Kerkhof, rebelle en donkiekarre.

As mens mos ouer raak begin jy agterkom dat jy dieselfde stories oor en oorvertel. As jy gelukkig is, is jou gehoor sensitief en glimlag minsaam en knik hulle koppe, lag selfs op die regte plek.

Straks kom jy dit nie agter nie, maar soms kry jy so ‘n vae spesmaas dat jou einste storie al holruggery is. Dan knip jy dit sommer kort af, en vergeet van die oomblik.

So, ek wil graag stories vertel, maar hoe nou gemaak? Gelukkig het die blogs ‘n soekfunksie en ek tik vanoggend ‘n paar name in. Reeds vertel, sien ek. Oom Louw (eksentrieke maar briljante oujongkêrel oom met sy pyp en die terg in sy oë), tannie Grieta met die teekoppieheldersiendheid en die rasperstem, oom Hans met sy dwergievrou en lang liegstories. Ou Dawid, touleiertjie wat toentertyd saam met my oupaoorgrootjie gearriveer het en maar net nie rus kon vind nadat sy tydgenote die een na die ander die aardse bestaan verlaat het nie…

Ek het my ‘n paar maande gelede ten doel gestel om as deel van my stamboomnavorsing vir myself ‘n projekuitdaging te skep. Doer in die dorre Wes-Transvaal is die familiekerkhoffie – nou vervalle, met net elke nou en dan ‘n visionêre samaritaan wat ‘n poging aanwend om die plek te laat skoffel, bietjie oop te krap.

Ons het grootgeword met daardie begraafplaas op Vleiplaas. Dit was ‘n interessante plek, met verlate grafstene, sommige oud en verweer, ander marmerglinsterend in die son. Beskeie leiklip met uitgebeitelde name, soms verkeerd gespel, soms verkeerd gemik met woorde in Hollands wat oorloop. Baie reeds dof en vervaag en kan ‘n mens nie meer die inskripsies so lekker lees nie.

Dis hierdie nou verlate kerkhoffie se rustende inwoners wat ek nou een vir een iewers in ‘n stamboom probeer plaas. Daar is bekende name en vanne, maar ook onbekendes. Nie baie nie,  maar genoeg om my heelwat ure besig te hou. En soos ek herkoms ontdek, ontvou die stories soms onverwags.

Name waarvan ek lankal vergeet het word weer onthou. ‘n Flertsie inligting wat deur die jare weggefladder het en nou weer opduik.

So is daar tannie Pop. Ek dink nie ek het haar ooit ontmoet nie, want ek sien nou dat ek maar ‘n kleuter was toe sy oorlede is. Maar ek ken haar van die stories en van die vreemde grafsteen in die vorm van ‘n houtstomp, in marmer. Hoekom die plat boomstomp? Daar moet ‘n storie aan wees, maar wat dit is sal ek seker nooit uitvind nie.

Ek lees die datum – sy  is in 1914 gebore as ‘n nooi Brewis. Ek onthou ‘n ander Brewisnaam, oud-Springbok wat ook iewers aan ons familie gekoppel was en wat ek ‘n paar keer gesien het. Sou hy verwant aan haar wees.

Haar getroude van is dié van ‘n Kaapse rebellefamilie uit Aberdeen se wêreld. Ek weet dit want haar swaer was die pa van ‘n niggie van my pa en ek het lank na sy dooprekord of ander inligting gesoek. Ek kon niks kry nie tot daar uiteindelik ‘n legkaartstukkie in die groter prentjie begin inpas het.

Ek gebruik haar sterfjaar en soek na die sterfkennis, kry dit uiteindelik. Daarop is die naam van  haar ouers. Nou kan ek verder soek – dit neem ‘n dag of twee en ek gebruik elke moontlike leidraad, speel met die name herwaarts en derwaarts en kry haar ma se sterfkennis. 1918 – oorsaak van haar dood op die doodsertifikaat: Spaanse griep. Tannie Pop was maar vier jaar oud en, sien ek, sy het ‘n jonger broertjie gehad.

Ek pas haar versigtig in die stamboomtakkie in, soek verder. Ek kry tannie Pop se pa – hy het drie of vier dae na sy vrou ook aan die Spaanse griep gesterf. Hoe tragies…

Ek bel my pa se niggie – die enigstes van die ouer geslag wat nog leef en met wie ek kontak het. Ja, sê sy, sy weet dat tannie Pop se ouers so vroeg oorlede is.

Dan vertel sy my hoe hulle klomp kinders (sy is die volgende generasie) soggens met die donkiekar skool toe is en hoe die einste oom Louw op ‘n dag lus was vir ‘sports’. Aan die kortste end was tannie Pop se dogter, wat uitgedaag was om haarself op die disselboom van die donkiekar te balanseer terwyl die donkies rustig voortgalop. Sy het die uitdaging soos ‘n wafferse sirkusarties aanvaar en alles sou dalk nog goed kon afloop, as dit nie was vir Louw wat toe die sweepstok in die een donkie se ‘hollie pollie’ (my groottante se woorde) opgedruk het nie. Terstond het die donkie agtertoe geskop, reg teen die sirkusarties se voorkop.

Sy sit blykbaar tot vandag toe nog met die merk van ‘n donkiehoef. En daardie dag het al die kinders op die karretjie, soos die gebruik was, ‘n hengse pakslae gekry …