Wanneer mens se kinders groot en uit die huis is, sien jy hulle mos maar min. Wat nog te sê van ‘n dag of halfdag saam met hulle spandeer. Dan weer, so lief soos wat ek hulle het, het ek nog altyd my eie lewe gehad en het my lewe nooit in totaliteit net om my kinders gedraai nie.
Ja, ek was dalk nie ‘n modelma nie, maar ek het geglo kinders moet selfstandig wees en veral ‘n seun moet tog groot asseblief nie aan sy ma se rokspante vasklou nie. En so het ek hulle grootgemaak – selfstandig. (Ek dink ek sal eendag enige skoondogter se droom-skoonma wees! 😆 )
Vir Megan sien ek elke dag, want ons ry saam werk toe. Maar omdat Bernard in die vloot is en baie weg is, sien ek hom heelwat minder. Dan is ‘n dag soos vandag, wat ek sommer netso die kans kry om saam met my seun deur te bring, ‘n verrassingspakkie.
Vanoggend bel hy en laat weet hy het ‘n geleentheid gekry tot in Kaapstad en kan ek hom daar kom haal? Liefie werk en ek ry gou stad toe; kry vir Bernard regoor die stasie, by een van daardie standbeelde.
Ek maak ‘n U-draai en hy spring in, met sy sak klere, wat ek weet eintlik ‘n sak vol wasgoed is. Gelukkig was hy dit self, dis maar net gemakliker by ma se huis. Oppad stel hy voor ons draai by Canal Walk af, want hy wil bietjie in die winkels gaan rondloop.
Ons lag en gesels al die pad en by die robot, na ons die afrit gevat het, stop twee jong girls in ‘n Audi langs ons en ek sien hulle loer-loer so. Ek vertel hom die girls loer vir hom.
Hy sê: “Nee, hulle wonder seker hoe kry ‘n ou vrou soos jy dit reg om so ‘n aantreklik jong lat aan te keer.”
Ek sê: “Ag jou gat man!”
Hy sê: “Kom nou ma, ek is jou kind, jy moet sê ek is aantreklik.”
Ek sê: “Mens lieg nie vir jou kinders nie!”
Ons altwee lag en ek dink, haai weet jy, ek het hom gemis.
In Canal Walk loop ons by Due South in. Hy soek ‘n lekker rugsak. Ek staan en kyk na die GPS’e en toe hy by my kom staan, wys ek hom hoe die een gelyk het wat die Liefie gehad het en wat hulle mos by hom geroof het. (ek het destyds HIER daarvan vertel )
Langs die een wat soos Liefie s’n lyk, is ‘n pienke, presies dieselfde soort, maar net pienk! Nogal met ‘n pienk sakkie ook by.
Ek sê: “Dalk moes ek eerder destyds vir Liefie ‘n pienke gekoop het, dan het die vark dit dalk nie geroof nie.”
Bernard antwoord droogweg: “Nee fok ma, dan het hulle hom dalk geroof EN ge-rape as hulle sien hy het ‘n PIENK GPS!”
Ons bars altwee onbevange uit van die lag, sodat mense wat verbyloop eintlik omdraai, vir ons kyk en met ‘n ‘smile’ verder loop.
Ons stap verder en skerts en lag en winkels kyk. Hy draai my arm om vir hom ontbyt te koop en vra of hy die grootste ontbyt op die menu kan kry. Hoe kan ‘n ma dan nou nee sê?
Terwyl ons koffie drink en vir die kos wag, skuif hy heeltyd alles netjies op die tafel. Naderhand kan ek dit nie meer hou nie, en vra/sê:
“Bernard, hou op. Vir wat skuif jy alles heeltyd in reguit lyne en maak heeltyd netjies?”
Hy antwoord met ‘n glimlag: “Ma, dis deurmekaar genoeg in my kop. Ek kan nie nog deurmekaarheid rondom my ook hanteer nie.”
Ek sit stil en kyk vir hierdie kind van my wat al so lankal cope met die swart depressie monster. Behalwe vir die netjiesmakery rondom hom, kan ek sien dat dit tog goed gaan met hom.
En ek weet, hierdie dag vol lag saam met hierdie anderste kind van my, is onverdiende genade.
Filed under: Hartsgoed | 14 Comments »





