit was ‘n heerlike dag. Ons het geskerts en gelag. Ons was opgewonde. Ons harte was vol omdat ons die voorreg het om in die grond en blare rond te krap. Ek was natuurlik teleurgesteld omdat ek die volgende dag moes werk terwyl die twee manne weer kon gaan slak in die omgewing.

Bevestigde Gulella spesies wat gekry is, asook Gulella viae

Baie dankie Delia vir jou moeite om ons te ontvang en te begelei. Dankie Ken en Maurice vir my spesiale pakkies om weer ‘n versameling te begin.

Alle eer aan God wat sulke mooi mooi goedjies geskep het.

Terwyl ek hierdie geskryf het, het die besef tot my deurgedring dat my ou lewe en my nuwe lewe nou hande gevat het met hierdie klein slakkies. Kintsugi. My ou lewe het gebreek maar my lewe is nou weer heel.

Die Gulellas is my Kintsugi, die gom tussen oud en nuut.

Kintsugi (金継ぎ, “golden joinery”), also known as kintsukuroi (金繕い, “golden repair”), is the Japanese art of repairing broken pottery by mending the areas of breakage with urushi lacquer dusted or mixed with powdered gold, silver, or platinum; the method is similar to the maki-e technique. As a philosophy, it treats breakage and repair as part of the history of an object, rather than something to disguise. – Wikipedia

Categories: So doen Slakke dit | 8 Kommentaar

Perspektief

In my wetenskap klas moet ek elke jaar vir my graad tiens die konsep leer van afstand, verplasing en die betekenis van ‘n verwysingsraamwerk wanneer ek skakre en vektore behandel.

Ek begin gewoonlik my les deur iets op die bord te skryf. Altyd dieselfde ding:

11 + 11 = 10

Gewoonlik is daar een wat gou-gou hand opsteek en my in duidelike taal vertel dat ek nou nonsens praat. My reaksie is om baie selfvoldaan te lag en te sê ek is nie verkeerd nie en kan dit ongelukkig bewys. Want ek kán. Die meeste sal prontuit sê ek jok. Een of twee sal probeer om die probleem op te los. Nog nooit was daar een wat bietjie buite die boks kan dink om dit uit te plus nie. 

Ek gee hulle n paar minute om die probleem te probeer oplos, redekawel met hulle, lag saam met hulle en dan vat ek my pen en skryf:

11h am + 11 ure = 10h pm

‘Ooohhh Ma’m, you should have said!’

Jip. Ek moes gesê het dat ek praat in terme van tyd, maar ek het nie. Dan verduidelik ek dat hulle nie genoegsame inligting gegee was om dieselfde antwoord as ek te kry nie, maar nou het ‘n gebrek aan inligting ‘n kommunikasieprobleem veroorsaak. Sou ek sê dat ek in terme van tyd praat, sou hulle weet dat ek die waarheid praat; maar hulle perspektief is slegs in terme van getalle. 

Om dan direk daarna die verskil tussen totale afstand afgelê en verplasing vanaf ‘n verwysingspunt te verduidelik, doen ek die volgende demonstrasie en sê hulle moet boekhou van my aksie, en ‘n aanname maak dat elke treë wat ek gee, een meter lank is en dat die beginpunt van my reis is die kind voor my.

Ek gaan staan voor in die klas voor die kind, kom ons sê maar sommer dit was Nandi. Dan stap ek so vier treë na die anderkant van die klas, drie treë na agter, twee treë anderkant toe, twee tree terug, nog drie treë na agter, dan ses treë vorentoe, en laastens ses treë terug na die kind.

Dan moet hulle vir my sê hoe vêr ek geloop het. Sonder uitsondering kry ek die korrekte antwoord, 26 meter.

Daarna vra ek hulle om te sê waar ek is. Sonder uitsondering kry ek die antwoord ‘Ma’m, you are 2 meter to the left of Nandi’. Nope. Nee. Verkeerd.  Ek is twee meter REGS van Nandi. Perspektief. Ek staan gesig aan gesig met die klas. Hulle linkerkant, is mý regterkant.

‘Ooohhh Ma’m, you should have said!’ Né.

Nou is dit ook so dat hierdie wetenskap perspektiefbeginsel deel is van enige kommunikasieproses.

Woorde binne konteks vs buite konteks. Perspektief. Bedoeling vs interpretasie. Konfrontasie vs dra die storie aan.

Ag, my hartjie is tog so seer. Krokodiltraantjies. My maatjies is gelukkig altyd daar vir my. Die biets. Dadelik. Deel uit die paper. Skryf dadelik ‘n verslag. Sommer alles wat jou pla.

Volgende keer wanneer jy iets hoor wat iemand gesë het, evalueer eers of jy die konteks waarin dit gesê is, verstaan. Konfronteer eers die persoon vóórdat jy weghol met die storie en vir jou maatjies jou interpretasie vertel. Dit is maar so dat elkeen sy eie perspektief het van ‘n situasie. Wanneer dit dan oorgedra word na n ander persoon, gaan daardie persoon dit weer uit sy eie perspektief interpreteer en waarskynlik oordra. So word die woorde verder en verder gerek en bygelas om by elkeen se perspektief te pas en interpretasie dra later meer gewig as konteks en intensie.

Staan ek links van Nandi of staan ek regs? Albei natuurlik. Kies maar jou eie verwysingsraamwerk vir vandag…

Categories: Sommer maar net | 5 Kommentaar

Blog at WordPress.com.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg