Dankbare hart

achievement confident free freedom
Photo by Snapwire on Pexels.com

Ek weet ek het reeds vandag al gepost, maar weet dat ek nou met iemand moet praat, en hierdie is tans die beste volgende opsie, die ander een sal natuurlik wees om my ma wakker te bel, maar sy’s nie vriendelik as mens dit doen nie. So hier is dit nou.

Ek kan nie vir my hele generasie praat nie, maar wel vir myself – al wat ek eendag wil hê is om my ouers trots te sien. Hulle harte moet oorloop daarvan. Swot alleen is nie genoeg nie, onderskeidings, Cum Laude, ‘n vooraanstaande pos – donner man, wat dit okal mag verg. Dit klink dalk nou belaglik om tien voor twaalf die nag aan hierdie goed te dink, maar dit hou my wakker.

Want hoe sê mens dankie? Hoe bewys mens aan die belangrikste mense in die wêreld dat jy weet hulle alles in hulle mag doen vir jou, dat jy sonder hulle niks sou wees nie, en dat jy dit weet? Deur elke teleurstelling, elke droewige oomblik, elke slegte punt, elke op-en-af in die gemoed, was hulle daar. En nou, nou sien ek hulle elke ander naweek, dalk, en elke vakansie. Dit voel nie reg nie.

Dalk is ek nie reg om ‘n regte-egte grootmens te wees nie, of dalk is ek omdat ek so baie dankbaarheid het dat ek nie meer weet wat om daarmee te doen nie? Wat is die waarheid?

Enige en alle kommentaar van meer “ervare” lesers

(ek is geleer om nooit iemand prontuit oud te noem nie, al lyk hulle soos warmgemaakte dood) sal verwelkom word in die verband.

Dalk is ek nou besig met kak soek om wyndronk te sit en skryf, of dalk is ek op die regte pad. Ons sal saam uitvind.

Groete

UT

Fees

Elke jaar vir die afgelope twintig jaar maak elke Potchefstromer hulleself reg vir die amok, paniek, en genot wat Aardklop is, inhou, en verwesinlik. Hierdie jaar is geen uitsondering nie. Die gemiddelde besoeker is egter totaal en al onbewus van dit wat etlike dae voor hulle aankoms net ‘n paar honderd meter van die feesgronde af gebeur het. Semester week/ Gag week/ Hel. Al hierdie sinonieme van mekaar in my oë, en tien-teen-een so ook in die van elke student, behalwe die onderwysstudente natuurlik… daargelaat.

Soos ek besig was om te teem, amper almal weet dat jou semesters jou maak of breek, net dae voor feesgangers hier aankom, tot en met Saterdag toe om spesifiek te wees, sit en sweet ons in die biblioteek, daarna jou kamer, of waarokal jy ‘n lessenaar kan opspoor tot jou laaste druppel ink die bladsye van nota’s, antwoordstelle, en hande in sink. Hierdie inleiding tot psigose is ‘n tradisie. Jy huil, jy lag, drink pilletjies, sluk liters en liters water, huil weer, herinner jouself daaraan dat jy nie tyd het om so baie te huil nie, gevolglik kry jy jouself onder beheer en gaan aan. Want dit betaal nie om te huil nie, maar mamma en pappa betaal wel vir die module.

Die wete dat almal hulle gate kom uit geniet hier, hier waar ek gewroeg en amper selfmoord oorweeg het maak my histeries verby, liewe leser. Die bult kriool van hulle, elke Hartseer laan, Villa Vergeet-My-Tog, en Buitelanders akteur. Die genot drup so van die siele se gesigte af as die woorde “Een dubbel G&T” oor hulle lippe rol – later is die laaste fokker so gesuip hulle kan skaars loop, wat nog gepraat van hulle grênd hou. Geen pretensie, geen beheer, of hoe?

Vir die van ons gelukkig genoeg om ‘n werk te hê, en Aardklop in sy volle glorie te kan beleef, is daar darem een aspek van die hele storie wat mens gelukkig maak – tips/losies/genade – noem dit wat jy wil, maar dis fantasties. Veral as jy kroegwerk doen, almal is te gesuip om jou te kritiseer, en al te dankbaar vir die G&T’s wat jy gooi.

Persoonlik skip ek daai een die jaar, en gaan ek kelner speel – mag hulle so vrygewig wees soos by die kroeë. Bid saam met my daarvoor, dis al wat ek nodig het. ‘n Geldjie.

Buiten die smaaklose pretensieuses is alles van Aardklop fantasties. Daar is energie om elke hoek en draai, drama in elke lokaal groot genoeg vir 10 mense, musiek op elke hoek en mense. So baie mense, dis die beste deel, sien in Potchefstroom raak mens gewoond aan die gesigte, ek het byvoorbeeld drie keer al dieselfde ou in ‘n kosplek se ry gekry. Drie keer. In een week. Dis vreemd, onnodig en nog meer so – vervelig.

So dankie Aardklop, dankie vir die geld, energie, en nuwe gesigte, maar Aardklop – jou gat, my skat.

Groete

UT

Daarsonder

Die laaste paar weke was, en is steeds belaglik besig. Dis mal, mens weet nie waar om te vat nie, en nog minder wat om te los nie – so dis pret.

Ek wil van die geleentheid gebruik maak om al die persone, en hulle produkte te bedank wat tot die laaste paar weke toe bygedra het, in enige kapasiteit, ek wou ‘n uitgerekte paragraaf skryf, maar eerder nie. Net ‘n lys sal doen, liewe leser, jou afleidings wat saam met die lys sal loop is jou eie, en ek respekteer die laaste een, so hier gaan hy, in geen spesifieke volgorde nie:

  • Marlboro vir hulle fantastiese sigarette
  • Apple music vir hulle miljoene treffers wat my wakker hou in die biblioteek
  • King Liquor vir die feit dat hulle ‘n bottel vodka vir net oor R50 verkoop – julle is verantwoordelik vir my naweek planne.
  • Elke restaurant in die omtrek, julle wegneemetes maak my maag vol op die stadium
  • FNB vir die daaglikse herinnerings oor presies hoe diep my finansies in die rooi loop
  • Die Universiteit se adminpersoneel, julle weet wat julle gedoen het
  • My dosente (hulle nog meer so)

Laastens wil ek elke siel in my lewe bedank, sonder hulle sou ek en my melodramatise self dit nie deur die laaste week gemaak het nie, wat nog gepraat van die komende weke. Op die ou end van die dag dink ek net dat elke persoon ‘n groep vriende behoort te hê saam met wie hulle kan lag, huil, en die belangrikste van alles – lag oor die dinge wat ons laat huil.

Verder, fok die wêreld, fok semestertoetse, fok onnodige mense, en laaste maar nie die minste nie, fok my buurman. Dis al.

Groete

UT

Voorwaarts, huiswaarts.

Dis tyd vir die huis, tyd vir braai, baklei, liefde, en lekker kos, asook ‘n voller bankrekening, maar daaroor sal ons nou nie praat nie.

Môre is dit ek, my kar se gebreekte radio, en so amper 300km. Ek sien uit, natuurlik nie vir die verdowende stilte nie, maar na die huis. Ek is mal oor stil tyd om net bietjie te dink, maar na ‘n paar ure in die kar is ek oor dit. En ek dink dis verstaanbaar. My gedagtes loop, van deelname en eksamens tot by hoekom niemand kan bestuur nie, die laaste natuurlik die ondewerp wat die meeste aandag geniet.

Die huis is ‘n plek om te ontspan, ‘n plek vol liefde en vreugde. Die hele familie saam. Dis altyd die hoogtepunt, nou dis gewoonlik Vrydag-aand, die vreugdevolle geklets en geëet, dan kom Saterdag-oggend. Dis Saterdag, mens wil mos nou bietjie inlê… maar nie in ons huis nie, nee. Na 40 jaar se getroude lewe is die ouers altyd vroeg op en wakker, en dan moet die hele donnerse huis wakker wees. Nie eers ons ou arme huishond word gespaar nie. Sy moet haar snoesige bed verlaat, en op die klam gras gaan kuier saam met die bure se moerige Great Dane. Hy hou niks van haar nie.

Nou iemand het sekerlik teen die tyd al hulle oë gerol, maar wanneer ek sê vroeg bedoel ek dit. My ouers is om-en-by 4 uur wakker, en teen 6 uur beter jy ook wees. Soos ek vroeër gesê het, Saterdae is wanneer die algehele gemoed van die huis bietjie verander, oor naweke is daar nie ‘n teken van ons bediende nie, so dan moet die kombuis eerste skoon, en durf jy antwoord met ‘n “Ek kom nou”.

“Wanneer is nou?” sal jy uit die een vertrek hoor, en dan uit ‘n ander sal jy iets soos “Mens moet jou ook ‘n duisend keer iets vra” hoor, en dit terwyl ek net my oggend-koffie-en-sigaret probeer nuttig. Nou sê vir my, ek sal die kommentaar dophou, hoekom? Daarna sal daar dikwels ‘n geveg uitbars wat baie soos die donnerse weer is, elke nou en dan laat iemand hoor “En nog ‘n ding!” dan gaan dit net aan-en-aan-en-aan, julle kry die idee. Daargelaat.

Eintlik nie, want van daar af is dit net grondpad, alles loop verkeerd, en een mens (wenk: Die persoon is vroulik en al vir 40 jaar getroud) laat gereeld hoor, “Want ek bly mos alleen in die huis!”. Liewe leser ek weet hoekom ons ‘n voltydse bediende het, want weet jy, as sy nie by ons was nie, sal daar beslis ‘n laken weekliks gespan word. Ongetwyfeld.

Teen Saterdag-aand gaan dinge weer rustig raak, en daarna raak dit lekker. Lekker hartseer, want dan sink die idee weer in dat ek binnekort in my kar moet klim en terugkeer, iets wat altyd sorg vir ‘n tranedal van formaat. Een wat nie eers met my weeklikse ineenstortings in die bib vergelyk kan word nie, dit laat myne soos ‘n molshoop lyk teenoor berg Ararat. Dis pret.

Sondag-oggend sal ons saam koffie drink, sit en gesels, en kort voor lank is dit tyd om terug te kom. Trane sal rol, tande sal kners en ons sal almal mekaar styf vasdruk. Ek gaan terug ry, almal en hulle ma’s op die highway onder hulle klere in vloek, want die laaste dooie bliksem het mos sy liksêns uit ‘n lucky packet gegrawe, en as jy weer sien is ek terug. Reg vir die week. Reg vir ‘n dubbel, dalk drie of vier. Tien-teen-een meer, maar daaroor sal ons later praat.

Maandag-aand gaan ek sit waar ek nou sit, vol verlange wees, en seker angstig wees oor een of ander werkstuk, maar bowenal sal ek, sonder ‘n brokkie twyfel, dankbaar wees.

Groete

UT

 

 

Van Uitstel Kom…

“ek wou regtig leer vir die toets…”

Ons almal was al in die posisie, jy het so lank uitgestel aan iets, dat die idee van eerder die module staak, opskop, en berge toe fok beter klink as net sit en leer vir die toets. Dis vir my altyd bitter interessant om te sien hoe ‘n student in die aangesig van ‘n moerse lot werk altyd tyd kry om sinnelose kak aan te jaag, suksesvol ook, bv. Hierdie hele inskrywing.

Nou kyk, om dinge te kroon is hierdie ons ‘retest’ want klaarblyklik kon nie een van ons stomme etters die eerste toets slaag nie, dit was ‘n skok om te hoor, maar die groter skok was beslis om uit te vind dat ons die toets weer gaan skryf, bloot omdat ek op daardie stadium reeds my hele lewe sien uitspeel het, en magteloos gevoel het om enigsins iets daaraan te doen – maar nou sit ek hier. Aan die leer, of ek beplan daaraan.

Ek wil net voor ek verder gaan iets duidelik maak (woorde wat almal al dronk  vier uur die oggend in ‘n vreemdeling se woonstel gesê het of gehoor het) ek wou regtig leer vir die toets. Hard ook. Na klas vanoggend moes ek eenvoudig ‘n nap vat, my liggaam kon net nie meer nie, so ek verslaap toe my middag klas, my vriendin kom drink koffie en toe ek weer sien sit ek by ‘n kuierplek en drink ‘n bier en shots. Shots is ook die Satan.

Na ‘n kort pep talk aan myself besluit ek om nie uit te gaan nie, oortuig my vriende dat ek wel moet kom leer, en daarby dat ons eintlik op universiteit is om dit te doen, en ook dat ek nie meer my ouers se geld kan mors nie, al hierdie sê ek terwyl ek die laaste sluk van my bier vat, nou nie  juis die mees oorweldigende prentjie van bevoegdheid ooit nie, maar nietemin, ek seevier en na ‘n ligte full portion kos is my lewe weer op baan, of so dink ek.

Die oomblik toe ek in my woonstel instap sien ek dat ons gaste het, gaste wat dit geniet om luidkeels hulle vreugde en smart te verklaar, ek pis die laaste een se partytjie toe papnat deur hulle te verjaag, ek moet immers leer? Onbeindruk verlaat hulle my sitkamer, en verdwyn. Etlike oomblike later bevind ek myself op my bed, uitgespan met slides en notes om my versprei – hard op pad om te leer. Uiteraard dink ek toe ek moet net daaroor skryf, en nou doen ek, maar bliksem ek voel skuldig.

Hierdie is die laaste paragraaf, ek belowe. Nie net aan jou nie, liewe leser, maar aan myself ook. Wat ek eintlik probeer sê is eintlik net dat ek myself fokken haat en wens ek het nooit kom swot nie, want ek is bietjie gekuier, lus om te gaan dans tot vier uur toe, besig om uit te stel, en kom ons wees eerlik, vir die van ons wat universiteit wil klaarkry voor ons 30 is, bestaan daar nie iets soos afstel nie. Deelname is God, en ek is haar slaaf.

Groete

UT

 

Ontvangs en Verwelkoming

Welkom

So, dis ‘n Saterdagaand, en ek sit op my bank en staar na die tv en playstation, wat voortaan bekend sal staan as Die Duiwel, bloot omdat hy al my tyd opvat, in ieder geval, ek sit en staar na al die goed en wonder hoe dit tot by hierdie gekom het?

Saterdagaand?? Voor die tv? Ek is 20, en ‘n sosiale snob daarby, gevolglik klassifiseer ek nie myself saam met die mense wie jy gewoonlik met ‘n Saterdagaand-Playstation-sessie sal assosieer nie. Glad nie, maar hier sit ek. Stok-siel-alleen op ‘n Saterragaand… dit pas, oftewel ek dink dit doen.

Nou, wat doen elke mens wat te veel van hulle self dink, in elke fliek nof ooit wanneer hulle nie meer weet wat om te doen nie? Hulle begin skryf. Ek luister bietjie Heuwels ook, maar dis net my eie tikkie perfeksie tot die resep.

In ieder geval so besluit ek, ek soek ook ‘n blog. En hier is dit nou, in al sy glorie. Taal was ‘n probleem, maar ek is nie die ANC of die Universiteit se administrasie nie. Afrikaans – ek belowe om my bes te probeer.

Dit bring my by die naam, iets oorpsronklik, maar nie “kommin afrikaanse troue” oorspronklik nie, nee, iets beter. Iets gepas, iets waarvan almal behoort te hou, omdat dit snaaks is natuurlik, maar ook iets wat ‘n klomp menses al irriteer. Want ek is niks as ek nie iemand pla nie.

So, Universitiet. Ja, Universi-tiet. Want dis hoe ek, ‘n student, Universiteit sien. As ‘n tiet. Dis goed en sleg, lekker maar bitter. Laat ek verduidelik: Ek beskou universitieit as ‘n tiet. ‘n Bal vet op my bors, die bal vet maak my rug en nek seer en daarby ook lam. Ek kan nie vir lank op my maag lê nie, want die bal vet verg aandag. ‘n Tiet, ek dink dit maak sin, en na daai verduideliking behoort dit aan jou ook sin te maak liewe leser, wie okal jy mag wees. Het jy dalk verdwaal? Soek jy Afrikaanse porn? (as jy doen, nee. Net nee.) Verstaan jy ooit wat jy hier lees, of dalk is jy ook net ‘n student met ‘n storie wat daarvan hou om te lees? As jy is, welkom, weereens.

Groete

UT

Design a site like this with WordPress.com
Get started