Ek het besluit om my reis na ‘n maerder ekke op ‘n nuwe, aparte blog te deel. Volg my gerus op Laat die Vet Val (https://laatdievetval.wordpress.com/)
Recent Updates
Funksies is nie goed vir ‘n gesonde eetplan nie..
Ons het 2 funksies gehad wat ons hierdie naweek bygewoon het. Ons jaarlikse familie-fees en later die aand my man se werksfunksie.
Die funksies is een van die redes hoekom ek eers die 21ste November met die 28 dae eetplan wil begin. Dan is ek ook darem klaar met die eerste rondte voor Kersfees.
Die naweek was groot pret en die versoekings was baie groot. Ek het ‘n hele 1.3kg opgetel.. hahahah.. Maar gelukkig nog ‘n 8cm in totaal verloor. Ek het myself juis Sondag en vanoggend weer geweeg, om te sien wanneer die versoekings op die lyf gaan vassit. Sondag het gewys dat ek nog ‘n paar kilos verloor het, maar vanoggend was dit op. As ek terugdink aan wat ek alles geëet en drink het by die funksies was dit darem minder as wat ek gewoonlik sou geëet het.
By familie fees:
Ons was net so 3 ure by die fees, toe moes ons klaarmaak om te ry
- 2 cocktail worsrolletjies (vienna met deeg om)
- ‘n bietjie biltong
- een cupcake
- en ek het NET van my tummy water gedrink
By die werksfunksie:
- Welkom drankies was Draught bier, maar ai dit was nou nie vir my lekker nie, so ek het bittermin van dit gedrink, omtrent net 4 slukkies.
- ‘n Swart koppie koffie met een bruin suiker
- Ete was ‘n tipe cocktail buffet wat hele aand oop was, en ek het net eenkeer gaan skep, en darem nie oorskep nie
- Nagereg het ek ‘n stukkie kaaskoek en fruit-kebab geëet
- Dubbel Malibu Rum en Coke
- Res van die aand net water
Sondag het ook sy kant gebring vir die 1.3kg. Ons het “brunch” by my skoonouers geëet.
- Twee eiers, twee snye brood en 4 cocktail worsies.
- Ek het die hele Sondag ook net my tummy water gedrink
- en Sondag aand was ‘n bakkie gebraaide aartappelskyfies en ‘n bietjie poeding
Volgende naweek gaan ook ‘n uitdaging wees, want dan neem ek ‘n troue af. Gelukkig is ek geneig om baie minder te eet as ek by troues werk en dit nie net as ‘n gas bywoon nie. Maar laat die afgelope naweek vir my ‘n herinnering bly van hoe vinnig ‘n mens kan optel. Alkohol en suiker is ‘n euwel vir gewigsverlies..
Ek gaan maar bietjie gaan stap vanmiddag, sommer die honde saamvat, hul sal sorg vir ordentlike oefening. Dan ook sommer ekstra Tummy water drink vandag. Laat daardie 1.3kg sommer gou weer val!!
28 dae eetplan – my reis na ‘n maerder ekke
Ek het so ruk terug besluit, genoeg is nou genoeg. Dit is nou die hoeveelste keer wat ek probeer bietjie, ok, baie gewig afstoot, maar my brein begin aan elke verskoning onder die son dink. En net soos ek begin mooi verloor dan val ek weer van die wa af. En ek is nou gatvol vir afval. Ek moet begin gesonder keuses maak en daarby bly.
Ek het so ruk terug ‘n op eetplan afgekom wat my nogals heel opgewonde het. Ek kan aartappel en pasta eet so dit is beslis ‘n wenner! ‘n 28-dag eetplan en dis gratis beskikbaar. Ek het dit hier gekry >> https://www.facebook.com/groups/1499627750287965/
Natuurlik wil ek so gou as moontlik daarmee begin, maar ai.. die finansies is nie nou so goed nie en kan ek nie nou al my eetgoed gaan koop nie. Daar was reeds, voor ek op die plan afgekom het, koskaste volgemaak. Dis nou wat my brein vir my sê en dan las dit nog by dat die kanse groot is dat ek hoofpyne of volle migraines kan verwagte wees met die eerste paar dae van die eetplan, omdat jou liggaam detox. Alles bangmaak praatjies en uitstel praatjies.
Maar gelukkig het my hart nou inge-tjip en vertel my toe dat ek solank volgens die bakkie grootte moet begin eet en die Flat Tummy Water moet begin drink. Ek het toe my bakkie gaan meet volgens die instruksies in die gratis aflaaibare boekie te kry by die link hierbo, en eet nou sedert die 2de November daaruit.
Ek het myself ook begin forseer om ontbyt en middagete te eet, aangesien ek BAIE geneig was om een of albei te skip.
Ek het drie dae terug die Tummy Water begin drink, maar sonder die gemmer in. Ek het dit nog nie probeer met die gemmer by nie, ek moet eers vars gemmer gaan koop.
Deur net hierdie veranderinge te maak, het ek alreeds 2.3kg verloor sedert die 2de November.
My voete is nie meer geswel nie en ek voel asof ek weer helder kan dink. Ek het nog so baie werk wat moet klaar en ek is soooooooo ver agter. Maar ek moet net deurdruk. En ek glo die drie keer ‘n dag eet doen wondere aan my helderheid. So far so good!
Ek het besluit om my gewigsverlies-reis met julle te deel. Volgens ‘n oulike app(Monitor Your Weight) wat ek nou op my tablet het, moet ek nog 56.3kg verloor om my doelgewig te bereik. Ek weet dit gaan ‘n paar 28dae rondtes neem om daar te kom. En met behulp van die bg. facebook groep, wat ‘n wonderlike groep mense is wat mekaar ondersteun en motiveer, en die deel van my reis hier, glo ek, ek sal dit hierdie keer maak!
Omstandighede en Drome
Dalk is dit net ek, maar partykeer wonder ek of ander mense dit ook ervaar?
Dat jou onmiddelike omstandighede (terwyl jy slaap) ‘n droom kan ontlok of die einde van ‘n droom kan beinvloed?
Kom ek probeer verduidelik:
Ek het eergisteraand oor my kat gedroom. Die storie van die droom is nie hier belangrik nie, maar wel hoe die droom geëindig het. Ek het op ‘n stadium op ons sitkamerbank gaan sit, so half gelê met my voete op ‘n koffietafel. Die volgende oomblik het my kat op my gespring en homself tuisgemaak op my borskas en begin spin. Ek wou net uitreik om hom te begin vryf, toe ek wakker word. En wie vind ek vas aan die slaap op my borskas? My kat! Hy het nou wel nie gespin op daardie oomblik nie, maar toe ek hom begin vryf toe strek hy uit en spin van lekkerte.
Ek het al heelwat soortgelyke drome gehad deur die loop van die jare.
Verskillende drome wat gekoppel is aan my selfoon wat langs my op die bedkassie in realiteit lui, maar dan weef my spinnekoppie brein die snaakse drome.
Ek sal droom ek bly net ‘n klomp sms’e inkry en dit stop nie. In die droom is dit gewoonlik net ‘n beep met elke sms wat inkom. Ek is later, seker uit frustrasie uit, wakker en kom dan agter my selfoon lui.
Ander drome is waar ‘n deurklokkie aanhoudend lui en ek kan net nie by die deur uitkom nie, en dan skielik wakker word en hoor my foon lui of die wekker wat afgaan.
Ek het ook ‘n interessante ervaring gehad met ‘n droom wat ek gehad het toe ek nog op skool was. Ek het gedroom ons was as gesin met vakansie, en ek het ‘n ou op die oord ontmoet. Daar was ‘n oomblik waar hy my hand vasgehou het, en net toe ons mekaar wou soen, toe word ek wakker. Ek onthou nog goed dat ek so daar in die donkerte ingestaar het, en besef maar dit voel nogsteeds asof ek iemand se hand vashou. Soos ek verder ontwaak, kom ek agter dat ek ‘n deel van die kombers so half opgevrommel in my hand hou.
En nie te vergeet van die toilet droom nie. Ek sal droom dat ek of glad nie by die toilet kan uitkom nie, of ek gaan wel, maar sodra ek opstaan is my blaas nog vol en moet ek weer en weer en weer my blaas ledig. Totdat ek uiteindelik wakker skrik en besef my blaas is vol!
Vertel gerus julle drome, waar realiteit en droomland net-net aanmekaar raak 🙂
Spinnekop is terug :)
Jong.. waar het die tyd heen gegaan? En waarheen het my spinnekop-brein verdwyn?
Dit was heel toevallig dat ek op een van my OU posts op my OU spinnerak-blog afgekom het, en soos ek lees besef ek maar EK het dit geskryf!! hahahah 😀
En was dit nou ‘n tammeletjie om te probeer onthou wat my login informasie is om in te teken.. Dit het my ‘n hele twee dae besig hou, maar ek is in. Ek is terug en reg om nog spinnerakke te weef.
Sooooo baie het gebeur in die laaste paar jaar. Ons het ons huis verkoop en na ‘n ander stad verhuis. My amper man het my amptelike man geword. Ons al drie; ek, my man en ons seun het nuwe hoofstukke begin en nie net ‘n nuwe omgewing nie. My seun, ‘n nuwe skool. My man, ‘n nuwe werk. En ek? Ek het nou my eie besigheid en werk vanuit my nessie.
Ons omgewing het verander (dis warmer waar ons nou is) maar ek LOVE dit. Ek is nou regtig nie ‘n gogga vir koue nie! Wat wel dieselfde gebly het, is my kop vol spinnerakke 😛 en ek sien daarna uit om weer te blog. Om te skryf, of te probeer neerpen wat in my kop aangaan is soos ‘n vere-stowwer vir my brein. Dit is nou al so stowwerig hier binne ek moet weer begin skoonmaak. Al die ou spinnerakke afstof sodat ek weer nuwes kan weef.
En hoe gepas is dit nie dat ek met lente weer begin nie. Mag jul almal ‘n heerlike lente beleef!
Al ooit gewonder .. ?
Het julle al ooit gewonder wat het die dag se gebeure met jou drome ingemeen? Ek weef gereeld daaroor..
Kyk net wat het laasweek gebeur. Ons het by die werk gesit en gesels oor wat van as die kantoor afbrand, al die data wat ons hier sal verloor. Alhoewel meeste van ons goed off-site gestoor word, is hier maar nogsteeds belangrike informasie wat verlore sal wees.
Soos die gesprek vorder, spot ek ook daarmee dat ek ‘n nota op my pc by die huis gaan sit, om asb my hardeskywe te los as iemand nou wel my pc wou steel. Daardie aand in die bed, EN ALLEEN BY DIE HUIS, besluit ons alarm om my hartkloppe aan te jaag. Die een deur se sensor het nonsens gemaak, en elke nou en dan gaan beep-beep die alarm. Nou elke deur in ons huis gee so beep-beep geluidjie as dit oopgemaak word.
Uiteindelik na 2 en ‘n half ure stop dit, en ek raak weer aan die slaap. Dis toe ek mos nou droom van 2 skelms wat ons huis wil kom leegdra.. lees hier
So nou ja.. ‘n week later en ek dink nou weer aan dit. Drome fassineer my nog altyd!
En ek glo nie aan ‘n boek wat vir jou verduidelik dat as jy van ‘n spesifieke ding droom dit nou net ‘n spesifieke ding beteken nie. Ek glo ook net jy self kan jou droom interpreteer en die betekenis daarvan kry. En net ‘n woord, of ‘n gesprek, of selfs ‘n ou kennis wat jy raakloop in die dag, kan BAIE interessante nagevolge hê vir jou drome wat vir jou wag die aand!
Iets om oor te dink..
Ek lees nou ‘n stukkie van die wat die 1930s tot 1980s oorleef het op ‘n blog (lees hier) en nou ja, nou werk my spinnekoppie weer oortyd en weef soos ‘n waansinnige..
ja.. ons het baie oorleef.. maar die vraag wat nou hier in my kop vashaak.. is Hoekom is vandag se kinders sulke “binne-kinders” en soos NetJane se kommentaar sê die kinders sê nie dankie nie?
Ek glo die ouers van vandag het BAIE te doen met die opbring van hul kinders om hul waardes te leer en om te leer om asseblief en dankie te sê..
KOMAAN ouers.. julle was die kinders wat die 1930s tot ’80s oorleef het, wat buite gespeel het en respek getoon het.. en WAAR het ons dit geleer.. BY ONS OUERS wat tien teen een by die huis was waar ons kon SIEN en ERVAAR hoe ons ouers met ander mense oor die weg kom.
Nou werk ons almal is moeg as ons by die huis kom en jak die kinders af omdat ons nog moet kosmaak en huisskoonmaak en al daai dinge! Ek glo DIS waar ons kinders nie respek leer nie..
Ja ek is ‘n werkende ma, en ja ek is ook skuldig daaraan om ook partykeer net maar gou die tv op cartoon network te sit as ek nog soveel huistake het wat gedoen moet word. Maar meeste van die tyd besef ek.. my hene dis mos nie reg nie..
die kinders kan nie vandag in die strate rondhang saam tjommies tot aandete nie.. dit IS te gevaarlik.. maar om moeite te doen vir ‘n halfuur tot ‘n uur wanneer jy by die huis kom om saam jou kinders bietjie buite te speel en met aandag te luister na hulle vertellings van die dag se gebeure en af te gaan op jou hurke om hul herhalende vrae te beantwoord, is nie net tot voordeel van jou kinders nie.. maar vir JOUSELF ook..
hulle word so gou groot en ons werk vat BAIE meer ure op as wat ons ons kinders sien.. ons kan gerus bietjie meer tyd met hulle spandeer. Dit doen almal net die wêreld se goed..
Julle kan my PC steel, maar LOS my HDDs
Ek en my man het op die bed in die hoofslaapkamer gesit. Hy het op sy laptop gewerk en ek het hom net geselsskap gehou. Die huis is stil, want seuna slaap uit.
Die volgende oomblik is daar 2 mans in die huis, hier reg voor ons. Hulle het aangedring om die laptop te vat en manlief het dit vir hulle gegee. Hy het vir my gesê, soos die 2 skelms uit die kamer stap, dat dit die werk se laptop is en geglimlag.
Ek sien die 2 is oppad na die studeerkamer en die eerste ding wat deur my kop gaan is AL my fotos wat op my pc is. Ek spring daar op en woede neem binne my oor. Hulle gaan NIE my hardeskywe saam hier wegvat nie! Ek vlieg in die studeer kamer in met manlief kort op my hakke. Ek vertel toe vir die 2 skelms dat as hulle nou regtig my rekenaar wil steel, gaan ek eers my hardeskywe uithaal, sommer so terwyl ek klaar ‘n skroewedraaier gegryp het en die boks begin oopmaak. Die een is nog ewe behulpsaam om my te help die goed uithaal en daar breek hy ‘n draadjie af op die motherboard.
“Dom doos!” skree ek. “Kyk nou net wat doen jy! Jy het nou die motherboard opgeneuk! Van alle dinge die motherboard, nou wil jy dit nogsteeds steel en die ding gaan nie eers meer werk nie!! Jou stupid voël!!”
Die ou was so verbaas en ek kon voel hulle albei voel ge-intimideer. Ek hou toe voort met die woede-front en intussen gaan steek manlief AL ons “belangrike” besittings weg. Ek vra sommer die manne of hulle nie my kar ook wil steel nie, want hoe de hel gaan hulle hier wegkom met al die goed wat hulle al eenkant gepak het. En wragtig sê hulle vir my NEE!!
Toe weet ek mos daar is dan OF ‘n wagkar klaar buite OF een nog oppad.
Intussen het manlief al die polisie laat weet, maar AL wat opdaag is mos hulle.
Ek los die 2 manne laat hulle maar aangaan om goed bymekaar te maak, en gaan bêre my hardeskywe en my kamera onder in die kroeg. Dis toe ek sien dat daar ‘n paar mense buite staan, insluitend my pa, en stap sommer soontoe. Dis al skemer buite.
Manlief is besig om al die belangrike goed in die geheime area in die garage te stoor. Hy gaan haal ook die goed wat ek onder die kroeg gesit het. Ek is seker dis nou al meer as ‘n halfuur wat verby gegaan het en die polisie het nog nie opgedaag nie. Daar is heelwat mense in die straat buite.
Skielik kom daar ‘n wit kar om die draai, so ou toyota boks shape kar. Hy ry reg in ons drive-way op en stop en blaas toeter. Daar is al klaar 5 mans in die kar. Die 2 mans in die huis kom uitgehardloop met ‘n paar goed in hul hande, sien al die mense wat hulle aanstaar, laat val ons goed, spring in die kar, en daar trek hulle weg.
Nog voor die wit kar om die draai is, kom 2 polisie manne aangeloop. AANGELOOP!! Kan jy glo?
Een van die polisie-manne is ‘n groot meneer. Byna 3 koppe langer as ek, maar ek is nou hoogs de maai in. Ek klap hom sommer terwyl ek op om skree en tekere gaan. Hoekom NOU eers hier aankom. En dit nog op voet ook! Die skelms is dan al klaar weg!!
Sonder ‘n woord het hulle ook die pad weer te voet aangeslaan. Terug in ons huis, sit manlief my pc weer aanmekaar, en als werk honderd persent.
Ek was nog besig om hom ‘n lekker stywe druk te gee, toe word ek wakker!!Dankie tog dit was net ‘n droom!! 😛
Mans en veiligheid..
Gisteraand, net na die son gesak het, onthou ek, ek het nog wasgoed wat nog moet afkom van die draad. Terwyl ek die wasgoed afhaal, skiet daar skielik ‘n vraag in my kop. Hoekom voel ek nie vanaand so bang om die wasgoed alleen in die donker met ‘n flou lig af te haal nie? Maar laasweek, toe ek alleen by die huis was, het ek die wasgoed maar op die draad gelos en eers gaan afhaal toe die son opkom!
Kan dit regtig wees dat ‘n man in die huis ‘n vrou soveel veiliger kan laat voel?
As liefie van die huis af weg is vir ‘n paar dae, dan hoor en annaliseer ek elke geluidjie. Ek kan dit ook nie waag om met die ligte af te slaap nie. My hart hou dit nie, want hoor ek iets, sien ek skaduwees sodra my oë oopgaan en gaan my hart in turbo-boost in! En al weet ek dis net my verbeelding, wil my malende gedagtes maar net nie luister nie!
Maar nou dink ek aan gisteraand, ek, alleen buite en liefie in die huis besig om te bad. Hoekom voel ek so gerus? Hoekom spring my hart nie met elke geluidjie nie? Hoe kan dit wees dat ‘n man, al sit hy kaalgat in die bad, my die gemoedsrus gee om alleen buite te gaan wasgoed afhaal!? My te laat slaap in die donker!? My hart in toom hou met al die naggeluide wat net op ‘n alleen-aand so vreemd en hard en naby klink!?
30 is nou om die draai!!
Hierdie spinnekop word 30 oor 10 dae!! 😯
Ek kan dit byna nie glo nie. Die tyd loop te vinnig verby.
As ek nou terugdink aan toe ek nog jonger, veel, veel jonger was..
Ek onthou toe ek nie kon wag om ‘n tiener te word nie. Vir een of ander rede het ek geglo dat ek op my 10de verjaarsdag nou ‘n tiener is. GROOT was my teleurstelling toe ek uitvind ek moes NOG 3 jaar wag 😡
Drie jaar en ‘n dag later, toe tel ek al die dae af na sweet 16, en skaars daar klaar geparty wag ek 18 in. Nou hierdie is eintlik ‘n aaklige ouderdom, veral as jy nie veel niggies en nefies het wat dieselfde ouderdom as jy is nie. Die jongeres is te kinderagtig en die grootmense is nog te boo 😐 ooring om mee uit te hang. So al wat te doen staan is om na die MOTHER van MOTHER se verjaarsdag af te tel.. (wel dis hoe dit gevoel het om uit te sien om 21 te word, vir my altans, en jong tyd het soooo s-t-a-d-i-g verby gegaan)
En die dag van 21 het gekom en dit het gegaan, en niks.. NET NIKS.. geen gevoel van nou is ek groot nie. Ek het ‘n heerlike party gehad, lekker gedans, heeltemal te lekker ge-eet. En tot die besef gekom volwassenheid gebeur nie net oornag nie, en dis ook nie ‘n gevoel nie! Maar die jare na 21 vlieg net te vinnig verby!!
Snaaks genoeg sien ek daarna uit om 30 te word. Al was ek op my 25ste half depro..
‘n Mens, veral ‘n meisie (of seker was dit net ek) het regtig geglo ek sou al op 25 getroud wees en ten minste al een broodjie in die oond gehad het. Maar ja.. die lewe loop ook met mens paaie wat BAIE anders is wat jy voorgestel het dit sou wees. En op my 25ste verjaarsdag het ek met ‘n brood in die oond gesit en die bakker het verdwyn 😕 Dit was eintlik ‘n blessing in disguise !!
Maar nou, ek kan amper nie gelukkiger wees nie! Ek het 3 jaar terug die wonderlikste man ontmoet, wat my en my seun net so aanvaar en liefgekry het. Al wat nou kort om die amper uit bg. sin uit te haal, is die vraag.. Die groot vraag waarvoor ek klaar die -ja- antwoord reg het 😀
Vir nou, gaan ek dit eers geniet om 30 te word. En vir so voorsmakie van volgende naweek se verigtinge, dink HAMBURGERS!! 😛
