F# mineur

Dirkie vertel van iets wat haar man verduidelik het wat blykbaar baie logies was, volgens hom. Waarop sy vir hom vertel van dikte van naalde en wol, dis mos logies, man!

Ek onthou toe van die man wat een keer vir my wou leer hoe om tuna gaar te maak. Hy gaan my net een maal wys. Waarop ek hom antwoord dat ek hom sal leer om f# mineur op die kitaar te druk. Of was dit e mol mineur? Ek gaan hom net een keer wys. Raai, toe kry ek nooit my tunales nie!

Dis dieselfde f# mineur waarmee my dogter destyds haar musiekpos gekry het. Sy moes in haar onderhoud dit vir kinders leer speel het. Mens moet nogal jou druk ken om al die snare dood te druk en nie ‘n dowwe klank te produseer nie.

Nou die dag lag ek te lekker. Iewers in ‘n orkes was daar ‘n ongemaklikheidjie. Toe kom f# mineur ook te sprake. Iets soos dat jy eers jou mond mag rek as jy daardie druk kan speel! 🤣

Vreemd, toe ek nog kitaar in ons ons kerk se orkes gespeel het, was dit ‘n baie gereelde druk. En dan, terwyl jy nog met hom stoei, wil b mineur ook skielik aandag kry …

Toortsie

Gekkedag

Nouja, net gister was dit Nuwejaarsdag en nou is dit al weer gekkedag. April fool’s day. So ‘n belangrike dag dat Google selfs voel dit moet op jou kalender verskyn en dit maak nie saak wát jy probeer doen om dit af te haal nie, dit sit en klou om te bly. Gekkedag. ‘n Dag waar ‘n mens veronderstel is om ‘n gek van ander te maak. Vreemd.

Snaaks, maar gekkedag het my nog nooit opgewonde gemaak nie. Ag, miskien is ek net ‘n suur ou tannie met ‘n lelike frons en ‘n ontevrede gesig … maar juis dán kan ek dit maar sê, ek hou nie van gekkedag nie. Oeps. Daar het ek dit nou regtig gesê.

Ek het vir google gevra waar die dag vandaan kom en hulle gorrel behoorlik. Lyk my nie hulle weet nie en dalk is die weet soos wat ek dit weet, ook verkeerd. Ongelukkig lê daardie weet te diep in my hart geskryf en ek nie sommer anders oortuig sal word nie.

In die laerskool is ek geleer dat gekkedag wys na die kruisiging van Jesus en daar van Hom ‘n gek gemaak is. Daardie verwysing kon ek nie op die internet kry nie. Dit wil vir my voel of dit in een of ander handboek geskryf was, so iemand voor my het gevoel dat dit belangrik genoeg is om vir kinders te leer. En dáárdie feit het diep in my hart kom lê, want toe reeds was ek baie lief vir Hom en het dit ‘n wrang smaak in my mond gelê.

So, ek vier nie gekkedag nie. En ek oordeel nie hulle wat dit wel wil vier nie, vir die rekord.

In my soeke na die oorsprong van hierdie dag, kom ek op hierdie stukkie af. Die skrywer sê dat ons die ‘gekkedinge’ moet gaan doen soos wat die Bybel ons leer: Om goed te doen aan hulle wat dit nie verdien nie. Om juis die uigeworpenes in te trek. Ander te help ten koste van onsself. Die minste te wees. Ek hou hiervan!

En nee, nooit sal ek dink dat daardie wonderlike, onbaatsugtige liefdesdaad wat Jesus vir my en elkeen van ons wat in Hom glo, geklik was nie. Nooit, ooit nie.

Groete

Toortsie

Ontknoop, dís die opdrag

Nadat ons klomp Goue Vroue alles bekyk het by die afgebrande Wendy-huisie wat as verkleehokkie by die Baadjiestraat Gastehuis se swembad, het ons teruggekom na ons huis om hier saam iets te eet en die moord te bedink. Saam koppe bymekaar te sit. Laat gisteraand het ons toe verdeel en elkeen na een van ons, dis nou my, Seegogga en Aalsie se huise gegaan vir slaapplek vir die tyd wat ons hier moet verwyl om vir Kaptein Gigaba te help om die moord op te los. Ons het maar min geslaap, en een vir een begin die Goue Vroue opstaan en koffie soek. Die beskuitblik staan op die tafeltjie in die woonkamer en ons bly maar dink en praat hieroor.

“Julle, amper het ek ook vangoggend die huis aan die brand gesteek,” sê ek.

“Toortsie! Het ons nie nou genoeg van plekke wat afbrand en lyke nie? Wat het gebeur? Wat het jy nou weer aangevang?,” vra Trommeltjie.

“Ek moes vir my man padkos inpak vir die dag. Natuurlik het ek al weer lankal vergeet van die Russians wat kook in die kastrolletjie. Die knope het my hele verstand oorgeneem. ‘n Moordsaak moet ontknoop word. Net betyds onthou ek van die potjie op die stoof. So maklik verbrand ‘n Rus wat blykbaar nie eers ‘n Rus is nie.”

“‘n Rus? Wat wil jy vir my sê wat ek moet weet? So verbrand ‘n Rus wat nie ‘n Rus is nie. ‘n Rus wat nie ‘n Rus is nie. Verbrand,” wonder Una.

“Is hier dalk ‘n belangrike knoop waaraan ons nie gedink het nie?,” vra Positief.

Intussen het die Goue Vroue wat by die ander huise geslaap het, ook opgedaag.

“Knoop!,” sê Seegogga. “Die lyk het juis ‘n knoop in sy hand gehad en ek wou dit sien, maar Kaptein Gigaba het dit afgemaak. Ek het reeds gesien dat daar ‘n blou knoop ontbreek op een van die knoopbeplakte karre. Is dit dalk ‘n spesifieke blou knoop wat hy in sy hand gehad het? Kom die knoop van een van ons speurkarre af? Hoekom sal dít wees?”

“Hier slaap ‘n groter haas as wat ons dink!,” sê Appeltjie.

“Ek het vannag niks geslaap nie,” sê Aalsie. “Ek voel grillerig oor die jong seun wat in die kar saam met die meisie was en duidelik die ander motoriste se aandag probeer trek het. Hoekom kom die gedagte aan mensehandel aanmekaar in my gedagtes op?”

“Mensehandel?,” vra Frannie geskok.

“Jy het sowaar ‘n punt beet daar, Aalsie! Of moet ek eerder sê ‘n knoop beet?,” sê WoordNoot. “Kom ons sorteer net gou ‘n bietjie die besigheid. Wat het ons? Twee karre, ‘n wit Mercedes en ‘n groen Suzuki.”

“En ons het 4 mense betrokke, of dis hoe dit lyk,” antwoord Positief. “Twee mans, duplikate, wat lyk soos ‘n tweeling. Een vrou met lang hare en ‘n jong seun.”

“Een man is dood, die vrou en jong seun jaag weg in die groen Suzuki,” sê Frannie.

“Waar is die ander man? Die ander een van die tweeling?,” wonder Appeltjie.

“Wat het gebeur? Was daar ‘n bakleiery? Die gastehuismense het nie so iets genoem nie,” sê Una.

Wat het gebeur? Wie is almal betrokke? Is hier meer betrokke as net die vier persone?

………

Hierdie is die vierde hoofstuk in die Goue Vroue se nuutste avontuur. Wil jy graag die hele storie lees? Kliek hier.https://fresh.inlinkz.com/p/54c7705c5c9f46fa95a041857eac2e89

Om te veel van die atmosfeer te absorbeer

Dís hoe Andrew-Paul, Annemarie Connolly se seun een dag beskryf het hoe hy voel, dat hy te veel van die atmosfeer absorbeer.

In haar boek, Absorbing too much of the Atmosphere, beskryf Annemarie Connolly haar lewe en alles wat gepaard gaan daarmee as jy iemand in jou lewe het wat aan Skisofrenie ly. Deur haar storie het ek as leser die geleentheid gekry om deur ‘n sleutelgat te loer en ‘n effense idee te kry van wat sy alles as mens moes deurmaak. Hoe sy, as ma, soveel hindernisse moes oorkom, hoe sy self maar die planne moes maak om kop bo water te hou. Want, soos jy deur die boek vir Andrew Paul leer ken, kan jy nie anders nie as om te besef dat dit geen grap is om ‘n Skisofreenkind in jou huis te hê nie, dat daar geen voorspelbaarheid in sy gedrag is nie, of eerder, dat alles soms só voorspelbaar is, maar jy eintlik niks daaraan kan doen om dit te verhoed nie. Dat logika soos ons dit ken, glad nie ‘n gegewe is nie.

Terwyl ek die boek lees, het ek maar weer eens besef: Ons weet maar nie wat in ander se lewens aangaan nie. Ons weet nie watter oorloë hulle voer nie, watter hekkies hulle moet oor nie, watter uitdagings hulle moet oorkom nie. Soms weet ‘n mens dalk ‘n bietjie van die uitdagings wat daar is, maar as buitestaander het jy eintlik geen begrip daarvan nie. Só ‘n uitdaging kan ‘n persoon se hele lewe oorneem en hy/sy het net een groot uitdaging, en dit is om te oorleef in die moeilike omstandighede.

Annemarie skryf die boek oopkop, op die man af. Ek kry nooit die idee dat sy vra, ‘kry my jammer’ nie. Asof die skisofreen in die huis nie al is nie, kom daar ook uitdagings op ander terreine wat sy moet hanteer. Dis eerder ‘n boek om ander wat in soortgelyke situasies is, te help en te bemoedig. Aan die einde van haar boek skryf sy:

Once, many moons ago, shortly after Gavin and I got married, he completed an application form for something; a job, maybe? In the line where they asked for qualifications, he wrote: School of Hard Knocks; University of Life.

I was still barely out of my teens and it was the first time I’d heard the expression; I found it hilarious. I’ve since decided it’s definitely applicable to my own life, too.

Ek is baie bly dat ek die boek gelees het. Dit het my insig gegee. Dis ‘n boek wat ek graag wil aanbeveel vir mense wat in hierdie onderwerp belangstel, maar vir almal wat iemand ken wat die moeilike pad loop van enige vorm van gestremdheid in die huis. Ek glo ook dat hierdie boek ‘n goeie bron van bemoediging sal wees vir mense wat in dieselfde bootjie as Annemarie is. Net die wete dat daar ander is wat weet wat jy deurgaan, help jou soms om die volgende moeilike tree te gee.

Annemarie Connoly, soos ek reeds vir jou gesê het: Ek salueer jou! Ek is bly vir die steunpilare wat jy wel het wat jou regop gehou het en steeds regop hou.

Toortsie

Annemarie is a first-time author who chose the challenging route of writing a memoir of what may be viewed as an ordinary person’s tale. It is, however, an extraordinary tale of preserverance and resilience in the face of unexpected trials and tribulations which can befall any of us. In sharing her experience with all its laughter and tears, she hopes to give encouragement to any who may face the unexpected challenges of raising a loved one who is schizophrenic.

Jy kan die boek by Annemarie bestel by [email protected]

‘n Rebus Kersfees!

Seegogga het op haar horing geblaas: ‘Kersbal – Rebusfontein!’ Dadelik gaan loer ek in my kas – ja! My pers feetjierok! Ek wag al so lank vir die regte geleentheid om dit aan te trek.

Maar, wat kan ek saamneem? Seegogga het gepraat van vrugtekoek. Ek het een! Gemaak volgens my ma se instruksies. Sjoe! Sy kón ‘n vrugtekoek bak en as sy die dag vrugtekoek gebak het, nie net een nie, maar sommer ‘n hele paar. En daardie vrugtekoek was amper as heilig beskou, hoor! ‘n Mens het nie sommer loop sny en eet daarvan nie. Met presisie het sy dit gesny, blokkie vir blokkie en vir spesiale gaste uitgehaal. En dit was nie sommer só ‘n koek nie! Dit moes al in Oktober gemaak wees met die rykste, heerlikste vrugte in. Nie sommer net vrugtemengsel nie. Nee! Dis gebak met sultanas en rosyne en korente. Versuikerde pynappel. Waatlemoenstukke. Groenvye. Kersies. Gemmerstukke. Neute. Dan nog al die speserye om dit die lieflikste geur te gee. Dan word die plaatjie voorberei sodat die koek nie brand nie. Vir twee ure word dit gebak op 140 grade, dan nog 2 uur by 120 grade. Dan begin die brandewyn en die rypwordproses. Sodra die koek uit die oond kom, word die brandewyn oor gegooi. Dit word toegedraai in foelie en in ‘n blik gesit en gereeld nog weer ‘n bietjie besprinkel met nog brandewyn. Op die end word dit versier met geglasuurde vrugte. Hierdie koek is reg en ryp net vir die Goue Vroue se kersbal. Hulle is mos darem nie enige mense nie, of hoe!?

Ek hoor van allerhande drankies wat bedien gaan word, van bessiesap tot name wat ek nog nooit van gehoor het nie. Ek maak ‘n heerlike vrugte smoothie.

Alles lyk mooi. Dis kersliggies net waar jy kyk. Seegogga druk ‘n blom in ons elkeen se hare. Die Goue Vroue is bly om mekaar te sien, ons was lank laas almal op Rebusfontein. Ek sien moegheid op party gesigte, sommige het swaar gekry hierdie jaar. Maar ek sien ook vreugde. Hoop. Ek en Seegogga gaan ons lekker vrolike duet op die klavier speel. Appeltjie kom ook sing-sing nader. Hier en daar neurie iemand ‘n kerslied.

Liewe maters, ons het min geskryf hierdie jaar. Gelukkig beteken uit die oog nie noodwendig uit die hart nie. Mag elkeen van julle (ons) ‘n Geseënde Kerstyd hê. Mag ons onthou watter wonderlike geskenk God vir ons gegee het, Sy Seun. Mag ons opnuut dink oor wat Hy vir ons kom doen het. Mag ons Hom aangryp, Hom met nuwe oorgawe dien en aanbid. Mag ons die vreugde ervaar wat Hy bring, selfs in ‘n deurmekaar wêreld.

Toortsie