‘n PILLETJIE TEEN DIE LEWE?
Sy is drie jaar oud, opgewonde bolletjie energie want tannie Z kom kuier by “haar”! In die motor word telkens seker gemaak dat die kuier baie slapies sal wees, en met genoeg stories lees gepaard sal gaan. “My Pa het gesê hy sal ons boebloeteek toe vat. Vra hom maar, hy het gesê.”
En so word daar ook baie opgewonde vertel van haar nuwe pophuis wat haar Pa vir haar gebou het. ‘n Regte-egte pophuis van hout, met ‘n stoep en ‘n venster en ‘n deur wat kan toesluit. “En my Ma het vir my regte gordyne gemaak, en ‘n tafeldoek. En ons gaan daar teedrink. Jy gaan mos daar by my kom tee drink, nê, tannie Z?” En so belowe ek sonder mooi dink.
Nou ja, teen namiddag die volgende dag kan ek vir pophuisinspeksie nie meer uitstel nie. Dit was al laat die vorige aand toe ons tuiskom, en het ek nie in die donker soveel aandag gegee aan die buitegeboue nie. In die donker konsentreer hierdie ekke net om regop te bly anders koop ek grond. So deur die slaap het iemand net iets gemompel van “daar’s my pophuis” en is sy weer droomland toe. En nou is dit sukke tyd. Hoe nader ons aan pophuis kom, hoe stadiger loop hierdie tannie Z, want sy voorsien skielik ‘n paar probleme…
Die pophuis staan dan doer bo in die lug! Kom by die onderste trappe tot stilstand, en soos watter goeie gasvrou word die 7 trappe opgehardloop. “Kom tannie Z. Kom in. Kom kyk al my poppe is hier.” Die afwagting op daardie gesiggie, en die verwagting in haar blou ogies is onbeskryflik. Ek maak allerhande praatjies oor die mooi pophuis terwyl ek stadig met my kierie nader hinke-pink, maar my kop werk oortyd. Ag liewe genadetjie tog, ek kan mos nie hierdie kind se entoesiasme só demp nie!! Maar uitkoms is daar nie. Teen hierdie tyd staan sy alweer by my op die grasperk, besig om my aan die hand nader te trek – dis baie duidelik ek’s te stadig.
“Clarissa, jy het dan die mooiste pophuis wat ek nog ooit gesien het. Kyk jou mooi gordyntjies.”
“Nou, kom op,” en dit t—r—e—k weer aan my hand.
“Liefie, jy weet mos tannie Z kan nie trappe klim nie. Ek dink ons moet maar hier onder tee drink. Gaan maak jy die tee, ek gaan vra Pappa om vir ons stoele te bring….”
“Nou hoekom kan jy nie opklim nie?” Die volgende oomblik spring sy weg: “Dis maklik. Mens maak net só en só en só en en ….” En daar staan sy bo aan die trappe. Die onverstaan en telleurstelling baie duidelik op haar gesiggie weerspieel.
“Maar jy weet mos my bene is “seer”, daarom loop ek met my kierie, en kan ek nie trappe klim nie.”
Net daar sak sy op die boonste trappie neer, ken in die hande, laat hoor sy met ‘n moedelose sug: “Nou as jou bene dan seer is, gaan drink ‘n pilletjie!”


Nuutste kommentaar