Help! Die kleinkinders kom kuier…
En hulle bring hulle iPads en blackberries en gadgets saam! Hoe kompeteer ‘n mens met die Kardashians? Is dit moontlik om slimmer te wees as Google? Stap saam met my see toe, dan vertel ek julle…
Ek was veertig jaar gelede ‘n kleinkind in Kleinmond. En mensdom, het my Oupa gadgets gehad! Hy sou laatmiddag sy langlyf strek, ons kinders nader roep (my neus in ‘n boek, my boetie se neus in die rooiaasemmer) en voor die ‘glas’ gaan staan. Dan tik-tik-tik hy daarteen, knik statig met sy kop en kondig stellig aan: die glas val, more oggend gaan vang ons vis. Ek en Frans sou dan minute lank nog na die glas staar, in absolute verwondering. Die ding val glad nie én dit vertel vir Oupa dat ons more kan gaan visvang … wat ‘n gadget!
Nietemin, die groot regmaak begin en ons pak aasmandjies en piekniekmandjies, strop hoeke en – die loodjies is op! “Oupa!”, roep Frans verlore, want Allerlei is al toe en ons het niks loodjies nie. Dit is dan wanneer Oupa sy tweede gadget uithaal – die loodsmelt-vormpies. Ons skarrel soos suikermiere deur die strandhuis om die wynbottels se lood vir hom te bring. Hy vat al die ou stukke lood wat ons deur die vakansie in die poele opgetel het, roep vir Ouma nader en vra of hy maar haar jaffelpan ook kan smelt vir ekstra lood. Dan raas Ouma kamma-kwaai en my boetie bekommmer hom vreeslik want hy vrek oor jaffels. Oupa lag lekker en leer ons die verskil tussen lood en gietyster en ons mag met ‘n spyker op ‘n stukkie lood krap om die verskil te sien. Dan smelt hy die lood op die stoof en gooi dit versigtig in die gietvorms terwyl hy verduidelik soos wat hy werk. Toe Frans ouer word, het hy hom toegelaat om self die lood te giet. Die volgende dag mag ek daardie blinksilwer loodjies uithaal en uitdeel tussen almal wat gaan visvang.
Wanneer die see ”opstaan” dit wil sê nadat die Noordwester gaan lê het, kan geen mens gaan visvang of poele toe nie. Dan stap ons saam met Oupa teen die bergpaadjie uit. Hy wys ons hoe om piepklein volstruisies te maak: vat die bolletjie van die Koffiebos (Albiflora), trek dit versigtig af ondertoe en daar is die volstruisie! Soos wat ons aanstap, vertel hy ons van loof en eers wanneer ek begryp dis groengoed en nie kerkliedjies nie, dan vertel hy van proteas, vat liefderyk aan elkeen en noem hulle op grootmens-name (genus en spesie). Wat kan mooier klink as Oupa se stem: Mimetes hirtus, Oleifolium (lees ouleeu-vouleeu, wat vir my natuurlik sprakeloos gelaat het omdat blomme in die Kaap die name het van diere in die wildtuin waar ek gewoon het), Leucospermum cordifolium (komaan, waag dit om dit hardop uit te spreek en kyk hoe spits daai oortjies – die name is ewe eksoties as die Kardashians s’n). Wanneer ons warm gestap was, stop ons ‘n rukkie om Oros te drink. Dan haal Oupa sy vergrootglas uit. Ons soek ‘n plek waar ons plat op die maag kan lê, langs Oupa, en hy wys vir ons stuifmeel, en goggas wat lyk soos stuifmeel; muisdrolletjies en sade wat lyk soos muisdrolletjies. ‘n Hele oggend gaan so verby sonder dat ek ooit wil boeklees of winkels toe gaan. Oupa se slim stem verduidelik die wonder van die natuur, die vreugde van ‘n vergrootglas en – toe hy sien dat ek en Frans ewe verwonderd deur sy vergrootglas kyk, kry ons elkeen ons eie enetjie persent – wat ‘n vreugde! Tot vandag toe, veral wanneer ek so sit en staar in Gauteng (ons werk en staar mos maar hier bo), dan vou ek my vergrootglasie oop en gaan bekyk iets in die tuin – dit verplaas my gedagtes onmiddelik na goeie tye saam met Oupa en Ouma See.
Op spesiale dae soos verjaarsdae en Sondae, het ons feetjiehuisies gebou. Mosvloertjies, sewejaartjiestoeljies, varingdakkies en deurtjies van droë bas. Ek het klein paadjies uitgelê met skulpies en Frans het torre en goggas gaan soek om daarop te laat loop. Na ete rus almal en teen laatmiddag gaan loer ons opgewonde of die feetjies al kom kuier het. Ek kan nie onthou hoe oud ek al was voor ek besef het dat Ouma al-die-tyd skelmpies die Allsorts en Humbugs gaan neersit het binne in die feetjiehuisies nie. En natuurlik koop ek tot vandag toe Allsorts en Humbugs omdat ek stom staan oor die feit dat Woollies dieselfde swieties het as die feetjies … 🙂
Oupa het gadgets gehad waarmee hy alikreukels gemeet het, die gasstoof aangesteek het, seekatte uitgelok het en krewels gepomp het. Hy het ‘n gaasyskas gebou wat met stukke seespons en bamboes geïsoleer is. Dit het onder die watertenk gestaan en altyd die waatlemoene en spanspekke koel gehou. Vandag se gadgets stuur boodskappe vinniger die hele wêreld vol en neem foto’s van alles. As mens mooi dink, is dit basies maar dit.
**Wanneer die kleinkinders met hulle baie gadgets kom kuier, vat dit saam met julle rotse toe. Gaan hurk by die poele. Hou hul lyfies styf vas en laat hulle laag afbuk om vir seekat met die riet en die rooi lint te terg. Gil en giggel saam wanneer hulle skrik as daai suierpootjie skielik uitsteek. Laat hulle dan ‘n gadget uithaal en neem dit af! Stuur dit dadelik na YouTube, plak dit op Groen se facebookbladsy, twitter dit vir Juffrou in Gauteng, bbm dit na die maats en binne femtosekondes weet die hele wêreld dat ‘n kleinkind in Kleinmond saam met sy Oupa en Ouma gesien het hoe ‘n krappie sy dop afgooi, hoe ‘n dikkoppie ‘n stukkie slak- asie kom gaps en hoe uiters stadig ‘n seestêr loop.
Wat enige kind, enige plek in die wêreld soek, is agting, deel-wees van liefde en aandag. Wat Oupas en Oumas dwarsoor die wêreld het om te gee, is presies dit.
** Harry Harlow het in 1958 al in met sy navorsing gewys dat apies, nes kinders,vasklou aan warm, sagte Mammas, eerder as koue draad mammas, selfs al het die sagte mamma nie kos nie.