Die woord “grace” word gewoonlik in Afrikaans vertaal as genade, maar ek dink “genade” mis eintlik my bedoeling. Ek dink ‘n beter woord is dalk ‘n meer teenswoordige woord… dalk “genadigheid”. Omdat dit bietjie lomp is, gebruik ek maar die Engelse woord.
“Forgiveness is letting go of the hope of a better past”– Anne Lamott
“Grace” is om daardie vergifnis na die hede uit te reik. Aan mense, omstandighede, oomblikke. Dit is bloot om die oomblik toe te laat om te wees wat dit is.
(Dit beteken nie dat ons nie kan werk vir ‘n beter toekoms nie, maar ek sal hieroor later meer bespreek.)
Ek het al voorheen oor vergifnis en “grace”geskryf, maar ek het nie hierdie idee van “grace” na God se “grace” uitgebrei nie.
Richard Rohr noem God “the great allower”.
Ek dink dit is juis dit waarmee ons die meeste met God sukkel. Hoekom laat God lyding toe? In teologiese kringe word dit “theodicy”, of “die probleem van pyn” genoem. Dit is in wese ‘n worsteling met God se toelating van ons lyding. God se “grace” vir ons lyding.
Om dit in konteks te plaas, voordat ek hierop ingaan, dink ek dit is belangrik om te praat oor “future tripping”, ook genoem “anticipatory anxiety”. Dit is om toekomstige moontlikhede uit te dink en dan daaroor lyding te ervaar daaroor in die hede.
Mark Twain het gesê: “I’ve experienced a great deal of pain and suffering in my life, most of which has never happened.”
Nie net sal die meeste van hierdie moontlikhede nooit gebeur nie, maar selfs in die toekomstige moontlikhede wat wel gebeur, wanneer ons aan hulle dink, verbeel ons ons die toekoms alleen, verlate deur God.
God is nie in ons verbeelde toekoms nie. God is in die werklike. In die hier en nou.
Dit maak nie die ervaring van die lyding van die denkbeeldige toekomste minder werklik nie, maar ons het baie meer sê oor hierdie tipe lyding as wat ons dink ons het. Veral as ons daarin vasgevang is.
Die ander punt wat ek wil maak as konteks tot die vraag “hoekom laat God lyding toe?”, is die feit dat God omgee oor ons lyding.
In die boek The Shack is daar ‘n toneel waar die Heilige Gees die trane van die hoofkarakter se gesig afvee, en dit in ‘n bottel sit. Elke traan word getel en gebêre, omdat dit kosbaar is vir God. Dit is direk geneem uit Psalm 56:8 of 9 (afhangende van die vertaling):
My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie,
U het op my trane gelet.
In u boek staan hulle opgeteken.
Ek hou ook nogal van die 53 vertaling: “hou my trane in u kruik”.
Baxter Kruger praat oor Jesus se optrede na die wonderwerk van die vermenigvuldiging van die brood en vis op dieselfde manier. Jesus sê vir die dissipels om uit te gaan en elke krummel kos wat oorbly op te tel. Niks gaan verlore nie.
Ons trane word getel en gehou. Ons lyding word van boek gehou. Niks gaan gemors word nie.
Okay, maar steeds, hoekom laat God lyding toe?
Ek dink God is nie bang vir lyding nie.
Kyk na Psalm 22. Die skrywer glo hy is alleen, maar besef aan die einde hy was nooit. Dit het ‘n verband met Jesus se ervaring aan die kruis, selfs met Jesus wat die naam van Psalm 22 in Hebreeus uitroep om die Jode daaraan te herinner.*
Jesus weet hoe dit voel om te glo ons is deur God in ons lyding verlaat. Hy weet ook dat dit nie waar is nie.
Jesus het deur lyding gegaan, aan die ander kant uitgekom, en is nie bang daarvoor nie. Soos die eerste persoon wat ‘n rivier oorsteek, die diepte ken, en nie bang is vir ander om te volg nie.
Die finale en belangrikste deel van hierdie vraag oor hoekom laat God lyding toe. Is die feit dat God wel iets daaraan doen. Hy bring die opstanding. Miskien ‘n bietjie later as wat ons sou wou, maar God weet die lewe volg na die dood.
God glo in die opstanding.
Dit alles het my laat besef die probleem van pyn is nie ‘n probleem om filosofies op te los nie.
In die spanning van God se liefde vir ons, en sy toelating van alles, is die karakter van God: God is liefdevol, maar nie bang nie. Genadig vir alles (Mattheus 5:45), maar neem aksie teen die dood.
En dan as ons “grace” het vir ons omstandighede, laat ons God se “grace” toe. Ons laat God toe om die toelaater te wees.
Wanneer ons hier is, kan ons God ons kosbaarste ding gee: ons vertroue.
En vanuit hierdie vertroue kan ons dan werk om die toekoms te verander. Ons kan werk met die kennis dat ons “grace” kan hê vir ‘n onvolmaakte toekoms ook**, omdat ons nie alleen werk nie. Ons werk saam met die dryfkrag van die heelal. Ons werk saam met die opstanding.
*Ek dink dit is belangrik om te besef dat Jesus nie eintlik gevra het waarom sy Vader Hom werklik verlaat het nie. Jesus het die naam van die Psalm in die taal van die Psalm gesê. Onthou die Psalms was nog nie genommer nie.
Jesus vertel selfs sy dissipels dat hulle Hom sal verlaat, maar Hy sal nie alleen wees nie, omdat Sy Vader by Hom is (Johannes 16:32).
Meer hieroor kan hier gekry word.
**Wat dan ook baie gaan help met ons vrese vir ‘n opgemaakde toekoms.